Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

Onthou Parys


Charl Cornelissen - 2010-09-29

Knusse, opdraande hobbelstraatjies van Montmartre, beurend na Sacre-Coeur, statig en heilig wit bo-op die heuwel.

Die uitsig oor die Seine, La Tour Eiffel – daai imposante bruin staalspits met sy 689 trappe tot in die middel  en die uitsig oor die ou-ou stad, sy rivier en sy oranje, terterige skoorsteentjies bo uit die staalbehemot – en ontelbare ander mooi geboue, almal druppend van geskiedenis, vanaf die Viaduc Du Passy.

Besoekers aan Van Gogh se graf

Melancholies vreedsame praalgrafte toegepak met blomme onder ’n wolk van lowergroen bome en James Douglas Morrison se gestroopte, eenvoudige laaste rusplek. 

Die vrouestem op die bus wat roep: “opera!”, met die “gg” in plaas van die “r”, en die fraaie klingel by Gare St Lazare en die klokslag-reëlmaat van die Metropolitain-treine. 

Filmry-sitplekke voor straatkafees, Marché-etes van baguettes, smeerkaas, koue vleis, sjokolademoes en rooiwyn êrens in ’n groen-groen bomepark met perskleurige bloeiselgrasperke. 

Klein, versteekte straatjies

Skilderye en beelde en fonteine en parke, kleurryke dubbelhoutdeure, taxi’s en scooters en rooi Vespas en karre en busse en ’n magdom malende mensies wat in hulself gekeer êrens heen skarrel met iPods in die ore.

En die onthutsende hartseer in die blou-blou oë van Vincent van Gogh.