Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 13/10/2010: Pogings tot media- en inligtingbeheer ongrondwetlik


Loammi Wolf - 2010-10-13

Pogings tot media- en inligtingbeheer ongrondwetlik

Loammi Wolf

Die Algemene Balieraad van Suid-Afrika het reeds tien redes aangevoer waarom die voorgestelde wet op inligtingbeheer ongrondwetlik is. Ten slotte haal hulle die Konstitusionele Hof se uitspraak aan dat "[the] systemic requirements of openness in our society flows from the very founding values of our Constitution, which enjoin our society to establish democratic government under the sway of constitutional supremacy and the rule of law in order, amongst other things, to ensure transparency, accountability and responsiveness in the way Courts and all organs of State function"  (Bron).

Dieselfde ongrondwetlikheid is van toepassing op die voorgestelde mediatribunaal. Volgens berigte is die beoogde tribunaal ’n regsprekende instansie, wat dan aan parlementêre kontrole van die regerende party onderworpe gaan wees.

Dit druis in teen die skeiding van magte, want volgens art 165(1) van die Grondwet sentreer regsprekende bevoegdhede in die hande van die howe. So ’n tribunaal is dus deel van die regsprekende staatsmag, wat nie aan parlementêre kontrole onderworpe is nie.

Volgens een berig lyk dit asof die regering dalk eerder beoog om hierdie tribunaal in die vorm van ’n administratiewe liggaam te giet. In regstate is net die uitvoerende gesag en organe van die uitvoerende gesag onderworpe aan parlementêre kontrole. Dit is ook so uiteengesit deur art 55(2) van die Grondwet, wat die uitvoerende gesag en ander liggame van die uitvoerende gesag aan parlementêre kontrole onderwerp.

Art 165(2) van die Grondwet sluit egter regsprekende organe implisiet uit van parlementêre kontrole: “The courts are independent and subject only to the Constitution ...” Ook die parlement is dus gebonde daaraan om met wetgewing hierdie grense wat die Grondwet trek, te respekteer.

Indien hulle so ’n wet sou maak, druis dit in teen die voorskrifte van art 165(4) van die Grondwet. Verder kom dit neer op ’n ongrondwetlike usurpering van konstitusionele magte van ’n ander staatsmag, wat verbode is in terme van art 41(1)(e)-(g) van die Grondwet.

Die Grondwet stel dit ook duidelik dat indien daar konflik tussen staatsorgane ontstaan, die toepaslike orgaan om dit te reguleer die Konstitusionele Hof is (art 167(4)(a) van die Grondwet), en dus kan die regering nie wetgewing inisieer in die parlement wat beoog om staatsmagte wat die Grondwet aan die Konstitusionele Hof toegeken het, aan die parlement oor te dra nie. Dit is ongrondwetlik.

Geskille oor die aantasting van menseregte word in terme van art 165(2) deur die howe besleg. Wat die regering dus in effek doen, is om hierdie mag wat die howe toestaan, oor te dra aan ’n liggaam (mediatribunaal) wat die parlement skep en deur die parlement (en daar is die ANC die regerende party) direk gekontroleer kan word. So word die howe dan gesystap.

Loammi Wolf

 

Loammi Wolf op die nuusbriefredaksie

Vrye Woord en die redaksionele komitee verwelkom die Grondwetkenner dr Loammi Wolf. Bostaande standpunte van haar is in verskeie gesaghebbende artikels en studiestukke uiteengesit.

Loammi Wolf het regte studeer aan die Vrystaatse Universiteit en was sowel die beste regstudent as die Dux-medaljewenner van 1981. Op grond daarvan het sy 'n Abe Bailey-beurs gewen. Sy het daarna 'n LLM aan die Universiteit van Virginia, VSA, behaal en aan die Universiteit Heidelberg in Duitsland gestudeer. Sy was 'n ruk lank verbonde aan die regsfakulteit van die Witwatersrandse Universiteit en het 'n doktorsgraad in vergelykende staatsreg en regsfilosofie behaal.

Sy het heelwat regsvergelykende artikels gepubliseer oor temas soos die regstaat, die beskerming van menseregte, die uitleg van grondregte en die afweeg van belange.
Vervolgens het sy ook in Duitse belastingreg en ouditeurskunde gekwalifiseer.

Haar huidige belangstelling fokus meer op regslinguistiek, die interaksie tussen “memory politics” en “collective memory” as kulturele stukragte. Haar inisiatief “Democracy for Peace” is gerig op knelpunte in staatsorganisasiereg wat die demokratiese oorgang na ’n regstaat bemoeilik.

CM

Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe | Back to newsletter index