Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Brief aan Wilhelm


Deon Knobel - 2010-09-30

Bel Monte, Kaapstad, Donderdagaand, 23 September 2010, 20:15

Naand Wilhelm

Ek is jammer ek het jou die laaste tyd so afgeskeep, maar vanaand het ek tog vir jou interessante nuus, oftewel, vir mý is en was dit interessante en belangrike nuus.

Ons het so pas die derde Versindaba-byeenkoms op Stellenbosch gevier, waartydens die Afrikaanse poësie ervaar en gevier kon word – ook heelwat nuwe debutante wat van hulle verse voorgelees het tydens die debutant-sessie. En wil jy nou glo, daar is weer ’n digter uit Bethlehem, en dié keer ’n jong vrou, Martina Klopper. En die titel van haar bundel is van alle dinge Nadoodse ondersoek. Toe ek so luister na haar gebruik van tegniese en wetenskaplike terme, het dit vir my duidelik geword dat sy êrens blootstelling aan so ’n lykskouing moes gehad het. Ná die sessie het ek haar gevra en sy bevestig toe dat sy inderdaad by my ou “weivelde”, die Soutrivierdodehuis, gaan kers opsteek het by een van my graduandi, die regsgeneeskundige patoloog dr Linda Liebenberg.

Ek het nog nie die bundel onder oë gehad nie, maar my eerste indruk van die titelvers was dat dit min of meer ’n digterlike weergawe van die lykskouingsproses is. Eerste indrukke is altyd gevaarlik, so ek durf dit nie as stereotipies of geforseerd beskryf nie. Sal jou later my meer grondige opinie gee. Haar mentor van die Universiteit van Kaapstad het haar aankondiging as volgende leser met groot fanfare begroet.

Jare gelede het Coenie Slabber ’n artikel in Rapport geskryf met die titel “Bethlehem se Wilhelm” en daarmee saam ook die jong digter Theunis Engelbrecht bespreek. As ek dit nie mis het nie, het hy, soos Antjie Krog, as skoolkind gedebuteer.

Terug by Versindaba. Een sessie is toegewy aan jou en jou werk, aangesien jy op 26 Oktober vanjaar 75 jaar oud sou geword het.

Die akademiese gedeelte is waargeneem deur dr Marius Crous van die Universiteit van Port Elizabeth, en self ’n digter van ’n bundel met die vreemde naam van Aan ’n beentjie sit en kluif.

Daarna het ek die orige 40 minute aan jou as mens en digter gewy, met ’n voorspel van twee kort uittreksels uit toonsettings van gedigte van jou, die een klassiek deur die Suid-Afrikaanse komponis Hendrik Hofmeyr – jy sal geïnteresseerd wees om te verneem dat Trix Pienaar, wat jy ook geken het, sy tante is – en twee kort kabaretliedere deur ’n uitmuntende hedendaagse Suid-Afrikaanse kabaretkunstenaar, Emile Minnie. Ek het grepe uit jou “vroeë liefde” van ’n kompakskyf (of CD) voorgespeel, omdat hy nie in persoon daar kon wees nie.

Ek is ook deur die hoof-organiseerder, Melt Myburgh – debutant met sy bundel, Oewerbestaan – gevra om ’n kort persverklaring op te stel. Die hoofdoel van my optrede was om ’n simboliese oorhandiging van jou totale nalatenskap aan die Dokumentasiesentrum van jou alma mater, die Universiteit Stellenbosch, te doen. Ek en jou twee susters het dit gepas gevind om jou nalatenskap aan hulle te skenk en nie aan NALN nie, waar van jou vroegste skenkings sedert 1976 gehuisves word.

Ek heg nou vanaand eers net vir jou my kort persverklaring aan, en later my hele essay oor jou en jou werk, asook die kort oorhandigingstoesprakie.
 
Wat beteken “simbolies”? Wel, ek hou eers die werklike dokumente terug, aangesien ’n baie belangrike stuk werk afgehandel moet word. Ek het naamlik vir Johann de Lange, ’n bekroonde digter, gevra om ’n seleksie van jou werk te maak vir ’n versamelbundel, wat hopelik binne enkele weke gereed sal wees vir publikasie. Dit mag nodig wees om weer talle van die gedigte met jou oorspronklike manuskripte te korreleer; daarom hou ek dit terug. Johann het reeds twee soortgelyke versamelbundels saamgestel, vir sy eie werk sowel as vir die oeuvre van Lina Spies, wat ook nou die ryp ouderdom van 70 jaar bereik het.

Wat ek wel gedoen het, is om al die dokumentasie wat ek oor die afgelope vyf jaar op my rekenaar gelaai het, op een van daardie handige “geheuestokkies” of, in Engels, “flash discs” oor te laai, en dit in ’n mooi houtkissie aan me Mimi Seyffert, die hoof van die Sentrum, te oorhandig. Hierdie aanvanklike skenking het reeds baie handig te pas gekom, aangesien ek van my eie werk oor jou op my rekenaar verloor het, en ek kon dit met groot gemak vir myself van hulle “geheuestokkie” aflaai. Daarom noem ek dit sommer so tong in die kies ’n “vreugdestokkie”.

Soos gewoonlik maar met sulke feeste en indabas gaan, het van die belangrikste akademici verkies om tydens ons voordrag, soos natuurlik ook tydens ander voordragte, sosiaal te verkeer in die vierkant, waar kos en drank bedien is en gerook kon word ... Nou ja, dit is tog hulle keuse.  
     
Die persone wat wel teenwoordig was, het die voordragte interessant en “informatief” gevind. Dis nou net verniet of ek die korrekte Afrikaans hiervoor kan vind. Wel teenwoordig was Petrovna Mettlerkamp, jou oudkollega van UNISA, waar sy as professor Haffter se assistant gewerk het. Sy het dit baie opreg en roerend gevind. Later die aand is ongepubliseerde digters genooi om hulle eie gedigte by die “oop mikrofoon” te kom voordra of voorlees. Gelukkig was ek nie die enigste “bejaarde maljan onder die jong henne en hane” wat iets wou voordra nie. Voor my was ’n nog meer bejaarde man uit een van die woonbuurte wat met vuma (woema) en groot vreugde twee gedigte kom voorlees het. Ja, ek weet “vuma” word as “woema” gespel, maar “vuma” pas by die nuwe nasionale raasbekmusiekinstrument, die vuvuzela, ’n trompetagtige gedrog wat die allervreeslikste lawaai kan maak. En sit honderdduisende bymekaar en dit klink soos “die magtige dreuning”, soos die gezoem van bye.

Ek het gesit en wik en weeg, en besluit toe om ’n kort gedig wat ek aan jou en Thereschen opgedra het, te gaan “opsê”, gelukkig sonder om te haak of te hakkel. Ek het die gedig jare gelede geskryf en dit genoem “Bipolêre terugslag − vir Wilhelm en Thereschen”. Dit beskryf my jare lange ervaring om dop te hou hoe die orde van julle lewens telkens uitmekaarval en -geval het, om dan geduldig en met pyn te probeer om die drade weer bymekaar te trek – of in hierdie geval die skerwe weer aanmekaar te plak.

Hier volg die gediggie. Ek het dit sommer ook vir ’n Engelse vriend in Engels vertaal. Laat weet of dit jou goedkeuring wegdra.

En aan die einde van my “resitasie” van die gedig het daar ’n gedempte kreet van waardering uit Petrovna se rigting gekom. Ek glo dit was sy, aangesien sy self ook van jou “terugslae” by UNISA sou beleef het.

 

Bipolêre Terugslag vir Wilhelm en Thereschen


dan lê die skerwe van jou hart
weer flenters op die vloer
en sit jy maande lank daarna
met wondergom en tweezers

en meet
en pas
en plak

tot jy weer
’n hele het
van
brose-fyn
raku-porselein

maar die klank van sy klop

                          bly
kraak-pot-dof

 

          1998, hersien 15 Augustus 2009

          Deon Knobel


Bipolar Relapse for Wilhelm and Thereschen translated for Jill Trappler, 28 July 2004

once more the fragments of your heart
lie shattered on the floor
so that you sit for months thereafter
 with superglue and tweezers

    to fit
      and measure
       and paste

until, once more, you have
      a whole one
  of
   fragile fine
     raku porcelain

but the sound of its walls

     stays
       cracked and dull

? read: stays crackpot dull ?
 

Toevallig sou dit ook een van die dae Ingrid Jonker se verjaardag gewees het. Petrovna het toe, as skrywer van ’n biografie oor Ingrid, saam met Margot Luyt, die voordraer en opsteller van die program Vers en klank,die afgelope Dinsdagaand opgetree om toeligting oor Ingrid se lewe en werkte verskaf.

So tussen ons twee, dit lê nog vir my voor om vir Margot ’n groep van nie meer as 12 gedigte nie uit te soek vir haar program oor jou lewe, toevallig op Dinsdag 26 Oktober, die herdenking van jou 75e geboortedag.

Genoeg gebabbel.
Liefde
Deon

Ns: Daar het in die verlede talle reaksies gekom oor my briewe aan jou, meestal met groot lof en waardering, selfs van Breyten Breytenbach en dr Danie van Niekerk, wat jare lank sekretaris van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns was, behalwe vir die geheimsinnige M Saunders, wat “moeg was vir jou stories oor jou broer en jou familie”, en my aangeraai het om liewer ’n Katolieke priester te gaan spreek oor my skuldgevoelens. Vir myself sê ek dan binnensmonds: “Ag meneer of me Saunders, met purgasie – ekskuus, ek meen, met permissie gesê, u se gee aa … t--.” Jou woorde toe ’n medepasiënt jou gevra het om “Sarie Marais” in stede van Beethoven of Bach te speel.

Hier volg nou die kort persverklaring oor my “huldigingsoptrede” oor jou by die Versindaba.

Wilhelm Knobel, die vroeë-Sestigerdigter, sou op 26 Oktober vanjaar 75 jaar oud geword het.

Tydens vanjaar se Versindaba 2010 op Stellenbosch sal emeritusprofessor Deon Knobel, die jongste broer van die digter, saam met dr Marius Crous deelneem aan ’n besprekingsprogram ter huldiging van hierdie digter. Deon Knobel hoop om meer persoonlike aspekte van sy broer se lewe en werk te onthul.

As jongste broer, die vierde van sewe kinders van Gideon en Esther Knobel van Bethlehem, het Deon sy broer se vreugdes, teleurstellings en dikwels moeilike dae van siekte van jongs af meegemaak.

Die eerste bipolêre aanval in Januarie 1954 onderbreek Wilhelm se studies as eerstejaar op Stellenbosch. Hy ondergaan intensiewe psigiatriese behandeling en moet noodgedwonge die res van die jaar op die familieplaas deurbring om te herstel. In 1955 keer hy as student na Stellenbosch terug en behaal ongeëwenaarde sukses in sy volgende vyf jaar van studie. Albei sy honneursgrade, in Filosofie (1958) en Frans (1959), word cum laude aan hom toegeken.

Op grond van hierdie prestasies word ’n beurs vir studie aan die Sorbonne Universiteit in Parys deur die Franse regering aan hom toegeken. ’n Ernstige hoofbesering in September 1961, opgedoen in ’n motorongeluk in België, presipiteer die tweede massiewe bipolêre aanval. Weens sy gevolglike tydperk van siekte in Frankryk is die jonger broer, as vyfdejaar-mediese student, deur hulle ouers afgevaardig om hom te gaan bystaan en hom met sy terugkeer na Suid-Afrika in Januarie 1962 te vergesel.

In later jare, met Wilhelm se herhalende aanvalle van bipolariteit, het die verantwoordelikheid van bystand en versorging al meer op die jonger broer se skouers gerus.

Met Wilhelm se onverwagte en voortydige dood op 4 Januarie 1974 op die betreklik jeugdige ouderdom van 38 jaar het Deon onmiddellik die uitdaging en verantwoordelikheid aanvaar om toe te sien dat sy totale nalatenskap, insluitende sy skildery-versameling en veral sy nagelate dokumente en manuskripte, nie verlore gaan nie.

Sedert sy aftrede in 2004 as professor in Regsgeneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad is toegewyd aandag gegee aan die sortering, ordening en klassifisering van die groot aantal nagelate gedigte, briewe, resensies en huldeblyke wat ná sy dood in die media verskyn het.

Professor Knobel het sedert 2005 reeds drie publikasies die lig laat sien, naamlik Twee siklusse (Bel Monte Uitgewers, 2005), … en skielik is dit aand …, ’n elegiese liedsiklus deur die komponis Hendrik Hofmeyr, met vyf gedigte van Wilhelm Knobel (Bel Monte Uitgewers, 2005), en Wilhelm Knobel, die ongewapende man – van kindertyd tot sterwenstyd, ’n “vers-biografie” waarin sy lewe en werk deur middel van sy eie gedigte weergegee word. (Bel Monte Uitgewers, 2006). ’n Beperkte aantal kopieë van hierdie twee boeke en ’n CD van die liedsiklus, met die komponis voor die klavier en André Howard as bariton-solis, sal ná die Versindaba-bespreking te koop aangebied word.

Daar is reeds ver gevorder met die seleksie van gedigte vir ’n oorkoepelende Knobel-versamelbundel sowel as die samestelling en skryf van Wilhelm Knobel, die ongewapende man op 75, ’n “plakboekbiografie” oor sy digter-broer. Indien moontlik, sal ’n outeursprototipe van deel IV van die publikasie tydens dié geleentheid aan die Dokumentasiesentrum van die Universiteit Stellenbosch oorhandig word.   
                   
© Deon Knobel, Kaapstad, 15 Augusts 2010

Naskrif: Wel, die prototipe is niks verder as “proto” nie, en die naweek gaan ek weg na my vakansiehuis om daaraan te werk. Later skryf ek vir jou oor jou ou universiteitsvriend, Kowie Stemmet, en hoe ek hom gister ná 48 jaar met inligting wat ek by Estelle en Pieter Kooij gekry het, opgespoor het. Hy woon in Somerset-Wes saam met sy lewensmaat van 40 jaar. Ek gaan vanmiddag jou bundels en ’n CD met die liedere van jou gedigte by hom aflaai. Ciao, Deon.