Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate

Akademici dit eens: Bevorder Afrikaans én meertaligheid in onderwys


Rudolf Stehle - 2010-09-02

Die toekoms is multikultureel en daarom meertalig. Dit is in dié konteks dat Afrikaans ’n belangrike posisie beklee in die gegradueerde student se taalvaardigheid.

Só het prof Russel Botman, die Rektor van die Universiteit Stellenbosch, Saterdag sy spreekbeurt oor die toekoms van Afrikaans as tersiêre onderrigtaal ingelui. Benewens Botman het dr Theuns Eloff, die Visekanselier van die Noordwes-Universiteit, prof Niek Grové, die Registrateur van die Universiteit van Pretoria en mnr Mahlubi Mabizela, die Direkteur van Beleid en Ontwikkeling in die nasionale Departement van Hoër Onderwys aan die gespreksessie deelgeneem.

Botman meen dat dit gewens is dat studente aan tersiêre instellings uitgedaag word om hulle vaardighede te slyp “binne ’n leefruimte van meertaligheid”. Volgens Botman beskou sekere onderwysers Engels verkeerdelik as die antwoord op al die probleme. ’n Groot getal arm Afrikaanssprekende studente sukkel om akademies die mas op te kom omdat hulle nie in Engels vaardig is nie. Tog ontsluit ’n meertalige omgewing bepaalde kognitiewe vaardighede en kreatiwiteit by studente, meen Botman.

Hy het ook daarop gewys dat werkgewers meertalige werknemers soek, en daarom streef die Universiteit Stellenbosch daarna om studente in twee of meer tale vaardig te maak.

Volgens Botman sal transformasie aan universiteite oppervlakkig bly as daar nie linguistiese transformasie plaasvind nie. Hy het gesê dat gesprekke in dié verband met die Regering gevoer sal moet word.

Verder raak die US toenemend bewus van die veranderinge ten opsigte van die voertaal in die Universiteit se voederskole. Die meeste van die voorheen Afrikaanse skole het oorgeskakel na dubbelmedium of parallelmedium, of het heeltemal verengels. “Al meer studente dui aan dat hulle meertalig is en in ’n meertalige konteks wil studeer,” het Botman gesê.

Botman se visie is om ’n soort “ubuntu van tale te vestig” wat die sein sal uitstuur dat dit goed is om meertalig én Afrikaans te wees. Botman het gesê dat die US ook daartoe verbind is om met die ontwikkeling van Xhosa as ’n wetenskaptaal te help.

Die kwessie van die lae toegangsvlakke van bruin jongmense tot tersiêre instellings hou volgens Botman direk verband met die voortbestaan van Afrikaans. “Die groot uitdaging vir Afrikaans is buite die universiteite op die landelike gebiede,” het Botman gesê.

Eloff het in sy spreekbeurt sewe fiktiewe koerantberigte wat in die toekoms in Afrikaanse koerante sou verskyn, aan die gehoor voorgelees. Hy het begin by ’n berig wat in 2020 in Rapport sou verskyn en geëindig met ’n berig in Rapport in 2011. Die 2020-berig vertel van die sukses wat in die afgelope dekade behaal is met die invoer vam moedertaalonderrig in skole en universiteite, terwyl die ander sewe berigte getuienis lewer van die verhoogde taalvaardigheidsvlakke van studente, die verbetering in leerders se uitslae en die opleiding van moedertaalonderwysers. Eloff het afgesluit deur te sê dat die berig van 28 Augustus 2010 in die gehoor se hande is.

Grové het verwys na die UP-raadsvergadering van 22 Augustus, waartydens die huidige taalbeleid herbevestig is en die Universiteit hom opnuut verbind het tot ’n meertaligheid waarin Afrikaans en Engels as akademiese voertale en Tsepedi as kommunikasietaal gebruik sal word.

Volgens Grové geniet die taalbeleid oor hoër onderwys van 2002 te min aandag. Hierin het die ministerie van hoër onderwys onderneem om meertaligheidsinisiatiewe aan universiteite te help beplan en befonds, maar niks het hiervan gekom nie.

“Goeie bedoelings is nie genoeg nie. Dinge gaan nie vanself gebeur nie. Al wat vanself gebeur, is agteruitgang,” het Grové gesê.

Wat die toekoms betref, het Grové gesê dat die UP nie op fondse van die Regering se kant sal kan staatmaak nie. Die UP sal kyk na parallelmedium, dubbelmedium (in Engels en Afrikaans) en ook tolkdienste in sommige gevalle, maar die probleem is dat ’n klomp studente in Gauteng nie Afrikaans verstaan nie.

Volgens Grové staan parallelmediumonderrig nie in die weg van transformasie nie. Die UP is daartoe verbind om studente in Engels vaardig te maak.
Die UP beoog ’n strategie waarin sekere kernprogramme wat die hart van sekere fakulteite uitmaak, in parallelmedium aangebied sal word. Weens ’n tekort aan fondse sal alle programme egter nie in twee tale gedupliseer kan word nie.

Mabizela het verskoning gemaak vir dr Blade Nzimande en me Angie Motshega se afwesigheid. Nzimande en Motshega het ter elfder ure onttrek.
Hy het gewys op die waarborge wat die Grondwet bied vir die beskerming van Afrikaans en die ander nege inheemse tale. Mabizela het toegegee dat Engels talle kinders se akademiese vordering op skool vertraag. “Die Departement herken die status [van Afrikaans] en [die] belangrike rol wat Afrikaans speel in ons onderwysstelsel.”

Nietemin  voer Afrikaans steeds die botoon  by – en is dit verskans in – die histories Afrikaanse universiteite. Hierbenewens is Afrikaans die tweede mees gebruikte taal aan universiteite en in die Regering.

Meertaligheid moet bevorder word. Afrikaans moet nie in isolasie beskerm word nie, maar saam met die inheemse tale om meertaligheid te bevorder. Hy het verwys na Mandela se woorde by sy aanvaarding van ’n eredoktorsgraad van die US in 1998: “Non-speakers of Afrikaans should not be deprived of access within the [university] system.”

Tog kan die Departement ook leer by Afrikaans en die snelle ontwikkeling wat die taal in die vorige eeu ondergaan het, meen Mabizela.

Afrikaans moet saam met die ander inheemse tale as ’n navorsingstaal bevorder word. Gesprekke oor Afrikaans moet die ander inheemse tale insluit, anders sal dit lyk of die taal bo die ander inheemse tale bevoordeel word.

“’n Taal is ’n taal deur ander tale  en die bewaring van ’n taal behoort te geskied deur die bewaring van ander tale,” het hy gesê.

In antwoord op ’n vraag uit die gehoor het Mabizela egter erken dat sy Departement geen voorsiening in die begroting maak om meertaligheid aan instellings te befonds nie.

Gerrit Brand aan die woord.

In die gesprek oor die media en Afrikaanse onderwys het Henry Jeffreys,  onafhanklike verslaggewer en voormalige redakteur van Die Burger, sy teleurstelling uitgespreek oor die afwesigheid van die onderwysministers, dr Blade Nzimande en me Angie Motshega, “omdat die Regering uiteindelik ’n belangrike rol te speel het in die bereddering van Afrikaans”. Jeffreys het beklemtoon dat die media ’n belangrike rol te speel het in die ondersteuning van inisiatiewe om Afrikaans en Afrikaanstalige onderwys te bevorder.

Volgens Jeffreys is dit die verantwoordelikheid van die drie Afrikaanse hoofstroomkoerante, Beeld, Die Burger en Volksblad, om te help om Afrikaans te verskans en as ’n waghond te waak oor die grondwetlike regte van Afrikaans. Hy  het verder gesê dat die Afrikaanse koerante afbreuk moet doen aan die persepsie dat die behoud van Afrikaans ’n “Afrikanersaak” is. Jeffreys meen Die Burger moet nie beskou word as ’n taalvegter vir Afrikaans nie, maar eerder as ’n platform vir debat oor die toekoms van Afrikaans. Hy meen die poniekoerante wat in Afrikaans verskyn, soos Son en Daily Voice, is “goed vir Afrikaans”, omdat die taal deur dié koerante ’n beduidende aantal lesers bygekry het.

Karin Meiring, wat in beheer staan van Afrikaanse programme by KykNet, het haar spreekbeurt begin deur te wys op die sukses van SABC3 se Learning Channel. Dit bereik agt miljoen leerders, maar word slegs in Engels aangebied en word laat in die aand gebeeldsend. Volgens Meiring is daar ’n groot behoefte aan Afrikaanse oudiovisuele onderwysmateriaal wat nie deur die Suid-Afrikaanse televisiebedryf aangespreek word nie. ’n Opvoedkundige kanaal in Afrikaans kan hierdie behoefte aanspreek. Volgens Meiring is KykNet reeds besig om programme oor voorgeskrewe toneelstukke vir die TV te vervaardig. KykNet beoog ook die moontlike oorklanking van die Learning Channel se materiaal vir Afrikaanse leerders en uiteindelik ’n aparte Afrikaanse opvoedkundige kanaal op DSTV, het Meiring gesê.

Marlene le Roux, direkteur van Kunstekaap, het in haar spreekbeurt  gesê dat die media nog te veel in isolasie praat op hulle voorblaaie en te min doen om samehorigheid en nasiebou te bevorder. Die media sal kopskuiwe moet maak en in die konteks van armoede na taal moet begin kyk, omdat ’n groot getal Afrikaanssprekendes daagliks daarmee saamleef. Verder moet die koerante ook meer positiewe stories op hulle voorblaaie publiseer. Sy het vertel van die Kunstekaap se inisiatiewe om Afrikaanse teater na die jeug op die Wes-Kaapse platteland te neem. Volgens Le Roux word die Afrikaans wat via teater na die kinders geneem word, as almal se taal gesien.

Marlene le Roux en mede-kongresgangers

Cerneels Lourens van die Vereniging vir Regslui in Afrikaans het in die gespreksessie oor kultuurliggame gesê dat Afrikaans oor die intellektuele kapitaal beskik om die ander inheemse tale verder te ontwikkel. Volgens hom is Afrikaans kleurblind. Lourens meen dat die taaldebat ’n onderdeel vorm van die stryd om die behoud van die regstaat.

Wessel Van Zyl De Villiers, Cerneels Lourens, Jan Bosman, Christo van der Rheede, Flip Buys en Danny Titus

Dr Van Zyl de Villiers van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het gewys op die Akademie se kritiese, analitiese en wetenskaplike benadering tot kwessies van landsbelang. Volgens De Villiers is die ontwikkeling van Suid-Afrikaners afhanklik van moedertaalonderrig en lei die gebrek daaraan tot die ontmagtiging van leerders en onderwysers. Volgens Lourens is dit ’n groot probleem dat besluite geneem word op grond van emosionele en ideologiese oortuigings, en nie wetenskaplik begronde getuienis nie.

Van Zyl De Villiers, Theuns Eloff, Christo van der Rheede en Joris Cornellison

Flip Buys van Solidariteit het gesê dat Afrikaanssprekendes self verantwoordelikheid vir hulle taal moet neem. Sodra ’n kultuur van selfverantwoordelikheid posvat, kan kultuurorganisasies verder gaan en ’n kultuur van uitnemendheid vestig. Sukses word nie deur positiewe omgewingsfaktore bepaal nie, maar deur hoe daardie omgewingsfaktore bestuur word, het hy gesê.

Russel Andrews, Waldy Kastoor en Pieter Mulder

<< Terug na ATR Onderwyskonferensie indeksblad | Back to index <<