Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Die begrafnis


Elsa Engelbrecht - 2010-09-08

Die hele dorp is vandag aan’t gesels oor die nuus van tant Jossie se dood. Oral waar mense bymekaarkom, word daaroor gepraat. Alle gebeure rondom die ryk Stofbergs ontlok altyd heilige verontwaardiging of loflike aanprysing; die afsterwe van tant Jossie is ’n nuwe geleentheid om oor die doen en late van die familie te wonder en te skinder.

Die dag van die begrafnis breek aan: grou, grys en triestig.  Lae wolke hang oor die dorp en dit lyk asof dit enige oomblik kan begin reën. Dit skrik die begrafnisgangers nie af nie, want die kerk is gepak met treurendes, belangstellendes en nuuskieriges. Voor by die preekstoel staan potte vol van tant Jossie se geliefkoosde blomme: aronskelke wat wild groei in die klowe en vleie van die familieplaas. Dit lyk amper feestelik, totdat ’n mens bewus raak van die gedempte atmosfeer en die swart klere van die roubeklaers.

In die voorste ry sit tant Jossie se kinders. Eers Riana en haar man, dan Leonie, omring deur haar kinders. Pieter en Dawid sit langs mekaar en aan die ander kant van Dawid ’n onbekende, jongerige man.

Oudominee lei die diens.  Hy het baie lief en leed met die familie meegemaak en tant Jossie se dood is vir hom ’n persoonlike verlies.  Hy en sy oorlede vrou het menige gelukkige dag by die Stofbergs op die plaas deurgebring en Jossie se dood het opnuut herinneringe aan daardie gelukkiger tyd by hom laat ontstaan.

Sy boodskap spreek van hartseer en versugting, maar ook van berusting en bowenal van hoop. Die familie sit aangedaan en luister, met geboë hoofde, want Oudominee se bekende ou gesig spreek van soveel weemoed en deernis dat hulle dit liewer nie waag om op te kyk nie. Wie ken hulle beter as hy wat hulle deur hulle jeugdige opstandigheid en rebelsheid gelei het, en by wie hulle altyd raad en aanvaarding kon kry? Hy was al die jare meer as ’n predikant vir die familie en saam met sy vrou dikwels deel van hulle familiebyeenkomste. Dit alles is nou deel van ’n vergane tydperk in hulle lewens.

Pieter sien weer in sy gedagtes sy ma op die plaas aan die woel en werskaf om in almal se behoeftes te voorsien; die gesellige kombuis waar hulle almal so graag gekuier het en waar die reuk van kaneel en geurige gebak hulle altyd verwelkom het. Hoe het alles nie verander ná Johan se dood nie! Sy pa het stil en ingekeerd geraak en sy ma … sy ma se gees het stadig begin doodgaan vanaf die oomblik dat sy die tyding gekry het, maar dit is die warmte van haar gees en die ruimheid van haar hart wat hy graag sou wou onthou. Sou dít die rede wees dat hy so maklik ingewillig het dat sy die laaste paar jaar by Dawid gaan bly – omdat hy nie kon verdra om te sien hoe haar oë leeg raak en haar gees verstom nie?

Dawid dink aan sy ma soos hy haar onthou daar by sy en Joubert se huis op die dorp. Hy onthou haar op die sonstoep  waar sy dikwels gesit en televisie kyk het en kort-kort gevra het: “Wanneer kom Johan dan?” Hy onthou haar in die bed wanneer hy saans gaan kyk het of sy goed toe is: so klein en benerig en afhanklik. Hoe sal hy haar nie mis nie! Tot sy pa het hy nooit toegang gehad nie en sy pa kon sy andersheid nooit verstaan nie, maar sy ma het geweet wie hy is lank voordat Oudominee hom aan sy pa probeer verduidelik het. En sy het hom altyd aanvaar en liefgehad met ’n besondere soort deernis.

Riana kyk onderlangs na haar man en dink aan die tyd toe sy Morris aan haar ouers gaan voorstel het. Haar pa se verwarring, haar ma se hartseer sal sy nie maklik vergeet nie. Oudominee het op sy stil manier by haar aangedring dat sy haar eers genoeg tyd moes gee voordat sy trou en oorgaan na die Joodse geloof, maar sy was te verlief en te seker dat dit is wat sy wou hê. En was dit alles die moeite werd? Haar man het daar in Israel vir haar ’n vreemdeling geword; haar kinders het almal hulle eie koers gegaan en sy bly terughunker na die warmte en geborgenheid van wat eenmaal haar lewe was.

Op pad na die plaas begin ’n sagte motreëntjie val. Tant Jossie word langs oom Ben in die familie-akker te ruste gelê.  Die paar getroue werkers het deur die naweek gespook en die graf betyds gereed gekry. Hulle wag nou by die graf om te help om hulle ounooi toe te gooi.

Die reën val nou harder en word aangedryf deur ’n ysige wind. ’n Klompie mense begin reeds uitwyk na die huis se kant toe. Die groepie om die graf lyk egter onbewus van die reën. Tant Jossie se kinders staan in ’n kring om haar graf en hou mekaar se hande vas. Die reën meng met die trane op hulle gesigte en stroom teen hulle wange af. Hulle huil oor ’n tyd toe dié seniele ou vrou wat hulle vandag begrawe, hulle ma was, hulle hele wêreld. ’n Tyd toe alles nog heel en onskuldig en eenvoudig was. Hulle huil oor hulleself: oor hoe hulle eenmaal was en hoe hulle nooit weer kan wees nie. Dawid begin later so onbedaarlik huil dat hy bibberend begin bewe, sodat Pieter sy arm om hom slaan en hom vertroostend teen hom vashou. 

Uiteindelik is die laaste gesang gesing, die laaste blomme op die kis gestrooi. Die werksmense, onder dreunsang, begin die graf toegooi.  Almal wat nog oorgebly het, haas hulle nou na die beskutting van die huis, waar warm eetgoed op hulle wag. Binne brand ’n gesellige vuur en Pieter nooi almal om hulle te help aan die heerlike eetgoed wat deur die bediendes van die plaas voorberei is. Die paar vriende van oom Ben en tant Jossie wat nog die lewe hou, kan vir oulaas deel in die oorvloed van die plaas wat die twee oumense opgebou het.

Tant Jossie rus nou langs haar man in die goeie grond van die plaas waarheen sy as jong bruid gekom het: waar sy liefgehad het, kinders gebaar het, haar deel gedoen het in die gemeenskap, haar aandeel aan smart verduur het en haar gees haar verlaat het lank voordat haar liggaam tot ruste gekom het.