Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Spoed maak dood


Jason Lloyd - 2010-09-29

Ek is ernstig as ek sê: Spoed maak dood. Dit het ek weer eens besef toe ek op ’n Donderdag van King William’s Town na Mthatha gereis het. Die Vrydag terug King William’s Town toe en daarna na my tuisdorp, Uitenhage. ’n Hele 750 km in net meer as ’n dag. Baie gery, sou ’n mens agterna wou sê. En weer eens het ek ’n paar padlesse geleer.

Die Donderdagaand in my hotelkamer het ek op Facebookgeskryf: “Nou net by die hotel hier in Mthatha aangekom, nadat ek 250 km op die lewensgevaarlike N2 vanaf King William's Town afgelê het. By Butterworth het ’n dronk vrou (?) voor die kar ingeslinger. Dit was so ampertjies en ek het haar dood gery. Op pad was daar twee ongelukke en altesaam vier mense het gesterf …”

Die Donderdagaand was dit alreeds donker toe ek by die genoemde ongelukstonele aangekom het. Die lyke was alreeds toegegooi. Huilende en snikkende familielede het op dié ongelukstonele saamgedrom. Loeiende sirenes van verkeersbeamptes, die polisie en ambulanse het my ore vir ’n hele paar sekondes gedoof.

By een van die ongelukstonele, naby Qunu, geboorteplek van Madiba, het ’n omstander nogal ironies opgemerk: “Een van die oorledenes is bejaard en lyk nogal net soos Mandela.” Of dit waar is, kan ek nie sê nie, want soos reeds genoem, was die lyke alreeds toegegooi.

’n Paar weke gelede is Yiull Damaso se omstrede skildery-uitbeelding van ’n dooie Madiba op wie ’n lykskouing gedoen word, op die voorblad van ’n Engelse weekblad gedra. Hoe verklaar ’n mens dié omstander se opmerking en die skildery-uitbeelding?

Vrydag op pad terug King William’s Town toe het ’n minibus met ’n klompie skoolkinders wat op toer was, net voor Butterworth omgeslaan. Vermoedelik was spoed die oorsaak. Gelukkig het niemand gesterf nie.

Die Sondag op die N2-snelweg net voor Colchester het ek vir die heel eerste keer in my lewe ’n sittende lyk op die agterste sitplek van ’n motor gesien. So asof niks gebeur het nie. Die voorste lyke was met komberse bedek. Drie mense het in dié ongeluk omgekom. Net ’n drie maande oue babameisie het oorleef. Die oorsaak was ’n tromp-op-botsing tussen ’n Mercedes Benz C-klas en ’n BMW M6. Twee karre wat die vermoë het om ’n hond uit ’n bos te hardloop. Was hoë spoed ook hier teenwoordig?

’n Polisiewoordvoerder het aan Die Burger gesê hy vermoed die motors het teen ’n hoë spoed gery.

Allerhande gedagtes het deur my kop geflits. Dit neem jou ver terug. Ek het gedink aan die vele spoedkaartjies wat ek al gekry het en aan my vyf motorongelukke wat ek wonderbaarlik oorleef het. En hoe ek altyd my broer waarsku dat hy asseblief stadiger moet ry. Om ander mense met spoed te wil beïndruk sal jou net jou lewe kos.

Sulke ervarings leer my om nóg stadiger te ry. Jou bestemming sal jy nogtans bereik – sonder hoë spoed. Ek is ernstig: Spoed maak dood.