Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

“’n Griekse slaai, asseblief”: Enkele opmerkings oor DJ Winterbach se Die begunstigde


Desmond Painter - 2010-10-14

Die begunstigde
DJ Winterbach

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798150958
Prys: R170

Klik hier en koop jou eksemplaar van Die begunstigde nou van Kalahari.net!

Afrikaanse kritici het skynbaar ’n swak vir (veral Griekse) mitologiese verwysingsraamwerke – en wanneer ’n skrywer so ’n verwysingsraamwerk “Jungiaans” inspan om iets te sê oor die vertekening van die self binne ’n dualistiese of dualiserende kultuur, soveel te beter!

Tog vind ’n mens selfs by ’n groot skrywer soos Etienne Leroux soms dat die mitologiese, filosofiese en sielkundige verwysings te willekeurig aangewend word; dat dit kunsmatig afgedwing word op die intrinsieke strekking en segging van die roman. In sulke gevalle staan die roman in diens van ’n (soms kwasi-intellektuele) spel met die mitologie, eerder as dat die mitologie in diens staan van die roman.

DJ Winterbach se debuutroman, Die begunstigde, is swaar gelaai met mitologiese verwysings. Dit is juis om hierdie rede dat die boek tot dusver grotendeels positiewe resensies uitgelok het.

Vir die speurende leser is daar in hierdie roman inderdaad oraloor simbole om raak te sien, toespelings om te snap en verbande om te trek. Die hoofstuktitels maak dit alreeds duidelik dat ’n mens hier met ’n teks te make het wat ’n soort intellektuele investering van die leser verlang: “Katabasis”, “Limen”, “Labirint”, “Enqousiasmos”, “Sparagmos”, “Anabasis”. Slaan maar self die betekenisse van hierdie woorde na – en nee, hulle is nie items op ’n Griekse spyskaart nie ... Wel, dis dalk iets van ’n Griekse slaai, maar dan nie die gewóne soort Griekse slaai nie! Titels soos hierdie, en die vele mitologiese toespelings en verwysings in die teks, laat die leser groot erudisie vermoed. Dit skep die indruk dat hier gegrawe moet word vir dieper insigte; dat die eintlike drama ónder die oppervlak van die verhaal afspeel. Dit skep ook ’n verwagting by die leser, naamlik dat die literêre speurtog die moeite werd gaan wees.

Op sigself kan ’n gesofistikeerde intertekstuele verwysingsraamwerk egter nie ’n ongeslaagde boek red nie. ’n Mens lees tog nie ’n roman omdat jy simboliese raaisels wil oplos of omdat jy ’n intertekstuele kode wil probeer ontrafel nie. Daar moet iets meer wees aan ’n roman as net slim spel: problematiek, taalgebruik, karakters, intrige, emosionele landskap, humor, die “stem” van die outeur, om maar enkele moontlike elemente te noem. ’n Leser moet op literêr-estetiese vlak reeds oortuig word om in ’n werk te glo, anders gaan enige naspeur van intertekstuele verwysings moeilik méér word as bloot intellektuele spel.

Die begunstigde is, soos reeds gemeld, Winterbach se debuutroman. Dit begin soos ’n tipiese eksistensialistiese werk uit die 1960’s, en herinner ’n mens nogal aan tekste uit daardie era deur Afrikaanse skrywers soos Jan Rabie, André P Brink en Chris Barnard: ’n enkeling in ’n verwarde bewussynstoestand word een oggend in ’n dakwoonstel wakker en stel homself voor Die Groot Keuse: hoe en wanneer om te sterf.

In hierdie geval lei die man aan ’n soort geheueverlies en wil hy hom gaan aanmeld (nadat hy vergeefs probeer het om op ander maniere heroiës te sterf) by ’n nuutgestigte, staatsondersteunde eutanasiekliniek. Daar skuil nogal belofte in die narratiewe gegewe van so ’n doodskliniek, ’n burokratisering van selfmoord deur die staat: dit laat ’n mens dink aan iets uit ’n Saramago-roman. Maar Winterbach eksploreer die gegewe nie verder nie, en die retro-eksistensialisme van die eerste hoofstuk maak weldra plek vir iets heeltemal anders. Eintlik jammer, want hierdie eerste hoofstuk is die mees geslaagde en bevredigende in die roman.

Die man besoek wel die kliniek, maar kan nie bekostig om vir die genadedood te betaal nie. Daarna, en heel per toeval, word hy werk as sekuriteitswag aangebied. Sy eerste skof is as hekwag by ’n huis waar ’n ritueel afspeel wat (soos ander resensente ook vermeld het) baie sterk herinner aan tonele uit Kubrick se rolprent Eyes Wide Shut – kompleet met kostuums, bokkoppe en naakte vroue. Tydens die ritueel snel die man ’n vrou te hulp wat hy herken as ’n prostituut wat in sy woonstelblok woon, en wie se dogtertjie, die begunstigde van die titel en die simboliese hart van die verhaal, hy dikwels oppas en musiek voor speel.

As gevolg van hierdie reddingspoging bevind die man hom later in die hospitaal, skynbaar in ’n koma, waar hy deur twee stemme aangespreek word: die vrou wat hy probeer red het, en ’n bokfiguur, ’n soort skadu-persona, wat simbolies onder andere gesien kan word as onderdrukte deel van die man se psige. Die hoofstuk word aangebied as ’n tweespraak waarin die stemme afwisselend gehoor word. In die loop van die twee narratiewe word beide die man en die prostituut se traumatiese verledes (en die rede vir sy geheueverlies) onthul. Die boek eindig met ’n kort hoofstuk; ’n mooi slot vol suggestie en dubbelsinnigheid.

Oortuig Winterbach met hierdie narratief in so ’n mate dat die leser bereid is om die mitologiese spel saam met die skrywer te speel? Nie heeltemal nie. Die mitologiese verwysings slaag nie deurgaans daarin om diepte te verleen aan wat alte dikwels ’n karige teks is nie. Te veel van die narratiewe episodes, die karakterisering en die dialoog is voorspelbaar; en wanneer hulle wel potensiaal vertoon (en daar is beslis gedeeltes wat potensiaal vertoon), onderontwikkel.

Tweedens, die sentrale problematiek, die spanning tussen “mens” en “dier”, of tussen “intellek” en “drif” (en daarmee saam die onderdrukking van die seksuele), is ietwat geyk. Maar goed, bevredigende letterkunde kan van eenvoudige idees, en selfs van maklike teenstellings (soos “goed” en “kwaad”, “man” en “vrou”) gemaak word. Die leemte hier is dat die idees nie werklik op ’n oorspronklike wyse ontgin en belig word nie: die opdringerige simboliek en mitologiese verwysings neem die plek in van ’n werklik oortuigende en spesifiek romanmatige hantering van die temas.

Daar is ander dinge wat ook kwel. Die gegewe van ’n trauma wat lei tot ’n onderdrukte deel van die psige, die totstandkoming van ’n soort “dubbele persoonlikheid”, is amper ’n cliché: dit is die standaard truuk in te veel Hollywood B-rolprente. Die tweespraak waarmee die verhaal ten einde loop, is te uitgesponne, emosioneel te liggewig, en die narratiewe oplossings wat dit bied, te “maklik”. Daar word op die ou end te veel gesê, te min gewys en geïnsinueer – wat jammer is, want op sy beste (vroeër in die boek) kry Winterbach dit reg om goeie, betekenisryke en visueel onthoubare tonele te skryf. Laastens, die eindelose herhaling van die Dier se gelag, “ba-ha-ha-haa!”, is ’n bietjie skoolopstellerig.

Op ’n meer positiewe noot: daar is meer as genoeg tekens dat ’n skrywer met eiesoortige belangstellings en obsessies hier aan die woord is, en daar is ook een of twee momente waar ’n wrang humorsin deurstraal. ’n Mens kan maar net hoop dat die skrywer, noudat hy van hierdie verhaal ontslae geraak het, ’n meer elegante, minder ooglopend “simboliese” teks sal skryf, een waarin hy veel meer sal maak van sy beeldende, situasie-skeppende vermoëns.

Tot dan: ’n Griekse slaai, asseblief!