Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan Wilhelm – 29 September 2010


Deon Knobel - 2010-10-07

29 September 2010

Bel Monte
Kloofnekweg
Oranjezicht
Kaapstad

Liewe Wilhelm

Jong, nou kan ek nie meer byhou nie. Soveel het die laaste tyd gebeur. Die Versindaba op Stellenbsoch, die voorbereidings vir die herdenking van jou 75e geboortedag op 26 Oktober – net om die draai.

Nou ja, as mens eenmaal met ’n tradisie begin, moet mens maar aanhou. Vir jou 60e verjaardagviering was Mamma nog by ons en het ons ’n wonderlike byeenkoms gehad. Phil du Plessis se nuutste digbundel, geïllustreer met sifdrukke van Alice Goldin, is bekendgestel; Marthinus Basson, een van ons bekendste akteurs en dramaturge,  het ’n aantal gedigte voorgelees, en ek en drie vriende het die Schubert Mis in G uitgevoer met heelwat oee’s! en aa’s! Ek het ook die stoute skoene aangetrek om die drie liedere wat ek self gekomponeer het, te sing. Dit was die drie pragtige liefdesgedigte “Laat my jou sagte lippe streel met my tong”, “In die aand keer my gees na jou toe, geliefde van my hart” en “Waterval met die nege kleintjies”. En wat was ene oud-tenoor se kommentaar? “Jy’t dit aaklig gesing!” Wel, amper sê ek toe: “Kyk wie praat!” Jy sal hom onthou as student op Stellenbosch en aangesien tenore maar skaars is, het hy nogal belangrike oratoriumrolle gesing – die Mattheus- en Johannes-passie.

Vir jou 70e het ek weer ’n funksie aan huis gereël met ’n voorlesing van jou gedigte en die bekendstelling van Twee siklusse,die eerste boek deur Bel Monte Uitgewers gepubliseer en waarin jou Donker en skerp lig- en Bloedsteen-siklusse gesamentlik uitgegee is. As eerste probeerslag het die boek heeltemal te veel foute in druk en binding gehad, maar dit is later tot ’n spogpublikasie gefinaliseer. Uitstekende resensies het daarna verskyn, onder andere van prof Louise Viljoen van die Department Afrikaans, Stellenbosch, en andere.

Daarna het Bel Monte Uitgewers ’n voordragboek saamgestel wat inderwaarheid ’n versbiografie van jou is. Deur jou eie gedigte word jou verhaal vertel. Met goeie en slegte dae het jy dit reggekry om aangrypende poësie te skep. Onder leiding van jou goeie vriendin Joan Lötter het ek heelwat van jou gedigte in Engels vertaal. Dis nogal interessant om die kommentaar van Afrikaans- en Engelssprekende lesers te hoor.  Daar is ook ’n paar van die gedigte wat tydens jou lewe deur Charl JF Cilliers vertaal is. Mag ek so arrogant wees om te sê dat ek nie van die finale reëls van jou gedig “Reünie” hou nie? Jou gedig eindig met: “Die hart? / dié teken mens nie / mens weet dit as pyn / of nie pyn nie / daar is.” Charl JF vertaal dit as volg: “The heart? / this one does not draw / but one knows it when / the painful or painless / is there.”

Ek hou meer van die laaste reëls as “… this one does not draw / but one knows it when / pain or no pain / is there.”  Diebut” moet ook uitgehaal word.

Nou verder. Die tradisie is daar, so vir jou 75e herdenking moet ons mos nou weer iets aanbied en daarna gesellig verkeer. Weer voorlees van gedigte, musiek deur Albie van Schalkwyk en Berthine van Schoor, die vyfjarige dogtertjie wat jou hoor tjello speel het en net daar gesê het: “Ek wil ook daai ding speel.” Wel, sy is nou ’n baie bekende tjellis, en was selfs vroeër vanjaar saam met Albie op ’n konsertreis deur Indië.  En dan het ons groot komponis Hendrik Hofmeyr vyf van jou gedigte getoonset in sy elegiese sangsiklus: “Geen skip strand ooit,” “Elegie”, “Gedig vir klein Estie”, “By die dood van Motau” en dan, om mee af te sluit, daardie wonderlike gedig oor Pappa se begrafnis, “Op slag gedood”.  Nou sit ek met ’n probleem. Ek het so half en half ’n jong bariton gevra om dit te doen, maar nog nie bevestig nie. En toe was ek verlede Vrydag by ’n konsert van die ongelooflikste mezzo-sopraan. Ek het haar dadelik die musiek en ’n CD-opname van die siklus laat kry om na te kyk. Maar … sy wil ’n stewige fooi hê, terwyl die jong man nog studeer en seker teen baie minder sal sing.

Verder is die bekende en hoog aangeskrewe digter Johann de Lange besig en reeds amper klaar om deur jou totale oeuvre te gaan om ’n seleksie te maak vir ’n versamelbundel. Hy is gaande oor jou werk en het klaar gedink dat ons “ons” bundel moet noem “as die woorde begin droom”.En wil jy glo, net ’n paar dae gelede ontdek ek toe jou oorspronklike handgeskrewe gedig. En as motto wil hy graag dat ons die reëls moet gebruik wat op jou lessenaar in Labounerestraat gelê het nadat ek van jou begrafnis teruggekom het: “Celui qui fut dans cette chambre / n’est plus / ne sera jamais plus.”En my vertaling: “Hy wat gewoon het in hierdie kamer / is nie meer nie / en sal nooit weer wees nie.”

Nou is daar ’n ander probleem. Elke keer as ek weer in ’n bliktrommel kyk, ontdek ek iets nuuts en opwindends. Net gister kom ek af op ’n klein notaboekie wat jy in die Ste Anne Hospitaal gehad het, en daarin is weer sketse van medepasiënte.

Me under treatment

Uittreksel uit die dagboek van Wilhelm Knobel


Sketse van die medepasiënte

Die sketse van die medepasiënte het jou natuurlik geamuseer en besig gehou, en sover ek uit Stikland se dae kan onthou, was jy nogal in aanvraag vir die karikatuursketse. En elke mensfiguur in al jou hospitaalnotaboekies het  ’n naam daarby. So dit was nie sommer net verbeeldingsketse nie.

Jou handgeskrewe beskrywing van die verveling is werklik insiggewend en aangrypend: “Die afgemete ure in hierdie georganiseerde malhuis of, sagter gestel, inrigting vir senugestoordes, gaan so stadig verby as die verveeldheid van sy inwoners.” Wilhelm, ek kon nooit verstaan dat daar nie programme is om pasiënte kreatief besig te hou nie.

Maar in ’n tweede, groter notaboek ontdek ek toe die tot-nog-toe onbekende gedig “Straathond”. Dis sekerlik nie net van toepassing op die eensame persoon wat op straat vriendskap soek nie, maar van belang in enige interpersoonlike verhouding. Die onverwagse afjak; die onverwagse belediging; die onverwagte miskenning. Die gedig is nou ook aan Johann de Lange gestuur en vanaand gaan ek ’n hele lêer wat deur jou saamgestel is, afgee om seker te maak of daar dalk nog ongepubliseerde gedigte is wat ingesluit of ten minste vir oorweging deurgelees moet word.

Hier kom nou jou handgeskrewe “Straathond”. Laat my asseblief weet hoe jy oor die huldigingsaand voel en of daar iets sou wees wat ek dalk moet insluit. Ek het klaar gedink dat ek jou vriende soontoe wil bring deur hulle herinneringsbriewe en gedigte, en selfs huldeblyke ná jou dood deur John en André P, en definitief ’n aanhaling uit die lang brief van Uys Krige aan Mamma ná jou dood.

Straathond

Toe  ek tussen die menigte op straat
sy reuk kry in my neus,
het ek half huiwerig
maar vreemd-vertroulik
kort op sy hakke gedraf –
nou weet ek weer opnuut
hoe onverwags en seer
die skoen se punt maak in die lies.

uit notaboek van 1956

Wilhelm, dis nou genoeg vir een aand. Daar is nog baie dinge wat ek wil vertel, maar soos hulle sê: “Een dag op ’n slag.”

Liefde   

Deon