Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan Wilhelm – 27 September 2010


Deon Knobel - 2010-10-07

Bel Monte, Kaapstad

27 September 2010

In Memoriam Rinie Stead

Liewe Wilhelm

Ek was nie werklik van plan om so gou weer aan jou te skryf nie, en die volledige inligting oor my Versindaba-optrede is nog nie eers gepos nie. Dit kom later.

Vanaand het ek hartseer nuus om aan jou oor te dra. Ek het vanoggend ’n brief van Amanda Botha per Vonkpos ontvang om te laat weet dat Rinie Stead oorlede is. Ek dink dit was op Woensdag die 22e September. Nou ja, jy sal wel goed weet wie Rinie Stead is, maar ter wille van die lesers van die Vintage-program op LitNet gaan ek tog baie ver terug.

Die naam Rinie Stead het iewers in my agterkop vasgesteek sedert 1968, met die bekendstelling van jou gedig “Apollo 8” in ’n uitgawe van Lantern. (Helaas het die vlam van Lantern reeds jare gelede uitgegaan en bestaan die tydskrif nie meer nie.)

In elk geval, jou gedig is destyds opgedra aan Rinie Stead, die redakteur van Lantern in jou dae in Pretoria. Ek het nooit enige verdere inligting oor hierdie misterieuse Rinie Stead gehad nie, en jy sal my nie kwalik neem as ek gedink het dis weer een of ander vrou wat op jou verlief geraak het nie. Tot op ’n dag in 2005 toe Amanda Botha effens laat gekom het vir ’n afspraak met my om oor die moontlikheid van ’n plakboekbiografie oor jou lewe en werk te gesels. “Jammer, Deon, maar ek het nou net met Rinie Stead gepraat. Dit is vandag haar 91e verjaardag.”

En soos ’n pyl uit ’n Khoi-San-boog skiet die naam my weer te binne. Ek het dieselfde aand die dame geskakel en aan die ander kant het ’n ferm en professionele stem geantwoord: “Mevrou Stead hier.” Nadat ek my aan haar voorgestel het, het ek haar gevra om asseblief van haar herinneringe aan julle vriendskap en ook julle professionele verwantskap neer te skryf en aan te stuur.

En Wilhelm, binne ’n week het die dik brief in haar pragtige handskrif aangekom. Die brief het ek op die spesiale manier gekopieer deur my skandeermasjien te gebruik en sodoende is haar handgeskrewe brief onmiddellik op my rekenaar vasgelê en vir veilige bewaring in die hooflêer “Wilhelm” en die sublêer “Vriende Wilhelm Knobel” geplaas.

So kom ons kyk of dit werk: eers “Wilhelm” en dan “Vriende Wilhelm”, en daarna “Rinie Stead”. (Wilhelm, belowe my nou jy gaan vir niemand vertel nie, maar toe is Rinie Stead nie waar sy moet wees nie – nêrens onder “Vriende Wilhelm” nie. Seker klaar vertrek na beter weivelde! Gelukkig was sy reeds volledig in die plakboek geplaas en dié het ek nou net weer gekopieer om aan jou te wys.

Maak jou maar gereed vir haar tipiese geen-twak‑ en “no nonsense”-benadering. Sy vat jou sommer reguit aan en vertel van haar eie ervarings met jou. Ek het niks aan die plakboek-insetsel verander nie, sodat jy sommer vir my kan laat weet of jy van my benadering hou. Jou vriende begin by A vir Aucamp tot by W vir Wiechers, en ek het oral probeer om ’n goeie foto van elke vriend te plaas, soos nou met Rinie. Sy het die foto’s aangestuur soos geneem kort ná hulle terugkeer na Suid-Afrika van Den Haag.

Ek laat jou nou eers alleen met Rinie om te lees en herinner te word aan julle verwantskap as liefhebbers van die kunste en letterkunde.

Rinie Stead

Rinie Stead was jare lank die redakteur van die wetenskaplike en kultuurblad Lantern. Sy ontmoet Wilhelm kort na sy aankoms in Pretoria in 1964 en pas na haar eie terugkeer na Suid-Afrika uit Den Haag saam met haar man en drie seuns.

Haar naam was reeds baie jare aan die familie bekend, te danke aan die feit dat Wilhelm sy bekende gedig “Apollo 8” “vir Rinie Stead” opgedra het.

Die foto hiernaas van Rinie Stead is in Den Haag geneem kort voor sy en haar gesin na Pretoria verhuis, waar sy Wilhelm ontmoet. Dit was eers tydens gesprekke vroeg in 2005 dat haar naam toevallig deur Amanda Botha genoem word, wat haar toe so pas gelukgewens het met haar 91e verjaardag.

Met groot verwagtinge is daar met Rinie kontak gemaak en sy het nie teleurgestel nie. Sy was een van die eerste vriende en kennisse van Wilhelm wat ’n bydrae gestuur het met herinneringe oor hom, en dít binne ’n week nadat sy gekontak is. Dit bevat waardevolle inligiting oor Wilhelm, sy depressies en sy wroeginge.

In 2005, reeds in haar twee-en-negentigste jaar, is hierdie kort maar direkte en op-die-man-af herinneringsbrief ontvang. Sy het onmiddellik ingewillig om van haar herinneringe neer te skryf en aan te stuur vir insluiting in hierdie plakboek. Sy vertel dat sy en Wilhelm mekaar goed leer ken het, ook omdat hulle kantore naby mekaar was. Wilhelm het dikwels kom “inloer vir ’n geselsie”, maar ten tye van siekte-oorstimulasie het hy selfs van hom ’n las gemaak, omdat hy dan ure lank met Rinie wou gesels. Wilhelm het haar dikwels na opvoerings en musiekkonserte vergesel.

Sy beklemtoon eerstens sy stimulerende intellektuele geselskap, “maar hy kon ook depressief raak en dan net oor homself tob. Dit was asof demone van neerslagtigheid hom binnegevaar het en al wat mens dan kon doen, was om te luister”.

Dan verwoord sy seker op dié duidelikste en mees direkte wyse sy seksuele frustrasies en sy onvermoë om seksueel bevredig te word en seker ook seksuele bevrediging te gee in sy verhoudings met vroue. En hierdie smagting na vervulling is ’n lyn wat dwarsdeur sy verhaal strek en in talle gedigte uiting vind. Die laaste reël van een van haar paragrawe spreek boekdele: “Dat hy nooit ’n orgasme by ’n vrou sou ervaar nie, was vir hom die ergste wroeging.”

Sy meld dat sy sy selfdissipline bewonder het deurdat hy, ten spyte van die beskikbaarheid van al die pille wat deur sy psigiater aan hom toevertrou is, nooit die moontlikheid van selfmoord aan haar genoem het nie.

Nou gaan sy voort om te verduidelik “uiteindelik het my jong vriend my in ruim mate vir die ’tydmorsery’ vergoed” wanneer hy ure lank op kantoor met haar wou gesels. So het dit gekom dat sy hom gevra het om ’n gedig te skryf oor Apollo 8, waaroor ’n lang wetenskaplike verhandeling in Lantern sou verskyn. Voor saktyd vir die volgende uitgawe van Lantern was daar ’n bladsy oop aan die einde van hierdie artikel en sy was raadop oor hoe om dit te vul.

“Einde raad het ek Wilhelm gebel en gevra of hy nie dalk ’n gedig daaroor kon skryf nie.”n Dag of twee later het die gedig “Apollo 8” op haar tafel gelê, en ná nog ’n aand het hy dit afgerond.



Sy sluit die Apollo 8-episode af met: “En so kon dié treffende, deernisvolle gedig net ná die lang wetenskaplike relaas verskyn – nogal ’n ’scoop’ as ek nou terugdink.” 

Wilhelm skenk aan haar ’n kopie van albei sy digbundels wat tydens sy Pretoriatydperk verskyn en vertaal vir haar, soos vir talle ander ontvangers van sy bundels, die Supervielle-vers wat as motto van “Mure van mos” dien, “waarskynlik omdat hy geweet het dat ek Frans nie juis magtig is nie”: “Daar is geen groter smart as om nie te kan ly nie, en dat die siel sonder rusplek is voor geslote deure.”

Dit word opgemerk dat hierdie Afrikaanse vertaling nie deurgaans dieselfde gebly het nie en met verandering in woordorde en selfs met die vervanging van die woord “siel” met “gees” steeds dieselfde gevoelswaarde en betekenis behou.

Rinie herinner haar dat Wilhelm te midde van al sy donker tydperke tog baie gedissiplineerd was. Hy het byvoorbeeld nooit die gedagte van selfmoord genoem nie, ten spyte van die feit dat daar genoeg geleentheid daarvoor sou wees en dat hy onbeperkte toegang gehad het tot al die pille wat sy dokter vir hom voorgeskryf het. “Dié selfdissipline is dus wel te bewonder.”

Wel, Wilhelm, daar het jy dit nou, jou ewige “verlief”-raak op vroue, wat dan vol verwagtinge uitsien na ’n volledige verhouding en dan telkemale weer teleurstelling en die vrou wat bedremmeld daarvan afkom. Ek skryf binnekort aan jou van my eerste ontmoeting met een van jou universiteitsvriende, Gawie of Awie Stemmet. Net verniet of ek sy eerste naam kan onthou! Ons noem dit grappenderwys “Alzheimer lite” – maar glo my, dis geen grap nie. Hom het ek raakgeloop in jou joernaal oor jou besoek aan ’n vriend in Bettiesbaai, en waar jy noem dat Arnold vir hom raad gegee het oor die naderende mylpaal van byna 30 jaar oud wees. Hy onthou baie goed van die “fiasko” met Valery Lewis en haar broer wat gedreig het om jou hof toe te neem vir “troubreuk”. Haar storie is baie pateties, maar daaroor later. Vir jou om nou deeglik na te gaan of ek jou vriendskap met Rinie behoorlik opgesom het, plaas ek nou sommer al vier die handgeskrewe blaaie van haar brief met inligting oor jou, en haar dankiesê-nota ná ontvangs van Bloedsteen,waarin natuurlik ook “Apollo 8” verskyn. Noudat sy ook weg is, hoef ek nie meer versigtig te wees oor haar opsommings en opinies oor jou nie. So! Hier kom dit! Ná ontvangs van hierdie foto’s en brief het ek vir haar ook ’n voordragboek, Wilhelm Knobel, die ongewapende man: van kindertyd tot sterwenstyd gepos, wat skynbaar in die pos verdwaal het. Ek heg vir jou ook die brief van my aan, want daar is nou ook ’n verbintenis met Hulda Joubert, die eggenoot van ons vroeggestorwe oom Heinie.

Liefde nou en geniet die dolwe in die verlede.

Deon

Naskrif: Hieronder volg my eie brief aan haar.