Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Die rustelose siel


Elsa Engelbrecht - 2010-09-14

Ons was moeg die aand toe ons op die dorpie aankom. Het laat weggekom van die vakansieplek en die wind het sterk gewaai op die pad sodat ons nie na wense gevorder het nie. Besluit toe om slaapplek te soek eerder as om verder te ry. Marie het ons reis gereël volgens ’n Getaway -tydskrif wat sy saamgevat het. Ná ’n rondbellery kry ons slaapplek in ’n ou huisie wat opgeknap is om aan reisigers oornagplek te verskaf. Te dankbaar om tot rus te kom, sit ons af na die huisie toe. ’n Regte hartbeeshuisie so effens aan die kant van die dorp.

Binne verwonder ons ons hoe outentiek alles behoue gebly het. Die meubels uit daardie tyd, die lappies op die tafeloppervlaktes, die portrette aan die mure, die ornamente; alles net soos dit in ’n vorige eeu gebruik is.

Ek loop van portret tot portret teen die muur en verkyk my aan die mense van daardie tyd: hulle kleredrag, die verskillende omgewings waar sommige van die foto’s geneem is en die manier waarop vir die foto’s geposeer is. Ek word hartseer as ek so na die gesigte kyk wat na my terugstaar, wetende dat hulle almal nou in die goeie aarde rus en dat al hulle lief en leed saam met hulle begrawe is. ’n Snaakse gevoel kom oor my, ’n rilling langs my ruggraat af, sodat ek vinnig wegdraai en teruggaan na die geselskap van my twee susters.

Ons gaan maak iets vir aandete in die kombuisie en net toe gaan die krag af. Gelukkig is daar kerse op die tafel met vuurhoutjies byderhand sodat ons nie hoef rond te soek nie. Die eenvoudige ete by kerslig verloop heel gesellig en rustig. Ons gemoedere kom ook tot rus ná die dag se stres en hier en daar se onenigheid. Ek voel hoe die kalmte oor my neerdaal; bly tog vaagweg onrustig bewus van my reaksie by die foto’s.

“Ons moet maar spaarsaam werk met die warm water,” sê Marie, “anders sal ons môre met koue water moet regkom. Wie wil eerste gaan bad?”
Die badkamertjie is gerieflik reggemaak, maar ’n stort was nie deel van die modernisering nie. Om te bad was die enigste uitweg, alhoewel ons drie ouerige, oorgewig susters liewer die stort sou verkies.

Rina besluit om eerste te gaan en kom gouer terug as wat sy uit die vertrek weg is: “Jammer om die slegte nuus te bring, maar daar is skielik nie meer water in die pype nie. Nie eers ’n druppeltjie nie. Die krane is kurkdroog.”

Verslaentheid sak oor ons toe. Elkeen het uitgesien daarna om die dag se sweet en stof af te was. “Die ketel is nog redelik vol, maar ons moet dit liewer los vir môre se koffie, net ingeval die water nie weer aankom nie.”

“En wat sal dit help as die krag nog af is?” vra Rina.

“Daar is darem ’n gasstofie, het ek gesien toe ek in die kas gesoek het na ’n pan om die eiers in te bak. Dit het nog gas in ook. Ek het gevoel; seker ’n voorgevoel gehad oor die krag.”

“Ja, om ’n voorgevoel te hê oor krag wat enige tyd afskakel, is nie vreemd nie, maar hoekom kry ek nou so ’n slegte voorgevoel oor hierdie nag wat voorlê?” dink ek hardop. “Hoekom is die huis nou skielik so onvriendelik teenoor ons?”

“Ag nee, moet tog nie weer met jou onsin begin nie,” raak Rina sommer ongeduldig. “Jy is gedurig besig met voorgevoelens en voorwetes. Moenie ons almal weer op hol jaag nie. Ek is moeg; ek wil lekker slaap vannag sonder om oor jou stories te lê en tob.”

“Nou dan sê ek maar nag. Is hier ’n kers vir elke kamer?”

“Ja, voor elke bed is ’n kers en ek het darem ’n sterk flits as iemand dit nodig kry in die nag,” sê Marie.

Ek woel my vinnig toe in die komberse en lê doodstil en luister na die geluide om my. Die wind waai nog sterk en deur die rietplafon maak dit ’n eienaardige suisgeluid. Ek ril weer, trek die komberse hoër op teen my nek en raak aan die slaap.

Êrens in die nag word ek wakker van’n stampgeluid wat ek nie kan vaspen nie – nie die rigting van waar dit kom nie en ook nie die soort geluid wat dit is nie. Die wind ruk nog verwoed aan die vensters en die suising in die plafon is ook nog daar, maar hierdie is ’n ander geluid. Ek beur regop en reik na die kers, maar word bewus van ’n teenwoordigheid langs die bed tussen my en die kers. ’n Benoudheid sak oor my toe. Ek wil na die ander roep; onthou dan Rina se onverdraagsaamheid rakende my voorgevoelens en sak stadig terug op die bed. Buitendien weet ek nie of ek ’n geluid sal uitkry nie. Ek lê doodstil, hou amper op met asemhaal; dit is asof die teenwoordigheid my vasdruk op die bed. Kry later die sensasie dat die persoon wegbeweeg na die deur se kant toe. Die gefladder van rokke om haar bene is duidelik hoorbaar.

Dan, veraf, hoor ek iets wat klink soos perdepote wat verby galop. Die woorde van ’n gediggie wat ek as kind geken het, kom by my op. Dit het vertel van’n bom in die oorlog wat ’n vlugtende man te perd op die pad na die Skimmelperdpan soos ’n swaardslag onthoof het. Elke aand daarna het hy dieselfde pad weer afgejaag met sy vrou se gejammer duidelik hoorbaar op die wind: “Waarom rus jy nie, rus jy nie, Jan van der Meer? Waarom jaag jy my elke nag op? Sal daar nimmer ’n einde aan kom, altyd maar weer die galop, die galop, die galop?”

Deur die vrees wat my omvou, wonder ek of daar ’n Skimmelperdpan in die omgewing is? Sal moet uitvra by die mense in die dorpie voor ons verder ry … as ek hierdie nag oorleef.