Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Enkele kernwaardes van die Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU): Impulsreferaat vir ’n breër debat


Neville Alexander - 2010-09-07

Ek is versoek om ’n paar paragrawe oor die kernwaardes van ’n VAU te formuleer en hoop dat die volgende gedagtes tot ’n breër debat aanleiding sal gee. Ek het probeer om die memorandum so eenvoudig as moontlik te hou en het doelbewus nie gepoog om in filosofiese en ideologiese verfynings te beland nie, sodat ons op hierdie stadium op die onmiddellike problematiek kan fokus. Ek besef natuurlik dat daardie ander gesprek op een of ander stadium na vore gedwing gaan word en neem aan dat ons dan ook deeglik daarop voorbereid sal wees. Die volgende kenmerkende eienskappe van die VAU word in hierdie gees ter bespreking aangebied.

Vry
Die onlangse botsings by die Universiteit van Wes-Kaapland en elders in verband met die uitbetaling van studiegeld het weereens die kollig op die tersaaklikheid van die Vrye Afrikaanse Universiteit geplaas. Ek begin dus met die oorspronklike voorstel dat die VAU gratis onderwys op voorgraadse vlak sal aanbied. Ons het in die tussentyd so ver gekom dat ons aanvaar dat diegene wat iets, of alles, kan betaal, wel sal betaal. Maar na my mening moet ons hierdie besluit aan die studente oorlaat. Ons weet dat ’n paar welgestelde opportuniste en kansvatters sal probeer om ons te kul, maar dit maak nie saak nie. Die groot meerderheid sal eerlik optree en ons die burokratiese las van ’n middeletoets bespaar.

Ons aanvaar nou ook dat al die studente een of ander teenprestasie sal lewer in ruil vir die gratis onderwys. Die detail sal vanselfsprekend op ’n pragmatiese manier uitgewerk word, maar ons kan alreeds begin om moontlike maniere en domeine te identifiseer waar sulke teenprestasies sinvol sal wees. Myns insiens sou dit billik wees om van elke suksesvolle student, ná een of twee jaar in sy/haar beroep, ’n verpligte alumni-bydrae van minstens R250 per maand vir sê maar vyf jaar te verhaal. Diegene wat meer kan of wil gee, sal natuurlik aangemoedig word om dit te doen.

Onafhanklik en outonoom
Die VAU sal ook “vry” wees, omdat dit onafhanklik, outonoom en nie party-polities gebonde gaan wees nie. Dit sal uiteraard polities wees, omdat al die rolspelers – studente, dosente en administratiewe en dienslewerende personeel – maatskaplike transformasie as hulle vertrekpunt sal aanvaar. ’n Kritiese instelling teenoor alles wat bestaan, is ’n kernwaarde van enige egte universiteit. En die VAU gaan dit terdeë moet bewys.

Afrikaans
Die grondliggende beginsel van die VAU is moedertaalonderrig, spesifiek vir Afrikaanssprekende mense. En dit sluit almal in wat Afrikaans praat, of hulle nou eerste-, tweede- of selfs derdetaalsprekers is. Alles sal in Afrikaans geskied en, waar dit broodnodig is, sal tolking in ander tale geskied. In beginsel moet enige student wat voornemens is om by die VAU te studeer, egter Afrikaans magtig wees, aanvanklik ten minste passief.

Ek huldig die standpunt dat die VAU vir alle ander Afrikatale op die vasteland en a fortiori in Suid-Afrika ’n model kan word en dat ons vanuit die staanspoor hierdie doelwit voor oë moet hou. Ek stel dus voor dat ons (1) Afrikatale, byvoorbeeld isiXhosa in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, isiZulu in Gauteng en KwaZulu-Natal, en Setswana en/of Sesotho in die Noordwes-provinsie en die Vrystaat, as studievak op alle vlakke aanbied; en (2) dat ons belangstellendes help om ’n soortgelyke inisiatief vir en in die ander Afrikatale te loods.

Nierassig
’n Vrye Afrikaanse Universiteit is nie ’n “wit” of “bruin” of “groen” of “geel” universiteit nie. Dit ken geen kleur nie, net die taal, Afrikaans, in al sy variëteite en diversiteit. Die vermeende ketting tussen taal en velkleur (“ras”), waardeur ons geskiedenis op so ’n droewige wyse gestigmatiseer is, moet uiteindelik losgemaak word. Dit is veral belangrik, en al hoe beduidender, dat dit Afrikaanssprekende mense is wat die voortou in hierdie opsig neem. Ons wil toesien dat “die taal van die verdrukker” die taal word wat al die ander tale van hulle gebondenheid aan rasdenke bevry. Dis ’n historiese onderneming en ons moet dit sonder enige huiwering opneem. Diegene wat nog altyd glo dat Afrikaans ’n witmanstaal is, ’n taal wat die “onsigbare vlam” van Afrikanernasionalisme simboliseer, moet nou maar besef dat die geskiedenis hulle in die verdwynende verlede laat strand het. Diesulkes is, terloops, sowel wit as swart van gelaat. Hulle behoort eweneens tot die verlate verlede. Die VAU will alle Afrikaanssprekende mense die toekoms in begelei, sodat ons die nuwe Suid-Afrika van 1994 se droom uiteindelik kan begin verwesenlik.

Afrika-georiënteerd
Afrikaanssprekende mense van Hollandse en Afrika-afkoms was die eerste mense op die vasteland van Afrika wat hulleself as “Afrikaners”, dit wil sê mense van Afrika, beskryf het. Hulle het dit om baie praktiese, instrumentele redes gedoen, basies omdat hulle die jurisdiksie van die VOC wou ontwyk.

Hierdie etimologie van die woord “Afrikaner”, wat deurgaans dieselfde betekenis as die Engelse “African” het (maar ironies genoeg nie in Standaard‑ Suid-Afrikaanse Engels nie, waar die woord eerder na “swart, Bantoesprekende” individue verwys!), het mettertyd deur rasdenke en deur die materiële konflikte en teenstrydighede van die Suid-Afrikaanse geskiedenis sy huidige betekenis van ’n wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner gekry. Ek self glo dat dit veral weens die smart en lyding wat deur die Anglo-Boereoorlog veroorsaak is, haas onmoontlik gaan wees om weer by die oorspronklike geografiese, nierassige begrip van “Afrikaner” uit te kom. En tog meen ek dat ons moet probeer om die alternatiewe vorm “Afrikaan” geleidelik as semantiese tweeling van “Afrikaner” te hanteer. Ek meen so, omdat ek besef dat die woord “Afrikaner” in al die Germaanse tale sy oorspronklike geografiese betekenis behou.

Afrikaans is ’n Afrikataal afkomstig van die Germaanse taalfamilie. In die konteks van die globale aanvaarding van die lewensbelangrike waarde van taalverskeidenheid is dit noodsaaklik dat ons Afrikaans in diens van die ander Afrikatale van Suid-Afrika ontwikkel en dat ons die handhawing van hierdie taal aan die ontwikkeling en intellektualisering van die ander inheemse tale koppel. Hierdie strategiese benadering strook met die internasionale agenda om taaldiversiteit as ’n volhoubare toestand van die mens na te streef. Dit is deel van die moderne mens se oorlewingstryd op die planeet, wat alleenlik deur ekologiese, politieke en kulturele diversiteit gewaarborg kan word.

Anti-seksisties
Dit behoort eintlik oorbodig te wees om die stelling te herhaal dat die VAU uiteraard teen alle vorme van diskriminasie gekant is. Dus sal daar in die institusionele kultuur, dit wil sê die doen en late van die VAU, geen diskriminasie op grond van geslag of geslagsoriëntasie geduld word nie. In hierdie “maand van die vrou” word ons daagliks daaraan herinner hoe diskriminerend ons Suid-Afrikaanse samelewing werklik is. Universiteite behoort in elk geval die leiding te neem op hierdie gebied en die VAU moet op alle vlakke daarvoor sorg dat veral die vrou, maar ook gay mense, tot haar of hulle reg kom. Hierdie strewe is ’n bestanddeel van dít wat ons maatskaplike transformasie noem. Dit sal nie oornag in alle volmaaktheid voorgetower kan word nie, maar dit is een van baie helder skynende ligte aan die einde van die al te donker tonnel waardeur ons tans beweeg.

Innoverend
Omdat ons alles gaan doen om die VAU so billik maar ook so effektief as moontlik as ’n universiteit te bestuur, moet innoverend en kreatief aan die werk spring. Ons moet veral probeer om die moderne inligtings‑ en kommunikasietegnologie in te span sodat ons klasse die verste uithoeke van die land kan bereik. Rekenaars en selfoontegnologie, in samewerking met jou gewone dorp‑ of stadsentrum, waar gereelde byeenkomste van studente onder toesig van opgeleide rondgaande personeel plaasvind om die klaswerk in lesings en seminare te bespreek, moet dit moontlik maak dat ’n kombinasie van afstands‑ en kontakonderrig ons normale onderwyspatroon word. Vir kleiner, wydverspreide groepe kan die “oudmodiese” telefoonkonferensie dienlik as pedagogiese instrument gebruik word. Daar is eindelose moontlikhede en ons jonger mense gaan – daarvan is ek doodseker – die horisonne op radikale wyses verander.

Uitnemend
Die VAU is ’n universiteit, dit wil sê dit mik na die allerbeste resultate. Uitnemendheid in alle dissiplines en op alle vlakke is nie onderhandelbaar nie. As die VAU maar net nog ’n middelmatige “bush college” gaan wees, hoef ons nie ons tyd verder te verkwis nie. Ons gaan die beste Suid-Afrikaanse lektore en deskundiges probeer oorreed om saam te werk. En ons gaan kennis en vaardighede in die buiteland haal; daarom is dit so belangrik dat sekere universiteite in Europa en Amerika alreeds hulle ondersteuning vir hierdie gedagte uitgespreek het. Graduandi van die VAU moet outomaties oral in die wêreld as van die bes opgeleide vakmense geld en aanvaar word. Sulke tradisies verg baie harde werk, maar dit kan met welslae nagestreef word, veral as ’n grootse gedagte aan die beginpunt staan van die pad wat geloop moet word. Ons beplanning en herbeplanning moet te alle tye deur hierdie gedagte beïnvloed word.

Ten slotte twee gedagtes wat op die oog af nie met mekaar versoenbaar skyn te wees nie. Ons lewe in ’n markgeoriënteerde, kapitalistiese wêreld in ’n tydvak waar individualisme hoogty vier. Om onder sulke omstandighede daarop aan te dring dat die VAU, ten minste in die eerste paar jaar, deur die vrywilligergees aangedryf moet word, klink beslis utopies, en dit is inderdaad die geval. Maar sonder utopiese denke sou die mens nooit uit sy oertoestand van bygelowigheid en agterlikheid kon uitbeweeg het nie. Ons is in hierdie sin van die woord onbeskaamd utopies. Maar ons is ook hardgebakte realiste. Ons weet al te goed dat studente veral by die VAU sal wil inskryf as hulle weet dat hulle aan die einde van drie of vier jaar se toegewyde studie ’n goedbetaalde werksgeleentheid of betrekking sal kry. Ons moet dus prakties wees en veral met die VOO-sektor skakel sodat ons nie net akademies georiënteerde studente werf nie, maar ook die meer tegnies- en beroepsgerigte jeug. Hierdie kombinasie van visie en werklikheidsgerigtheid is die sleutel tot sukses in enige nuwe onderneming.

Huis den Nederlanden (SASNEV), Kaapstad, 25 Augustus 2010.