Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Aardklop 2010


Albert Maritz - 2010-10-12

Woensdag 29 September

09h00
Mooi Maria (Pieter Fourie)


Pas arriveer van Johannesburg, net betyds vir die 09h00-optrede van die Hoërskool Durbanville, nl Mooi Maria (Pieter Fourie). Die hoërskool had vier stukke in die kompetisie, waarvan minstens drie goed genoeg was om deur te dring na die finale.
En hoewel  dalk nie so ondernemend soos die ander stukke nie, is dit ’n kosbare kleinood wat met rasse skrede gegroei het sedert hul eerste, wankelrige dae. Veral optredes deur Lara Hattingh en Esmé de Vos verruk. Lara word darem benoem vir Beste Aktrise by die ATKV-skoletoneelfees-finaal hier by Aardklop, en sal by baie regisseurs ’n oorweging wees om in ’n volwassene-opvoering van Mooi Maria te gebruik, maar Esmé de Vos speel die Mooi Maria alter ego so onooglopend briljant dat sy skoon misgekyk word vir ’n nominasie as Beste Aktrise in ’n ondersteunende rol.

Die stuk eindig uiteindelik ’n onregverdige vyfde in die kompetisie. Maar die troos is: elke stuk van die skool het om die beurt kans gekry om elke ander fees se wenproduksie te wees gedurende die seisoen. En in die oë van baie lede van die publiek kon Mooi Maria net sowel ook die fees hier gewen het.

11h00
Boomplanters (Jeanne Gionno)


Die Hoërskool Jan van Riebeeck se paadjie loop bykans dieselfde. Hulle het met ’n rekord twee stukke deurgedring na die finaal. En Boomplanters is ’n fyn, gesofistikeerde stuk met eksistensiële temas. Met pragtige stelle, garderobe, inkleding, beligting, en unieke klankeffekte, daar en dan vervaardig op die verhoog, gryp die werk baie mense se verbeelding reusagtig aan. Hulle wen uiteindelik die ATKV se pryse vir Tegniese Afronding en Ensemble.

12h15
Waar is Zandile? (Gcina Mhlope)


Die Hoërskool Upington wen pryse met hul sterk spelers Rose Jacobs (Mees Belowende Aktrise) en Charné Vass (Beste Aktrise in ’n ondersteunende rol). Die opvoering het baie gebreke, en in die algemeen baie sterk spel, en eindig derde in die kompetisie.

14h30
Kwartet in RSA-mineur, Opus 1 (Nico van Niekerk)


Nico van Niekerk wen vanjaar die CR Swart-prys met sy skryfwerk van verlede jaar. Sy skryfwerk is knap, maar serebraal uitputtend. Wanneer hy leer om sy genie ter wille van die gehoor aan te wend, sal hy die vrugte pluk van sy slypjare met skole-opvoerings. Die stuk lewer die Beste Speler in ’n ondersteunende rol op, maar dis dalk misplaas. Benewens ’n sterk stem en baie charisma, het Martin Swart veel om te leer omtrent natuurlike hantering van dialoog. ’n Aktrise wat jammer kan voel om nie sterk geloof te word vir haar treffende spel nie, is Carla de Klerk, as ’n resensent-karakter.

15h15
Malle Mall (Sanet Nel en Pieter Taljaart)


Hoërskool Grens dring die tweede jaar agtereenvolgend deur na die finaal toe. Waar hulle verlede jaar moes gewen het, en nie het nie, is hulle teks nie vanjaar opgewasse teen die kompetisie nie. Maar pragtige beelde, vloei, ritme en krag maak van Malle Mall heel kykbare teater.

16h30
Skollies (Leon Kruger)


’n Verrassend innoverende teks, ewe verrassende regie (beide deur Leon Kruger) en uitstekende vertolkings van Stian Bam en Brendon Daniels sorg vir uitstekende vermaak. Hierdie juweeltjie – wat afspeel in ’n 3 x 3 m-tronksel, spog met twee karakters op die verhoog soos nog nooit tevore hier gesien is nie. Skollies sal nie een fees of kerkbasaar se fondsinsamelingsprojek teleurstel nie.

18h00
Betesda


Hierdie swembadopvoering was ’n openbaring. ’n Handvol bekende spelers, onder andere Neels van Jaarsveld en Stian Bam (wat pas ook in Skollies was), speel in die vreemdste omstandighede, met mikrofone, vanaf elke denkbare plek, agtergrond, beligte omstandighede en emosie, ’n eksistensiële en spirituele spel. Almal behalwe een akteur beland in ’n stadium in die water (sonder mikrofoon). Baie goeie spel van almal (selfs die plaasvervangers van onbeskikbare spelers) en die konsep laat die teatergehoor met vervulde gemoed die lokaal verlaat.

20h30
Dinsdae by Morrie (Hennie van Greunen)


Nie Van Greunen se grootste meesterstuk nie, maar alles aan die stuk is steeds van die hoogste kwaliteit. Dis die beste wat ek Chris van Niekerk nog op ’n verhoog gesien het. Maar – dit is dan ook so dat sy tyd nou aangebreek het! Sy “big time”.

Donderdag 30 September

09h00
Hoërskool Jan van Riebeeck


Hul stuk se naam is 777. Dis ’n stuk waarin ’n groot klomp leerders speelgeleentheid kry. En hulle spog met omvattende garderobe-uitrustings, ’n stel wat werk soos ’n Lego, en baie ondernemende beligting. Wat dalk die freakyste is, is die vinnige toneelwisselings, en die lewensgevaarlike – so lyk dit – waagstukke wat die spelers moet aangaan om en oor die vinnig wisselende stelle. In een stadium staan leerders reg voor op die verhoog, regop op ’n regop stellasie. Op die klein Aardklop-verhoog moes hulle boonop tussen vlaghouers en luidsprekers deur weef om daar te kom. Dapper, dapper skoolkinders.

Vir die besonderse samespel, saamwerk-wonderwerke om die stelle 1 000 keer te verander, en die gladde samespel, het hulle dalk die prys vir Ensemble verdien. (Ns: “Ensemble” dui streng gesproke op die aanvulling van mekaar deur ’n groepie akteurs, maar in tienertoneel word dit gereeld ingespan om die samewerking van groot groepe op die verhoog te beoordeel.)

09h45
Diepe grond


Die Hoërskool Framesby se opvoering van dié donker stuk is ’n uitdaging. Die spelers maak korte mette met die opspraakwekkende piepot-toneeltjie. Die sukses van hierdie stuk lê in die uiterse wreedheid, veral die moord na die einde se kant toe. Maar die regisseur waag nie heeltemal tot by daardie punt nie. Goeie potensiaal van die hoofspelers word beloon met nominasies vir Gerhard de Lange en Nadia Keet. Veral Keet is baie natuurlik, en lyk ervare.

12h00
Die kort raklewe van Anastasia W


Die moeite sou my beter geloon het as ek my aandag by die ATKV-tienertoneel bepaal het. Hierdie stuk gee die verkeerde gehoor pak, en doen dit op die mees uitgerekte wyse denkbaar. Die briljantheid van elke element van die stuk staan in die skaduwee van onvanpastheid.

16h30
Goeie Giel


Hierdie ligte vermaak is minder suksesvol weens oa die regisseur se eksperiment om van agter ’n mikrofoon deel te neem aan die stuk. Veral Anthea Thompson is egter steeds baie vermaaklik.

 

Vrydag 1 Oktober

09h00
Kolom

Die Hoërskool Lichtenburg se ATKV-wenstuk is ’n juweel. In Kolom werk die regisseur met simboliek, kontras van lig en donker, nuanses van verskillende kleure en intensiteit van beligting – wat mekaar aanvul / met mekaar saamwerk op verskillende ruimtelike vlakke op die verhoog – in harmonieuse ensemble met die spel, lig en komposisie. Deur bloot hierdie elemente van skoonheid te harmonieer skep die span emosionele meelewing by die gehoor. Alles val in plek. Elemente vul mekaar hier aan op ’n manier wat mens nie maklik regkry weens blote suiwer beplanning nie.

En om vinnig na die waarde van suiwer toneelspel in Kolom te kyk: Kolom is ’n baie eenvoudige verhaal wat handel oor tienerswangerskappe en die ouers se rol daarin. Die spel wissel van baie oortuigend (soos deur die hoofrolspeler, wat deur die beoordelaarspaneel as die fees se beste aktrise aangewys is) tot aanvaarbaar (omdat effens verkeerde klemme en ongemaklike dialoog/intensie nie pla nie). Maar Larissa Venter is ’n fyn, mooi meisie, met ’n sterk stem, ooglopend ballet- en dalk ook klavieropleiding, en sy is maar in graad 10. En sy lewer ’n pragtig onderspeelde vertolking wat getuig van suiwer begrip. Maar twee spelers wat baie naby aan toekennings moes kom, en nie het nie, was die twee Durbanvillers wat Mooi Maria 1 en Mooi Maria 2 gespeel het. Lara Hattingh is ’n juweel, in graad 9, vir wie ek – in ’n professionele geselskap – sal waag as Mooi Maria. En dan: die onsigbare alter ego, gespeel deur Esmé de Vos, was so bekwaam in haar rol dat die beoordelaars haar bloot misgekyk het.

13h00
Dood van ’n verkoopsman


Hierdie stuk is deur Arthur Miller geskryf, en verras met terugflitse wat glo in nog net een ander stuk van hom voorkom. Die stuk wentel om Willie Loman, gespeel deur Ben Kruger. Kruger vestig hom toenemend as die voorste Afrikaanse akteur van sy generasie in Suid-Afrika vandag, om die skoene vol te staan van ’n ouer generasie soos Marius Weyers. In die begin van Verkoopsman gebruik hy ’n growwer stem, wat gemaklik voorkom, en dus nie hinder nie, uit ’n gehoor-oogpunt; dit word duidelik hoekom, wanneer hy in die terugflits beland. Kruger glip gemaklik in en uit die verskillende fases en gemoedstemmings van die karakter en maak die mislukte man ’n karakter met wie die gehoor uiterste deernis het – en die tragedie des te meer.

Die hele rolverdeling blom. Bettie Kemp verras, Paul du Toit is die kragtigste nog in sy geskiedenis, en relatiewe nuwelinge is ewe puik. ’n Interessante stel met deursigtige doek maak pragtig ander areas sigbaar, byvoorbeeld slaapkamers. Maar die speelareas wat deur die regisseur op die voorverhoog geskep word, moet met beligting duideliker afgebaken word. Verwarring ontstaan oor wanneer mure bestaan al dan nie. Maar dit, en enkele ander klein jakkalsies, kan nie die sterk, gesonde wingerd verniel nie.

17h30
Draadwerk


Hierdie Nagtegaal-tekspryswenner is ’n verspeelde geleentheid om ’n teks wat sy eie probleme het, te omskep in ’n kunswerk en ’n ware vreugdevolle uitdaging vir die spelers. Gehore ween en gee staande ovasies aan ’n stuk wat saggies skraap aan die oppervlak. Die rede hiervoor is bloot die projeksie van mense se eie verbeelding na aanleiding van die basiese storie.

Nog stukke op die fees, wat die uwe elders te siene gekry het, was:

Proponentjie. ’n Gehoorlid word aangehaal in die Spat-koerant, waar hy sê: “Die stuk is snaaks, as ’n mens fyn luister na die teks.” Genade! My neutrale resensie van KKNK het probeer om nie hierdie produksie so te beledig nie. Wat is fout as die gehoor in ’n klug fyn moet luister om die humor te vind?

Magspel. Die 2000-produksie, met Franz Marx, was ’n reuse-sukses.

Met die Holm gebore spog met een van ons klassiekste, passievolste aktrises, puik regie en ’n aangrypende teks.

Oupa en Ouma sit op die stoep en raak romanties is ’n juweel met twee briljante spelers.

God van Chaos is ’n suksesstuk, goeie komedie, goeie spel, en selfs met diepte, wat geen gehoor mag misloop nie.

Vergenoeg is ’n stuk met min komposisie in die visuele, min logika in die verskyn en verdwyn van spelers, min motivering vir die sang, en andersins goeie spel van die gesoute spelers. Gehore ween en gee staande ovasies vir die storie en die aangrypende Sandra Prinsloo.