Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Opsomming van ATR-referaat: Jan Bosman


Jan Bosman - 2010-09-07

Tema: Beskerming, bevordering en bemagtiging deur kultuurliggame

“Die formule vir die Afrikaanse gemeenskap is saam te vat in drie begrippe: eiebestaan, naasbestaan en saambestaan.” ~ Willem de Klerk in Afrikaners: kroes, kras, kordaat, 2000

Afrikaanse kultuurorganisasies het oor die jare ’n besondere rol gespeel in die bevordering van Afrikaans, maar ook onderwys deur en in Afrikaans. Dat slegs wit onderwys bevoordeel is, moet gesien en verstaan word binne die breë politieke bestel van die afgelope klompie dekades.

Dat taal en kultuurorganisasies wel in die afgelope klompie dekades ’n besondere rol gespeel het, kan egter nie betwyfel word nie. Ook die Afrikaner Broederbond se rol in Afrikaanse onderwys moet nie misken word nie. Reeds op 17 Mei 1921 is daar in die AB besluit om aktief vir moedertaalskole te werk en is ’n aantal Afrikaanse skole en ook universiteite uit die besluit gevestig. Meer onlangs het die AB saam met ander vennote die Rapport Onderwysfonds gevestig. 

Volgens die 2001-sensus is daar slegs 5,98 miljoen eerstetaal-Afrikaanse gebruikers, wat 13,3% van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak – weliswaar die derde grootste taalgroepering in Suid-Afrika, met Engels in die vyfde plek.

Elkeen van ons – ook kultuurorganisasies – moet besef dat Afrikaans nie aan een groep of een kultuur behoort nie. Afrikaans behoort aan almal wat dit praat, liefhet en koester. Kultuurorganisasies se rol vandag moet wees om moedertaalonderrig met mening te bevorder. Dit is nie ’n bekrompe of etniese siening nie – dit is ’n internasionaal aanvaarde siening.

In ’n besprekingsdokument oor die krisis in onderwys wat tans onder AB-lede sirkuleer, word enkele strategiese rigtingwysers aangedui om die krisis vir alle skole en onderwys in die breë aan te spreek:

  1. Die onderwyskrisis is nie slegs die Regering se verantwoordelikheid nie, maar ook dié van elke burger in ons land.
  2. Die onderwysvraagstuk het nie korttermynoplossings nie. Moedertaalonderrig in die grondslagfase is maar een van die aspekte wat bevorder moet word.
  3. Die kwaliteit en kwantiteit van onderwysers moet aangespreek word.
  4. Die onderwysleierskapskrisis moet aangespreek word.
  5. Op hoëronderwysvlak moet universiteite en ander hoëronderwysinstellings meer proaktief word.
  6. Onderwys is nie ’n politieke speelbal nie en moet uit die politieke arena gehaal word. 

“Afrikaans is een van Suid-Afrika se trotsste veelrassige prestasies.” ~ Jan Rabie,Afrikaanse Skrywersgildeberaad, 1975

 


<< Terug na indeksblad | Back to index <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<