Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

Eat Pray Love sink vinnig


André Crous - 2010-10-19

Regisseur: Ryan Murphy
Kamerawerk: Robert Richardson
Rolverdeling: Julia Roberts, Javier Bardem, Richard Jenkins, James Franco
Looptyd: 140 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 8 Oktober 2010


Daar is ’n bekende aanhaling van Alfred Hitchcock waarin hy verduidelik dat die uitbeelding van ’n eksotiese omgewing eenvoudig kan steun op kennis wat die kyker reeds vooraf het. Een van sy films, Sabotage, speel in Switserland af en vir Hitchcock was dit slegs nodig om van sjokolade of die Alpe of mere (of al drie) gebruik te maak om die kyker te laat voel dat die aksie werklik daar plaasvind, terwyl alles natuurlik heeltemal kunsmatig is.

Ryan Murphy se film van Elizabeth Gilbert se boek Eat Pray Love wend Hitchcock se formule so radikaal getrou aan – in oormaat – dat ’n mens sukkel om te glo dat die regisseur al ooit buite sy eie land gereis het. Die clichés word een vir een afgemerk en veral die eerste bestemming op die hoofkarakter se reis, Italië, ly erg onder die brutale vereenvoudiging.

Gebaseer op die ware verhaal van Elizabeth Gilbert, vervat in die gelyknamige boek, is Eat Pray Love die verhaal van die middeljarige skrywer se reis na innerlike kennis en die aanvaarding van haarself en haar situasie nadat haar huwelik op die rotse geloop het. Sy reis na Italië om te eet, Indië om te besin en Indonesië om te leer hoe om weer lief te hê. Uit hierdie kort beskrywing sou jy kon raai dat die verhaal nie juis veel in die kategorie van kreatiwiteit het nie, en jy sal reg wees. Wat wel ’n baie positiewe indruk maak, is die rol van Javier Bardem in die laaste derde (dus, die “love” uit die titel) van die film. Maar meer daaroor later.



Italië word aangebied as ’n land waar almal op straat aan’t vry is of met die nodige handgebare op mekaar skree. Dis ook die land van enorme borde pasta. Indië word vereenvoudig tot ’n asjram, waar jy deur jou probleme werk en die lewe aanvaar, en Indonesië is ’n tropiese paradys waar uitgewekenes bymekaarkom en opnuut, maar versigtig, lewe probeer inblaas in hulle bestaan.

Julia Roberts speel haar eerste hoofrol in jare heel goed, maar oor die algemeen skiet die karakters net so dikwels kort soos wat hulle uitstaan; die skuld vir hierdie gebrekkige karakters lê egter eerder by die draaiboek as by die akteurs. Die film se spelers word by tye werklik niks gegee om mee te werk nie en een uiters vreemde ontwikkeling in die storielyn is die abrupte einde van Gilbert se verhouding met die jong akteur David, so asof die film skielik wakker word uit ’n droom. James Franco is ’n fantastiese akteur, maar selfs nie eens hý kan hierdie skuif geloofwaardig maak nie.

In Italië sien ons vlugtig ’n beeld van Rome, net om ons te wys waar ons is, voordat die eerste stereotipies Italiaanse figuur in die vorm van ’n eksentrieke Italiaanse senior tannie op die skerm verskyn. Indië is nie veel beter nie: Ons kry uittreksels uit die land, maar ons indruk daarvan bly so gebrekkig soos Gilbert se karakterontwikkeling. Dis eers wanneer “Richard from Texas” op die skerm verskyn dat die film interessant raak en daar is ’n ongelooflike toneel wanneer Richard sy wonde met ons deel in ’n baie lang skoot wat nie van hom wegsny nie.

Ongelukkig is die kamerawerk in die res van die film maar bra swak. Soms is die kamera laag op die grond, sonder rede, en soms is die ligstrale so wit en misterig wat by die vensters instroom dat dit lyk soos ’n Steven Spielberg-fliek – sonder die storielyn.

Die rede om die film te sien, en dit is die konsensus onder die meeste kykers en filmresensente, is die stuk in Indonesië en spesifiek die sterk vertoning van Javier Bardem as die Brasiliaanse Felipe, ’n man wie se trane so ingewikkeld is soos wat sy hart warm is. In teenstelling met sy oomblikke van emosie is die toneel aan die begin van die film, waarin Gilbert vir die eerste keer “probeer bid”, eerlikwaar pynlik om te aanskou. ’n Mengsel van snot en trane en skynkomedie in die maanlig was nog nooit ’n plesier nie en Roberts se ag-siestog- geforseerde “Hello, God” maak die toneel ’n totale flop.



Nie veel beter nie is ’n ander toneel in die film waar Roberts ’n nota los met die woorde “Meet me at the dock at sunset”. Hoe kan ons dit ernstig opneem? Vir ’n film wat ’n vrou se reis na begrip en wysheid wil dokumenteer, is hierdie twee duur mistrappe.

Die tonele in Indonesië onderstreep die universele van Gilbert en Felipe wat die meeste mense het nadat hulle hart gebreek is, en op hierdie punt is die film wel ’n kyk werd. Die vreeslik simplistiese benadering tot die aanbieding van wat ’n werklike storie met ’n vlees-en-bloed mens behoort te wees, maak die film egter moeilik om aan te beveel. Die Titanic sink vinnig, maar gelukkig is Bardem daar met ’n reddingsbootjie – sonder hom sou die film onkykbaar gewees het.