Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Girl with the Dragon Tattoo spoeg vuur-sterre


André Crous - 2010-10-13

Regisseur: Niels Arden Oplev
Kamerawerk: Eric Kress
Rolverdeling: Michael Nyqvist, Noomi Rapace, Sven-Bertil Taube
Looptyd: 140 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 8 Oktober 2010

The Girl with the Dragon Tattoo is gebaseer op die gelyknamige roman wat deesdae soos soetkoek in Suid-Afrika en regoor die wêreld verkoop. Dit is die eerste boek in ’n trilogie deur Stieg Larsson, wat ’n Sweedse speurjoernalis was en veral navorsing gedoen het oor die verregse karakters aan die rand van die Sweedse samelewing. In hierdie verhaal word daar onder andere gekyk na ’n aantal individue wat destyds die Nazi-party ondersteun het.

Die verhaal self fokus op ’n joernalis, Mikael Blomkvist, wat onlangs tot tronkstraf gevonnis is weens sy lasterlike artikels teen ’n groot Sweedse sakeman. Blomkvist word deur ’n ander patriarg van ’n groot familiebesigheid, Henrik Vanger van die Vanger Groep, genader om ’n saak te ondersoek wat die polisie in sy noord-Sweedse dorpie al 40 jaar lank verbyster.

Blomkvist is baie noukeurig en danksy tegnologie kry hy vinnig ’n belangrike leidraad, en dan nóg een. Die meisie na wie daar gesoek word, is Harriet Vanger, Henrik se broerskind, wat in 1966 op Kinderdag verdwyn het. Dit is ’n groot gesin en die inwendige magstryd het die familie al byna aan flarde geskeur. Henrik vermoed dat enigeen in sy gesin vir Harriet se verdwyning verantwoordelik kan wees, maar dan, soos ’n diplomaat, kies hy om te sê dat niemand verdink kan word nie en dat Blomkvist eerder self ondersoek moet instel.

Blomkvist word uitgehelp deur ’n jong meisie met swart hare, dik swart skoene en swart klere wie se lyf op talle plekke met ysterpennetjies deurboor is en wat ’n tatoeëermerk van ’n draak op haar rug het. Haar naam is Lisbeth Salander en myns insiens is sy een van die interessantste karakters van die jaar, vertolk deur ’n uiters bekwame aktrise, Noomi Rapace, omdat daar verby die harde buitekant vreeslike leed in haar oë gelees kan word. Ek is baie bly dat die Engelse titel die fokus op haar plaas, eerder as die veel meer ontstellende “Men who hate women”, soos die boek en film in die oorspronklike Sweeds heet.



Die film is ’n speurverhaal en bevat ’n paar tonele wat sensitiewe kykers kan ontstel, maar die samestelling van die dikwels grafiese aksietonele is met ’n seker hand gedoen wat die brutale aard van die optredes weergee sonder om te veel te wys. Die oorspronklike titel dui op die aard van die geweld en vrouehaat is ’n tema wat deur talle onnoembare dade loop.

Die eerste halfuur is volgepak met inligting, veral wanneer Henrik die familiegeskiedenis aan Blomkvist verduidelik en ons sin maak uit die tipe omstandighede, tussen familielede en in die dorp self, daardie dag in 1966 toe Harriet verdwyn het. Dit was eers met die tweede kyk dat ek agtergekom het hoe belangrik baie van hierdie besonderhede is; ek kon eenvoudig nie byhou nie en dit maak die ontknoping ’n bietjie moeiliker, maar die film se vermaaklikheidsfaktor ly nie vreeslik daaronder nie.

Die kalm atmosfeer van die omgewing is doelbewus gekies om ons te flous en dit gebeur een of twee keer dat ons onkant gevang word deur die geweld. Dit is altyd lekker om te sien hoe iemand vasbeslote na die waarheid soek, en stadig maar seker kom ons agter dat daar vreeslik bose dinge in hierdie afgeleë deel van die Sweedse platteland aan die gang is, waar temperature by tye laer as twintig grade onder vriespunt daal – bose dinge met ’n erg gelowige inslag.

Wanneer geloof bygebring word en die Bybel nageslaan word om die wilde teorieë te staaf, raak die storie ’n bietjie Mission Impossible-agtig en dit is snaaks om te sien hoe die Bybel altyd maklik bereikbaar is vir enigiemand, wie hulle ook al is en waar hulle ook al is.

Ons leer Lisbeth nie behoorlik ken nie en daar is ’n paar tonele waar sy effens vreemd optree, maar die film gee ons een belangrike leidraad oor haar behoefte om in beheer te wees: In ’n uitstekende voorbeeld van hoe die terugflits gebruik behoort te word, sien ons ’n enkele toneel uit die verlede wat boekdele spreek en die jukstaponering van Lisbeth se aksie met haar aksie in die hede maak hierdie stuk uitsonderlik insiggewend, sonder dat die karakters ’n enkele woord spreek.


Dit is egter verbasend dat, met ’n titel soos “The Girl with the Dragon Tattoo” ons niks omtrent hierdie tatoeëermerk leer nie.

Die film werk baie goed op sy eie en jy hoef nie die ander films in die reeks (daar is nog twee wat hierop volg) te sien om sin hieruit te maak nie. Al die drade van die verhaal word teen die einde van die film netjies saamgebind en selfs die karakters is goed genoeg ingekleur om ons aandag te hou.

Musiek word baie spaarsamig gebruik en daar is, met een uitsondering, nooit ’n doelbewuste poging aangewend om ons met die aksie of die musiek skrik te maak nie. Hierdie film se opvolgprent, The Girl Who Played with Fire, doen dinge heelwat anders. Laasgenoemde word op 5 November vrygestel.

Al drie boeke van Stieg Larsson word tans in Engels verfilm met Daniel Craig in die hoofrol. Die Amerikaanse weergawe van The Girl With the Dragon Tattoo word volgende jaar vrygestel en ons sal maar moet wag om te sien hoeveel erger die bloedvergieting gaan wees.