Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

negentig sedert het kruis


Ronnie Elliott - 2010-10-19

Ek was weer bevoorreg om leerders se bydraes tot die Kaapstadse Afrikaanse Eisteddfod se afdeling vir letterkunde te beoordeel. Die sameroeper was Dirk Binneman. Hier is dan die werk wat hoogste lof verwerf het. Sameroepers van elders kan gerus ook hulle belowendste inskrywings na dbbotha@mweb.co.za stuur.

– Danie Botha

Ronnie Elliott
(Graad 12)

negentig sedert het kruis
[vir emj smit (née schenck), gebore op 10 mei 1919 in het kruis, naby piketberg; ma van tien op omega, clanwilliam]
                                   

Die dag se aankoms is suutjies rooi
                                                            die natswart in gefluister.

Die son het sy teenwoordigheid uitgegaap –
hom gestrék oor die landskap
om asof vanuit Godshand
’n nuwe dag voor die wêreld neer te lê
                                                                        (gebroei soos ’n lewe uit moederskoot)

* * *

die geheim het dié nag in die berge gemurmel –
en is in die oggend die aarde in geasem:
die geluid is gebaar te het kruis

* * *

elizabeth magrieta jacoba,
’n geschenck aan haar man en kinders
sedert die dag toe die herfs ’n bloeisel was
en sy haar aan johannes petrus beloof het:
sy sou haar beywer,
’n goeie vrou wees
en ’n gróót boord vir die bloedlyn

in die kombuis het sy liefde en omgee geknie
om die gesin saans daarmee te voed;
sy was salig onbewus van hoe haar kroos
gevaar aan ’t terg was op die werf

haar man is deur graaf en ploeg verkneg
smôrens smiddae saans moes hy sy lyf uitmergel
maar bettie-lief was die stut in sy gees,
die pols van destyds se smitte, ja –

sý was eintlik die alfa van omega

sy het haar dekades lank beywer,
sy was ’n goeie vrou
en ’n gróót boord vir die bloedlyn

* * *

nou sit ouma hier voor ouma se kinders,
klein en agterklein;
die jare het onder ouma se vel
en in ouma se hare en bene in gesyfer
maar ouma sit nog hier,
die stam van vandag se smitte
en die moeder van ’n skare:
’n sagte matriarg wat
elke dag vanuit Godshand

aan ons geleen word.