Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Tienertoneel in ’n beperkte kultuuromgewing


Albert Maritz - 2010-10-05

Viljé Maritz en Trix Vivier.  Foto: Annemarie Brink

The most savage controversies are those about matters as to which there is no good evidence either way – Bertrand Russel

Een van ons heel, heel lekkerste akteurs is Neels Clasen. Die eerste keer wat ek hom op ’n verhoog gesien het, was toe hy in sy hoofseunjaar by Johannesburg se Vorentoe Hoërskool ’n hoofrol gespeel het in hul skoolstuk, as deel van die ATKV-kompetisie, in Linden-hoërskool se skoolsaal.

Hy was tóé reeds briljant; ek onthou die lang vingers ... Hy en die meisie teenoor hom het kardoessakke oor hul koppe gehad. Ek het hom en sy onderwyser in ons werkswinkelsessie daarna lekker lof toegeswaai.

Nou is Neels in Mamma Mia. En soos altyd – great! Om hom heen in die blyspel is ook byvoorbeeld Anrich Herbst. En soos in vorige sangoptredes van hom, blink hy weer uit as akteur en speler. En net vir ’n oomblik wonder ek hoekom jy nooit hulle name hoor in die konteks van ons hoofstroom-teater nie.

Mens moet seker kritiseer ook, as mens oor die produksie wil praat. Maar daar’s eintlik te veel lekker dinge om daaroor te sê. Soos byvoorbeeld dat my broer, wat in die ’60’s ’n hippie was, glo gestaan en dans het teen die einde. Soos byvoorbeeld dat ek, wat op ’n ander aand daar was, gestaan en dans het teen die einde – en “inside information”: ek wou dit al in die middel van die show doen. En my seuntjie het met my saamgestem. In ’n jaar en op ’n ouderdom waar dit skaars is. Almal wil die show weer sien. Tot my ma van 84.

En die spelers is almal eg Suid-Afrikaans.

*

Tienertoneel is besig om strate veld te wen in ’n beperkte kultuuromgewing. En die speelveld is natuurlik ongelyk. Baie uitdaginge bestaan in die beoordeling van tienertoneel. Eerstens: omdat die wêreld “kultuur” verraai (met realiteit- en ander goedkoop sensasie), is kompetisie nodig om leerders te lok om deel te neem. Maar sedert die ’80’s het ons tieners soooo gekyk na hul gesnoerde ouers (wie het 1990 en die era daarna vergeet – tot nou nog?) en besluit hulle wil gehoor word. Dis deur die eeue die ding. Dis wat drama is. Dis die stories wat die storievertellers wil vertel. (Geleerde boeke sê drama beteken “handeling”. Wel, handeling is storie vertel.)

Storie vertel tussen MXit en allerhande sulke shit? Vandag kry jy skaars ’n rugbyspan bymekaar by sommige skole, want die sterre speel nou toneel. En dit, as sodanig, is so stimulerend; die kleinmenswêreld waar hulle eie verantwoordelikhede ontvang van engel-ouers en onderwysers wat betrokke is.

Maar dan is daar die kosmopolitiese aard van ons wêreld. En die verskille in aanbieding tussen Afrikanerkinders, Engelse, Xhosa-, Zoeloe- en bruin kinders, en so gaan die lysie aan.

Maar bo en behalwe dit is daar ook die verskille in hoe die beoordelaars na die werk kyk. Die ou wat meer formeel vermaak wil word, is in die meerderheid. Mense wat in die akteursberoep staan, kyk seker anders – soos ’n akteur – na ’n opvoering? Terwyl mens die oog van buite af verlang om ’n oordeel oor toneel uit te spreek? Terwyl daar ongelukkig ’n oordeel wat saak maak, uitgespreek moet word. Want dis kompetisie. Dis nie sommer vir hou-van of hou-nie-van nie.

So, die mees uit-die-boks produkte trek noustrop. Hier dink ek aan 2009 se Ek, Anna – deur ’n skool van Grens. Hulle was strate beter as die professionele produksie daarvan ’n paar strate verder, ook op die Aardklop-fees. Op die ATKV-beoordelaarslysie het die tiener-opvoering byna laaste geëindig. Dieselfde was byna die lot van die kleurryke laugh-a-minute teks van Lizz Meiring, oor Aspoestertjie. Paul Roos Gimnasium, met hulle regisseur, Brink Nelson, se wonderlik waansinnige (en kundige) werk, haal vanjaar die tweede jaar in ’n ry nie die Aardklop finale ronde nie (met ander woorde, minstens vier stukke uit die Kaap klop hulle). Hulle strik: dat hul buite die grense van ruimte, reëls en spasie werk, buite die vooropgestelde veilige grense van storie-vertel speel. Hulle daag die verbeelding uit. Hulle verweef kleur, vermaak, beweging, klank, humor, karakteriserings, grimering, beligting – kortom, als wat jy verlang in teater, slim ineen. En is elke jaar ten minste my gunstelinge. Dan nou net my gunstelinge.

*

Smaak verskil. Gesprek is gesond. Gesonde gesprek kweek respek.

Ek sien onlangs hoe ’n resensent ’n film (wat deur haar werkgewer vervaardig is) beskryf as omtrent die beste ding wat sy nog ooit vir ons republiekie sou kon toewens. En ek verswyg die naam, want ek is al vir jare gesnoer omdat ek sê gesprek is gesond; gesonde gesprek kweek respek.

Laat ons nie ’n nuwe vyfjaarsiklus begin nie.

*

Dis dalk op skoletoneelvlak waar kinders verantwoordelikheid, die harde werk, die dissipline leer, sodat hulle met respek enige werksplek sal betree. Ek kom soms op filmstelle. Nou die dag is daar die paar kinders daar wat seker net die reëls van realiteit-TV ken. Rich kids? Van wie mens meer verwag? Dis die catch. Want luister hierna ...

*

Dis in die vorm van ’n hulproep. By gereelde geleentheid sien mens “Bruin Toneel” waarin die brutale realiteit van die gemeenskap uitspring en die sinne oorweldig. Die Perseverance Sekondêre Skool was deelnemers aan die Kunstekaap-tienertoneelfees. In ’n teks deur die knap jong Christo Davids word vertel hoe die sesjarige seun op sy knieë voor sy stiefpa staan en gedwing word om die man te bevredig. Dié tipe storie kom elke keer voor. Dis iets wat nie moeilik is om te verklaar nie.

In hierdie land het elke “tribe” sy trauma; elkeen om sy eie redes, en die redes hou verband met mekaar, alhoewel hul verskil van groep tot groep. Kyk of dié scenario moontlik is: ’n kind word verwek, deur die meisie-ma se onkunde, of deur verkragting. Die een of ander tyd eindig die kind met ’n stiefpa – iemand wat darem die huur kan betaal. Die man is ook uit onkunde en uitsigloosheid aanmekaargesit. So wat anders is die magsvertoon teenoor ’n klein kind, via seks, as ’n vertoon van mag?! Ek nie; ek vra.

Hier is ’n krisis wat al dekades lank voortduur, wat deur hulproepe in teater bewus maak, bewus maak, bewus maak. Maar wie luister?!

Projekte soos wat vir HIV/VIGS bestaan, moes laaaaankal vir hierdie volksmoord op die been gebring geword het. En een been hiervan is entrepeneurskap. As almal kos op die tafel het, selfs dalk ’n dak oor die kop, sal nyd en pyn veel minder wees ...

*

Dis in die suiwerheid van die ware verhaal wat deur die kinderstorieverteller aan my vertel is, gisteraand – daar in Kunstekaap se Arena – dat die afgryse, maar ook die oplossing, glashelder tot my gespreek het.

It is not truth that makes man great, but man who makes truth great. – Confucius (c 551-479 vC)