Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Papawers is ’n moet lees-boek


JB Roux - 2010-09-29

Papawers
Ingrid vander Veken
Uitgewer: LAPA
ISBN:9780799346619
Prys: R160

Klik hier en koop Papawers nou van Kalahari.net!

 

“Kom na my toe,” nooi Ingrid van der Veken, Nederlandse joernalis en skrywer, haar stiefseun, David, in die openingsreëls van Papawers. “Kom sit hier in die son langs my op die bank ...” Sy wil met hom gesels om hom te verstáán en dalk iets van die lewe self te begryp.

Maar die uitnodiging geld ook haar lesers: die skrywer wil met hulle in gesprek tree, en met haarself, om só sin uit sinneloosheid te probeer haal.

Verhale waarin skrywers hul emosionele trauma met lesers deel, is nie nuut in Afrikaans nie. Dink maar aan Douwleen Bredenhan se ’n Hemelhoë hekkie (oor die moord op haar kleuterdogtertjie), Elbie Lötter se Dis ek, Anna (oor kindermolestering), en Donker liefde deur Anoux Venter (dwelmverslawing). Dié boeke het uitstekend verkoop en is in Engels vertaal. Dit spreek dus vanself dat lesers aanklank sal vind by die Afrikaanse vertaling van Papawers.

Dit word algaande duidelik dat alles nie pluis is met die jong David nie. Eindelik is daar ’n diagnose: David ly aan skisofrenie. Hy word opgeneem en kry behandeling – ’n moeilike proses, veral omdat lyers nie glo hulle het behandeling nodig nie.

Daar is dramatiese terugslae, maar dit lyk tog of daar beterskap kom. Later word David finaal ontslaan en kry hy geleentheid om hom in ’n nedersetting saam met ander skisofrenielyers te vestig. Dit lyk of die stryd om hom ’n grootliks onafhanklike lewe te laat lei, gewen is ...

Op suiwer letterkundige vlak is Papawers ’n kragtoer. Die taalgebruik is treffend en liries. Dis maklik om te verstaan hoekom ’n digter soos Christine Barkhuizen le Roux soveel aanklank by die verhaal gevind het dat sy aangebied het om dit in Afrikaans te vertaal: die poëtiese taalgebruik is so roerend en aangrypend soos die verhaal self.

Papawers sê soveel oor die liefde op alle vlakke; oor die uiterstes van deernis, omgee en uithouvermoë, hoop en geduld waartoe ’n mens gedryf word wanneer die lewe self iemand na aan jou bedreig. Die weerloosheid waarop die titel wys, word deur bykans elke woord in hierdie pragtige boek onderstreep.

Maar Papawers se éintlike waarde lê daarin dat ’n siekte waaroor daar verbasend min bekend is, oopgeskryf en begrip en deernis gekweek word.

Dis een van daardie skaars boeke hierdie wat beïndruk én ontroer. Daar moet egter nie nagelaat word om ook ’n buiginkie in die vertaler se rigting te maak nie: om weerloosheid, liefde, die lewe self te vertaal moet haas moeiliker wees as om dit  te skrýf. Die vermoede is groot dat niemand dit beter sou kon gedoen het as Barkhuizen le Roux nie.

Papawers is ’n moet lees-boek en sal dit altyd bly – in enige taal.