Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate

Die ALV byeen in Port Elizabeth


Marius Crous - 2010-10-13

Maandag 27 September 2010

Op die oggend van 27 September kom me K en vriendin Bubbles op die Noordkampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth aan. Hulle is in die stad van winde – met sy historiese geboue uitgelewer aan die gier van ’n Ierse sakeman – vir die tweejaarlikse kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging.

Toegerus met genoegsame entoesiasme en ’n kongressak betree die twee die ouditorium. In die glim van die ligte herken me K van die groot geeste van die Afrikaanse letterkunde; van die mense wat hulle huisverbande afbetaal met die geld wat hulle maak uit die skryf van net-geformuleerde argumente oor die Boesmans, die nalatenskap van die Boesman, die Afrikaanse skrywer in sy soeke na sy wortels in Duitsland, of wat hulle krediet- en Foschinikaarte afbetaal met ’n boek oor die vrou as regstellende leser.

Na die gebruiklike verwelkomings en bekendstellings lê daar vir me K en Bubbles drie dae voor van inneem en afneem van notas. Me K leer oor die Boesman en die skewe uitbeelding van die klein geel mensies in ons ouere letterkunde.

“Wie is die Bleek en Lloyd van wie almal praat?” vra sy onderlangs vir Bubbles.

“Twee Boesmans wat hulle gevang het en aan die Kaap aangehou het. Hulle het hulle stories vir mense vertel en dié het dit opgeteken.”

“Vreemde name vir twee Boesmans, tog.”

Langs haar kan me K hoor hoe Bubbles die klanke naklap waarmee die name van die Boesmans uitgespreek word. Vir haar voel dit soos ’n tydsprong. Sy hoor van Boesmans in ou reisverhale, dramatekste; sien hoe iemand die kaart van die ou Kaap op die skerm vertoon. Toe ’n aanvallige jongeling uit Pole ’n lang, ingewikkelde verduideliking gee van hoekom die Boesmans stories vertel het oor die opsny van mekaar en van die maan, toe voel sy haar water raak laag.

Maar dan trek die geur van stomende kos onder die deur in en sy kry nuwe lewe.

“Haai, reken,” sê sy later vir Bubbles oor ’n bord kos, “dat selfs die gesiglose, stemlose bediendes nou ook ontleed word. Ek wens iemand wil vir ons ’Die swerfjare van Evelina van Sewende laan’ opteken.

“En wat het daardie professor bedoel met ’die fetisjering van inheemsheid’? Is dit nou dieselfde as ’restitutiewe luisteraar’ of ’getekstualiseerde orale teks’?”

“Nee, liewe jirre, dis mos nou maar eenmaal so. Sit ’n klomp geleerdes bymekaar en die een probeer geleerder as die ander klink.”

Na die middagete – dis gewoonlik haar uurtjie van skuinslê – skei hulle weë. Me K gaan luister na Hennie van Coller, terwyl Bubbles, wat so pas Eben Venter se Santa Gamka gelees het, besluit om die lesings daaroor te gaan bywoon. Hulle kom weer saam vir ’n knaap met ’n geskeerde hoof uit die Vrystaat se lesing oor heavy metal in Afrikaans. Me K voel lus om haar kop op die tafel voor haar te slaan op die maat van die musiek. Bubbles kraai soos sy lag vir die lirieke.

In die bus terug beland hulle saam met een van die sprekers. Die hooggeleerde vrou uit Nederland wat oor die bediendes gepraat het. Wat te vertel had, dat selfs Sokrates ’n kinderoppasster gehad het. Bubbles por vir me K aan om die vrou op die spoor te sit van Evelina.

“Sy is goed met niertjies maak.”

Die aand in die bos net buite die stad betree me K en Bubbles donker Afrika. Drie swart mans in kleurvolle uitrustings speel op tromme en dan word almal uitgenooi om saam te trom. Van die akademici trek hulle neuse op vir wat hulle “toeristiese kitsch” noem. Maar Bubbles is in haar element. Sy het beland langs ’n jong Poolse vroutjie wat die keurigste Afrikaans praat. Sy herleef haar kinderjare in die diep hart van Afrika. Vanaand slaan sy al haar vrese uit op die trom. Die ritmiese digter in haar kom na vore. Sy hoor hoe Bubbles die ritme van “Illumine, what is low raise and support;/ That to the height of this great argument/ I may assert eternal Providence” uitmoer op die trom wat tussen haar dye vasgeklem is.

Dié nag, met die see wat raas anderkant die grootpad, lê me K en Bubbles in hulle bedjies in die gastehuis en droom me K van ’n ou tannie op RSG wat vir Elias P Nel die storie van haar pa in die ystervarkgat vertel. Op haar beurt skree iemand vir Bubbles in haar droom en sy skrik wakker en dink aan die Poolse intellektueel met die omkrulsnor.


Dinsdag 28 September 2010

 

Op die oggend van 28 September sit me K en Bubbles saam met ds Freddie Burger van Alaska op die bankie in die voorportaal. Me K wonder of die dominee nie aanstoot neem as die mense so liederlik praat in hulle lesings nie. Sy loer vir Bubbles oor haar leesbril.

“Daar’s ’n hele sessie vanoggend oor … gender. Wat vir ’n ding is dit?”

“Klink vir my na ’n kruising tussen gentleman en jentoe.”

“Maar PG du Plessis is ook daar.”

“Daar’s nog ’n woord by: ’queer’. Hemel, die geleerde mense darem. Ek verlang sommer terug na die dae toe ’n kat in ’n gedig net ’n kat was.”

“Praat iemand oor Lina Spies?”

Wanneer die slim mannetjie van Unisa met die oop gesig praat oor die wilde jagtogte en die geldmaaksafari’s in Piet Haasbroek se roman, kry me K sommer lekker. Sy kan sien Bubbles geniet dit net so. Bubbles hou mos van mans wat kan skiet en suip en steek.

Wanneer die tweede spreker begin praat oor die digter-seun-verhouding by ’n Afrikaanse digter van wie sy nog nooit gehoor het nie, stuur Bubbles vir haar ’n nota:   “Ek gaan na die man oor die benederyk luister. Klink of ek daar hoort.”

Loftus Marais se naam het sy al iewers gehoor, dink me K. Hy is mos die jongeling wat met al die pryse in die Afrikaanse poësie weggestap het en dit net met een dun bundeltjie. Ja-nee, hy moet goed wees, en daarom stuur sy vir Bubbles ’n sms. “Kom Loftus. Alruin verstaan jy nie. K.”

Waarop Bubbles antwoord: “Loftus? Het ander naam mos? Trauma uit UV.”

Terwyl sy so sit en luister na die man wat praat oor Loftus Marais se werk, voel sy skielik baie onnosel. Weet nie wat die dosent bedoel met “grensverskuiwend” en “grensbevestigend” nie. En daai man met die leerpet is net plein onbeskof om aan die jong kind sulke vrae te vrae. Die gedig oor die strandromanse laat haar ver, ver terugdink – maar vir wat loop krap die mansmens in sy lies? Waar sou Loftus nou kom aan ’n leeutemmer? Is daar leeutemmers in Port Elizabeth? Oor die Boereoorlog voel sy meteens mistroostig, wanneer ’n jong kind, skaars mondig, vertel van die Engelse wat so ongenooid op die Boere toegesak het. Sy moet onthou om daardie DVD te kyk.

Teetyd praat sy en Bubbles met ’n vrou in ’n tweedpakkie. Die vrou is dowerig en peuter met haar gehoorapparaat. Sy kla dat die mense te sag praat en nie altyd die mikrofone in die ouditorium gebruik nie.

Muffin in die hand kyk me K na wat op die boektafel uitgepak lê. Boeke oor transnasionalisme, die Boesmans, postkoloniale konsepte en digbundels van Danie Marais (sou hy en Loftus Marais familie wees?) en romans van Eben Venter en Ingrid Winterbach.

“Die uitstalling laat my soos ’n gemarginaliseerde intellektueel voel,” sug ’n vrou langs haar.

“Dis vir my eerder sinjale van die abjekte,” merk ’n man met ’n besonder skerp mondjie op.

“Die boeke is duur,” voeg sy by.

“Entrepreneurial frontier masculinity at its best.”

Bubbles, pas terug uit die WC, tik haar op die skouer. “Het jy al tant Miem se kampdagboek gelees?”

“Nee, maar ek sal maar na Gideon Scheepers gaan luister.”

“Scheepers? Nee man, dis Strydom. Praat hy oor daai boek met die wedvlugduiwe?”

“Nee, die een oor die ou man wat sy hare so laat skeer.”

“En wie is Hagar Peeters?”

“Seker een van die Nuwe stemme-digters.”

Handeling versus gebeurtenis versus gebeurdes: me K skryf haar potlood stomp. Nooit het sy kon raai dat ’n mens soveel dinge uit ’n storieboek kan haal nie. Rame versus skripte: ’n humoristiese ondermyning van rame en skripte. So gou as wat sy by die huis kom, sal sy en Bubbles by die kombuistafel moet gaan sit en praat oor hierdie dinge. Niks kan aan die toeval en die toeverlaat oorgelaat word nie. Die lees van storieboeke is ’n diep afduik in die onderste lae van die gees.

Oor middagete praat iemand hier langs haar oor Krog se Begging to be black. Die vrou het ’n ewigdurende bewondering vir die musiek van Wagner. Noem dat as sy moes praat oor Krog, sou sy vir mense net die overture tot Tristan en Isolde gespeel het; hulle toe-oog daarna laat luister het en dan gepraat het oor die kulturele armoede van die postkoloniale Suid-Afrika. Die vrou praat oor die hongersnood van skoonheid in die eietydse Suid-Afrika. Sy praat oor die noodsaak om jou tas te pak en af te sit na Bayreuth. Begging to be German is haar herskrywing van die titel. Wanneer iemand haar uitvra oor die rol van Moshoeshoe in die boek, rol sy net haar oë. Wanneer sy met ’n koppie koffie terugkom van buite, steek sy vas in die deur.
“Kyk hoe takseer sy die tedere saal. ’n Wafferse Elisabeth.”

By die ingang na die konferensiesaal kan me K en Bubbles nie besluit na wie om te gaan luister nie. Me K wil gaan luister na Annette Jordaan wat praat oor die elegiese toestand waarin die Afrikaanse skrywer hom na 1994 bevind. Bubbles het nie lus vir melancholie nie. Sy besluit op Nina Botes, die jong meisie wat ’n paar jaar terug almal aan die praat gehad het oor haar genderklassifisering op grond van skoeisel. Maar vandag boei Botes haar nie. Ook nie die vent wat praat oor die psigose by Knobel nie. Sy het al ’n vroeëre weergawe by die Versindaba gehoor. Sy wonder of hy ook psigoties is. Dis die meisie van Noordwes wat al die slim feministiese teorieë in Dertig nagte in Amsterdam raaksnuffel, wat haar aandag hou. Sy wonder wat van me K geword het. Sit seker met haar skootrekenaar iewers en e-posse lees, maar wat Bubbles nie weet nie, is dat me K op daardie oomblik aan die lippe hang van Sonja Loots.

Ná 4 begin die ALV-ledevergadering. Me K verskoon haarself. Sy wil bietjie PE-Sentraal gaan verken. Sy is gewaarsku teen sakkerollers en grypdiewe; teen dwelmverkopers en ’n amorfe massa kortweg bekend as die “Nigeriërs”. Me K wil haar kinderjare herleef toe sy as jong meisie van Graaff-Reinet se wêreld af saam met haar familie om die Donkin-piramide kom stap het. Saam met haar broers geklouter het oor die mure van Fort Frederick en tee gedrink het agter The Lemon Tree. Wat Bubbles gaan doen, skeel haar min.

“Gaan jy deur ’n vergadering sit?”

“Nee, kry die mense dan nooit genoeg van praat nie?”

“Ek het ’n taxi gebel. Ek gaan Sentraal toe. Wat gaan jy doen?”

“Dalk bietjie deur die Boardwalk stap. Dalk my verslawing voed by die casino.”

“Dan sien ons mekaar seker vanaand by die dinee. Moet mens opdress?”

“Die mense in PE dress mos nie op nie. Dis net stranddrag en oop skoene. Die meeste vrouens het gebarste hakskene.”

In ’n ouwêreldse eetkamer met lae lig kom die sprekers en toehoorders byeen vir die dinee. Vioolmusiek en sjerrie verwelkom die mense. ’n Gemaal en gesoek na tafels. Na wie aan wie se tafel durf sit, so sonder plekaanwysings. Die sjarmante voorsitter wat in ’n dieprooi uitrusting die gaste verwelkom. Van waar sy saam met ’n hoogswanger vrou by ’n tafel sit, kan me K nie die toesprake en die digters lekker hoor voorlees nie. Tog jammer daar is nie ’n mikrofoon nie. Langs haar skater Bubbles toe een van die digters sy satiriese vers oor die kongres voorlees:

Met apologie aan Kafka

Uit watter Valkenburg het ek ontsnap
Dat ek my nou bevind in hierdie kou
Ek is Kafka se aap die slim primaat
Vaal soos die hare van ’n gepensioneerde professorin
Wat hier moet dans en hier moet profeteer
Soos dit die aanwesiges betaam

 

Ek dra geen kennis van trans-atlanti-onanisme nie
Ek is gevang gehok in die ruim gestop
’n pak van Mr Price gegee en gesê:
Jy is nie ’n werfbobbejaan nie.
Jy snuif nie aan onderklere nie en jy trek nie hare nie
En jy soek nie kak met Joan Hambidge nie.

Aap is ek
Met ’n boesvrou nog nooit die askoek getrap
Of binnebeen gelê met vol koker en met skerpste pyl

Weet jy en verder, daai lucky van Santa Gamka strike
my nie as ’n suksesvolle katelknaap of huurjonge nie
Tante Zan kon hom ’n trick of twee geleer het
Die ou jeuklies

Ek is ’n aap
Ek hou van aapwees

I don’t beg to be a mountain gorilla

Hierdie aap wil nie gaan roei op die unubambarivier
In die skadu van machu picchu nie
Sweterig trap op trap op trap opklouter
Na die slagklip van die asteke nie

Hierdie aap wil nie gaan soek na Bubbles Bothma
En wil asseblief nie op my matroos val
By die graf van Wilhelm Knobel nie

A- kak- aka- akkies-askies- demici laat my stotter
Lit-te-te-tette-ra-torre laat my uitslaan in sweet
Nes dominees uit Alaska
Boesmanjagters uit Posnan
gereformeerdes in Prada
Of straight mans wat probeer gedigte lees

Fok, hoe verlang ek meteens na oerwoud en vlakte

Hier kom die swaaiende vinger met sy muilband
’n aap durf nie selfplesier beoefen
terwyl Raka skouer druk met die manne van die WAT nie

Nog net dit, meneer die hanteerder,
Hier is luise en wolletjies in my naeltjie – dit tersyde
Mag ek maar gaan woon in Breyten se middelland
Mag ek vra in plaas van voëlgeluide vir heavy metal
King Kong speel met Ronelda Kamfertjie

Wag, wag, wag …
Jy weet ’n akademiese spreker hou nooit by die tyd nie

Mag ek vra dat die pragtige Pawel of die fraaie Eva
Vir my Szymborska voordra in Pools – wat neuk hulle so met die Boere?

Ja, wag, my magtig. Wag.
Ek wil my oog laat val oor die queers.
Wat is queer? Queer? Klink soos ’n uitgerekte voëlgeskrei. Queer.
Kyk, dit pla hulle.
Queer, soos apartheid, het nog nooit bestaan nie.

Wat sê jy, meneer Baardbakkies?
Moet ek liewer sanik oor eksistensiële krisisse met vroue in Duitsland
Sanik oor identiteit in ’n post-Mandela pypdroom
Geleerdes, julle verraai julle slukderms!

Dames en here, vergun dat ek die saal mag verlaat
maar onthou hierdie wyse aap se woorde:
sy wat uintjies grawe in ’n leopard g-string
grawe ’n loopgraaf.

“Gaan dit oor regte mense?” vra me K oor ’n glas rooiwyn.

“Dit gaan oor die kongres, man.”

“Maar gaan mense hulle nie daarin herken nie? Hulle gaan mos vies wees.”

“Pure arrogansie as jy my vra. L’chaim.”

“Joan Hambidge gaan ook voorlees. Nes Bernard Odendaal en Heilna du Plooy.”

“Ons het bietjie humor nodig na die lang gesit van vandag. Soms voel die plek vir my kompleet soos ’n verligte malhuis.”

“Jy moet litium fynmaak en oor jou poeding strooi.”

 

Na die dinee stap me K en Bubbles terug na hulle gastehuis. Daar is nie verkragters en aanvallers op die PE-seefront nie, het iemand hulle ingelig.

“Waar word die volgende kongres gehou?”

“Glo in Pretoria.”

“Daar sal ons nie so ingehaak by mekaar kan stroll in die aandlug nie.”

“Hulle sal ons vir lesbians aansien. PE se mense ken nie lesbians nie.”

“Seker dink ons is hokkiebokkies. O Mamy, O Mamy Mamy Blue.


Woensdag 29 September 2010

Bubbles is nog moeg wanneer sy die saal instap in haar masjiengebreide langbroekpakkie. Dis sommer haar vliegklere ook. Na middagete, het Elsje gesê, sal die bus haar lughawe toe vat. Me K vlieg eers heelwat later terug Kaap toe. ’n Vrou wat sy kan sien sommer heelwat breins het, sit voor in die saal. ’n Vrou van skerp insig en oordeel. Vertel van die storie van daai uitgeweke Coetzee se skrif en skriftelikheid; van sy historiese posisie as setlaar in die land.

“Wat bedoel die vrou met ’diskoers’ en ’diskoerse’?” brom me K onderlangs.

“Coetzee word geplaas deur ander diskoerse as ’n setlaar.”

“One settler, one bullet en gooi die lyk in die porcupine hole.”

Wanneer me K hoor dat Goethe gesê het ons moet altyd terugkeer na die antieke bronne, knik sy instemmend. Die man van Pretoria se gepraat oor provinsialisme en pedantiese hoogmoed en kleiner letterkundes is vir haar te verwikkeld. Maar haar kop is nie so plat dat sy nie besef dat om Marlene van Niekerk te verstaan, moet sy ook vir Nietzsche ken nie. Sy maak ’n aantekening.

“Dis alweer daai De Lange-man.”

“Ons sal De Lange se gedigte moet lees, mens. Hoop nie dis te ongeleerd nie.”

“Jy hoor dan nou hy skryf oor Lacan se besoek aan Japan in die lente.”

“Wie is Lacan?”

Me K skrik haar spierwit as die spreker oor haar brilraam loer en haar tot stilswye maan. Sy vind die onderlangse getjietjietjie steurend.

Teetyd simpatiseer die een vrou met me K.

“Pedantiese hoogmoed.”

“Maar sy self is so steurend. Oop met die skootrekenaar. Toe met die skootrekenaar.
Uit by die een deur en in by die ander. Skril lag.”

“Wie is die vrou?”

Bubbles maak haar program oop.

“My jirre, K, jy is so pas oor die kole gehaal deur Joan Hambidge.”

’n Trotse gevoel deurspoel vir me K. Sy wens die fotograaf van Son was nou daar.

“Gaan jy na haar tweede referaat luister? Die een oor Nabokov?”

“Nee, gots, netnou verskree sy my weer. Ek sal maar liewer na Wopko Jensma gaan luister.”

“Was hy ’n swart Afrikaanse digter?”

“Kom ons gaan vind uit.”

Terwyl Amanda Lourens praat oor die vroulike taal in die werk van Marlise Joubert, sit en maak me K fonetiese klanke. Maak sy mondbewegings en tuit haar lippe. Praat sy regtig anders as mans? Maak mans ander tipes klanke as vrouens? Kap mans se klokke teen mekaar en maak ’n eiesoortige klank?

“’Die Afrikaner se ambivalente verhouding tot grond’ is volgende aan die beurt.”

“Wat is daar dan nou nog te sê oor grond en die plaas?”

“Jy weet mos ons kom nooit los van die plaas nie?”

“Almal soek ’n stukkie grond vir ’n lappie mielies en ’n paar spruite spinasie.”

“Vir ’n melkbok of twee; hoenders.”

“Dis óf die grond óf Krog.”

“Is Krog dan nie ook gepla met die grond nie?”

“Sy wil dit seker weggee.”

“Die oorsese mense weet ook net van die WVK na hulle Krog gelees het.”

“Het jy al daai skedelboek van haar gelees?”

“Nee, ek is te moeg van wroeg.”

“Maar moet ’n mens swart wees om alles in hierdie land te kan verstaan?”

“Miskien moet ons maar weer die plaasromans gaan lees.”

“Die Afrikaanssprekende aard darem maar net nie in die stad nie.”

“Die boer in die beton en al daai kak.”

Oor die laaste middagete van die kongres vis me K en Bubbles by van die ander kongresgenote uit oor watter referate hulle die beste gevind het. Nóg me K nóg Bubbles is in die akademie, so hulle het ’n vry sê. Hulle gaan nie op tone trap nie. Hulle skryf nie boeke wat wraaklustig geresenseer gaan word nie.

“My hoogtepunt was Burgert Senekal van die Vrystaat oor die heavy metal-lirieke.
Iets nuuts. Iets vars. Tog nie die ou dorre literêre analises nie. “

Al die jongmense by die kongres is verblydend. Daar is ’n gesonde belangstelling in Afrikaans en sy letterkunde.”

“Niks was grensdeurbrekend nie. Die beste referate was oor Dertig nagte. Joanette van der Merwe s’n. O ja, en Pawel Zajas oor Krog en Kapuscinski was goed. Visagie het my ook met ander oë laat kyk na Haasbroek se werk.”

“Marianne de Jong beslis.”

As Bubbles maar net kon onthou hoe al die mense gelyk het. Daardie jong man van Johannesburg wat so al die slim versteekte tekste in Die benederyk uitgewys het, was vir haar ewe goed.

“Ek het min uitstaande referate gehoor, maar oor die algemeen was die kwaliteit goed. Ek was nogal teleurgestel met ’n aantal referate deur gevestigde name. Mens behoort seker ’n boek te kan volmaak met die beste referate. Afgesien van jou en my referaat bly by my by: Hein Willemse, Dorothea van Zyl, Linde Beer, Gideon Strydom en Joan-Mari Barendse.”

“Vir my was dit weer Hennie van Coller oor ’middelmootliteratuur’; Phil van Schalkwyk oor Eben Venter se Santa Gamka en 'n resente roman en film uit Vlaandere; Godfrey Meintjes oor Kikoejoe; Andries Visagie oor Die ander vennoot; Hans Ester oor "De gemarginaliseerde intellectueel"; Marius Crous oor Wilhelm Knobel; Sonja Loots oor "die romanskrywer as argivaris"; Leti Kleyn oor Wopko Jensma; Amanda Lourens oor Marlise Joubert en Luc Renders oor Antjie Krog.”

Me K vat nog ’n skeppie poeding. Die gesprek raak nou vir haar te soet.

“Pawel Zajas se referaat was van die min wat behoorlike diskussie ontlok het.”

“Ek het gehou van Shaun de Jager se referaat. ’n Brawe jong man met ’n nugtere, logiese inslag.”

By die koffiepot glimlag Bubbles vir me K.

“Ons sal maar moet gaan na die kongres in Pretoria. Dis tog ’n verkwiklike spul. En mens leer so baie.”

“Jy hoor ook so lekker baie skindernuus. Vars uit die perd se bek.”

Bubbles mors suiker op die tafeldoek.