Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate

Onderwys in Suid-Afrika: ’n veelkoppige pajamaperd van ’n ander kleur


Bibi Slippers - 2010-09-02

Op die plein voor die Kunstekaapteater waar die Afrikaanse Taalraad se Onderwyskonferensie van 26-28 Augustus plaasgevind het, wei ’n trop absurde veselglas-sebras van allerlei kleure en beskrywings.  Sommige van die sebras het meer as een kop; ander het weer geen; party se binnegoed is aan die buitekant, en ander is beskilder met enigiets van seetonele tot slagspreuke.

Hierdie bont gespuis het meer te make met die ATR-onderwyskonferensie as wat ’n onskuldige besoeker dalk sou dink: Dit het reeds uit die eerste sessie duidelik geword dat onderwys in Suid-Afrika inderdaad ’n pajamaperd van ’n ander kleur is.

Vir diegene wat die konferensie as onderwysleke bygewoon het, het dit die potensiaal gehad om te oorweldig. Uit die besprekings het die onderwys as ’n soort mikrokosmos ontvou waarin Suid-Afrika se breër stel sosiale en politieke probleme hulle uitgespeel het – die neerdrukkende realiteit van die lewe in ons land, in volkleur.  Die uiteenlopende stel belange, kwessies en perspektiewe wat ter sprake is, veral wanneer Afrikaans by die bespreking betrek word, veroorsaak dat die onderwys-ondier sommer ’n klomp koppe het wat almal gekrap moet word. 

Die goeie nuus is dat die room van Suid-Afrika se taal- en onderwyskenners opgedaag het om die krapwerk te kom doen. Die konferensie is bygewoon deur belanghebbendes uit alle sektore: onderwysers, akademici, studente en verteenwoordigers van taal- en kultuurliggame. Die slegte nuus is dat die grootkop-kopkrappers, die beleidmakers wat genooi is om die konferensie by te woon, nie een opgedaag het nie: ministers Angie Motshega en Donald Grant het verskoning gemaak, en minister Blade Nzimade het ’n verteenwoordiger in sy plek gestuur. Al drie het hewige kritiek uit die geledere van konferensiegangers en ‑organiseerders ontvang vir hulle afwesigheid, wat as ’n gebrek aan respek vir Afrikaans en sy sprekers gesien is.

Toesprake en paneelbesprekings rondom ’n verskeidenheid temas het plaasgevind: die uitdagings vir moedertaalonderrig in ’n veeltalige konteks, studenteopleiding, die toekoms van Afrikaans in skole en die rol wat professionele liggame hierin speel. Onderwerpe soos Afrikaans as tersiêre onderrigtaal, die rol van die jeug en die media in Afrikaanse onderwys en die wyses waarop kultuurliggame Afrikaans help beskerm, bevorder en bemagtig, is ook aangespreek. 

Die sebra is ingekleur deur ’n veelvuldige stel probleme ten opsigte van taal en onderwys: die swak prestasie van ons leerders in vergelyking met internasionale standaarde, disfunksionele skole en distriksrade, die gebrek aan moedertaalonderrig, ’n tekort aan onderwysers wat inheemse tale kan onderrig, die politieke beweegredes agter taalbeleidontwikkeling en die sosio-politieke omstandighede in die land.

Dat ons sebra ’n probleemperd is – daaroor is geen twyfel nie. Die onderwyskrisis word gekarakteriseer deur kommerwekkende swak geletterdheids- en gesyferdheidsvlakke, en het verreikende implikasies. Heelwat fokus is tydens die konferensie geplaas op die rol wat die gebrek aan moedertaalonderrig in hierdie krisis speel.

Skoolhoof Dennis von Willingh

Die vervlegtheid van die uitdagings waarvoor onderwysers en leerders te staan kom, beteken egter dat die taalkwessie in kombinasie met ander uitdagings aangespreek moet word, en die veeltalige, diverse aard van ons samelewing maak dat enige gesprek oor Afrikaans noodwendig ook ander Afrika-tale moet insluit. Hierdie besef van inklusiwiteit en kompleksiteit was bemoedigend en die bereidwilligheid van deelnemers om tegelykertyd die breër stel probleme aan te pak, verfrissend.

Basil May en Christopher Banda

’n Paar verskillende konferensiegangers en sprekers het ’n oproep op deelnemers gedoen om te verseker dat die sogenaamde taalpogings nie in silo’s aangepak moet word nie, maar dat daar ’n groter kans op sukses is as Afrikaanssprekendes saam met die sprekers van ander inheemse tale staan.

In ’n samelewing waarin die grootste gedeelte van die bevolking in armoede leef, is dit vanselfsprekend dat sosio-ekonomiese omstandighede ’n belangrike rol in enige debat rondom onderwys gaan speel. Sprekers het verwys na die huislike omstandighede waaruit leerders in lae sosio-ekonomiese groepe kom, asook afwykings wat met armoede gepaard gaan wat leer bemoeilik, soos fetale alkoholsindroom. Die geweld en misdaad waaraan baie kinders in hulle gemeenskappe blootgestel word, is ook ’n saak van kommer vir opvoeders.

Die beskikbaarheid van beurse vir studente wat hulle in die onderwys wil bekwaam, maar dit nie kan bekostig nie, het ook onder die kalklig gekom, asook die feit dat die afskaffing van onderwyskolleges in landelike gebiede die koste van tersiêre opleiding vir mense uit die platteland opjaag. Sosio-ekonomiese faktore word ook in berekening gebring wanneer leeders en hulle ouers oor die taal waarin hulle onderrig moet word, besluit. Engels word steeds gesien as die sogenaamde saketaal en geniet om dié rede dikwels voorkeur ten koste van moedertaalonderrig. Finansiële oorwegings en die lae status van die onderwysprofessie is ook uitgewys as redes vir die drastiese tekort aan onderwysers wat ons tans ervaar.

Die invloed van Suid-Afrika se politieke agtergrond en die huidige stand van sake op politieke vlak mag nie onderskat word wanneer die taalkwessie bespreek word nie. Die kombinasie van die plofbare temas van onderwys en taal het die gemoedere soms laat opvlam. Hierdie vurigheid moet egter as ’n goeie teken gesien word, want dit dui op ’n energie en passie wat noodsaaklik is om beide sake aan te pak.

Ongelukkig is dit ook so dat rassespanning maar vlak onder die oppervlak van alle besprekings oor taal lê, en die konferensie kon nie heeltemal hiervan ontsnap nie: Stereotiperende aanmerkings en aantygings van rassisme en wanbegrip het wel hier en daar spanning veroorsaak, maar oor die algemeen was die gedeelde kommer oor die opvoeding van ons kinders genoeg om die vreedsame verloop van sake te verseker. 

Alhoewel Afrikaans duidelik nog nie die wit mantel van magstaal van die apartheidsregime kon afskud nie, het die konferensie ook lig gewerp op die ewigveranderende gesig van die taal en die diverse identiteite van die mense wat dit praat. Daar is verskeie oproepe gedoen om die persepsie van Afrikaans as nierassige taal te versterk – eerder ’n taal van sebrastrepe as een wat met slegs een kleur geassosieer word.

Die aandag is ook gevestig op die verskillende vorme wat die taal self aanneem. Die kwessie van assessering in Standaardafrikaans terwyl ’n groot aantal sprekers nie Standaardafrikaans praat nie, het aandag geniet. Dit is binne die konteks van die globale internasionale beweging vir die destandaardisering van taal geplaas, wat die elitisme en mag van standaardtaal bevraagteken. Hierdie grondverskuiwing sal waarskynlik sterk teenstand van taalpuriste teëkom, maar op die lange duur sal dit ’n bevrydende tree in die regte rigting vir Afrikaans wees. Om een konferensieganger aan te haal: Afrikaanssprekendes moet nie net leer lees nie, maar ook leer lies.

Sprekers deel suksesverhale: Linette van der Merwe, Miranda Jonas, Maryke Mihai en Hennie de Wet.

Saam met hierdie beweging na ’n meer inklusiewe taalbegrip was daar ook heelwat suksesverhale om te vier. Stories is gedeel oor inisiatiewe waar die gebruik van tegnologie, samewerking, ondersteuning, inisiatief en goeie outydse harde werk indrukwekkende resultate opgelewer het wat die stand van Afrikaans as onderwystaal wesenlik verbeter. Dit blyk uit die suksesverhale dat die krisis in ons skole nie in individuele verband opgelos gaan word nie, maar binne netwerke van skole kan innoverende planne beraam word wat hulpbronne maksimaal aanwend.

Daar was onder konferensiegangers en sprekers ’n konsensus dat dit tyd geword het om stemme uit die praktyk te raadpleeg oor onderwyskwessies in die algemeen, en oor die belang en toepassing van moedertaalonderwys spesifiek. Waar die Regering se beleidmakers eerder politieke beweegredes in ag neem waneer besluite en planne gemaak word, het ons hier die stemme gehoor van mense wat die leerders se belange op die hart dra, en oor intieme kennis van die aard van die pajamaperd beskik. Die konferensie het opnuut bevestig dat ons grootste probleem nie ’n tekort aan kundigheid, ondervinding en toewyding is nie – hier is ’n ongelooflike poel kennis en passie vir die onderwys en opvoeding van ons kinders byeengebring – die grootste probleem lê eerder by die burokrasie wat verhoed dat hierdie kundiges hulle volle impak en invloed op die onderwysstelsel uitoefen.

Om vooruitgang te bewerkstellig, is n sterk visie vir die onderwys nodig: ’n visie met meer verbeelding, toewyding en hart as wat die Regering se nuutste dokument oor sy aksieplan vir die onderwys verteenwoordig. By die ATR se Onderwyskonferensie was dit duidelik dat moedertaalonderrig vir leerders in alle tale ’n integrale en ononderhandelbare basis van so ’n visie moet wees.

Gemeet aan die kwaliteit, energie en talent van konferensiegangers, is ’n bietjie optimisme oor die behoud van Afrikaans as onderwystaal (en onderwys in die algemeen) in orde. Skoolhoof Dennis von Willingh het reg: “Te veel van ons is fundamentele pessimiste. Ons kla oor Afrikaans. Ons kla oor onderwys.” Dit het tyd geword om op te hou kla, op te hou redeneer, op te hou onderhandel en die pajamaperd by die horings te pak. Die kennis bestaan reeds, en daar is ’n groeiende besef vir die waarde van onderwys, onderwysers en onderwysersopleiding. Die feit dat selfverantwoordelikheid ’n deurlopende tema by al die sessies was, dui op ’n volwassenheid wat dalk net die deurslaggewende faktor kan wees in die verandering wat ons almal so graag wil sien.

Michael le Cordeur aan die woord.

Al wat oorbly, is om praktiese skoene aan te trek en die saal op te sit wat Suid-Afrika se onderwyssebra pas. En so gou as moontlik ry kry in die rigting van moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaanse leerders wat dit verlang.

Die nuwe Afrikaanse Taalraad Direksielede saam met die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys en ander gaste.

Voorste ry:
Karin Hauman (ATR-Direksielid), Anzil Kulsen (ATR-Direksielid), Amanda de Stadler (ATR-Direksielid), Karel Prinsloo (ATR-Direksielid), LUR Donald Grant, Wannie Carstens (Voorsitter van ATR-Direksie), Marlene le Roux (Kunstekaap), Dione Prinsloo (ATR-Personeellid), Ria Olivier (ATR-Personeellid), Jacques van der Elst (ATR se Uitvoerende Hoof)

Middelste ry: Piérre Theron (ATR-Direksielid), Barry Volschenk (Direkteur Onderwysdistrik Sentraal), Penny Vinjevoldt (Direkteur-Generaal WKOD), Gerrit Brand (ATR- Direksielid), Hendrik Theys (ATR-Direksielid), Danny Titus (ATR-Direksielid), Michael le Cordeur (Ondervoorsitter van ATR-Direksie)

Agterste ry: Paul Colditz (FEDSAS), Christo van der Rheede (ATR-Direksielid), Hennie de Wet (ATR-Direksielid), Waldy Kastoor (ATR-Direksielid)

 

<< Terug na ATR Onderwyskonferensie indeksblad | Back to index <<