Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Jason Lloyd gesels met Jean-Pierre du Plessis


Jason Lloyd - 2010-09-21

Die nuwe 7de Laan-akteur Nico Smit, oftewel Jean-Pierre du Plessis – beter bekend as JP – vou sy hande en kyk my in die oë en sê deur op nuwe gehore soos die jeug te fokus, gaan Afrikaanse teater weer nuwe lewe in die Oos-Kaap kry.

Gewapen met die bekende dramaturg Reza de Wet se toneelstuk Mis en Mirakel, het Du Plessis (27) en sy teatergeselskap, Swerwersproduksies,reeds ’n oproer in Oos-Kaapse teaterkringe veroorsaak. En noudat hy ook ’n rol in 7de Laan losgeslaan het, word daar verwag dat sy teatergeselskap meer gehore gaan trek.

Hy is tans in dié sepie as Nico Smit, ’n assistent in Ryno Lategan se boekwinkel, te sien, tot volgende maand.

Volgens Du Plessis, regisseur en ook akteur van dié nuwe teatergeselskap, is dit net die begin. “Met Mis en Mirakel aspireer ons om vol sale te trek, want as voorgeskrewe werk in skole is dié toneelstukke baie gewild. Die jeug hou daarvan en daarom gaan ons nog ’n Reza de Wet-toneelstuk, Drif volgende jaar op die planke bring. Daarmee wil ons veral hoërskole bestorm. Hou ons gerus dop.”

Drif is reeds vir volgende jaar ingeskryf by die KKNK, die nasionale kunstefees in Grahamstad en die Stellenbosse Woordfees. Volgens Du Plessis hoop hulle die toneelstukke word vir al dié feeste goedgekeur. Hulle beplan ook ’n week lange Reza de Wet-fees in Grahamstad later vanjaar. “Mis en Mirakel sal op die planke wees. Ons sou graag Drif daarin wou inklits, omdat dié toneelstukke ’n trilogie vorm.

Du Plessis sê hy stem nie saam met die sentiment dat teater, veral Afrikaanse teater, in die Oos-Kaap ’n flou perd is nie. Hy beklemtoon egter dat teater al sy roemryker dae in dié provinsie gehad het. En ook dat Engelse teater Afrikaanse teater in die Oos-Kaap verbygesteek het. Hy bly egter optimisties, “want ek glo teater, Engels of Afrikaans, is nie ’n ding wat kan sterf nie. Solank as wat daar Afrikaanse mense in die Oos-Kaap is, sal daar Afrikaanse teater wees. Dit gee hoop.”

Du Plessis se vlam van hoop brand nog helderder nadat Willem Anker se toneelstuk Skrapnel vanjaar die eerste keer in ses jaar op die hooffees van die nasionale kunstefees in Grahamstad gewees het. Dit is die eerste keer sedert 2004, toe Straties deur Braam van der Vyver op die planke was, dat daar ’n Afrikaanse toneelstuk op dié hooffees was.

“Ek en my teatergeselskap is baie passievol en voel geroepe tot teater. Solank ons die ondersteuningsbasis het, kan ons produksies van hoë gehalte skep. Met kwaliteit kan ons weer ons gehore behou en sodoende met nuwe gehore – soos die jeug – uitbou. So kan ons nuwe hoogtes bestyg, want die Oos-Kaap het op alle vlakke van die samelewing baie potensiaal.”

Heel ironies kan die naam Swerwersproduksiesgoed vergelyk word met Du Plessis se “swerwer”-grootwordjare. Sy pa, Charl, was destyds ’n stasiebevelvoerder in die polisie en gevolglik moes die gesin gereeld van een dorp na ’n ander trek.

Hy is in 1982 in Barkly-Oos gebore. Skool begin in Jamestown en hulle het vir twee jaar in Bultfontein in die Vrystaat gebly. Daarna is die gesin Odendaalsrus toe vir nog vyf jaar in die Vrystaat. Die Suid-Kaapse dorp George het toe gewink. Sedert 1998 is die Du Plessis’s tuis in die Vriendelike Stad.

Du Plessis het in 2000 aan die Hoërskool Framesby gematrikuleer, maar beklemtoon dat hy min in die klas was. Ons sit in ’n koffiewinkel in Somerstrand in die Baai en hy vertel trek-trek aan ’n sigaret hoe stout hy op skool was; dat sy verhoogspelery die blaam daarvoor moet dra. Hy word stil, trek die sigaret weer en vou sy arms. “Ek wou net drama doen en gevolglik was ek min in die klas. Min in die klas en baie op die verhoog.”

In 2001 het hy op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat beland, waar sy “swerwer”-dae voortgeduur het. In die sewe jaar in Bloemfontein was hy onder meer ’n dramastudent, junior lektor in drama, ’n Engels- en kultuur-onderwyser in ’n swart township, en het op ses verskillende plekke gebly. Dus, van rondtrek weet hy baie.

Sy toneelstuk Wat maak die bure het terselfdertyd op die planke verskyn. “Dit was heel outobiografies, omdat ek as kind baie rondgetrek het; dit het vir gevaarlike komedie gesorg.”

Hy het in die komedie Piet se Tante die tante gespeel. ’n Plakkaat met Du Plessis geklee in ’n Voortrekkerrok en -kappie is later op die kampus versprei. “Dit was deel van die joke gewees, verstaan jy.”

Hy het meer as 50 produksies in meer as tien jaar op sy kerfstok. Dit is kinderteater, Shakespeare en noem maar op. Du Plessis het onder meer tegniese werk op die verhoog gedoen; om soos ’n fietsklokkie agter op die verhoog te maak.

Du Plessis vertel graag van sy vriendskap met die verhoog-aktrise Lulu Botha, wat by vanjaar se KKNK in Oudtshoorn in Pieter Fourie se Proponentjie gespeel het. “Ons was saam dramastudente en sy het verlede jaar in Mis gespeel. In my vierde jaar by Kovsies het ons saam in ’n ou vervalle huis in President Steynstraat 37A ingetrek. Lulu is ’n ou hand in die kombuis en alles wat ek van kosmaak weet het ek by haar geleer. Gevolglik het ons in die ou huis kos gemaak, gekuier en onthaal. Ons het die hele geselligheid daarvan geniet en die bure moes die polisie ’n paar keer ontbied.”

Volgens Du Plessis het hy benewens sy taak as junior lektor by Kovsies en onderwyser in Botshabelo ook ’n gemeenskapsteater in dié township en Rocklands begin. “Ons het vir vier jaar die hele Vrystaat vol getoer en vyf produksies op die planke gebring.” Vir hom as ’n wit Afrikaanse outjie was dit ’n nuwe ervaring om in ’n township te werk. “In die township heers daar warmte en ’n gemeenskapsgevoel. Daar het ek die meeste gelag en die meeste gehuil. Jy kry die dronkie wat laat by die begrafnis opdaag net om die dooie se hoed te steel. Jy huil en lag in dieselfde asem.”

Na sewe jaar in Bloemfontein het hy by Kovsies bedank en al sy meubels verkoop en die pad Kaap toe gevat. “Ek het vir my ’n agent gekry, Spur-advertensies gedoen en ribs geëet. Daarna by ’n kinderteater-geselskap aangesluit. Ons was ’n geselskap van vyf wat die hele land platgetoer het – en dit in ’n kar.” En daaroor lag hy ook lekker.

Twee jaar gelede het Du Plessis in die Baai uitgespoel en boonop honger om die teater in die Oos-Kaap te bevorder. “Ek het skoolvriende soos Ignus Rademeyer en Lynne Rupersburg opgespoor en ons het besluit om Swerwersproduksies te begin; om die Oos-Kaap ’n kans te gee.”

Met energie en passie beloof die jong teatergeselskap om Afrikaanse teater, met ’n fokus op die jeug in die Oos-Kaap, tot nuwe hoogtes te lei. Stuur gerus ‘n e-pos aan Du Plessis by jduplessis42@yahoo.com.