Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Uitslae van die ATKV Tienertoneel-kompetisie


Albert Maritz - 2010-10-12

Die ATKV-tienertoneel is al dekades die maatstaf vir die krag van tienertoneel in Suid-Afrika. Volgens die ATKV-kompetisie se uitslae gee sommige skole byvoorbeeld erekleure. Met ander woorde, dis ’n projek wat met omsigtigheid bedryf moet word. Tienertoneel verander ook kinders se lewens positief. ’n Geselsie enige plek in die land met ’n onderwyser wat betrokke is, sal jou diep onder die indruk bring van hoe probleme soos dwelms, gedemotiveerde kinders, kinders met ouerprobleme, afvalliges van enige aard, se probleme bysaak word wanneer hulle aan tienertoneel deelneem – wen of verloor. En vra maar die groot name wat eens deelnemers was: Neil Sandilands, Chris Mulder (Chameleon), Chris Vorster, Pedro Kruger, Jak de Priester, Maurice Carpede, Denver Vraagom, Christo Davids, Theodore Jantjies, Albert Pretorius (tans in Binnelanders), Viljé Maritz (tans in Binnelanders).
  
Maar die omstredenheid daaromheen is nes dié om die kies van Springbok-rugbyspanne oor die dekades heen. Een verskil: hierdie is nog méér omstrede. Die rede: die Bokspan kan met ’n oorwinning die keuses regverdig. Hoe meet jy jou keuses van “kuns” op die verhoog?

Weens die waarde van die uitslae raak sommige skole desperaat. Ander deelnemers is desperaat gebore en stig brand waar hul dit enigsins regkry om ’n rokie ook te laat draai.  En dan leef ons in veranderende tye ook.

Mens kan argumenteer: doen kommersiële werk, en jou sale sal vol wees. Span groot name in, en jou sale sal vol wees. Of: as jy nis-gehore wil vermaak met mooi kuns, wees gereed om te verloor / nie gehore te kry nie. Dit wil sê jy behoort by goeie “kuns” in te stap en een van ’n paar mense in ’n legerige saal te wees. En andersom as die stuk kommersieel is, met ander woorde, as mense vir mekaar gesê het: “Dis great fun.”

Maar dan kry mens mutasies hierop. Ernstige stukke, soos Naaimasjien het gehore gaande. Sommige klugte, soms selfs met groot name in, laat mense koud.

Die wenproduksie in die ATKV Nasionale Eindronde van hul tienertoneel, so pas by Aardklop, maak lekker debat los. En die ATKV is, sê hulle, bereid om te luister. Lankal is daar stemme vir en teen nog verdeling in kategorieë. Stukke wat musiek of beweging gebruik, verberg maklik onvermoë tot goeie akteurskuns. Nou vra mense al jarre dat daar in kategorieë meegeding moet word, soos drama, musiekteater, kabaret, bewegingsteater … Een jaar is ’n lysie stukke voorgeskryf nadat krete opgegaan het van skole wat nie hulle hand kon lê op goeie teksskrywers nie. Deur almal tot die lysie stukke te dwing sou die speelveld gelyk wees. Die resultaat? ’n Aborsie. Water onder deur die brug.

Vanjaar se wenstuk bevat, soos verlede jaar s’n, baie beweging/dans. ’n Beoordelaar moet dus fyn daarop let dat sy aandag nie deur die dans of beweging afgelei word van swak spel nie. In beide gevalle (Porselein verlede jaar; Kolom vanjaar) is daar volume genoeg toneelspel om te kan beoordeel.

As daar beweging betrokke is, stel die bewegingskundige (gereeld ’n professionele persoon) die skoleproduksie bekend aan gevorderde beligting; dis ’n belangrike element in goeie teater! Veral in vanjaar se stuk is die beligting van ’n uitsonderlik hoë standaard.

Van die beweging en beligting gepraat: Wat is dit, my geleerde vriend, kenner van die menslike psige, wat veroorsaak dat ’n mens emosioneel so geraak word deur beeld, beweging en beligting? In Kolom werk die regisseur met simboliek, kontras van lig en donker, nuanses van verskillende kleure en intensiteit van beligting, wat mekaar aanvul / met mekaar meewerk, op verskillende ruimtelike vlakke op die verhoog – in harmonieuse ensemble met die spel, lig en komposisie. Deur bloot hierdie elemente van skoonheid te harmonieer, skep die span emosionele meelewing by die gehoor – meer emosionele meelewing as in die meeste produksies op Aardklop vanjaar. Elemente vul mekaar hier aan op ’n manier wat mens nie maklik regkry deur blote suiwer beplanning nie.

En om vinnig na die waarde van suiwer toneelspel in Kolom te kyk: Kolom is ’n baie eenvoudige verhaal wat handel oor tienerswangerskappe en die ouers se rol daarin. Die spel wissel van baie oortuigend (soos dié van die hoofrolspeler, wat deur die beoordelaarspaneel as die fees se beste aktrise aangewys is) tot aanvaarbaar (omdat effense verkeerde klemme en ongemaklike dialoog/intensie nie pla nie). Maar Larissa Venter is ’n fyn, mooi meisie, met ’n sterk stem, ooglopend ballet- en dalk klavieropleiding ook, en sy is maar in graad tien. En sy lewer ’n pragtig onderspeelde vertolking wat getuig van suiwer begrip. Maar twee spelers wat baie naby aan toekennings moes kom, en nie het nie, was die twee Durbanvillers wat Mooi Maria 1 en Mooi Maria 2 gespeel het. Lara Hattingh is ’n juweel, in graad 9, vir wie ek in ’n professionele geselskap sal waag as Mooi Maria. En dan: die onsigbare alter ego, gespeel deur Esmé de Vos, was so bekwaam in haar rol dat die beoordelaars haar bloot misgekyk het.



Nominasies van die baie natuurlike, gemaklike vertolkings deur Rose Jacobs en Charné Wass is verdiend, maar weer eens het die vertolkings nie die gemoed so geraak soos die skitterend uitgevoerde Maria-kombinasie nie.

’n Speler vir wie die beoordelaars seker as “over the top” sou beskou, maar wat een van my gunstelinge was, Carla de Klerk, van Linden, sou ook ’n goeie keuse as beste ondersteunende aktrise kon gewees het.

’n Manlike ondersteunende kandidaat wat heeltemal oorgesien is, is Retief Ryke, wat aan ’n nar-agtige skoolhoof in 777 van Hoërskool Jan van Riebeeck gestalte gegee het. Hy was by die Springbok Fees glo Beste Ondersteunende speler. Op Aardklop is hy nie eens genomineer nie. Die Aardklop-wenner, Martin Swart, het ’n sterk stem, en lekker verhoogteenwoordigheid, en sou as belowende speler aanmoediging kon kry om met nog ervaring ’n lekker gemaklike, natuurlike spraakpatroon aan te leer. Helaas, vanjaar was hy reeds ’n wenner.

Terug by “die kuns”. Die skrywer/regisseur maak ook nog, in die skep van die teks en choreografie, gebruik van simboliek en suggestie. ’n Verkragtingstoneel – of liewer, ’n geforseerde instemming – word absoluut briljant uitgebeeld, op ’n wyse wat nie op papier verduidelikbaar is nie. Bravo. Die styl het baie herinner aan wat mens teëkom wanneer Xhosa-tienertoneel by die Kunstekaap fees opgevoer word. Simboliek wat uniek is, en die resultaat is van baie duidelike laterale denke. Die verligte bal wat in baie foto’s sigbaar is, speel ’n sentrale rol hierin.

Dalk is dit juis hoekom die ATKV miskien moet probeer om die onmoontlike moontlik te maak: deur voor sommige spelers studies begin, die land verlaat of in hulle volgende skooljaar aan die gang kom. Wat as die wenstuk so in die tweede skoolweek van 2011, besoek aflê by die ander agt skole wat aan die finaal deelgeneem het? Dan kan die gasheer-skool saam met die wenskool speel? Terselfdertyd bemark die ATKV hulle in die media, soos rugby hulle Cravenweek-sterre gebruik. Met ander woorde, ’n kleuradvertensie in die koerante, met ATKV-wenners wat al beroemd geword het, met beoordelaars wat sedert die eerste dae al beoordeel, en werkswinkels deur gesogte kundiges deur die loop van die middae (want die kinders is mos soggens in die klas – almal).

Met standaarde soos dié wat die skole bring, en ’n verantwoordelike beoordelaarspaneel, en ’n deursigtige puntestelsel, skuif die ATKV nog ’n hele paar heinings plat, en kom daar hopelik nog tientalle skole aan boord, en nog tientalle ander tienertoneelfeeste aan die gang, ook vir swart, eietaalsprekende skole.

En dankie aan die ATKV, wat met elke uitbreiding, en elke jaar, jaar in en jaar uit, die geld moet sit waar mense nodig word, of die werk moet gebeur. Nou moet julle nog net die senior ATKV-toneelkompetisie weer op die been bring – soos in die ou dae.

Uitslae

Die finale ronde van die ATKV-tienertoneel het in September 2010 tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom plaasgevind.  Uit meer as 170 inskrywings het slegs tien produksies deurgedring na die nasionale finaal, waar Hoërskool Louis Trichardt se Kolom uiteindelik as die wenner aangewys is.

Beste regisseur: Hoërskool Louis Trichardt se Nico Scheepers vir Kolom.
Beste akteur: Wynand Victor van Hoërskool Martin Oosthuizen (Die groot Afrikanerskat).
Mees belowende akteur: Jacques Crafford van Hoërskool Martin Oosthuizen (Die groot Afrikanerskat).
Beste manlike speler in ’n ondersteunende rol: Martin Swart van Hoërskool Linden (Kwartet in RSA-mineur, Opus 1).
Beste aktrise: Larissa Venter in Kolom.
Beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol: Charné Vass van Hoërskool Upington (Waar is Zandile?).
Mees belowende aktrise: Rose Jacobs van Hoërskool Upington (Waar is Zandile?).
Beste hantering van tegniese aspekte: Hoërskool Jan van Riebeeck (Boomplanters).
Beste ensemblewerk: Hoërskool Jan van Riebeeck (Boomplanters).
Die naaswenner was Jan van Riebeeck met Boomplanters.
Nico van Niekerk het ook weggestap met die ATKV-CR Swartprys vir sy nuutgeskrewe teks, Agamemnon: ’n Brokkie Groteske Afrikane, wat in 2009 opgevoer is deur Hoërskool Linden.

Foto's: Annemarie Brink