Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die rol van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Afrikaanse onderwys


Van Zyl de Villiers - 2010-09-15

Konteks

Die bydrae van die SA Akademie tot die Afrikaanse onderwyslandskap word gerig deur die oogmerke van die organisasie, naamlik die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans.

In breë trekke behels dit dus dat die Akademie aandring op die wetenskaplike begronding van argumente en voorstelle wat in die openbare diskoers aangebied word – by hierdie konferensie spesifiek die onderwys. Ons kan natuurlik nie verhoed dat emosie, sentiment en ideologie ook ingemeng word nie, veral waar taal en onderwys ter sprake kom. Ons bepleit egter ’n kritiese, wetenskaplike benadering as basis vir besluite oor kwessies van landsbelang. Die toekoms van ons jeug en die rol van behoorlike onderwys om hulle daarvoor voor te berei, is te belangrik om dit in gevaar te stel deur onwetenskaplike benaderings of, erger nog, ideologies gedrewe eksperimentering met kurrikula en onderwyspraktyke. In dié verband verwelkom die SA Akademie die onlangs hernieude klem van die Minister en Departement van Basiese Onderwys op die vroeë vestiging van ’n stewige basis van geletterdheid, syfervaardigheid en leervaardighede by ons skoolgaande jeug.

(Om die prentjie te voltooi: Hoewel die klem hierbo op die onderwys geval het, is een van die unieke kenmerke van die Akademie dat die organisasie se bedrywighede al die wetenskaplike dissiplines dek, dit wil sê sosiale en geesteswetenskappe, kunste, ekonomiese en bestuurswetenskappe, gesondheidswetenskappe, natuurwetenskappe, tegnologie, ensovoorts.)

Die tweede pilaar van die SA Akademie is die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans en dan veral die hoër funksies van Afrikaans, soos onder andere benodig word in onderwys op alle vlakke. Die Akademie het ’n trotse rekord van normering en standaardisering van Afrikaans oor meer as 90 jaar, soos dit by uitstek neerslag vind in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Die Akademie en sy lede is reeds dekades lank betrokke by terminologieprojekte en die saamstel van vakwoordeboeke. Al hierdie aktiwiteite ondersteun die Afrikaanse onderwyspraktyk deur die beskikbaarstelling van taalriglyne en toepaslike terminologie.

In die verlede

Die SA Akademie se bemoeienis met die onderwys het reeds begin by die stigting daarvan as die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst in 1909. Soos Pieter Kapp in sy boek Draer van ’n droom (Hemel en See Boeke, Hermanus, 2009) uitgewys het, het die Akademie hom oor die jare op veral vier aspekte van die onderwys toegespits, naamlik onderrigtaal in skole (met moedertaalonderrig as uitgangspunt), Afrikaans as taal van onderrig aan universiteite, leer- en onderrigmateriaal in Afrikaans en akademiese gehalte in die onderwys.

Wat die Akademie se rol in die gesprek oor Afrikaans as onderrigtaal aan ons universiteite betref, staan die volgende uit as belangrike momente oor die afgelope tien jaar:

  • ’n Akademiestandpunt oor Afrikaans in tersiêre onderwys (2000);
  • ’n leidende rol in Aksie Hoër Onderwys (2001-2003);
  • ’n studie deur proff. Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer wat uitgeloop het op die publikasie ’n Vaste plek vir Afrikaans – Taaluitdagings op kampus (Sun Press, Stellenbosch, 2006);
  • die publikasie van ’n supplement tot die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Volume 46, Nommer 2, Junie 2006) met 11 artikels wat moedertaalonderrig uit verskeie hoeke belig het; en
  • organisering van of betrokkenheid by verskeie berade waar kwessies rondom Afrikaans in die onderwys aan die bod gekom het.

 

Kritiese ondersoek en standpuntstelling

Die Akademie se Onderwyskommissie, bestaande uit kenners op verskeie gebiede van die onderwyskunde, ondersteun en adviseer die Akademieraad oor onderwysaangeleenthede. Soos tevore genoem, is dit vir die Akademie noodsaaklik dat bydraes tot die openbare debat en voorstelle vir onderwystaalbeleid en -praktyke deurgaans gebaseer sal wees op behoorlike navorsing en wetenskaplike argumente, alhoewel die kultuuraspek van taal in onderrig uiteraard nie buite rekening gelaat kan word nie.

Vanjaar laat ons, soos ook by hierdie konferensie, die klem veral val op die onweerlegbare waarde van moedertaalonderrig en die belang daarvan in die ontwikkeling en bemagtiging van Suid-Afrikaners, en dus ook Afrikaanssprekendes, as volwaardige landsburgers. Dit is onder andere gedoen in die vorm van ’n mediaverklaring ná die 2009-matriekuitslae, ’n tweede een om saam te val met Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie en in Mei nog een wat spesifiek op moedertaalonderrig in die grondslagfase gefokus het. Dit sal later vanjaar met verdere standpunte opgevolg word.

Op 2 Augustus het die Departement van Basiese Onderwys die dokument Action Plan to 2014: Towards the Realisation of Schooling 2025 vir kommentaar vrygestel. Die SA Akademie steun die plan in beginsel en is van mening dat relevante en belangrike doelwitte vir skoolonderrig daarin gestel is. Ons is egter teleurgesteld dat die Regering se bestaande taal-in-onderwysbeleid nie juis in hierdie belangrike dokument figureer nie. Die enigste verwysings na taal in onderrig en leer is die volgende:

As in 2009, in every year moving forward all learners in all schools in Grades 1 to 6 will write national tests in languages and mathematics at the end of the year. The language tests will cover the learner's home language and the first additional language, which is English for most South African learners.

en

The ongoing struggle for a better treatment of language of teaching and learning in the curriculum must continue. We need more research into how the use of language in the classroom can reinforce the learning process. The Constitution's imperative that the status of our nine indigenous languages be elevated should be taken seriously.

Om eerlik te wees, moet dadelik gesê word dat daar in die praktyk nog maar min van die genoemde taal-in-onderrigbeleid tereg gekom het. Trouens, in plaas van die uitgesproke beleid van toevoegende veeltaligheid wil dit voorkom asof daar al te gereeld argumente (verskonings?) aangebied word om na die vroeëre invoer van Engels in die grondslagfase te beweeg, wat onvermydelik sal lei tot Engels-eentalige onderwys en die gepaardgaande verdere ontmagtiging van onderwysers en leerders in veral agtergeblewe skole. Wat betref die aksieplan waarna hierbo verwys is, reken ons nie dat veel verdere navorsing oor die rol van taal in die klaskamer nodig is nie. Die wetenskaplike literatuur bied voldoende materiaal, spesifiek oor onderrigtaal in ’n veeltalige omgewing en in ontwikkelende lande, wat gebruik kan word as beweegrede vir die onmiddellike uitbreiding van moedertaalonderrig in Suid-Afrikaanse skole.

Wat onderrigtaal aan ons universiteite betref, is die Akademie besig met ’n reeks gesprekke met die rektore van al die histories Afrikaanse universiteite. Ons sentrale boodskap is dat die maklikste uitweg met betrekking tot onderrigtaal, naamlik die verdere uitfasering van Afrikaans, nie rekening hou met die realiteite van ’n diverse, veeltalige studentekorps met verskillende en uitdagende behoeftes nie, en ook nie met die verantwoordelikhede van ’n universiteit in die Suid-Afrika van vandag nie. Saam daarmee erken ons egter die komplekse en dikwels opponerende oorwegings wat geld in die seleksie van ’n geskikte onderrigtaalmodel.

Die SA Akademie glo dat dit noodsaaklik is dat elke universiteit wat Afrikaans as akademiese taal gebruik, oor ’n konkrete taalbeleid moet beskik waaraan in die praktyk uitvoering gegee word deur middel van duidelike riglyne en prosedures. Daar behoort verder by elke universiteit ’n taalombudsman of soortgelyke meganisme te wees wat kan verseker dat die taalbeleid en -prosedures wel in die praktyk gevolg word. Daarbenewens behoort gereelde gesprekke tussen sodanige universiteite plaas te vind om van mekaar te leer en beste praktyke vir onderrig in ’n veeltalige konteks te ontwikkel. Die Akademie bied graag sy hulp aan as fasiliteerder in hierdie verband en ook as “kundige buitestander” wanneer universiteite hulle taalpraktyke hersien en alternatiewe opsies in dié verband wil ondersoek.

Die SA Akademie sal graag wil sien dat die debat oor onderrigtaal en veeltaligheid in hoër onderwys na alle Suid-Afrikaanse universiteite uitgebrei word. Om dié rede vind ons dit verblydend dat minister Nzimande die kwessie van die ontwikkeling van meer amptelike tale tot tale van onderrig en leer aangeroer het.

Die Akademie steun die gedagte van ’n Vrye Afrikaanse Universiteit, waaroor ook hierdie week gesprek gevoer is. Daar is weliswaar nog heelwat werk nodig om ’n omvattende sakeplan te ontwikkel, die mees geskikte onderrigmodel uit te werk, die akademiese aanbod te definieer en gepaste vennootskappe (byvoorbeeld met bestaande universiteite) te vestig. Dit is belangrik dat so ’n universiteit aanvullend sal optree tot bestaande hoëronderwysinstellings met Afrikaans as onderrigtaal wat bekostigbaarheid, toegang en kursusaanbod betref.

Hoër funksies van Afrikaans

Die normering en standaardisering van Afrikaans bly een van die hoekstene van die Akademie se mandaat. In dié verband speel die Taalkommissie (TK) uiteraard ’n sleutel- en leidende rol, ook deur die betrokkenheid van TK-lede in die tegniese komitee vir standaardisering van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans van PanSAT. Tans val die klem op die ontwikkeling van ’n CD-ROM- en daarna ’n volledige aanlynweergawe van die AWS. Aanvoorwerk is ook reeds gedoen vir ’n aanlyngrammatika van Afrikaans. Hierdie aktiwiteite moet ook deurlopend die onderbou vorm vir die ontwikkeling en gebruik van Afrikaans in onderrig, leer, navorsing, wetenskaplike publikasies, ander hoë funksies en die openbare lewe.

Daarbenewens beywer die SA Akademie hom vir die voortdurende ontwikkeling van vakterminologie en die koördinering van projekte om vakwoordeboeke en terminologielyste saam te stel. In dié verband stel ons die vestiging van ’n sentrum vir terminologie aan ’n SA-universiteit in die vooruitsig wat opleiding aan terminoloë kan verskaf, navorsing kan doen en ’n knooppunt kan wees vir ’n netwerk van terminologie-aktiwiteite in Suid-Afrika. Terminologieprojekte, insluitend dié met Afrikaans as een van die tale waarin gewerk word, het oor die laaste paar jaar heelwat afgeneem. Daarby word die ontwikkeling van ons Afrikatale tans gekortwiek deur probleme met standaardisering en termskepping, asook die tekort aan opgeleide taalkundiges, leksikograwe en terminoloë. Ons glo dat ’n sentrum vir terminologie nie net ’n dringende noodsaaklikheid is nie, maar ook ’n besondere geleentheid aan ’n universiteit bied om die voortou te neem op ’n gebied wat sigbare voordele vir die instansie, sy personeel, sy studente en Suid-Afrika in die breë sal inhou.

As ’n spesifieke bydrae tot die behoud, benutting en uitbreiding van Afrikaanse terminologie het die SA Akademie vroeër vanjaar ingestem om as versamelpunt te dien van bronne in die besit van terminoloë, byvoorbeeld vakwoordeboeke wat uit druk is, termlyste wat nooit gepubliseer is nie, persoonlike rekords en lyste van afgetrede taalpraktisyns, ensovoorts. Op hierdie manier sal sulke bronne bewaar word en beskikbaar gestel word vir raadpleging en wyer gebruik.

Netwerke en samewerking

Onderwys in Suid-Afrika en definitief Afrikaanse onderwys kan net suksesvol wees indien vennootskappe gesmee word om die veelheid van uitdagings gesamentlik aan te pak. Die ATR is – vir Afrikaans en al sy sprekers – alreeds ’n voorbeeld hiervan. Hierdie konferensie beloof om die nuwe begin van ’n (Suid-)Afrikaanse onderwysvennootskap te wees. Die SA Akademie verbind hom daartoe om in sy nisgebiede, soos hierbo beskryf, met oorgawe by te dra tot ’n beter bedeling vir leerders, studente, onderwysers, akademici en ander onderwysrolspelers. Ons bedryf ook met graagte die sekretariaat van die Afrikaanse Taalraad as deel van so ’n vennootskap.

 

<< Terug na ATR-indeksblad | Back to index <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<