Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Studenteopleiding en die herinstelling van onderwyskolleges: Hoe en waarom wil ons nou onderwyskolleges herinstel?


Basil F May - 2010-09-07

Die redes vir die sluiting van kolleges is nie meer belangrik nie. Die feite is soms erg verdraai om legitimiteit aan die sluitingsproses te gee. Persone wat min of niks van die luisterryke geskiedenis van onderwyskolleges geweet het nie, is die reg gegee om oor hulle toekoms te besluit en die proses indirek of direk te bestuur. Niemand sal ontken dat, soos in die geval van baie universiteite en technikons, daar op daardie tydstip sake was wat dringend aandag verdien het. As gevolg van die feit dat die stryd teen apartheid sedert die middel sewentigs al heftiger geword het, het die meeste onderwysinrigings in die land moeilike tye beleef. Desnieteenstaande het onderwyskolleges in die algemeen hoogs gerespekteerde inrigtings in hulle eie gemeenskappe gebly. Baie jongmense uit verarmde gemeenskappe het toegang tot hoër onderwys verkry en hulle families gehelp om uit die strik van armoede na ’n beter lewe te beweeg. Die politieke invloed wat onderwyskolleges op individue en gemeenskappe gehad het, sal nooit na behore waardeer kan word nie. Baie politieke en geestelike leiers, soos Chris Hani, Winston Ndungane en Thabo Mbeki, het van hulle eerste politieke lesse by Lovedale ontvang. Mev Epainette Mbeki het byvoorbeeld gesê dat sy eers bewus geraak het van die groeiende politiek van swart nasionalisme toe sy in die vroeë 1930's na Lovedale College gegaan het om haar as onderwyseres te bekwaam. Prof ZK Matthews word as volg aangehaal:

There were very few things in elite black South African society in the 1950s as prestigious as becoming a teacher at Lovedale ...

Onderwyseropleiding of die gebrek daaraan was vanaf die vroegste tye ’n faktor wat ’n groot invloed op onderwys gehad het. Kerke het reeds in die neëntiende eeu in die behoefte aan gestruktureerde onderwyseropleiding vir swart en bruin studente voorsien – eers vir persone met Graad 8, daarna Graad 10 en uiteindelik Graad 12. Lovedale College, wat in 1841 as ’n hoërskool deur die Skotse Presbiteriaanse Kerk gestig is, word in sommige kringe as die eerste onderwyseropleidingsinrigting in Suid-Afrika beskou. Die Morawiese Kerk het egter reeds in 1838 die eerste opleidingskool vir onderwysers en onderwyseresse in die land in Genadendal gestig. Dit het bekend gestaan as die Kweekskool en moes onderwysers voorsien vir die slawe wat in daardie jaar vrygestel sou word en na verwagting in groot getalle na sendingstasies sou gaan. ’n Totaal van 11 persone het daardie jaar onder die leiding van Ezechiel Pfeiffer met hulle opleiding begin. Vanaf die huidige Limpopoprovinsie in die noorde tot die Oos-Kaap in die suide het kerkgenootskappe as deel van hulle sendingaksie onderwyseropleidingskole en -kolleges gestig. Baie onderwyskolleges, soos Shawbury, Clydesdale, Kwena Moloto en Setotolwane, het hulle ontstaan aan die inisiatiewe van godsdienstge strukture te danke. Uiteraard het die benaderings van die onderskeie kerke daartoe bygedra om ’n eie tradisie binne elkeen van hierdie inrigtings te ontwikkel. 

Toe die Regering verantwoordelikheid oorneem vir al die onderwyseropleiding, was dit weer eens op ’n geskeide basis, eers onder vier provinsies en daarna rasgebaseerde departemente. Dit was dus op ’n etniese basis verdeel, wat gelei het tot wisselende standaarde en oorwegings wat min met onderwys te doen gehad het.

Vir meer as vier dekades was onderwyskolleges die enigste toegang tot hoër onderwys vir jongmense wat nie universiteitstoelating verwerf het of die klasgeld by universiteite kon betaal nie – veral op die platteland. Die feit dat die grootste persentasie (89,1% in 1994) van die studente in onderwyskolleges swart en 65% vroulik was, het ook die argument versterk dat minderwaardige onderwyseropleiding vir hierdie gedeelte van die bevolking gebied word, terwyl ander in deftige omstandighede kon studeer. ’n Mens kan egter net wonder wat sou gebeur het as hierdie inrigtings nie die betrokke studente van die nodige opleiding voorsien het nie? 

Onderwysers wat ’n verskeidenheid rolle in die gemeenskap moes speel, is in hierdie inrigtings opgelei. In afgeleë gebiede moes hulle dikwels as prediker, vredemaker en gemeenskapsleier diens doen en vir meer as een graad in dieselfde kamer klasgee.  Die kurrikulum van onderwyskolleges is dus in sommige kringe as oorlaai en nie akademies genoeg beskou nie. Die insluiting van Fundamentele Pedagogiek het verder veroorsaak dat die kurrikulum as onaanvaarbaar beskou is.

Aan die positiewe kant het onderwyskolleges onder andere hoër onderwys na afgeleë gebiede geneem, arm persone makliker toegang tot onderwyseropleiding gebied en baie aandag aan die ontwikkeling van onderwysvaardigheid gegee. By sommige van hierdie kolleges het die herhaalde beklemtoning en oefening van positiewe onderrigpraktyke studente wat aanvanklik min aanvoeling vir die beroep getoon het, tot goeie onderwysers help ontwikkel. Die vermoë om goed te kan klasgee, is soms tot die primêre taak van onderwyseropleiers verhoog. Daar was ook goeie onderlinge skakeling tussen onderwyskolleges op streeks- en nasionale vlak.


So is daar baie ander onderwyskolleges wat ’n trotse geskiedenis het. Daar is ook baie van hulle personeel en studente wat as ikone in die gemeenskap uitgestyg het. Die redes vir die respek wat baie studente en personeel van onderwyskolleges ontvang het, wissel van politieke sensitiwiteit tot intieme kennis van die kuns om goeie onderwysers te kweek of goed onderwys te gee. Eienskappe soos toewyding tot hulle taak en gemeenskapsbetrokkenheid het ook baie waardering van die gemeenskap uitgelok. In die meeste gevalle was daar die intense besef dat die leerders in ons skole baie meer as net boekgeleerdheid benodig.  

Vandag is daar egter duidelik nie meer tyd vir ydele eksperimentering ten koste van onderwysers en leerders wie se lot geensins sedert die sluiting van onderwyskolleges verbeter het nie. Onderwyskolleges is op ’n onseremoniële wyse gesluit, sonder inagneming van die bydraes wat hulle tot die land se vooruitgang gemaak het. Die personeel, wat summier elders geplaas moes word, is in die meeste gevalle nie meer beskikbaar nie. Die infrastrukture wat jare lank bestaan het, is afgebreek en die toerusting is aan ’n verskeidenheid instansies uitgedeel. Daar is dus geen sin daarin om nou onderwyskolleges te heropen nie. Hulle het buitendien lank genoeg die rol van sondebok gespeel.

Al wat nou betekenisvol sal wees, is dat die inrigtings wat beskou is as die enigstes wat effektiewe onderwyseropleiding kan bied, besef dat hulle ’n dure plig het om genoeg kundige onderwysers aan die hele Suid-Afrika te voorsien. In hierdie verband sal die volgende vrae help om rigting te gee:

  • Is daar genoegsame klaarheid oor die regte balans tussen professionele en akademiese opleiding tydens die vier jaar wat studente met die BEd-graad besig is?
  • Is ons universiteite in staat om onderwysers aan die land te lewer wat ons kinders in die omstandighede waarin hulle leef, effektief te leer lees en skryf?
  • Is daar genoegsame kundigheid in ons universiteite om voornemende onderwysers toe te rus om leerders in gepaste taal te help om wiskunde en ander vakke te verstaan en dié kennis te kan gebruik?
  • Hoe kan daar meer geleenthede aan plattelandse jongmense gebied word om onderwyseropleiding te ondergaan? In teenstelling met die meeste onderwyskolleges is die huidige hoëronderwysinrigtings hoofsaaklik in stedelike gebiede geleë. Dit is dus vir baie voornemende studente onmoontlik om hulle droom om ’n onderwyser te word, te bewaarheid. Die pogings wat tot op hede aangewend is, is duidelik heeltemal ontoereikend.

Daar is nie maklike oplossings vir die vraagstukke van onderwyseropleiding in hierdie land nie. Tien jaar gelede was dit baie maklik om onderwyskolleges in so ’n mate vir die ellendes van ons onderwys te blameer dat hulle as ’n sektor gesluit moes word. ’n Mens kan maar net hoop dat die universiteite wat by onderwyseropleiding betrokke is, uiteindelik aan die verwagtinge wat destyds geskep is, sal voldoen. 

Bronne.

Gevisser, M. Thabo Mbeki: The Dream Deferred. Jonathan Ball Publishers, Johannesburg & Cape Town. 2007.
Giliomee, H & Mbenga, B. New History of South Africa. Tafelberg Publishers. 2007.
Jaff,R.et al. The National Teacher Education Audit: The Colleges of Education. EDUPOL. 1995.
Mandela, N. Long Walk to Freedom. Abacus. 1995.
Notule van die Komitee van Onderwyskollegerektore. CCERSA. 1994-2000.
Reddy, J. et al. National Commission on Higher Education Report:A Framework for Transformation. National Commission on Higher Education. 1996.
Ulster, J. et al. Herrnhut-Huis Koshuis Genadendal: Gedenkboek. Printman, Kaapstad. 2008.


Reageer op hierdie miniseminaar deur ’n e-pos te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

<< Terug na invalsblad | Back to index <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<