Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Nuusbrief: Vrye Woord

Die ANC se aanslag op skrif – 09/10/2010: Vrye Woord vra medewerking


Redakteur, nuusbrief - 2010-10-11

Vrye Woord vra medewerking

In die lig van ons nuusbrief se veel wyer leserstal met die plasing op LitNet wil ons graag aan die losse groepering Vrye Woord meer inspraak gee. Die groepering het aanvanklik begin by diegene wat laat weet het dat hulle die skrywerspetisie van Nadine Gordimer en André Brink ondersteun. Almal wat hierdie skrywe ontvang, kan hulself beskou as ten minste betrokke by Vrye Woord, al stem hulle nie saam nie. Daar is nie soos by die ANC “ingeskrewe lede” nie. Name op die lys sal dadelik na ’n versoek aan die redakteur verwyder word.

Vrye Woord het slegs een doel: om verset aan te teken teen die aanslag op enige vorm van spraakvryheid wat tans deur die ANC gedryf word. Ons verteenwoordig geen party of belangegroep buiten diegene wat die petisie ondersteun het nie. E-poslyste is ruweg tussen skrywers enersyds en uitgewers en ander belanghebbendes andersyds verdeel. Hulle name verskyn nie op LitNet nie.

Sedert die ontstaan van die nuusbrief, en dus Vrye Woord, is ’n aansienlike verskeidenheid sienings deur uiteenlopende skrywers in Afrikaans en Engels geplaas. Ons wil graag ons steunbasis uitbrei sodat enigiemand kan versoek om die nuusbrief per e-pos te ontvang, naas die beskikbaarheid op LitNet. Volledige artikels word op e-pos geplaas, maar vir LitNet slegs met skakels opgesom.

Belangriker is egter dat ons ’n wye verskeidenheid relevante sienings wil publiseer. Medewerkers van Vrye Woord het die petisie nou in vier tale beskikbaar gestel. Ons wil die krisis van die aanslag steeds wyer, ook in Engels en internasionaal, versprei.

Dit is nodig om te beklemtoon dat hierdie geen kletswerf is waar kort menings oor allerlei gepubliseer word nie. Ons wil graag substansiële en geloofwaardige bydraes ontvang, of wenke na skakels waar ons dit kan kry.   

Daar is derduisende in die land wat met verontrusting sien hoe die Polokwane-besluit oor die beheer oor die media en inligting nou ná die euforie van die sokkertoernooi met mag en mening toegepas word. Die hoofkommissar van die kommuniste verklaar selfs dat beheer nodig is om sosialisme te bewaar!

Die “nasionale revolusie” word met mag en mening gepredik. ’n Revolusie is ’n opstand teen iets. Waarteen is die ANC se revolusie gemik? Vrye meningsuiting? Demokrasie in werking?

Vrye Woord is volledig in ’n revolusie betrokke: teen die ANC wat spraakvryheid ondermyn. Laat ons almal die wapen opneem.

- Redakteur, nuusbrief

<< Terug na die nuusbrief-inhoudsopgawe <<