Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Afstande: Baie vleis aan been, maar te min murg


Sonja Loots - 2010-09-22

Afstande
Dan Sleigh
Uitgewer: Tafelberg
ISBN:9780624049098
Prys: R233.75

Klik hier en koop Afstande nou van Kalahari.net!

 

Met Afstande pak Dan Sleigh ’n uitdaging wat menige romanskrywer tjankend en stert-tussen-die-bene op vlug sou laat slaan. Met sy lywige, historiese roman stel hy ook ’n strawwe uitdaging aan sy lesers. Vir vele sal dit te uitmergelend wees, en hulle sal die aftog blaas lank vóór die begin van die optog waarop die karakters hulle in die eerste hoofstukke voorberei.

Sleigh vertaal en verwerk die Anabasis, die soldaat Xe­no­phon se verhaal oor die wedervaringe van die leër van tien duisend Griekse soldate wat sowat vier dekades voor Christus gehuur is om koning Xerxes van die Persiese Ryk te ontsetel. Xenophon se vertelling van hoe hy die leër uit Persië na die Swart See lei, is verpligte leesstof vir studente van Grieks of die klassieke kultuur en filosofie. By die karakters wat in die oorspronklike teks voorkom, voeg Sleigh ook ander, van wie Nagri die Joodse eunug die belangrikste is. Soos Sleigh, is ook Nagri besig om Xenophon se teks te herskryf.

Die openingshoofstukke dien as ’n soort vakleerlingskap vir wat kom. Soos in die Anabasis, is daar kameeverskynings deur Sokrates en die Orakel van Delphi. Die leser kom veel te wete oor die antieke godsdiensbelewing, die Atheense politiek en veral oor hoe sake daar uitsien in die soldatekamp. Sy raak vertroud met die terminologie van die antieke staatsleer en krygsopset. Wanneer die opmars eindelik op bladsy 69 begin, weet sy wat ’n satrap en wat hoplitai is, wat prins Kuros gedra het, hoe Xenophon hom uit die regimentele wapenrak uitgerus het, hoe die Persiese ruitery geklee was, hoe die inlandse soldate uitgerus was, hoe die prins se lyfwag daar uitgesien het, wat die hingste gevoer is wat deur Perse aan die gode geoffer is, wat die troepe binne hul staalhelms gedra het (goeie wolmusse, nie velmusse nie), en waarvan die hopliete se skilde gemaak was (eikehout, nie jong den nie, met beesvel oorgetrek en met yster beslaan). Sy weet hoe daar tussen die verskillende range onderskei is: by gewone soldate het die kamme van die perdehaar op die helm van voor tot agter geloop, onderoffisiere het dit van kant tot kant gedra en offisiere s’n is oorkruis gedra. Sy weet nog veel meer dinge op die koop toe.

Wat sy nié weet nie, is die rede vir die uitputtende omvang van hierdie gedetailleerde beskrywings. Waarom gaan dit hier? Watter romanmatige doel dien dit? Het dit te doen met die soeke na le mot juste waaroor volgelinge van Flaubert en Maupassant dit destyds had? Wil dit die leser in ’n soort leesbeswyming sus, soos met die hipnotiserende herhalings van ’n Karel Schoeman-roman? Of staan dit hier omdat die skrywer, ’n historikus van formaat, na ’n leeftyd van navorsing die feite tot sy beskikking het en nou flink besig is om een lêer na die ander uit sy laaie op te diep en tot fiksie omvorm?

Dit is moeilik om geringskattend te wees oor die geweldige taak wat Sleigh verrig het. Afstande is ’n nougesette rekonstruksie van die verlede. Die reikwydte en intellektuele diepgang van hierdie epiese werk is enorm. Maar hoewel daar onbetwisbaar baie vleis aan die been sit, het die murg helaas weggekook.

 “Afstande is bedoel as iets nuuts. Vreemd van inhoud, tyd en plek,” het Sleigh in ’n onderhoud gesê. Waarom voel dit dan so baie soos die dae toe ek moes wroeg deur FA Venter se voorgeskrewe werk Koning van die Wingerd (naas Offerland en Bedoelde Land)? Daardie vergeelde voorgeskrewe boeke uit my skooljare, en die aantekeninge daaroor, staan nou nog op my rak. “FA Venter herskep die bewind van Agab met die gesag en oortuiging van iemand wat diep nagevors én nagedink het,” lees ek. “Die spel tussen mens en mens bly deur die eeue dieselfde. Dié waarheid word op verrassende wyse in hierdie Bybelse roman blootgelê, tot so ’n mate dat dit vir die leser mag voel dat hy in die Bybelse verlede inkyk en ’n bekende gesig – miskien sy eie? – na hom sien terugstaar.” Gaap. Ek het die vervelige Venters in my gemoed geliasseer naas vergete pogings soos Langenhoven se Skaduwees van Nasaret en Die Mantel van Elia en WA de Klerk se Pilatus.

Afstande vertel ’n verhaal waarvan die verloop en uitkoms reeds bekend is. Baie veldslae, baie teenspoed. Optog, gevolg deur aftog. Dood, bloed en geweld. Waar die verhaalverloop op sigself nie meesleurend is nie, en die uitbeelding van een veldslag na die ander maklik eenselwig te raak, is die behoefte aan aangrypende karakteruitbeelding, kreatiewe beeld- en taalgebruik of ander stilistiese en tematiese kragtoere groot. Helaas vind ek geen van hierdie dinge in die teks nie.

Xenophon is opgelei as ’n Atheense redenaar en daar is lang stukke dialoog waar hy dié kuns meesterlik beoefen. ’n Uitstekend-beredeneerde argument kan egter saai, stokkerige en onoortuigende romandialoog wees. Moontlike kritiek oor oppervlakkige karakteruitbeelding word voortydig deur Nagri ondervang wanneer hy waarsku dat hy nie Xenophon se minnaresse na behore kan beskryf nie. As eunug begryp hy gewoon nie wat alles gaande is nie. Dit is egter nie net die verhouding tussen Xenophon en sy minnaresse wat nie uit die verf kom nie. Die vertrouensverhouding tussen Xenophon en Nagri bly deurgaans ’n betreklik formele intellektuele kragmeting. Ook Xenophon se ander verhoudings loop uit op niks en word futloos uitgebeeld.

Daar is iets geforseerd aan die wyse waarop verskillende betekenislae van die titel in hoofstuktitels en die teks self uitgespel word. Daar word dubbel en dwars seker gemaak dat die leser snap: nie net fisiese afstande word in dié roman ondersoek nie, maar ook die afstande tussen mense en gode, tussen mense en hul verlosser, tussen mense en hul medemense.

Ten slotte: Afstande spruit uit en word omring deur van die grootste tekste in die geskiedenis van die letterkunde. Xenophon maak ’n bestaan deur die werke van die meesters Tukidides, Aeskulos, Aristofanes, Euripides, Sofokles en ander te kopieer vir Athene se gegoede bibliofiele. Sy reis lei deur stories. Die geplaveide pad na Apollo se tempel lei hom op die spore van Herodotus, Pithagoras en Oedipus . Xenophon en sy neef Proxenos bespreek ’n gedig van Homeros. Daar is talle verwysings na Griekse tragedies, blyspele en legendes, en ook Bybelse verhale kom ter sprake. Nagri skryf in teen die tradisie van die Farao se Boekrol van die Dooies, wat Moses as openingstrofes van sy Genesis gebruik het (aldus Afstande). Hy hoop die Verlosser, wanneer hy eendag gebore word, voeg sy skrywe naas dié van die laaste profete sodat die wêreld vir Nagri in hul geselskap sal reken: Habakuk, Sefanja, Sagaria, Maleagi, Nagri.

Nagri herskryf Xenophon se teks, “Hy som dié teks op, hy laat dele weg, hy herskryf dit na eie behoefte, na die wens van die Vaders en vir die Verlosser se doel alleen.” Aan sy manuskrip dink hy as Die Boek van Afstande. Daar sit iets van die metatekstuele spel in die feit dat Nagri hom besig hou met dieselfde bronteks as die skrywer van die roman Afstande, en deur die wyse waarop die titels ooreenkom. Hierdie gegewe word egter helaas nie op vindingryke of diepgaande wyse ontgin nie.

Soos met Eilande, sal kritiese opinie oor Afstande waarskynlik verdeeld wees. Die sjarmante skrywer sal na alle waarskynlikheid ook met hierdie roman enorme kommersiële sukses, plaaslik en oorsee, behaal. Daar sal vele Hosannas wees, maar daar sal ook die afvalliges wees wat, soos ek, verkies om aan ander gode op die berg Olimpus te offer. Mag Zeus ons almal genadig wees.