Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Deborah Steinmair: Fratsgolf

Gesoek: vakature vir ’n waagarties


Deborah Steinmair - 2010-09-02

Sekere vrae hou my snags wakker, soos: Hoekom is ek gebore met ’n hunkering na die sirkus? Gister het, vandat ek my oë oopgemaak het, skeefgeloop. O, nie op subtiele maniere nie; ek praat van growwe slapstick: slak wat onder my kaal voetsool knars, broodmes waarop ek die greep verloor en wat dan soos ’n boemerang terugspring en skade aanrig. Later stap ek op straat en beland in die middel van ’n optog. Dis rumoerig, subversief en gevaarlik jollie in die oog van die storm. Die lug knetter van statiese elektrisiteit. Hup hup hup dans vakbondlede in rooi T-hemde. Iemand met ’n megafoon laat Xhosa-woorde met opruiende, hipnotiese klanke soos poepe op die lug los. Dis teater. My gesig breek oop in ’n glimlag. My voete jeuk om saam te skoffel. Ek voel op die plek opgesweep en reg vir moeilikheid. Toe sien ek die enigste wit vrou in die skare raak. Sy dra nie die vakbond se T-hemp nie, sy is op haar eie plak. Sy kan nie toi-toi nie, sy hinkepink haar eie dans soos ’n kruppel tolbos terwyl sy oopmond lag. Ek vermoed sy’s nie lekker nie. Ek dink haar dag en haar jaar het ook lelik skeefgeloop. Ek stap toe maar aan, want dis reeds gedoen: ’n gatvol omstander wat uithaak en aan die vakbondvastrap meedoen.

Dit het my laat dink aan my vriend Attie se uitspraak, toe ons baie jonk was, oor ’n kaftandraende tydgenoot wat in die struggle bomme geplant het. Attie, wat nie onder ’n kalkoen uitgebroei is nie, het gesê sy het ’n terroris geword omdat sy nie haar gewig onder beheer kon kry nie. Daardie is inderdaad rede vir moerigheid. Ek lees op Facebook ’n advertensie vir ’n toestel wat vinnig en pynloos ontslae raak van “unwanted fat” en wonder: Is daar êrens, ooit, “wanted fat”? Later jare het ek ’n paar mak aktiviste ontmoet (wit natuurlik; ek was nie cool genoeg om saam met swart aktiviste uit te hang nie), en een ding het soos ’n paal bo water gestaan: hulle almal was, in die algemeen en spesifiek vir hul pa’s, woedend. Ai-jai-jai, alles op aarde is op die ou persoonlik. Altruïsme bly wensdenkery, lyk dit my.

Dit bring my terug by die sirkus. “Fratsgolf” het ek hierdie rubriek gedoop, profeties kort voordat die tsoenami toegeslaan het. Ek het in die algemeen, knaend, ’n behoefte aan fratsagtigheid. Dit laat my minder alleen voel. Sekere koerantberigte laat my hardop lag in vreugdevolle herkenning, soos hierdie een onlangs op www.news24.com:

Die Kanadese polisie was stomgeslaan toe hulle afkom op minstens 14 wilde bere wat 'n onwettige dagga-plantasie oppas. Die bere het hul egter nie baie goed van hul taak gekwyt nie.

"Hulle was mak en het rondgesit. Op 'n stadium het een op die polisiekar se enjinkap gaan sit," het 'n beampte gesê.

In 'n huis naby die plantasie het die polisie ook op 'n wasbeertjie en 'n boepens-vark wat saam op die bed lê en slaap, afgekom.

Sulke stories maak my uitbundig bly. Ander stories slaan my dronk, en nie op ’n goeie manier nie, soos die voortslepende Van der Westhuizen/Vittone-strooisage. Eers was daar Joost se gesnuif op die loskopdolla se maag en snuf in die neus oor die berugte Amor-knor. Reeds ’n slegte klankie. Joost se segsman was ’n ene Bolhuis. Nou heet Amor se prokureur Claudio Bollo. En die redakteur van People, wat ’n berig geplaas het oor ’n gerug dat die egpaar gay is, heet Caknis. Ek sal graag vir me Caknis wil sê: “Joost ’n mof? Met ’n onderbroek vol gate? Meisie, jy speel seker. Daai spel straight man soos niks anders nie; glo my, I’ve known a few.” En ernstig: Bolhuis, Bollo en Caknis? Wat ’n strontspul. As ek die name in ’n roman sou probeer gebruik, sou my redakteur my beveel om weer te gaan dink.

Ek wonder of Madame Zingara, die beroemde sirkusrestaurant, dalk nog ’n oop sweefstok vir my het? En verdoesel visnetkouse selluliet?