Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Poësie | Poetry

Gebed van die soekende


Clarence Payne - 2010-09-29

Gebed van die soekende …
Die soeke van die mens is die soeke na waarheid, is die soeke na God.

 

Vader, dit klink dalk ydel,
maar hier diep binne my is daar die twyfel.
Sekerlik het ek iets iewers gemis,
maar ek weet nie meer wie u seun Jesus Christus is.

Is dit poligamie,
selfs klakkelose kakofonie?
Dié dat ek sukkel om te assosieer met Christene en kie.

Met troebel hart en dagbreeksmart,
probeer ek die eindlose vrae uit my hart uit tart.

Dis wat ek nog nooit kon sien nie,
elke prediker het maar sy dogmatiese opinie.
En vir nou wil ek nie meer die Waarheid verkwis,
want dis in die Waarheid waar u seun Jesus Christus is.

So, wat is daar meer te sê?
Ons almal wil bietjie aanvaarding hê.
ons almal wil in ’n beter toekoms belê.
En die soeke na U wil ek nou neerlê.

Vader, ek het nie die mooiste woorde.
Sing nie liedjies met melankoliese akkoorde.
Ek speel nie tamboeryn of sessnaarkitaar,
verkoop nie koeksisters by die jaarlikse basaar.

Dalk maak dit my nou ’n slegte mens,
het iemand my dalk daadwerklik verwens?

Ek glimlag, maar ek worstel,
sing hard, drink bietjie borstel,
Tog maak nie saak hoe hard ek probeer,
wil U nie die leegheid hier binne my omkeer?

Ek’t al dokter so-and-so se vyf stappe probeer,
en daai ander keer The Secret back to front geleer.
En voor ek sien gebeur dit weer,
die tamheid, die leegheid, die koue, die seer.

Daar’s ’n ongenaakbare verdeeldheid hier binne my,
’n diepe donker waarteen ek daadwerklik baklei,
En soos Dawid wil ek nou uitroep in nood:
U is my kos, U is my brood!

En as U nou my woorde kon hoor,
dis ’n enkel uitroep, nie deel van ’n koor:
Here, waar was U toe 9/11 gebeur?
Die ou op die straat, die girl met die seer?

En in my baklei val dit my by:
Dis toe al die tyd net ek wat U vermy.
U het my gemaak, net soos U wil,
Ek aanvaar nie myself; so sê dokter Phil.

Hoe dit ook al sy,
Ek is uitermatig bly,
Jesus Christus roep steeds na my …