Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Leierskap en bestuur as onontbeerlike elemente op die pad na uitnemendheid – perspektiewe vanuit die laerskool


Bennie Aucamp - 2010-09-15

 

1.       Inleidende opmerkings

Warren G Bennis deel in sy boek Reinventing Leadership (1995:3-4) die volgende treffende idee:

The key to competitive advantage in the 1990s and beyond will be the capacity of leadership to create a social architecture capable of generating intellectual capital ... Intellectual capital means ideas, know-how, innovation, knowledge, and expertise. That’s what’s going to make the difference. [eie kursivering]

Die laaste gedeelte van bostaande aanhaling as vertrekpunt is veral belangrik vir hierdie referaat en om aan te toon dat leierskap en uitvoerende bestuur onontbeerlik is om die mandaat van Afrikaans as onderrigtaal te handhaaf en verder uit te bou.

Alleen deur doelbewuste en gestruktureerde beplanning kan laerskoolkinders voorberei word om met trots die Afrikaanse kultuurskatte deur lees, praat en skryf te bewaar; trouens, dit nie net te bewaar nie, maar te gebruik om daardeur nuwe of vars idees te genereer op die pad van uitnemendheid. Hierin speel die laerskool ’n unieke rol. Hierdie rol is deurslaggewend, of moet ons eerder sê grondslaggewend? Wat my betref, kan die totale laerskool in breër terme as ’n grondslagfase beskou word. Dis in die lig van hierdie vaste basis dat leierskap en bestuur deur die beginsels wat dit kenmerk sy kleim as uitbouer van Afrikaans as onderrigtaal moet afsteek.

Afrikaans se toekoms as onderrigtaal gaan nie deur ’n houding van lamlendigheid en uitsigloosheid versterk word nie. Alleen deur ’n tipe onverskrokke visioenêre leierskap- en bestuurstyl, asook innovasie en die skep van vertroue, die uitdaag van die bestaande orde, en ’n kreatiewe denkhouding kan onderwysers, kinders en ouers beweeg en belyn word om Afrikaans se behoud gemotiveerd saam aan te pak.

Vervolgens kyk ons spesifiek na daardie aspekte/fasette wat as’t ware die voertuig is om kinders bewus te maak en te aktiveer tot deelname.

2.       Kommunikasie as rigtinggewende vertrekpunt

Onderwysers (en selfs alle ander personeel in die laerskool) moet deeglik oor die visie vir Afrikaans in ’n spesifieke skool ingelig wees. As skool waar die onderrig- en voertaal Afrikaans is, word die feit dat die skool Afrikaans is, van meet af aan formeel of informeel aan elkeen wat by die skool betrokke raak, gekommunikeer. Hiervandaan kring die kommunikasie verder uit om die volgende fasette van die skool se funksionering te betrek:

  • Akademiese sake;
  • Ouerskakeling;
  • Leerderskakeling;
  • Kommunikasie met personeel;
  • Kommunikasie met die buitewêreld.

Ten opsigte van al bogenoemde fasette geld die belangrike beginsel en reëling om so gou moontlik, maar so duidelik en korrek as moontlik, te kommunikeer. Vertraagde/trae, geen of gebrekkige kommunikasie skep die persepsie en stuur die boodskap uit dat daar onder andere taalkundige gebreke bestaan, of dat dit doodgewoon nie saak maak nie. Deur die beoefening van leierskap word toegesien dat selfs die kommunikasie wat via die huiswerkboekie tussen kind en ouer geskied, betekenisvol is. So byvoorbeeld kan deur bestuur (kontrole/monitering/moderering) toegesien word dat uitvoering aan die gedagte van sinvolle boodskappe/kommunikasie gegee word.

Byvoorbeeld: Alreeds so vroeg soos in graad R word in ’n mindere of meerdere mate ’n sterk fokus op elke kind se hoor-, luister- en praatvaardighede in Afrikaans geplaas. Hierdie fokus kan alleen effektief wees indien dit voorafgegaan word deur duidelik gekommunikeerde doelwitte aan die opvoeders binne hierdie fase en verdere opvolging deur gesprekke en klasbesoeke. Soos wat elke graad in die laerskool ’n hoof het, naamlik die graadhoof, is dit baie belangrik dat ook die graad R-fase onder leiding van ’n hoof staan – iemand wat al die aktiwiteite in die lig van die doelwitte wat vir sinvolle taalonderrig gestel is, kan spieël. Maar ook iemand wat die onmisbare rol van die ouers ten opsigte van hulle kind se taalontwikkeling kan raaksien deur die band tussen ouerhuis en skool met kontaksessies uit te bou. Die inisiatief om ouers van tyd tot tyd uit te nooi om hulle kind binne die klaskamer ten opsigte van ’n verskeidenheid aksies waar te neem en te ervaar hoe die opvoeder met die taal omgaan, en hoe hulle kind saam met ander kinders reageer en hom/haar uitdruk, kan net verdere stukrag verleen aan enersyds die aanspreek van leemtes en andersyds die positiewe uitbou van ons moedertaal.

Uit voorafgaande is dit duidelik dat ouerskakeling of algemene kommunikasie met ouers sekerlik dié belangrikste middel is om Afrikaans as onderrigtaal en kommunikasiemedium uit te bou. Ek glo vas dat ouers hulle kinders by ons skool inskryf juis omdat hulle die Afrikaanse taal se waarde in hulle kind se pad na volwassenheid as onontbeerlik beskou. Verskeie ouers wat die geleentheid benut en my oor die moontlikheid van toelating tot die skool kom spreek, se vrae wentel om die taal van onderrig en leer en hoe belangrik dit vir hulle is dat hulle kind van ’n vroeë ouderdom en in die laerskool spesifiek in Afrikaans onderrig ontvang. Hierdie feit is die basis waarop wedersydse kommunikasie tussen skool en ouerhuis plaasvind.

3.       ’n Heelskoolingesteldheid

Afrikaans as onderrigtaal en Afrikaans as vak voer die toon aan ten opsigte van ander vakke. Anders gestel: Die ander vakke, met die uitsondering van Engels as addisionele taal, speel ’n kragtige rol om Afrikaans sy regmatige plek te gee. Afrikaans het die ondersteuning van al die ander vakke nodig om met gemak die raamwerk te verskaf waarin die ander vakke kan funksioneer. Iets wat in Sosiale Wetenskap deur die vakonderwyser aangebied word, is inhoudelik tipies aardrykskundig of geskiedkundig, maar sonder begripspresisering sê dit nie veel nie.

Deur leierskap en bestuur word die volgende idees en praktyke binne die heelskool en met behulp van departements-, graad- en vakhoofde gevestig:

  • Die idee dat almal vanaf graad R tot 7 bewus moet wees van die doelwitte wat vir Afrikaanse onderrig nagestreef word (byvoorbeeld die gebruik van woordeboeke);
  • Die betrokkenheid van alle personeellede wanneer ’n taalonderrigplan vir die skool bespreek en saamgestel word. ’n Vraag soos “Wat moet kinders van graad tot graad op taalvlak bemeester?” is ’n vraag wat deur indringende bespreking en struktureel beantwoord moet word.
  • Wanneer lesbeplanning gedoen word, moet die lesplanne ten opsigte van alle vakke/leerprogramme vir almal beskikbaar wees ter insae. Op hierdie wyse kan onderwysers met ander vakke integreer. Wanneer breuke in wiskunde onderrig word, is ’n spesifieke vaktaal/wiskundige begrippe ter sprake. Woorde uit die vaktaal kan as spelwoorde binne ’n sekere sinsverband voorgehou en gevra word.
  • Benewens die klaskamer, word die skool se gange en aansteekborde sinvol vir woordeskatuitbreiding en woordherkenning benut. Woorde soos “simmetrie”, “breuke”, “vereenvoudig”, “diagonaal”, ensovoorts kan effektief deur woorde/sinne en sketse geïllustreer word.
  • Personeelvergaderings word benut as ’n vergadering waar almal volgens ’n vaste punt op die agenda oor onderrigmetodiek gesprek voer en mekaar opskerp.
  • Vakvergaderings word gewy aan die tipe vrae wat in toetse of tydens ander formele en informele assesseringsgeleenthede gevra kan word en wat inhoudelik van kinders verwag word.
  • Alle personeellede dra kennis van die wyse waarop begripstoetse gevra word, en hoe dit onderrig word.
  • Alle kommunikasie (omsendbriewe, ensovoorts) – amptelik en nie-amptelik – word taalkundig versorg en keurig aangebied.
  • Ten opsigte van die voltooiing van projekte en ander take, is dit die skooltradisie dat kinders op hulle graadvlak volledig ingelig word oor die verwagtinge wat vir hulle gestel word. Dit skep by kinders vertroue en gemoedsrus en moedig hulle aan om in dieselfde tradisie werk van gehalte in te lewer.

4.       Kreatiwiteit

Deur leierskap- en bestuurstrategieë word personeel aangemoedig om kreatief oor verskeie onderrigmetodes/-strategieë na te dink en dit te implementeer. Die skoolrooster is dan ook sodanig saamgestel dat taalperiodes vir dieselfde graad, veral by graad 4, saamval. (Vir die fase van graad R tot 3 skep die praktyk van klasonderwys groot voordele ten opsigte van integrering van temas/konsepte.) Op grond hiervan word lesse beplan om ten opsigte van sekere temas en taalfasette al die leerders in ’n lokaal saam te trek sodat die kundigste onderwyser die spesifieke faset kan aanbied. Kundiges van buite die skool word in die skool toegelaat om aan leerders te verduidelik hoe plakkate vir uitstallings saamgestel word ten einde taalkundig die helderste “boodskap” oor te dra. In die beplanning van projekte/take is dit praktyk dat kinders van kleins af aan bronne blootgestel word. In die skriftelike beplanning/uiteensetting van die taak word die leerders volledig ingelig oor die hoeveelheid bronne en watter bronne gebruik moet word. Die biblioteek en rekenaarsentrum as sentra van bronnemateriaal speel ’n noodsaaklike rol met betrekking tot die benutting van bronne. Leierskap dring daarop aan dat kinders vroeg reeds met hierdie bronne in aanraking kom. Die graad R-klasse gaan kuier ook in die rekenaarsentrum, waar hulle al spelende in pa en ma se fisiese teenwoordigheid leer. (Die ma’s en pa’s word skriftelik na hierdie geleentheid uitgenooi.)

By die groter kinders word meer struktureel ten opsigte van projekte beplan. Opdragte dek fasette soos:

  • die vereiste lengte van die taak;
  • die benutting van sketse/illustrasies/prente;
  • die puntetoekenning en skema waarvolgens gemerk word;
  • die formaat (getik of handgeskrewe);
  • ’n onderneming dat die werk die leerders se eie is;
  • die taalkundige versorging (wat formulering en uitleg insluit);
  • die hoeveelheid bronne en tipe bronne wat gebruik moet word, asook die wyse waarop bronne erken word.

Dat Engelse tekste as bronne gebruik kan word, is sekerlik so, maar die vaardigheid om Engelse tekste na Afrikaans te vertaal, mag nie onderskat word nie, veral die vaardigheid om reeds op laerskool die woordorde in die proses reg te kry.

Skeppende skryfwerk word verwag, beplan en bespreek. Aktiewe leerderdeelname is hierin ’n vereiste. Kinders hou van stories en is lief daarvoor om van kleins af stories te vertel. Die aanvanklike vertellings word gaandeweg aangevul met ’n meer strukturele benadering ten opsigte van skryfwerk. Maar kinders word ook geleer om in groepe en individueel hulle eie storieboek te skryf. Die belangrikste vereiste is dat dit oorspronklik moet wees. Ander kriteria wat geld, is:

  • die boek moet ’n kinderboek wees;
  • die storie moet met slapenstyd in geheel voorgelees kan word;
  • die storie speel af op ’n plaas waar met koeie en skape geboer word;
  • die karakters word gekies;
  • die omgewing word gekies;
  • die boek moet in hoofstukke geskryf word (al is dit net twee);
  • die boek moet ’n voorblad/omslag hê;
  • die boek moet gebind wees, met bladsynommers;
  • die boek moet ’n uitgewer hê;
  • die boek moet ’n titelbladsy hê.

Die rol van die biblioteek as aanloop tot die skryf van die boek is ’n gegewe. Die skoolrooster maak voorsiening vir vaste periodes in die biblioteek vir elke graad om nie net boeke uit te neem nie, maar om ’n liefde vir lees deur middel van ’n entoesiastiese onderwyser kragtig te hou. Die verwagtinge ten opsigte van die biblioteekperiode word vooraf met alle personeellede gedeel. Dit is nie ’n “los-van-die-skoolrooster”-periode nie, maar skakel met alle vakke, leerprogramme en grade en word vir alle praktiese doeleindes as ’n lewensoriënteringsperiode beskou.

5.       Doelbewuste uitbouing van Afrikaans en verryking

Benewens die normale voortgang van die akademiese program, wat belangrike gesprekvoering en beplanning van taalonderrig (byvoorbeeld die waarde van luister-, begrips-, en skryfoefeninge) insluit, word ander geleenthede ontgin en met alle personeellede gekommunikeer. Saalbyeenkomste is nie net ’n eenrigtinggesprek vanaf skoolhoof na kinders nie. Saalbyeenkomste word sodanig gestruktureer dat kinders, van klein tot groot, ’n geleentheid kry om mondelings terugvoer te gee oor skoolaksies en ander sake, byvoorbeeld dissiplinêre aangeleenthede. Leerders se taalvaardighede word ook geoefen en uitgebou deur die plasing van bydraes deur onder andere leerderraadslede in die skool se kwartaallikse nuusbulletin.

’n Nuwe inisiatief ten opsigte van leierskap is ’n verrykingsblad/-publikasie genaamd Die Akkerblaar, wat die volgende oogmerke het:

  • ’n kwartaallikse akademiese blad in eenvoudige en verstaanbare taalgebruik;
  • vir ons leerders en ouers;
  • ’n verlengstuk van die akademie;
  • verryking en uitbreiding van die kurrikulum ten opsigte van alle vakke;
  • bydraes deur leerders, personeellede en ouers;
  • die deurgee van feitelike en nuuswaardige inligting (in teenstelling met verslagdoening), byvoorbeeld nuwe boeke/vaklektuur/naslaanbronne/tydskrifte, studiewenke, leeswenke, taalvaardighede, lewensvaardighede, webwerwe vir navorsing, interessante koerantberigte, ensovoorts.

’n Verdere gedagte met hierdie blaadjie is om dit nie in massas as gefotostateerde kopieë te sirkuleer nie, maar slegs enkele kopieë per klas beskikbaar te stel. Om die benutting van die skool se Afrikaansgeoriënteerde webwerf aan te wakker, word die blaadjie op die webwerf geplaas en deur ’n rekenaargedrewe kommunikasieprogram aan ouers bekendgestel.

6.       Formulering as ’n noodsaaklike faset van Afrikaanse onderrig

Terugvoer vanaf hoërskole en verslae na afloop van sistemiese assesseringstoetse word ter harte geneem en fyn bestudeer. Hieruit is dit telkens duidelik dat die oefen van langer skryfstukke (ook in die ander vakke, byvoorbeeld Sosiale Wetenskap) baie aandag moet kry. Daarom word veral die volgende fasette van taal aangespreek:

  • Woord- en sinsorde;
  • Formulering;
  • Idiomatiese taalgebruik.

Die formele onderrig van sintaksis is en bly baie belangrik! Die wyse waarop sinne uitgebrei en verkort word, is ’n vaardigheid waaraan kinders deur goed beplande onderrig gereeld blootstelling moet kry. Die vaardigheid om aan te haal en aanhalings in eie woorde te verduidelik, kan nie genoeg beklemtoon en onderrig word nie. Selfs in die fase van graad 1 tot 3 word op ’n baie elementêre wyse van leerders verwag om ander persone se woorde te herhaal of dít wat gelees is, in hulle eie woorde oor te vertel. Later word van leerders verwag om korrek te formuleer ten einde die navorsingstaak nie net vir die doeleindes van bepunting voor te hou nie, maar aan soveel mense moontlik te kommunikeer. Dit gaan grondliggend oor uitdrukkingsvermoë om daardeur verstaanbaar te kommunikeer.

Idiomatiese taalgebruik is nie uitgedien nie. Trouens, deur die onderrig en beklemtoning van idiomatiese taalgebruik kry sinne, paragrawe en stories kleur en kan ’n mens die vaal en oninteressante leesstukke van die ryk geskakeerde en “uitnodigende” skryfstukke onderskei. Net ’n gedagte oor idiomatiese taalgebruik: Dit gaan hier nie net oor die bestaande idiome binne die Afrikaanse taal nie. Dit gaan oor die nuwe, verrassende aanwending van ons taal – nuwe skeppinge! So het ’n kind in ’n skryfstuk en op grond van die spesifieke opdrag sy irritasie en frustrasie teenoor iemand soos volg verwoord: “Jy is soos beskuitkrummels in die bed.” Dit gaan verder oor die praktiese gebruik (of eerder die spel met woorde – woordspelings) van homofone (woorde met dieselfde klankvorm, maar met ’n ander spelling en betekenis) en homonieme (woorde met dieselfde klank- en spelvorm, maar in betekenis en oorsprong verskillend).

’n Laaste gedagte: Die moderne kommunikasiemedia soos selfone en die e-posstelsel is ’n realiteit. Onderwysers word dan ook deur leierskap en bestuur daarop gewys dat spesifieke kriteria ten opsigte van die gebruik hiervan geld. Onthou u nog die dae van telegramme? Onthou u nog die styl daarvan? Die tyd is ryp om die taal, styl en formulering van selfoon- en e-posboodskappe te onderrig en te oefen – reeds in die laerskool en as deel van Afrikaanse onderrig.

7.       Slotopmerkings

Vanuit die voorafgaande moet dit sonder ’n omhaal van woorde gestel word: Afrikaans as onderrigtaal het ’n plek, maar hierdie plek is nie vanselfsprekend nie. Afrikaans kan alleen van sy toekomstige staanplek verseker wees indien dit gestruktureerd en met die nodige kundigheid, erns en harde werk deur leierskap en bestuur en wat dit impliseer, gehanteer word. Ek wil herhaal: Uitnemendheid gaan alleen met moeite, kreatiwiteit, inisiatief, deeglike beplanning en die liefde vir hierdie ongelooflike taal bereik word.

Bronne geraadpleeg:

Clarke, A. 2007. The Handbook of School Management. Kaapstad: Kate McCallum.

Odendaal, F.F. & Gouws, R.H. 2005. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). Kaapstad: Maskew Miller Longman.

Bennis, W.G. & Townsend, R. 2005. Reinventing Leadership: Strategies to Empower the Organization. New York: HarperCollins



<< Terug na ATR-indeksblad | Back to index <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<