Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Michael le Cordeur: Die punt is

Wat Suid-Afrika by Pole kan leer, en wat nie


Micheal le Cordeur - 2010-09-29

Warsawa is ’n moderne wêreldstad – terloops, die naam is nie Warsaw (Engels) of Warskou (Afrikaans) nie. Skou, oftewel beskou, soos in het gesien oftewel saw is ver verwyderd van die oorspronklike betekenis. Volgens die dosente by die Frederick Chopin Universiteit van Warsawa, asook die toergids wat ons op die Chopin-toer begelei het, was ene Wars en sy vrou Zawa die eerste inwoners van die Poolse hoofstad en is die stad na hulle vernoem. Afrikaans se beheptheid om alles te wil verafrikaans skiet hier ver te kort.

Terwyl ek wag op die aansluitingsvlug na Istanboel, Turkye, verwonder ek my aan die lughawegebou. Dis ’n ingenieurswonder van vlekvrye staal, aluminium, glas en Italiaanse teëls en min of meer drie keer groter as die OR Tambo-lughawe. Twee vlugte voor myne het na Toronto en Chicago vertrek.

Ek kan nie sê dat ek van die stad hou nie. Die Poolse mense kom nie baie vriendelik voor nie, of dalk lyk hulle maar net so stuck-up (my vrou sê ek is die laaste een om te praat), en hulle rook soos skoorstene. Sommige sal sê ek is nou te fyngevoelig, komende van ’n land waar die meeste mans wat rugby en sokker gaan kyk, óf gesuip soontoe gaan, óf gesuip daarvandaan terugkom.

Veel eerder is daar by my ’n bewondering vir hierdie volk van 40 miljoen inwoners wie se land in die Tweede Wêreldoorlog deur Hitler se Nazi’s feitlik gelyk gevee is met die grond, maar wat binne die bestek van 50 jaar die stad letterlik herbou het uit die as en die bourommel. Praat jy met enige Pool, hoor jy baie gou van hulle dat hoewel hulle die stad feitlik in sy geheel herbou het, dit beklemtoon moet word dat die Poolse volk dit gedoen het deur die stene, klippe en ander boumateriaal uit die oorlogmurasies te herwin. Verskeie boeke in die winkels wys jou die tipiese voor- en daarna-tonele – hoe die stad gelyk het nadat die Nazi’s die stad gebombardeer het, en hoe die stad vandag lyk: op sigself ’n ingenieurswonder.

Vir die gemiddelde Suid-Afrikaner sal daar ’n paar aspekte van Pole en Warsawa wees wat jou sal skok as jy vir eerste keer die land besoek, net soos dit vir my was toe ek as 16-jarige Europa vir die eerste keer besoek het. Die eerste kultuurskok is wat jy op die oog af sien: Suid-Afrikaners wat vir jare deur die vorige regering gebreinspoel is (en nou ook deur die huidige regering gebreinspoel word) dat mense óf wit, óf swart, of bruin, of geel, of godweetwatookal is, en dat elkeen dus anders is en as sulks behandel moet word, sal geskok wees om te sien dat hier net wit mense is. Dat hulle alles self doen, vanaf die vee van die strate en bediendes in die hotelle tot by die uitvoerende hoof van groot maatskappye soos Daewoo en Toyota.

Die tweede aspek wat jy as Suid-Afrikaner nie kan miskyk nie (of dalk nie kan raak kyk nie) is hoe skoon die land is. Suid-Afrikaners (en veral Kapenaars) wat gewoonlik liries raak oor ons mooi land en hoe mooi Kaapstad is, moet weer dink. Elke ma dink haar kind is die mooiste, totdat sy die bure se kind sien. Eers dan gaan jou oë oop vir die werklikheid. Suid-Afrika is ’n vuil land; Kaapstad is morsig vuil, en Johannesburg en Pretoria is gewoon net ’n gemors. In die hele Warsawa – ’n stad met meer as twee miljoen inwoners, 80 000 studente en 300 vierkante km – lê daar minder papiere rond as op die terrein van een Kaapse skool. Geen plastieksakke teen omheinings nie, geen vullis op die sypaadjies nie, en steeds is die vroue wat skoon vee, besig om op te ruim … presies wát, weet ek nie, daar is niks meer om te vee nie.

Die ander aspek wat nóú saamhang met die skoon en net

jiese stad, is die stad se doelgerigte pogings om ’n groen stad te wees en om te gee vir die omgewing. Daar is meer as 7 000 hektaar oop ruimtes, parke en tuine in Warsawa. Voeg daarby die duisende, hoofsaaklik inheemse, bome wat strategies aangeplant is om die stad ’n groen voorkoms te gee, en jy weet: hier het die stadsbeplanners gewérk vir hul salaris.

Die stad het geen tekort aan water nie – daarvoor sorg die lang winter met sy baie sneeu wat in die lente sy weg vind na talle riviere en mere. Maar dis skoon. Geen moeite word ontsien om die mere en riviere met blomme en bome te beplant en die land se hulpbronne te omskep in ’n lushof vir inwoner en toeris nie, en danksy die baie bome kry jy die heeltyd die gevoel dat jy hier kan asemhaal. Soos een Pool dit gestel het: ons woude, parke en bome is vir ons kosbaar; dit maak dat die hele stad kan asemhaal. En alhoewel daar nie ’n skaarste aan water is nie, word daar steeds spaarsaam met dié belangrike hulpbron omgegaan. Die Poolse intellek word goed aangevul deur hul sin vir spaar en vernuwende denke en is duidelik te sien in ingenieursvernuwings, soos twee knoppe waarmee die toilet gespoel kan word: een vir daardie ligte en gou-gou besoekie, en twee knoppe vir daardie ekstra-swaar geleentheid.

Om meer as twee miljoen professionele inwoners en studente betyds by die werk, skole en universiteit te kry, vereis is ’n gesofistikeerde en geoliede vervoerstelsel. En hieraan het Warsawa geen tekort nie. Die stad se netwerk trems en busse vorm die hartslag van die openbare vervoerstelsel. Meer as 500 km se spoorlyne verseker dat weinig mense laat kom vir werk, terwyl daar geen spoor is van toue motors en verkeersknope soos waaraan ons hier in Suid-Afrika al gewoond geraak het nie. Dis ’n vervoerstelsel waarna die meeste Suid-Afrikaners maar net kan verlang: goedkoop, effektief, betyds, maar bowenal, veilig! Daar is geen kaartjie-ondersoekers nie; die inwoners aanvaar self verantwoordelikheid vir die gladde bestuur van die stad deur eerstens toe te sien dat hulle geldige kaartjies het en tweedens om diegene wat dalk vergeet om ’n kaartjie te koop by die selfhelp-masjien wat by elke bushalte of tremstasie aangebring is, gou-gou en vriendelik op hul plig te wys.

Van plig gepraat. Die wetsgehoorsaamheid van die Poolse inwoners is opvallend. Niemand steek die pad oor tensy dit by die netjies instandgehoude voetoorgange is nie. Die afwesigheid van misdaad laat die stad se jeug toe om naweke tot laat te kuier in die ultramoderne kuierplekke en verseker dat hulle ouers per trem of per bus veilig tuiskom na ’n lang dag se werk, ongeag hoe laat dit is. Dalk is dit ’n leefwyse wat steeds sy wortels het in die land se sosialistiese verlede. Voorbeelde van sosialistiese argitektuur is orals te sien en word trots uitgewys deur die toergids. Jy vergeet soms dat Pole eers in 1989 ’n demokrasie geword het.

Die stad het, soos reeds gesê, ’n kultuurryke geskiedenis en dit word maksimaal benut in die land se groeiende toerismebedryf, wat volgens die stad se eie TV-kanaal jaarliks reeds sowat drie miljoen toeriste lok. Die parke en tuine in die stad spel die Poolse groen leefwyse uit en is mooier as enigiets wat ek al in Suid-Afrika gesien het (die enigste uitsondering is dalk Tafelberg). Die nuwe biblioteek van die universiteit lyk alles behalwe soos jou konvensionele biblioteek. Dis ’n ingenieurswonder wat jou meer laat dink (en voel) asof jy in ’n kwekery met duisende inheemse plante is. Die deursigtige glasdakpanele bring jou in kontak met die blou hemel, die reën en die sonskyn terwyl jy by die gemak van jou eie lessenaar met Wi-Fi en internetkoppeling deur die wêreld se grootste biblioteek kan reis. Koffiestalletjies en die mooiste daktuine stel studente in staat om binne ’n ontspanne atmosfeer hulle werk te doen.

Origens is net mooi alles ter nagedagtenis aan of ter verering van Warsawa se beroemdste inwoner: die komponis Frederyk Chopin. Warsawa het ’n toerisme-ekonomie gebou rondom hierdie imposante figuur wat op betreklik jong ouderdom aan tuberkulose oorlede is. Die universiteit, asook skole in die omgewing, is na hom vernoem. Bustoere neem jou na sy geboorteplek 50 km buite die stad, na die kerk waar hy in April 1810 gedoop is (terloops, hierdie kerk is een van die geboue wat met behulp van bourommel na die oorlog herbou is tot sy oorspronklik glorie); jy besoek die park waar jy ’n blik van sy eerste klavier in sy woonhuis sal kry, en presies om 12h00 elke Sondag word jy getrakteer op ’n tuinkonsert van Chopin se beste werke deur een of ander pianis van faam. Toe ek daar was, was die gaskunstenaar die 2010-wenner van die Chopin-klavierkompetisie.

Ek kan nog lank aangaan …

Maar ek moet iets sê oor die taal. Vir die deursnee-Suid-Afrikaner is dit ’n nagmerrie om jou weg te vind deur die Poolse inwoners se onwilligheid om enigiets anders as hul eie taal te praat. Suid-Afrikaners sal woorde soos apteka, karte (kaartjies), alcohol (drank) en stadion maklik in die geskrewe taal herken, maar nie in die gesproke taal nie. Tydens my 7-daagse verblyf in hierdie Oos-Europese stad het ek agtergekom dat niemand buite die universiteit meer as twee Engelse woorde na mekaar kan praat nie, en dié wat kan, weier gewoon om dit te doen. Die uitsondering was die ontvangspersoneel by die hotel, wat my noodgedwonge in hul gebroke Engels moes bedien. Maar die kelnerin in die restaurant, die verkeerskonstabel buite by die voetoorgang, en die wag by die universiteit se hek hoef nie, en hulle het ook nie. Die meeste Poolse inwoners het nog nie die woorde “thank you”geleer nie, en ek het baie gou besef dat ek baie verder sal kom as ek die woord jingkewe (my spelling) aanleer, want waar ek vandaan kom, is ek geleer om dankie te sê.

Binne die mure van die Universiteit van Warsawa is daar wel Engels gepraat, weliswaar gebroke, maar darem. Engels as lingua franca versus Engels as tweede taal was een van die hooftemas van die konferensie. Tydens die referaat van die wêreldbekende sosiolinguis Robin Walker (Engels van geboorte, maar deesdae professor in veeltaligheid in Spanje),  “English as lingua franca – is it the end for multilingual environments?”, het dit baie gou duidelik geword dat hoewel Engels baie volke se tweede taal is (volgens Walker gebruik ’n geraamde een miljard mense vandag Engels as basis vir internasionale kommunikasie), dit vir seker nie beteken dat ander wêreldtale sal uitsterf nie. Inteendeel: veeltaligheid is besig om al meer veld te wen, en die konferensiegangers het almal saamgestem dat die wêreld se moedertale eerder sterker geword het. En hulle is almal gerespekteerde linguiste van oor die hele wêreld heen: Australië, Bangladesj, België, Brunei, Kameroen, China, Duitsland, Ethiopië, Finland, Frankryk, Georgië, Griekeland, Hongkong, Hongarye, Indië, Indonesië, Iran, Ierland, Italië, Kanada, Kenia, Kroasië, Koeweit, Letland, Japan, Marco, Maleisië, Mongolië, Marokko, Nederland, Oostenryk, Pakistan, Pole, Portugal, Katar, Roemenië, Rusland, Serbië, Singapoer, Slowenië, Suid-Afrika, Spanje, Swede, Switserland, Thailand, Turkye, Uganda, Oekraine, Verenigde Koningryk, die Verenigde State van Amerika, en Viëtnam.

Daar is tans ’n groter bewuswording van en respek vir mekaar se tale as kulturele, identiteit- en intellek-draers as ooit te vore. Intussen verkondig die Suid-Afrikaanse owerhede steeds die drogredenasie dat maksimum intellektuele kapasiteit en volwaardig menswees net moontlik is deur op die Engelse Hoofweg te klim. Hoeveel langer hulle hiermee sal kan volhou, sal net hulle weet. Al hoe meer jongmense gaan vandag oorsee en hulle sien en ervaar wat ek die afgelope tyd beleef het. Al hoe meer Suid-Afrikaners raak daarvan bewus dat aan universiteite soos die een in Warsawa, tot 60 000 studente in hulle moedertaal studeer. Dit verhoed hulle nie om toonaangewende ingenieurs te word wat gestalte gee aan ingenieurswonders soos die ultramoderne Biblioteek by die Universiteit van Warsawa, en die tweede langste straat in die wêreld (14,5 km) nie.1 Dit is dieselfde ingenieurs wat ’n stad binne net 50 jaar uit die as opgebou het tot ’n wêreldstad. Graduandi wat ’n samelewing gevestig het waar wet en orde die raamwerk vorm vir ’n jaarlikse groeikoers van vyf persent, waar inwoners maksimaal vooruitgang geniet en in vrede en geluk kan leef te midde van ’n misdaadvrye omgewing.

Dis nie dat ons gekant is teen Engels nie (ek het al ’n boek in Engels geskryf en publiseer in Engels én Afrikaans), maar die konferensie was dit eens: studente en leerders behoort in hul huistaal te studeer terwyl Engels as ’n internasionale taal gaandeweg bemeester word. Die vaardighede wat jy in jou huistaal baasraak, gaan jou juis help om ’n tweede taal (Engels) beter en meer effektief te verwerf. Ek ook self wil betoog dat elke student in Suid-Afrika ’n derde taal (wat verkieslik ’n Afrikataal sal wees) moet aanleer. Ek het isiXhosa reeds op 21-jarige leeftyd aangeleer as deel van my BA-graad.

En steeds wil die Suid-Afrikaanse owerhede ons wysmaak dat die voordele hier bo genoem net moontlik is in ’n wêreld van “English Only”? In Neville Alexander se woorde: Meer en meer mense gaan begin agterkom die owerhede praat gewoon bog en onsin.

Michael le Cordeur is dosent in Afrikaansonderwys aan die Universiteit van Stellenbosch. By die internasionale konferensie oor Language Teaching in an increasingly Multilingual Environment wat by die Universiteit van Warsawa, Pole, gehou is, het hy ’n referaat gelewer getiteld: “How to teach struggling readers within a multilingual environment of the Western Cape to read better”.

_______________________________________________
1 Die langste straat in die wêreld is Broadway in Amerika, wat 250 km lank is.