Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Jy mag maar Die vloed uitstal, al is dit nie Eet kreef nie


Leon-Ben Lamprecht - 2010-09-21

Foto na Dans
Die vloed

Ná ’n langerige breuk is Foto na Dans terug op die radar met Die vloed. Hulle laaste uitreiking, die EP met die effens pretensieuse naam Pantomime op herwinbare klanke, het immers in 2008 die lig gesien.

Ek is nie een van die die hard fan boys nie – glad nie. Trouens, toe Fokofpolisiekar in 2007 besluit het om vir eers ’n blaaskans te vat, was ek dik geïrriteerd met die hype rondom FND wat kwansuis dan nou die Karre se skoene moes volstaan.

Hoe durf hulle? (Uiteraard was dit nie hulle besluit nie – deels media, deels aanhangers het dié mantel seker maar op hulle afforseer, nes die “stem van ’n generasie”-etiket op FPK. Maar perspektief kom soms eers later.)

En dan was daar die feit dat hulle musiek my, wel, eenvoudig vervéél het. O, en dat die lirieke grootliks tussen die boom en die bas was.

Voeg nou hierby dat Le Roi Nel se stem vir my heeltemal te swaar en dramaties geklink het om by rockmusiek te haak en dat die trompet soms  geklink het of dit as ’n nagedagte ingevoeg is. Ek was dus eintlik glad nie ’n fan nie.

En toe kom Pantomime.

Ewe skielik vind hulle ’n groove en bou hulle ’n eie, dramatiese en groot klank (met besliste Muse-ondertone) waarop Nel se stem mooi pas. Ja, daar was gebreke, maar steeds.

Met Die vloed timmer hulle verder aan hierdie klank. 

Die musiek is nog steeds groot en dramaties (met nog meer besliste Muse-ondertone), waarop Nel se stem mooi pas. Ja, daar is gebreke, maar steeds.

Daar is elf snitte op dié album, insluitend “Afrikaans”, wat hulle saam met Flash Republic doen – vir die uwe maar ’n redelik lae-oktaan-pop-rock-nommer.

Die res van die album is alles nuwe materiaal. Dit skop af met “Somer” en die redelik bisarre sin “armoede is sonde/wat die rykes vermaak”. ’n Mens wil nie op die Muse-klanke hamer nie, maar dié snit sou nie uit plek geklink het op een van hulle albums nie (dis weliswaar in Afrikaans eerder as Engels).

Die titelsnit se kitaarsolo’s herinner aan dié uit die 80’s, mooi gepoets en ’n nuwe baadjie aangetrek. Hier is die agtergrondsang van Janie Bay en Judite Strydom nogals merkbaar. Hulle stemme meng goed met Nel s’n en bring ’n makliker verteerbare stem-Ying vir Nel se Yang.

Op die volgende snit, “Mens”, een van die album se hoogtepunte, sit die Nel-Bay-Strydom-drietal hulle indrukwekkende stempassies voort.

“Konings”, ’n soort power ballad wat bou op die titelsnit se skynbare 80’s-wortels, is egter die besliste melodiese hoogtepunt van die album. Hier word Alex Fourie se trompet met mening ingespan – en dit werk.

Sommige sou sê dis bietjie soetsappig, maar ek is mal daaroor: “vandag/is dit ek en jy/sonder skuiling in die winterreën/dit reën sterre en die wêreld glimlag/vandag vir my en jou”.

Die voorlaaste snit is “Winter”, wat as teenpool vir “Somer” sou kon dien (genugtig!). In baie opsigte is dit die mees gestroopte snit op die album. Dis gewis liriekgewys die sterkste snit: “daar’s altyd iets anders/om jou aandag te steel/voor jy sukkel en bewe/voor die letters jou sinne verveel”.

Die reeds genoemde lae-oktaan pop-rock van “Afrikaans” maak die album klaar. Dit maak natuurlik uit ’n besigheidsoogpunt sin, maar dis omtrent so tuis op die album soos Richard Dawkins by ’n NG-kerksinodevergadering.

Om dan af te sluit: Dis steeds ’n groep waaroor die uwe sukkel om opgewonde te raak. Terwyl die album waarskynlik nie langs die Eet kreef!’s of Lugsteuring’s onthou sal word nie, hoef jy geensins skaam te wees daaroor nie. Stal hom gerus uit. Dis dalk plek-plek vervelig, maar daar is werklike goeie snitte en twee briljantes.

En nes met Pantomime sit hulle die groei voort. Here’s to the next one. Skål.

Klik hier vir jou kans om 'n kopie van Die vloed los te slaan.