Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Waarvandaan daai woord kom


Jason Lloyd - 2010-09-08

Dit is laat herfs in die Vredendal-wynlandstreek en iewers vertrap iemand die vroeë ryp met sy kaalvoete dat die gras huil. Hy was te laat: die persoon met die stem in Afrikaans het die foon neergesit. Nou gaan hy weer inkruip. Net voor hy weer, soos gewoonlik, die stukkende kombers oor sy kop trek, hoor hy ’n klop aan die deur. Sy niggie: "Bakkies, magtig man, gevrek soos altyd, maak die se deur oop."

Bakkies Cloete sit orent, draai sy kop sywaarts na die deur en spring van die kooi af; en trap per ongeluk binne in ’n skottel-water. Gisteraand was dit koud en dit het gereën. Die sinkhuisie waarin Bakkies en sy 80-jarige ma die afgelope tien jaar woon se dak is vol gate. Dis oral nat in die drievertrek en al wat ’n houer is, word ingespan om die water te vang. Die skottel is stukkend en Bakkies se voete nat.

Maar eers wil sy niggie weet hoekom het hy die oproep gemis.

"Ou nig, ek was in ’n diepe doeks gewees en toe djy roep was djy in die verre Boesmanland. Eers toe djy harder roep, kon ek hoor. Maar ag siestog, jou ou gekrokte neef was te laat."

"Goed, jy is vergewe," laat val sy. Sy vertel: "Dit was ’n vrou. Klink geleerd en praat hoë Afrikaans. Sy was kort en saaklik. Gaan weer bel."

Bakkies Cloete is ’n boorling van die distrik Garies. Sy pa en ma het 19 jaar op ’n plaas gewerk. Bakkies en die nege ander Cloete-kinders het standerd vier gehaal en moes op die plaas inval. Dit nadat hulle elke dag 32 kilometer heen en weer tussen die plaas en Doringkraal gekaalvoet het.

Nou sit Bakkies en sy ma op genade in die agterplaas van sy niggie en haar man. Hulle sinkhuisie is 50 meter van sy niggie s’n op die agterplaas. Sy pa is 29 jaar dood en sy ma sukkel vir ’n HOP-huisie, want sy het doerie tyd al haar man se doodsertifikaat verloor. Dit is nou hier in die armbuurt Maskamsig in Vanrhynsdorp – 25 kilometer oos van Vredendal – waar hy en sy geliefde ma rus gevind het. Hier lewe hulle op sy ma se ouderdomspensioen en Bakkies se loswerk-geldjies.

Dit is nou amper middeldag en sy ma gee ’n lang gaap. Bakkies druk ’n warm koppie moerkoffie in haar hand. Sy ma loer by een van die gate in die sinkhuisie uit en sug hardop, terwyl die wind deur die gate sing. "Daar word weer ’n swak winter vir die wynlandstreek voorspel." Die woorde "swak winter" verwys na ’n naderende droogte. As dit vroeg in April koud word, word ’n droë jaar vir dié streek voorspel. Veral as die ryp voor die reën kom.

Die donkerte het Maskamsig oorval en net voor Bakkies die kers kon aansteek, blaas sy niggie in sy nek: "Hardloop, neef Bakkies, dis weer ’n oproep. Die dame soek ’n kitaarspeler en ’n rieldanser om op ’n fees iewers in die Transvaal op te tree."

Sy het van Bakkies op Vredendal gehoor. Hy is daar bekend as bobaaskitaar- en vioolspeler. Die riel is vir hom ook te maklik.

Kyk, die Cloete-kind het kitaarspeel in die hartjie van die Boesmanland geleer. En die Cloetes is ’n arm, maar mooi, ryk-van-gees, musikale familie. In die laat 1970’s het Bakkies sy pa in plekke soos Suurwater, Platbakkies en Gamoet gaan help om op verskeie plase "swart" lammers te gaan slag.

Bakkies moes soos die res van die Cloetes kitaar en viool leer speel. As sy pa veld toe gegaan het, het hy homself geleer. Kort voor lank het Bakkies bekendheid verwerf vir die riel en sy kitaarspel. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Nou sit Bakkies in die bus en sy hart iewers anders. Voor hom lê die grote Pretoria. Hy onthou iets en sê aan ’n mederieldanser: "Doerentyd het daar ’n groot vaal koevert op die plaas aangekom vir my pa. Dit het van Pretoria gekom. Binne-in was al ons se groen persoonskaarte en daarop het gestaan: ’Kaapse Kleurling’. Ek wonder nog steeds waarvandaan daai woord kom."

Ure later sou Bakkies in Kerkplein op die verhoog verskyn en die armbuurt Maskamsig na die hoofstad bring: Toe blêr hy dat die biesies bewe: “Ek het jou gesê/ Ek het jou gesê/ vanaand gaan sy my dingetjie wees ...”