Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Waarheen met Afrikaans? – My droom vir Afrikaans


Wannie Carstens - 2010-10-12

Lesing gelewer tydens die Jaarsimposium van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 30 September – 1 Oktober 2010, Universiteit van Pretoria:

  1. Inleiding

Dit is nie maklik om te antwoord op ’n vraag soos in die titel van hierdie lesing nie. Daar is gewoon te veel wat in ag geneem moet word voordat ’n mens ’n sinvolle antwoord hierop kan gee. Verder leef ons ook in onsekere tye, met ’n regering wat nie juis besondere ag slaan op die onderhandelde grondwet nie. Dit het byvoorbeeld onlangs die durf van ’n enkeling geneem om die Staat te dwing om die taalbepalings van die Grondwet ten uitvoer te bring. Cerneels Lourens, ’n prokureur van Brits in Noordwes, het die saak gewen en daarvolgens het die Staat nou twee jaar tyd (tot Maart 2012) om die nodige regulerende maatreëls in plek te stel waarvolgens die gebruik van tale beheer sal kan word. Ewe skielik is daar nou in die geledere van die nasionale Departement van Kuns en Kultuur ’n gewoel aan die gang om die SA Talewet te finaliseer en aan die Parlement voor te lê.

Dit is ’n aanklag teen die Suid-Afrikaanse regering dat tot hierdie stap oorgegaan moes word. Dit behoort eintlik as ’n vanselfsprekendheid gereken te word dat in ’n land wat grondwetlik meertalig is, alle tale die reg het om hulle volledig uit te leef. Die argument dat dit “duur” is, is in wese irrelevant omdat daar in die loop van die grondwetlike onderhandelinge as ’n politieke kompromis besluit is om elf amptelike tale te erken, terwyl daar vroeër net twee sodanige tale was. Nou moet ons net ’n manier vind om daarmee saam te leef en dit te maak werk.

Binne hierdie breë raamwerk van veeltaligheid en van ’n mislukte taalbedeling (weens politieke onvermoë en ’n gebrek aan politieke wil) is daar ook plek vir Afrikaans in Suid-Afrika en dit is waaroor ek vandag gaan praat.

2. My droom vir Afrikaans

U is almal waarskynlik bewus van die bekende “I have a dream”-toespraak deur Martin Luther King Jr op 28 Augustus 1963 in Washington DC, waarin hy sy droom uitgespel het vir ’n Amerika vry van verdrukking en die miskenning van burgerregte. Hierdie toespraak het in ’n sekere mate die simbool, die kapstok geword van almal wat wil droom oor groot sake, oor dinge wat nog in die verskiet lê. Dit is waarskynlik onvanpas van my om dit in verband met ons eie taalkonteks te bring, maar ek wil ook graag droom oor Afrikaans, oor Afrikaans van 2030. Kom ek deel dit met u:

  • My droom is dat oor twintig jaar (2030) Afrikaans nog gebruik sal word as volwaardige taal in skole, universiteite, kerke, howe, koerante, tydskrifte, radio, televisie, teaterverhoë, kunstefeeste, en veral in ons huise – dat Afrikaanssprekendes spontaan sal deel vorm van die lewe in Suid-Afrika.
  • My droom is dat Afrikaans nie net gebruik sal word in hierdie kontekste nie, maar dat die funksies verder uitgebrei sal wees, dat meer universiteite as die huidige twee (NWU, Potchefstroomkampus en die US) Afrikaans as medium van onderrig sal hê; dat kinders spontaan na Afrikaanse skole sal gaan.
  • My droom is dat Afrikaanse ouers sonder enige twyfel in hulle gemoed hulle Afrikaanse kinders na Afrikaanse skole sal stuur, dat hulle sal glo in die potensiaal van Afrikaans as taal van opvoeding in Suid-Afrika.
  • My droom is dat Afrikaans haar posisie as taal in van die ekonomie en van werk sal uitgebrei het en dat ons as Afrikaanssprekendes ons produkte in Afrikaans sal kan koop, dat die produkte Afrikaanse name en Afrikaanse etikette sal hê, dat werknemers in winkels spontaan met ons in Afrikaans sal praat.
  • My droom is dat Afrikaans oor twintig jaar ’n taal van spontane kommunikasie in winkelsentrums, rolprentteaters, gimnasiums, langs sportvelde, esm sal wees.
  • My droom is dat Afrikaanssprekendes trots sal wees op die bydrae wat hulle lewer tot die lewe in die Suid-Afrika van 2030, dat hulle erken sal word vir die uitnemendheid van hulle bydrae, dat hulle gerekende burgers van Suid-Afrika sal wees.
  • My droom is dat my kleinkinders trots sal wees op hulle oupa wat gehelp om ’n plekkie vir Afrikaans in Suid-Afrika  te vestig. (En wat gaan u kleinkinders oor u bydrae sê?)
  • My droom is dat my kleinkinders nog in Suid-Afrika sal wees om Afrikaans hier te praat en dat hulle nie uit Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Engeland of êrens vanuit die VSA in Engels met hulle oupa sal praat nie. En as hulle Engels praat, sal dit maar lol met hulle ouma ...
  • My droom is dat ek my kleinkinders stories in Afrikaans kan vertel en saam met hulle die wonderwêreld van Vlakkie die Vlakvark, Ysie die Ystervark, Kammie die Kameelperd of Kareltjie Kat kan verken.
  • My droom is dat die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns as liggaam wat hom beywer vir die hoë funksies van Afrikaans, nog in 2030 sy jaarsimposium sal hou (steeds in Pretoria en nie in Tshwane nie!) en dat ek as op en wakker 78-jarige dit sal kan bywoon! En natuurlik dat ons die hele simposium steeds in Afrikaans sal hou.
  • My droom is dus dat Afrikaanssprekendes volwaardige burgers van die Suid-Afrika van 2030 sal wees, dat hulle en hulle taal tuis sal voel in die land, dat die toekoms net belofte inhou en nie stryd nie.

 Is dit te veel gevra? Ek dink nie so nie.

Natuurlik is ek nie ’n profeet nie en ook nie ’n waarsêer nie, maar vanuit die posisie waaruit ek nou redeneer (as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad), en as akademikus, kan ek wel redeneer oor hierdie droom. Die vraag is seker nou of dit ’n haalbare droom is? Of soos een van my kollegas aan die NWU vir my gesê het toe ek haar van my droom vertel het: Is jy nou met ’n pypdroom (opiumdroom of droombeeld, sê die woordeboek) besig?

’n Briefskrywer, Henri L du Plessis (2010), skryf onlangs redelik negatief oor Suid-Afrika  en oor Afrikaans:

Ek is oortuig daarvan dat hier vir ons nie op lang termyn ’n billike toekoms is nie, en op kort termyn geen versekering dat ons taal gaan oorleef nie.

Is hy reg?

Hy is aangevat deur Theo van der Merwe (2010b), wat sê dat dit net Afrikaanstaliges is wat op groot skaal taalverraad pleeg:


[Henri L du Plessis] het alle hoop vir Suid-Afrika en Afrikaans verloor en glo Engels is die enigste manier om te ontsnap. Hy meen Afrikaanssprekendes kan nie met Engels in die wêreld meeding nie; dat net Engelssprekendes in ons geglobaliseerde wêreld sal kan kompeteer. Dit is tog louter snert.

 

Dit kom daarop neer: verloor jou droom en jy verloor ook jou hoop. Jou hoop kom vanuit jou eie perspektief as Afrikaanssprekende en as jy hoop verloor vir jou taal en sy toekoms, dan begin jy onvermydelik met die proses van taalverplasing en taalverskuiwing. Dan word Engels as die “wêreldtaal” die basis van jou hoop, van dit wat jy wil bereik, maar wat jy ook wil hê jou nageslag moet bereik. Dus: Afrikaans is verlore, word eerder Engels, gaan skool in Engels, gaan universiteit toe in Engels, werk in Engels en word sodoende deel van die groot groep geleerde en ingeligte mense in die wêreld. Daarom is Henri L du Plessis (2010) se raad aan Afrikaanse ouers:

Stuur jul kinders na skole waar hulle Engels goed kan aanleer. Stuur hulle vir tersiêre en nog meer gevorderde studie na Engelse universiteite waar hulle ’n waardevolle voorsprong op ander sal kan handhaaf.

En ook verder:

Ek glo ook dat Afrikanerstudente wat veral wetenskap en tegniek in Afrikaans gestudeer het, ernstig benadeel sal word omdat hulle dan nie geredelik genoeg op hulle vakgebied teen hulle internasionale mededingers van veral die Engelssprekende volke sal kan meeding nie.

Waarop Piet Venter (2010) skerp reageer:

Is dit regtig waar dat iemand wat die wetenskappe in Afrikaans bestudeer het, ’n agterstand het teenoor sy Engelssprekende landgenote? Moet Afrikaans as taal nou “uitgefaseer” word, en almal skielik in Engels studeer en skoolgaan? Is ons en ons kinders soveel beter daaraan toe as ons daaraan meedoen? ... Moet ons almal aanvaar dat ons nou maar “Essas” sal word – English speaking South Africans?

Die skrywer Hans du Plessis sê in ’n onlangse koerantartikel (2010) dat ’n taal in so ’n geval deur haar eie sprekers vernietig word “as die gebruikers haar nie self versterk” nie:

Was dit nie vir die Afrikaners nie, het Afrikaans nog ’n toekoms gehad, maar daar is niks so gevaarlik vir die voortbestaan van iets soos selfbedreiging nie. (Met selfbedreiging bedoel hy hier: die verlies van vertroue in die taal en die taal se toekoms deur die sprekers van die taal.)

Stel jou ’n Suid-Afrika sonder Afrikaans voor. Sonder Afrikaans is Suid-Afrika maar gemiddeld ...

Ek noem hierdie briefskrywers om ’n baie spesifieke rede: dit wat in hulle geledere aangaan en waaroor hulle debatteer, is nie vreemd in akademiese kring nie. Dit is dus ’n ou debat: Is jy beter as jy in Engels deelneem in die wêreld rondom jou of is Afrikaans voldoende? Klink dit skielik of ek in die Wes-Kaap is en praat oor die taalbedeling aan die Universiteit Stellenbosch? Natuurlik hang dit af van die vertrekpunte wat jy het.

Self twyfel ek nie in Afrikaans se potensiaal nie en daarom beywer ek my aktief vir die volle ontginning van hierdie potensiaal. Afrikaans is ’n beduidende taal in die wêreld (onder die 120 grootste tale in die wêreld uit ongeveer 6 900 tale); Afrikaans is ’n beduidende taal in Suid-Afrika (die derde grootste moedertaal­groep in die land); en Afrikaanse mense lewer ’n beduidende bydrae tot die funksionering van hierdie land. Daarom is ek onbeskroomd Afrikaans en wil ek ook, soos Theo van der Merwe (2010b), sê:

Ek is nou hartlik moeg daarvoor dat ’n mens as bekrompe beskou word as jy jou ten gunste van Afrikaans uitspreek.

Voordat u dink ek is besig om met Engels te baklei (“English bashing”), gaan ek oor na die volgende deel, naamlik ’n vinnige kyk na die faktore wat ’n taal kan laat groei of laat kwyn en om dan aan die hand hiervan te argumenteer oor die pad vir Afrikaans vorentoe.

3. Die groei of kwyn van 'n taal

’n Taal se oorlewing (en dus sy behoud en groei in ’n meertalige samelewing) of kwyn (dus geleidelike wegval) word gemeet aan die hand van ’n aantal faktore, soos die behoud of verlies van dié taal se funksies, maar ook aan talle ander buitetalige faktore, soos normale demografiese prosesse, immigrasie, status van ’n taal in ’n gemeenskap, politieke magsverskuiwing, ea waaroor Steyn (1980:30 ev) breedvoerig uitwei. Vervolgens enkele kort opmerkings oor hierdie aspekte.

a) Getalle

Hoeveel sprekers het ’n taal? Dit word onder meer bepaal deur demografiese prosesse (geboortes, sterftes) en deur taalverplasing (dit wil sê die oorgang van een taal na ’n ander deur immigrasie, assimilasie in ’n ander taalgemeenskap). As ’n mens in ag neem dat Afrikaans die afgelope tien jaar bykans ’n miljoen sprekers (800 000+) aan emigrasie afgestaan het (volgens gegewens van Solidariteit), dan is dit duidelik dat daar ’n groot verskuiwing onder die Afrikaanse gemeenskap plaasgevind het). Neem ook in ag dat Afrikaans wel die derde grootste moedertaalgroep in Suid-Afrika is, dan is Afrikaans getalsgewys tog nie onbeduidend nie. Vir die bykans een miljoen sprekers wel gebly het, wat is die potensiaal vir Afrikaans dan? Dink ook aan die impak op die Afrikaanse demografie as daar nie ongeveer 28 000 vroue en kinders in die Anglo-Boereoorlog gesterf het nie. Ek verstaan by statistici dit sou in vandag se terme ’n ekstra 3-4 miljoen potensiële sprekers van Afrikaans gewees het. Dink net aan die beduidendheid hiervan vir die grootte van die Afrikaanse gemeenskap!

b) Funksies (hoog en laag)

 ’n Taal moet sowel hoë as lae funksies hê. As een van die funksies verlore gaan (byvoorbeeld op tersiêre vlak word die Afrikaanse universiteite minder), dan het dit ’n effek op ’n ander plek. In die lig hiervan is die woelinge rakende die behoud van al Afrikaans se funksies heel verstaanbaar.

c) Gesindheid (wat mense dink oor ’n betrokke taal)

Afrikaans se verlede is nou nie juis vlekkeloos nie, en dit wat in die naam van politiek aan ander sprekers van Afrikaans gedoen is, tel vandag steeds teen Afrikaans. Afrikaans word nog in heelwat geledere gesien as die “verdrukkerstaal”. In hierdie proses is die bruin en swart sprekers van Afrikaans vervreem van die wit sprekers en het daar ’n groot kloof gekom in die Afrikaanse taalgemeenskap. Die Afrikaanse Taalraad (ATR) werk baie hard om hierdie kloof te oorbrug in die belang van Afrikaans. Ons móét vorder op hierdie terrein as ons Afrikaans as voorbeeld van versoening wil voorhou.

Hoe raak hierdie faktore die posisie van Afrikaans vorentoe? Watter rol speel hierdie faktore om my droom te help waar maak? Wat moet ons doen om die negatiewe effek van hierdie faktore teen te werk? Kan ons die getal Afrikaans­sprekendes vermeerder? Kan ons die gety omdraai sodat Afrikaanse ouers spontaan hulle kinders na Afrikaanse skole en universiteite stuur? Wat kan ons doen om te keer dat Afrikaans se funksies afgeskaal word? Hoe kan ons die gesindheid teenoor Afrikaans verander? Is ons nog die spul bekrompe mense waarvoor ons so dikwels uitgemaak word?

Dit is wel duidelik dat ons drie dinge sal moet doen:

  1. Ons moet ons daarvoor beywer dat meer mense Afrikaans sal wil praat, as primêre of as sekondêre taal.
  2. Ons moet daarvoor sorg dat Afrikaans nié van sy funksies verloor nie. Een verlore funksie is reeds een te veel.
  3. Ons moet gesindhede oor Afrikaans verander.

Wat ons wel weet, is dat onderwys in al sy fasette (grondslag, primêr, sekondêr, tersiêr) die skakel is wat al hierdie sake moontlik maak (Steyn 1980:16). Sonder behoorlike onderwys in jou taal op alle vlakke is ons gedoem tot middelmatigheid, tot uiteindelike eentaligheid. Dit is waarom die Afrikaanse Taalraad en sy lidorganisasies so hard werk om onderwys in Afrikaans tot sy reg te laat kom. Tydens ons pas afgelope beraad in Kaapstad (26-28 Augustus 2010) het ons lank en hard hieroor gepraat en ons gaan nou in ’n proses om met die hulp van die Afrikaanse onderwysgemeenskap planne te maak om ons doelwitte te bereik. Hiervoor gaan die Afrikaanse gemeenskap betrek word. Ons kan nie al die werk op ons eie doen nie.

Wat wel erg is, is die arrogansie van die betrokke onderwysministers en hulle gebrek aan respek vir die Afrikaanse taalgemeenskap. Die Minister van Hoër Onderwys het byvoorbeeld verkies om ’n vergadering van die SAKP by te woon eerder as om sy lank terug ooreengekome afspraak met die ATR en sy lidorganisasies tydens die beraad na te kom. En hy word vergoed met belastingbetalersgeld. Dit is ’n skande. En laat ek liewers niks oor die Departement van Basiese Onderwys sê nie. Ons dilemma is derhalwe dat mense in posisies sit waar hulle politieke gedienstigheid hoër ag as diens aan die land en sy mense. Skrikwekkend!

Daar lê dus vir die Afrikaanse taalgemeenskap ’n aantal uitdagings (eerder vereistes) voor om die droom wat ek (en hoplik ook u!) vir Afrikaans het, waar te maak. Ek noem slegs enkeles.

  • Ons moet bewus wees van ons grondwetlike regte rakende taal en ons moet dit afdwing waar nodig. As ons hof toe moet gaan, dan gaan ons. Daar is voldoende kundigheid in die Afrikaanse taalgemeenskap om ons deur hierdie fases en prosesse te help. En Cerneels Lourens is altyd gereed vir die volgende saak, soos die een wat tans aan die gang is oor die diskriminasie rakende die beskikbaarstel van Funtsha Luzaka-beurse – waarvoor tans net 4 persent bruin kinders en 2 persent wit kinders in aanmerking kom. Wees dus ingelig oor jou regte.
  • Ons moet seker maak dat Afrikaanse kinders na Afrikaansmediumskole kan gaan, en na universiteite waar Afrikaans as ’n medium van onderrig gebruik word. Hier lê werk voor! Moedertaalonderrig is ’n reg en ons mag, en moet, daarop aandring. Kom ons gee Afrikaanse kinders daarom die voordele wat hierdie reg meebring. Dewey de Wet (2010) sê hieroor:

Daar is onbetwisbare en oortuigende bewyse in die opvoedkunde, die psigologie van leer en onthou en die vergelykende opvoedkunde dat onderrig in die moedertaal verreweg die beste medium is vanaf die grondslagfase tot in tersiêre onderwys ... Afrikaans as onderrig­taal vir Afrikaanssprekende leerders en studente is opvoedkundig gesien ononderhandelbaar.

Ons durf nie hieroor in verskillende rigtings trek nie. So baie mense se harde werk in hierdie verband mag nie ongedaan gemaak word nie. Maar ook nie myne of u s’n nie. Ook nie Paul Colditz, Chris Klopper, Herman Giliomee, Christo van de Rheede, Michael le Cordeur, Hendrik Theys, Anzil Kulzen, Johny Snayers, Arend Carl, ea s’n nie. Voeg gerus u naam hierby. Ook nie dié van al daardie mense waarvan ons nie weet nie, maar wat daagliks in die voorste linie vir Afrikaans in klaskamers reg oor die land staan. Die onbekende helde. Ons moet hulle eer en respekteer. Ons het daarom élkeen ’n taak om hierby betrokke te raak. Die vraag is: Wat doen ú? Staan u van die kantlyn en skree of woel u self saam in die loopgrawe?

  • Ons moet Afrikaans as wetenskapstaal behou. Laat daar geen twyfel wees nie – in die woorde van Giliomee (2010a):

Afrikaans op skool en op universiteit lê ten grondslag van taalbehoud en taalontwikkeling. As Afrikaans afgeskaal word soos wat dit aan die US die afgelope sewe tot agt jaar gebeur het, is daar nie op die duur sprake van Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte nie. Sonder Afrikaans wat op die openbare terrein vryelik gebesig word, kan daar nie meer van ’n Afrikaanse gemeenskap sprake wees nie.

          Reeds in 2001 het Schlemmer en Giliomee (2001) gewaarsku:

Die grootste enkele gevaar vir Afrikaans is dat as dit as universiteitstaal sou verswak of verdwyn, dit die ondergang sou beteken van Afrikaans as wetenskapstaal, as vaktaal, as taal van intellektuele omgang en uiteindelik ook as letterkundige taal.

Giliomee (2010a) voeg hierby:

Afrikaans word deur Afrikaanssprekendes self magteloos gemaak. [Die Nederlandse literator Gerrit] Komrij het gesê: “Afrikaans is lewend-dood.” Dit is soos ’n “gesonde spartelende liggaam waarvan mense besig is om ledemate af te sny”. Daar is min twyfel dat Afrikaans in sportstadions, kroeë, kafees en sit- en slaapkamers gaan oorleef. Maar wie gaan dit ernstig opneem as dit nie op intellektuele en professionele vlak presteer nie?

Hier lê inderdaad baie harde werk voor. Ons moet onder andere seker maak dat Afrikaans aan minstens twee universiteite haar status as universiteitstaal behou. Die werklike situasie is dat Afrikaans by die UV in ’n parallelmedium­opset voortbestaan, dat Afrikaans by die UJ feitlik nie meer bestaan nie, dat by UP die taal ook onder druk is (alhoewel die jongste pogings tot ’n taalbeleid vir hierdie universiteit hoop bied), dat Afrikaans lank nie meer die primêre taal by UWK is nie, dat US tans nog woel om sy posisie regtig te vestig (Carstens 2010). Ons is nou in ’n meertalige Suid-Afrika, maar die Grondwet gee die reg tot instellings wat een taal as primêre medium kan gebruik, mits mense nie uitgesluit word nie. By die NWU word die tolkmodus gebruik om hierdie probleem op te los.

Dit is wel net interessant dat dieselfde eise om die reg op toegang nie ook geld vir die Engelsmedium universiteite nie. Is ’n mens onnodig skepties as jy ’n politieke agenda hier vermoed? As die pad van onderrig in Afrikaans via die beplande Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU) moet wees, dan moet ons seker maak dat hierdie instelling tot stand kom. Kom ons skiet dit nie af as “onwerkbaar” nie, maar gee dit ’n kans om te ontwikkel. Dit is die droom van mense in die Afrikaanse gemeenskap om diegene wat nie die tradisionele universiteitsonderrig kan bekostig nie, wel die geleentheid te gee die voordele van tersiêre onderrig te ervaar. Ons kán dit maak werk!

  • Ons moet Afrikaans as publikasietaal behou. Dit geld op alle vlakke: as taal waarin koerante, tydskrifte, boeke, wetenskaplike artikels, ens gepubliseer word. So maklik voer uitgewers aan daar is nie genoeg geld te maak uit die publiseer van ’n wetenskaplike handboek in Afrikaans nie. Uitgewers en potensiële handboekskrywers voer maklik onder meer die volgende redes aan waarom hulle nie in Afrikaans kan of wil publiseer nie:
  1. Die mark is te klein en daar is geen wins te maak nie.
  2. As daar nie ’n groot aanvraag is nie, word ’n boek nie uitgegee nie.
  3. Studente en dosente verkies Engelse handboeke. (Hoe seker is jy daarvan?)
  4. Oorlaaide dosente kan nie nog handboeke ook skryf nie.
  5. Afgerolde aantekeninge is goedkoper en is ook makliker om op datum te bring.

Daar is ook ander planne te maak, soos ek pas gemaak het met die publiseer van ’n nuwe boek saam met ’n Vlaamse kollega. En ek kan getuig dat hierdie boek nie minderwaardig is nie. Dit het inteendeel die toets van drie anonieme portuurgroepkeurders deurstaan. Ons het as Afrikaanse wetenskaplikes ’n plig om ook handboeke oor ons velde in Afrikaans te skryf. Ons het as Afrikaanse wetenskaplikes ’n plig om die Afrikaanse vaktaal te ontwikkel. So maklik word ’n verhandeling of proefskrif ook in Engels gepubliseer onder die aanname dat die wye wêreld dit gaan lees. Die werklikheid is egter: artikels word eerder gelees as die verhandeling of proefskrif. Hoekom jouself dan afsloof om in ’n ander taal te probeer presteer?

  • Ons moet volhou om Afrikaans in ál sy funksies te gebruik: by die huis, by die werksplek (Afrikaans is ’n ekonomiese bate), by die kerk, in die howe, daar waar ons ontspan. Ons durf nie toelaat dat één funksie verlore gaan nie. Onthou: as ons op onderwysvlak verloor, begin die kreeftegang – onderwys is naamlik die skakel tussen al die funksies. Die geskiedenis sal ons eendag oordeel vir wat ons hieraan gedoen het. Steyn (1980:18) sê duidelik:

Die groei of agteruitgang van ’n taal blyk duidelik uit die toename of afname van sy gebruik in hoë funksies. Die verlies van hoë funksies lei dikwels tot ’n verlies van lae funksies.

Die geskiedenis leer dat hoe minder funksies ’n taal het, hoe kleiner is sy oorlewingskans.

  • Baie Afrikaanssprekendes het ’n lae selfbeeld oor die taal en ons moet dit omkeer. So dikwels is dit ’n houding van “my taal het ander onderdruk”, of “daar is tog nie ’n toekoms vir my kinders in Afrikaans nie”. Dit is gewoon feite van die geskiedenis wat ons moet probeer regleef. Die ATR beywer hom as liggaam baie sterk om hierdie soort persepsies oor Afrikaans reg te stel en het juis ontstaan uit ’n behoefte om ’n inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap te vestig, ’n gemeenskap wat sy verlede nie vergeet nie, maar dit ook nie permanent as skeiding laat dien nie. As taalgemeenskap moet ons leer om met hierdie stuk geskiedenis saam te leef en vir mekaar te sê dit mag nooit weer gebeur nie. Die ATR probeer, in Herman Giliomee (2010b) se woorde, ’n organisasie wees wat dwarsdeur die land inligting insamel, “feite interpreteer en aksies loods en koördineer oor alle sake wat Afrikaanse mense, van die suksesvolle sakeman tot hulpbehoewendes in die plakkerskampe, raak”.

  • Ons moet die volle verskeidenheid van Afrikaans erken. Ons het standaard- én niestandaardvariëteite en die een is nie noodwendig beter as die ander een nie. Die digter Diana Ferrus het by ’n onlangse ATKV-byeenkoms in die Paarl haar soos volg hieroor uitgedruk:

Afrikaans word gepraat deur verskillende mense, van kapitaliste tot kriminele, en ons moet die verskillende tongvalle respekteer. Kinders praat ook hulle eie variant van Afrikaans en dit is belangrik dat hulle praat soos hulle voel sonder dat hulle hulself vervreem van Standaardafrikaans. As iemand hom vervreem van sy moedertaal, vervreem hy homself ook van sy waardes.

  • Ons moet Afrikaans ondersteun waar ons kan. Kom ons koop Afrikaanse boeke, lees Afrikaanse koerante en tydskrifte, luister Afrikaanse musiek, woon Afrikaanse kunstefeeste by. Kortom: kom ons gee ons geld vir Afrikaans en help sodoende ’n mark vir Afrikaans en sy produkte skep. As dit daar is en ons gebruik dit nie, kan ons net onsself blameer as ons dit sou verloor.

  • Raak betrokke by Afrikaanse projekte. As jy nie tyd het nie, gee jou geld. Ons het baie fondse nodig om Afrikaanse mense geletterd te maak, om Afrikaanse kinders te laat studeer – sodat hulle op hulle beurt weer die ekonomie kan stimuleer deur hulle vaardighede. So dikwels sê mense as ek by groepe praat oor Afrikaans hoe bly hulle is dat daar mense soos ek is (!) – wat openlik werk vir Afrikaans. Dit is so asof hulle dan terugsit en wag op “mense soos ek” om te red wat te redde is. Dan dra hulle geen skuld nie, want hulle “steun” ons tog so baie. Ek het meer aktiewe steun (tyd, geld) nodig en minder passiewe steun. Elkeen kan tog meer doen as om net op die “kaptein” te wag (soos in Elsa Joubert se bekende boek Ons wag op die kaptein).

  • Ons moet ons volhou om ons unieke bydrae tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap te lewer. Ons het kundigheid, vaardighede, entoesiasme, empatie; ons het ons eie unieke Afrikaanse menswees – ons het dus baie te bied. Moenie op die kantlyn staan en skree nie, maar raak betrokke by die Suid-Afrikaanse samelewing.

  • Ons moet besef dat die lotgevalle van Afrikaans en ons mense net by ons berus. Dit is ons as sprekers wat bepaal wat van Afrikaans word. Niemand anders gaan dit vir ons doen nie. Hans du Plessis (2010) sê duidelik hoeveel makliker dit is “om die taal te vernietig as sy eie gebruikers te stiksienig is om haar van binne te versterk”. Hy sê dit is soos “’n parasiet wat ons van binne opvreet”. Afrikaanse mense is so dikwels onkundig oor die gevare vir Afrikaans – hoeveel mense weet byvoorbeeld van die gevare vir Afrikaans as wetenskapstaal as die aantal universiteite wat Afrikaans as primêre medium van onderrig het, afskaal tot slegs een of twee? (Schlemmer en Giliomee 2001: 119-120). Flip Buys (2004) sê:

    Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelik­heid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheids­vennote waar nodig en waar moontlik. Dit help nie om aan 'n afhanklikheids- of onttrekking­sindroom te ly nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie en die toekoms laat nie op hom wag nie.

  • Ons moet trots wees op ons taal, maar ons moet terselfdertyd ook beleef wees teenoor ander tale en die sprekers van daardie tale. Watter beeld dra ons oor Afrikaans en sy sprekers aan die sprekers van daardie tale oor? Is dit die boodskap van die konstabel wat iemand skreeuend en dreigend om ’n pas vra?

  • Ons moet werk en geleenthede in Afrikaans skep (Greyling 2010). Ons moet Afrikaans ’n belangrike taal van die ekonomie en die arbeidsmark maak. Ons doen dit reeds, maar kom ons brei dit nog meer uit, soos die lede van die Afrikaanse Handelsinstituut met oortuiging doen.

  • Ons moet as Afrikaanse gemeenskap saamstaan en ophou om in verskillende rigtings te trek. Dit is dalk een van die mees belemmerende faktore in die groei en behoud van Afrikaans – dat ons mekaar so maklik ondergrawe en mekaar probeer verdag maak. Dit kan dalk selfs uiteindelik tot ons ondergang lei.
     

4. Samevatting

Ek het vandag my droom oor Afrikaans met u gedeel. Hierdie droom is haalbaar. Of ons dit wel gaan regkry, is natuurlik baie moeilik om nou te sê. Daar is egter ’n duidelike pad vir ons uitgestippel en as ons dit volg, kan ons waarskynlik daarby uitkom. Ek vertrou dat iemand by 2030 se Akademie­simposium sal terugverwys na my referaat en sal kan sê: “Wannie Carstens was in 2010 ’n pessimis toe hy by die Akademie gepraat het oor Afrikaans se pad vorentoe, want kyk net goed gaan dit met Afrikaans vandag!” Daarom: Afrikaans sal as taal in al sy funksies oorleef slegs as dit alle Afrikaans­sprekendes se erns is.

Ons moet onthou dat ’n taal meer is as ’n klomp klanke en woorde wat in sinne aanmekaar geryg word om betekenis voort te bring. Dit dra ook die rykheid van die kultuur en geskiedenis van die sprekers van daardie taal oor. Dit druk die hoop en drome van ’n groep mense uit; dit is die simbool van hulle uniekheid as individue, maar ook van hulle as groep, van hulle kreatiwiteit oor hoe hulle die wêreld rondom hulle ervaar. Oor of daar oor 100 jaar nog so baie tale gepraat gaan word soos vandag (ongeveer 6 900), is ’n ope vraag. Gaan daar dalk net een taal wees omdat die wêreld te klein geword het vir verskillende tale? Gaan daardie taal Engels of selfs Chinees wees? Gaan Afrikaans, in Steinmann (2010) se woorde, dan net ’n “argieftaal” wees? Dit sal die geskiedenis oordeel, maar ons durf nie dat die geskiedenis die huidige geslag sprekers van Afrikaans in ’n negatiewe lig sien nie, as die mense wat moed opgegee het vir hulle taal. Ek weet wat my rol in hierdie proses is. Wat is u s’n?

Ek sluit af met ’n aangepaste aanhaling uit Adam Small (1962) se gedig “Kô, lat ons sing”:

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my taal

kô, laat ons werk.

Geraadpleegde bronne
Buys, F. 2004. Afrikaanssprekendes se bydrae tot die vestiging van veeltaligheid in die werkplek. In Van Rensburg (red) 2004.

Carstens, WAM. 2010. Die rol wat die Afrikaanse Taalraad speel tot die bevordering van Afrikaans as universiteitstaal. Marie Luttig-gedenklesing op Vrydag 13 Augustus 2010 by die Hugenote-Gedenkskool te Kleinbosch, Daljosafat, Paarl.

De Wet, D. 2010. Oplossing lê in die beter onderrig van Engels. By, bylaag by Beeld, 25/09/2010, bl 5.

Du Plessis, Hans. 2010. ’n Siek renoster is makliker prooi. Beeld, 02/09/2010, bl 15.

Du Plessis, Henri L. 2010. Diegene wat in Afrikaans studeer, gaan beslis benadeel word. By, bylaag by Beeld, 11/09/2010, bl 2.

Geldenhuys, DJC. 1982. Afrikaans – die huidige posisie. Die Bondgenoot, Augustus 1982:8-15.

Giliomee, Herman (red.). 2001. Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.

Giliomee, Herman. 2010a. Spartelende lyf sonder kop, arms. Beeld, 03/09/2010, bl 17.

—. 2010b. Waar staan die Afrikaners en Afrikaans nou met spesiale verwysing na die universiteitswese? Voorgelegde bydrae tot nuusbrief van die Afrikanerbond. September 2010.

Greyling, F. 2010. As ’n denkwyse sou sterf. Beeld, 14/09/2010, bl 12.

Schlemmer, L en H Giliomee. 2001. Afrikaans by die kruispad. In Giliomee (red) 2001.

Small, Adam 1962 [1973]. Kitaar my kruis. Kaapstad: HAUM.

Steinmann, Chris 2010. Die beeste se horings. By, bylaag by Beeld, 18/09/2010, bl 11.

Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.

Van der Merwe, Theo. 2010a. As Engels oorneem, verloor ons baie vensters op die lewe. By, bylaag by Beeld, 04/09/2010, bl 2.

—. 2010b. ’n Mens is nié bekrompe as jy ten gunste van Afrikaans is nie. By, bylaag by Beeld, 18/09/2010, bl 2.

Van Rensburg, FIJ (red.). 2004. Afrikaans – lewende taal van miljoene. Pretoria: JL van Schaik.

Venter, Piet 2010. Gaan almal nou “Essas” word? By, bylaag by Beeld, 18/09/2010, bl 2.
26/09/2010
05/010/2010