Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices > Afrikaans

Alba Bouwer: Doyenne van jeugliteratuur is oorlede


2010-10-08

NB-Uitgewers is hartseer om aan te kondig dat Alba Bouwer op Dinsdag , 5 Oktober 2010, oorlede is. Sy was 90 jaar oud.

Alba (Albertha Magdalena) Bouwer is op 16 Maart 1920 op ‘n plaas naby Vredefort in die Vrystaat gebore. Ná die dood van haar pa is die gesin terug na haar ma se familieplaas in Klein Drakenstein, naby die Paarl. Alba matrikuleer aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl. Na ‘n paar jaar as onderwyser het sy by die SAUK in Kaapstad begin werk waar sy samesteller en aanbieder van kinderprogramme was, voordat sy haar in 1950 aangesluit het by die redaksie van Sarie Marais, waar sy dertien jaar assistent-redakteur was. Later het sy op Riversdal gaan woon en in die 1990’s op Somerset-Wes afgetree.

Alba debuteer in 1955 met Stories van Rivierplaas en ‘n jaar later verskyn Nuwe Stories van Rivierplaas. In 1959 ontvang sy die Scheepersprys vir jeuglektuur vir die Rivierplaas-boeke. Alba ontvang daarna weer die Scheepersprys (1965) en drie maal die C.P. Hoogenhout-toekenning in 1961, 1971 en 1983. In 1984 ontvang sy die MER-prys vir haar boek Vlieg, swaeltjie, vlieg ver. Haar eerste en enigste roman vir volwassenes, Die afdraand van die dag is kil, het in 1992 by Tafelberg verskyn.

Die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur is in 1987 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ingestel en word driejaarliks toegeken.

Bouwer se Rivierplaas: 'n Alba Bouwer-Omnibus (2007) is steeds in druk.