Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Moenie Die afstand tussen tyd op sy baadjie takseer nie


Leon-Ben Lamprecht - 2010-10-06

Die afstand tussen tyd
Abel Kraamsaal

 

As ’n mens nou eerlik moet wees, is die prentjie op die buitekant van Abel Kraamsaal se jongste album, Die afstand tussen tyd, nie die soort wat jou gaan laat haas na die till toe om dit te koop nie. Dit het nie die gestroopte elegansie van sê The Beatles se selfgetitelde album (beter bekend as The White Album) nie. Dit het nie die ikoniese imagery van Pink Floyd se Dark Side of the Moon nie. Hel, dis nie eens sexy in die tradisionele sin soos sê Britney Spears se Circus nie. Onse Abel staan soos ’n kruising tussen ’n kulkunstenaar en ’n astroloog onder ’n skynbare vortex met ’n Salvador Dali-verlepte horlosie in sy linkerhand.

Maar onthou nou weer wat hulle sê van a book and its cover. Want gelukkig is die liedjies op Kraamsaal se nuutste befok.

Die afstand tussen tyd is trouens vir twee Vonk-toekennings genomineer: Beste Rock- en Beste Alternatiewe album. (Nie dat ek vreeslik erg het aan sulke toekennings nie. Behalwe natuurlik as dit my eie idees onderstreep, soos in dié geval.)

Kraamsaal het een van my heel gunsteling-liedjies geskryf: “Kaalgat in die reën”, op sy eerste vollengte-album Wonder jy ook soms, is steeds ’n heerlike poprock song.

Dit was egter ook vir my die kritiek teen sy vroeëre werke: daar is een of twee of vier tjoens wat werklik uitstaan, en die res was altyd vir my tussen oukeierig en ... meh.

Ek kan egter met trots sê daar is nie een snit op Afstand waarvan ek nie hou nie. Hulle is almal lekker tjoens, wat wissel van bluesy-rock nommers tot ’n liefdeslied vir die Kaap.

(As ’n terloopse voetnota wat moontlik van geen sin is vir enigeen nie: destyds in 2004 of 2005 in my eerste jaar as joernalis by Krit was Kraamsaal my eerste onderhoud met ’n selebriteit. Ek het hom en Kristoe Strauss en Chris Vinger oor ’n Jack Daniels gepols oor allerhande kak soos “Wat is jou inspirasie?”. Dit was die eerste en die laaste keer wat ek vir ’n musikant dáái oninspirerende vraag gevra het. My nuusredakteur wou ook weet oor sy naam, want sy’t gemeen dis baie Voëlvry. Seg Abie toe dit dui op die metafisiese geboorteplek van idees en so. Nouja toe.)

“Jy is oukei” is ’n rustige liefdesliedjie net om jou in die bui vir die album te kry. “Belowe my jy sal altyd/vir my onthou,” vra Kraamsaal in die eerste twee reëls.

In die genoemde lied vir die Kaap, raak getiteld “Kaap”, muse Kraamsaal oor hoe hy Lephalale mis. Grappie, hy sing oor hoe hy die Kaap mis, in geen onsekere terme nie: “Ek mis jou in die son/ en ek mis jou in die reën/ ek mis jou as die wind deur jou takke waai.” Vreemd genoeg eindig hy die koortjie met: “Maar Kaap, meestal mis ek jou”, net ingeval die Kaap nie seker was of sy gemis word nie.

Die lied “Uit die blou”, met klavierbegeleiding deur Emile Minnie (hy doen al die klavierwerk op die album), is ’n tranetrekker waar Kraamsaal sing oor ons almal se donker kant. Dit bou op tot ’n kitaargedrewe klimaks. Dis ’n treffende snit wat die beste van Kraamsaal as liedjiesmid ten toon stel.

“Baby vat dit” (of dan “Bybie vat dit” soos dit binne-in die CD-omslag geskryf staan) is my gunsteling-snit. Gebou op die skelet van ’n ou skoolse rock ’n roll-nommer sing Kraamsaal: “As jy dit kan droom, kan jy dit doen/ enigiets raak moontlik.”

Hy sing van die gewone goed wat mense soek, soos ’n huisie by die see, vrede op aarde “en dat kanker eendag kan kanker kry/ en vrek”. In die tweede vers preek hy ook tot die pretensieuse deel van ons almal. Immers, probeer dit voor jy dit dis: “Vat af by die werk/ bank ’n bietjie kerk/ luister miskien ’n bietjie Bok van Blerk/ as jy dit nog nooit gedoen het nie/ al is dit nie jou style nie”.

Die laaste twee snitte raak albei aan die tyd-tema en is volgepomp met rowwe rock. Jy hoor ook Robert Mitchley se kenmerkende styl nogals duidelik hier.

“Waardeer jou tyd”, die eerste van die twee, het ’n lekker donker blues-siel. Nes die titel aandui, probeer Kraamsaal sê ons moet ons tyd op aarde geniet terwyl ons dit nog het: “Hey meneer, ek hoor jy’s hartseer/ waardeer jou tyd.”

Die laaste snit is ook die titelsnit en ek kan eerlikwaar nie lekker uitpluis waaroor dit gaan nie. Dis wel ’n lekker rock song om mee af te eindig, met ’n lekker hook. Ek meen, moet ’n song altyd ’n dieper boodskap hê?

As ek soos ’n dominee dan ’n huis-toe-vat-boodskap daar kan laat: Dis sonder twyfel Kraamsaal se beste album tot nog toe. (Ek sal egter seker altyd dink “Kaalgat in die reën” is die beste tjoen wat hy nog geskryf het – hoekom kén meer mense dit nie?)