Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Die kortstondige raklewe van Anastasia W


Albert Maritz - 2010-10-13

Teks: Marlene van Niekerk
Regie: Marthinus Basson
Musiek: Braam du Toit en Mr Cat and the Jackal
Met oa Nicole Holm en Eben Genis
Aangebied deur TEATERteater

Dié produksie het met sowel die Beeld-Aartvarkprys as die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys weggeloop.

Elke akteur, musikant, sangnommer en orkesnommer, en elke teatertruuk wat die walglike, siek realisme van die verwerplike Suid-Afrikaanse mens in hierdie produksie vasvang, is van die uiterste gehalte.

’n Resensent wat dalk net so gewalg is met die stuk soos ek, let darem op dat die boustellasie in die pad van die projeksie op die agtermuur is, wat laasgenoemde onleesbaar maak. Net daar is seker ’n fortuin van die begroting in die drein af.

Maar Die kortstondige raklewe van Anastasia W moes nooit eers op Aardklop gewees het nie. Dit het niks te make met die gehore daar nie. Behalwe om hulle pak te gee vir die crime waarvan hulle elke dag lees op die koerantvoorblaaie, of self aan blootgestel word. Behalwe om hulle bloot te stel aan demonstrasies van twee bruin mense wat hulle skuldig maak aan onderduimsheid en moord.

Ook visueel is Anastasia W ongelooflik. Maar dit laat my met meer vrae as wat ek nodig het. Die inhoud oortref Beeld se voorblad en die Son se taal.

Was Aardklop dus net die toetsgrond om te kyk wat die reaksie van gehore is? En as die reaksie positief is? Is dit bevestiging dat die stuk in elke ander hoofsentrum en by elke ander fees kan speel, en selfs deur die platteland kan toer?

Maar die feesgehoor wat die stuk kies, wat betaal om hierdie stuk te gaan sien, eerder as vir Casper en Marion, eerder as Skollies en die ander kort humorstukke, eerder as die ouens wat sing, hierdie feesgehoor is wat mens noem die “converted”. Dit herinner my aan die destydse The Native who caused all the Trouble. Dit het vir die liberale gehore van die Markteater gespeel. ’n Resensie het wreed aangedui dat die stuk speel vir die “converted”.

By Anastasia W slaan kollegas in die voorste ry hulle hande saam vir die aweregse visie van die regisseur, vir die genialiteit van die musiekregisseur, die beeldskone werk deur die kunstenaars; maar veral ouer mense loop eerste uit weens die kras taal en beelde. Die akteurs verruk, die garderobe verruk, so ook die beligting. Die sang is ’n beeldskone, onophoudelike “chant”, die “band”-sanger kom nader en vermaak ons met ongekende kragtige sang – maar … later loop nóg mense. Loop hulle weg van die inhoud, of teen die tyd omdat die walging, wat die realiteit van ons donkerste, donkerste oomblikke moet uitbeeld, geskep word sonder enige aandag aan grense, veral nie aan die grense van die tyd nie?

Marthinus Basson glo steeds daarin om (soos in die ’80’s, soos hy geleer het aan die voete van sy leermeester, Dieter Reible, wat destyds die gehoor kon trakteer met reusestaatsbegrotings in die streeksrade) oor so ’n lang periode die gehoor te trakteer op die absurdste realiteit dat jy, as jy nie kots van die inhoud nie, wil kots omdat jy so lank moet sit.

En geen moeite of geld word ontsien nie. Buitensporig is die R500 000 wat Anastasia W glo kos, nie. Dankie tog vir ’n vrye media, sodat ons darem weet van die ryk produksie. Maar nee, dis nie te veel vir ’n produksie nie.

Kuns kos heelwat minder as ’n eiendomsontwikkeling, maar darem soveel as wat ’n paar mense kos op die tafel kan gee vir die enkele weke wat hulle werk het. Maar hoekom moet ander, ewe groot en uitvoerige teaterproduksies dan klaarkom met een derde van daai bedrag? Of minder. Of is hierdie projek bloot ’n bevoorregte projek, soos ABSA se R1,4 miljoen destyds vir die ontwikkeling van vier produksies? En wat is die kriteria om te kwalifiseer as bevoorregte projek? Of het ander borge die meeste van die geld aangebied? En waar was daardie borge toe daar sprake was van ’n ooreenkoms tussen al die feeste om ’n enkele stuk na almal te toer? Toe sou dit ’n borg ook R500 000 kos om die stuk op die planke te bring.

Opsommenderwys: Eerstens, hoekom moet die teaterganger by die kunstefees pak kry oor wat op die koerantvoorblaaie aangaan? Hoekom moet die meer gesofistikeerde feesganger, in sy betaalde sitplek, pak kry omdat soveel mense in hierdie land, soos in Australië, Amerika, Europa en waar jy nog ook al wil, geneties baie erg onperfek is?

Tweedens: Hoekom moes die teks in die eerste plek opgevoer word? Daar is baie tekste wat geweeg en te lig bevind word. En kunstenaars staan tou met beter tekste, wat ook krities is oor die mens se haat waarmee hy graag liefde vergeld (Mooi Maria – Pieter Fourie). Hoekom moes hierdie teks oor Anastasia opgevoer word, en teen die prys van drie Mooi Marias?

Die feesverteenwoordiger verduidelik tereg dat dit is wat goeie teater kos en dat dit die produksie sal kickstart vir ’n langer raklewe. Anastasia W wen al wat prys is, en dieselfde verteenwoordiger verklaar dat dit nou die raklewe verleng. Dis ’n seëning. So, speel sal die stuk speel. Maar – vir watter gehore? Die kleinste kerkies in die land is die waar die dominee glo hy moet sy kudde pak gee.

Wat is die belegging? Dit vloek, spoeg en klap mense in die gesig. Dit gebruik die room van ons talent om die morsige genialiteit op die planke te bring. Maar wie maak die gemors skoon? Mag die briljante kunstenaars in ’n volgende stuk hulle ongelooflike talent aanwend op terreine wat saak maak vir die mense wat voor hulle sit.

Haal nog ’n halfmiljoen uit vir ’n stuk oor watter skade die pas afgelope wenstuk aan die kunstoneel aangerig het. Die navorsing om dit op te voer sal nie eens een bladsy oplewer nie. Want die inhoud is nie die moeite werd om oor te praat nie. Terwyl daar issues is, soos die skade van die grensoorlog, wat ons nou nog saam met ons dra; mans, vrouens, kinders; die postapartheid-trauma wat elke rassegroep in Suid-Afrika het. Issues soos geweld teen vroue. Issues soos kindermishandeling. Ag, te veel issues om op te noem.

Die kortstondige raklewe van Anastasia W is briljant, en bombardeer die gehoor met elke swakheid in families en gemeenskappe wat jy maar aan kan dink. Die stuk begin boonop laat, so die ou met kaartjies vir ’n volgende stuk moet uitloop, of sit. Dalk loop mense omdat die stuk die kol tref met die skerpmespunt waarmee hierdie teks geskryf is. Maar ek twyfel. Ek dink die stuk is so uitloopbaar weens die feit dat die banale inhoud nie van toepassing is nie. Alhoewel daar een plek is waar die inhoud gewys kan word. Speel die stuk op die sypaadjie van die grootste teater, steeds staatsgesubsidieerd, in die Kaap. Reg by die hekke van die parlement. Vertel hulle hoe ’n walging ons is.

En as die mislukte projeksie ’n verlies is, hoeveel kos die skade wat die inhoud aanrig nie?