Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Ontnugtering by die hawe


Ronnie Elliott - 2010-10-19

Ek was weer bevoorreg om leerders se bydraes tot die Kaapstadse Afrikaanse Eisteddfod se afdeling vir letterkunde te beoordeel. Die sameroeper was Dirk Binneman. Hier is dan die werk wat hoogste lof verwerf het. Sameroepers van elders kan gerus ook hulle belowendste inskrywings na dbbotha@mweb.co.za stuur.

– Danie Botha

Ronnie Elliott
(Graad 12)

Ek was vyf jaar oud toe my pa my die eerste keer hawe toe geneem het. Ek onthou nog goed dat die skepe vir my iets magies, amper heilig was. Dit was so oorweldigend om hierdie massiewe dinge waar te neem terwyl ek op my pa se nek gesit het. Dínge – want dis al hoe ek toe daaraan kon dink.

Om na die skepe te kyk, het by my ’n wantroue in my pa ontlok. Skielik was Pa nie die sterkste man op aarde nie; skielik was daar dinge wat Pa laat klein lyk het. “Pa gaan my mos nie in die see gooi nie, nè?” het ek met huiwerige argwaan gevra. My pa het my gerusgestel dat hy dit beslis nié sou doen nie.

Ek dink baie terug aan hoe die grootsheid van die skepe my daardie dag ontstig het. Vandag besef ek dat mens oral in die lewe sulke “skepe” teëkom.

Ons as mense in die een-en-twintigste eeu dink gereeld ons weet alles; ons is so slim en veilig in ons perfekte lewentjies – totdat ons gekonfronteer word met iets groters en meer onverklaarbaars as wat ons ons kan indink. Neem byvoorbeeld die heelal: Ons weet so baie, maar tog so min van die ruimte waarin ons ons bevind. Ons is tegnologies en wetenskaplik etlike eeue daarvan af weg om die fisika van ons eie melkweg ten volle te begryp. Behalwe om maan toe te gaan, kon ons nog nie eens veel in ons eie sonnestelsel regkry nie. Ons weet feitlik niks oor lewe elders in die heelal nie; ons briljantste kosmoloë en astrofisici is almal maar beperk tot hul eie subjektiewe teorieë.

Maar dis meer as net dít. Dit gaan nie net oor hoe min ons weet nie, maar oor hoe maklik ons uit ons gemaksones geruk kan word. Ons raak so gou gewoond; voel so gou gerus. Totdat iets – omstandighede, natuurskoon of selfs ’n babatjie – ons laat besef hoe klein en ménslik ons is; dat daar ’n massiewe iéts daarbuite moet wees ...

Dit bring my by God, in ’n niegodsdienstige sin. Vind mens ’n godheid in hierdie esoteriese “sensasie” van klein voel? Is dít wat God is – die ontnugtering van die mens se arrogansie?

As ek terugkeer na die dag saam met my pa by die hawe, besef ek dat daar iets van God in die skepe was. Ek het nie ’n naam daarvoor gehad nie, maar dit het my tóé al onrustig gestem.

Ek glo dit is van toepassing op die mens se selfversekerde geploeter. Ja, geploeter, want ons beséf dit nie tot die ontnugtering van ons mensheid en sterflikheid ons soos doodsnuus tref – en dis júis dit: doodsnuus.

Die God daarbuite kyk seker in jammerte af na ons mensies. Hoe puntloos lyk ons lewens nie vir Hom nie? As die mens homself maar net beter kan leer ken ... as hy maar net kan besef hy is méns!

Want, besef ek nou, dít is waar God is – in die nederigheid van mens wees.