Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die jeug en die toekoms van Afrikaans in die onderwys


Nico de Wet - 2010-09-01

Ek wil my toespraak graag begin deur ’n bietjie oor myself en my agtergrond te vertel. Ek doen dit om drie redes:

  1. Toe ek die eerste keer op die Stellenbosch-kampus by die taaldebat betrokke geraak het, het ek baie gou agtergekom dat as ’n mens vir Afrikaans opstaan en jy manlik en wit is en nog ’n bietjie van ’n baardjie het, word jy met geweldige agterdog bejeën en onmiddellik in ’n boks geplaas. Dalk kan my persoonlike storie ’n gedeelte van dié agterdog in die kiem smoor.
  2. Daarmee saam kan my storie ook hopelik verduidelik waarom iemand soos ek – wat sekerlik ’n gedeelte van die jeug van vandag verteenwoordig – Afrikaans belangrik ag en hoe dit deel van my en sommige van my tydgenote se breër visie vorm.
  3. Laastens hoop ek dat my storie ook vir julle kan help om ’n beter prentjie te vorm van hoe ’n jong persoon met ’n bepaalde agtergrond en ’n sekere ingesteldheid universiteit toe kom, gekonfronteer word met kwessies soos taal, integrasie, transformasie, ensovoorts, en daarvan sin probeer maak.

My pa, wat seker die persoon is wat die grootse invloed op die ontwikkeling van my kritiese vermoë gehad het, is baie links. Om die waarheid te sê, as jy hom ’n kommunis noem, sal hy dit as ’n geweldige kompliment ag. Hy het teologie gestudeer op Stellenbosch. Nodeloos om te sê, was hy redelik radikaal in sy teologie. Hy was een van daai tokkelokke wat verskriklik baie waarde aan konsekwentheid geheg het. Hy het onder andere gevoel as jy ’n ware Christen wil wees, moet jy eintlik ’n sendeling wees. Jy moet bereid wees om in die boendoes in te gaan, jou lewe op die spel te plaas en almal rondom jou te bekeer. Maar hy het dit nog verder as dít geneem: As jy ’n ware sendeling wil wees en jy lees Jesus se opdrag in Handelinge 1:8, waar Jesus sê: Wees my getuies in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld, dan beteken dit eintlik dat jy Jerusalem, Judea en Samaria moet “skip” en reguit na die uithoeke van die wêreld moet gaan.

En wragtig, toe my pa en ma klaar is op Stellenbosch, foeter hulle Japan toe – letterlik die uithoek van die wêreld.

Ná omtrent agt jaar moes my ouers terugkom weens die sanksies wat daardie tyd teen Suid-Afrika ingestel is. My pa vestig hom in ’n NG Kerk in PE, kom gou agter dat sy politiek en dié van die NGK mekaar nie so lekker akkommodeer nie, en skuif toe na die Indiërwoongebied van PE, waar hy die predikant van die Indiër-Gereformeerde Kerk (RCA) geword het.

Dit is waar ek gebore is en die eerste 13 jaar van my lewe gespandeer het. Ons was die enigste wit gesin daar. My vriende in die buurt was almal Indiër of bruin; hulle het my “boertjie” genoem. Ek het nie toe verstaan wat dit beteken nie, maar ek het dit gelaaik.

Toe ek 13 was, het my ouers terug Japan toe gegaan om dít waarvoor hulle destyds geroep is, af te handel. Ek moes natuurlik saam. Was twee jaar in ’n Japannese skool, waar die mense nie Afrikaans kan verstaan nie, en nog minder Engels, en waar daar nie sprake van integrasie was nie, maar eerder assimilasie.

Jy moet doodeenvoudig hulle kultuur en taal aanleer, anders oorleef jy nie.

Ná twee jaar se gesukkel besluit my ouers om my na die Internasionale/Amerikaanse Skool te skuif. Ek was vir drie en ’n half jaar daar, wat óók ’n groot aanpassing was. Die Amerikaners is amper nog vreemder as die Japannese. My Engels was ook glad nie op datum nie en ek het maar weer gesukkel om my te kon uitleef.

Maar nadat dit alles verby was, kon ek uiteindelik terugkom Suid-Afrika toe vir universiteit.

Toe ek op pad terug na Suid-Afrika toe was, spesifiek ook met die voorneme om op Stellenbosch te studeer, was ek geweldig opgewonde. Miskien het dit baie met die heimwee en verlange van so lank weg wees te doen gehad, maar ek het regtig uitgesien daarna om weer deel te kon wees van die “nuwe Suid-Afrika”-projek. Die feit dat Suid-Afrika uit soveel kulture en tale bestaan – groepe wat mekaar jare lank uitgemoor, onderdruk, afgekraak en verneder het – en ten spyte van dit alles besluit het om vredevol saam ’n demokrasie te bou wat aan almal gelyk behoort, was net vir my iets ongeloofliks. Nog te meer, Suid-Afrika het nie in 1994 onderneem om ’n homogene konkoksie te word en die ou nasie-staatmodel soos die res van die wêreld te volg nie, maar juis ’n reënboognasie te skep waar almal die ruimte gegun word om hulle eie identiteit, taal en kultuur uit te leef, maar dan ook met die idee dat ons medeburgers is wat op ’n menslike vlak ten nouste tot mekaar verbind is.

Ek het Suid-Afrika dus gesien as die land wat aan die voorpunt van die wêreldgeskiedenis is. Suid-Afrika is dié land wat besig is om baanbrekerswerk te doen. Ek het dit ook só aktief onder die Japannese en Amerikaners bemark.

So, ek het met hierdie tipe ingesteldheid en ideale na Suid-Afrika toe teruggekom. En ook met dié ingesteldheid en ideale by Stellenbosch opgedaag.

Toe ek eers ingewortel was op Stellenbosch, moes ek egter baie gou ’n paar reality checks ondergaan. Stellenbosch het bitter min genade vir my idealisme gehad. Ek het gou besef dat alles nie so eenvoudig is in Suid-Afrika soos wat dit vanaf Japan gelyk het nie. Ek kan dalk my eerste ervaring of indruk van Stellenbosch as ambivalent beskryf: Aan die een kant het ek besef Stellenbosch bied geweldig baie vir die reënboognasie. Dit is ’n tersiêre akademiese instelling waar Afrikaans die hoofmedium van onderrig is. Dit is met ander woorde ’n ruimte waar daar in ’n Suid-Afrikaans taal wat nie Engels is nie, uitgedaag, gedink en geleer kan word. Waar Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulle in hulle eie idioom akademies en sosiaal kan uitleef en voorberei vir die wêreld daar buite. Hiermee dra Stellenbosch in ’n hoë mate by tot die uitbouing en handhawing van diversiteit in Suid-Afrika.

Maar aan die ander kant het Stellenbosch my ook baie ongemaklik gemaak. Op voorgraadse vlak is Stellenbosch 80% wit – dít terwyl die wit bevolking ’n bitter klein minderheid in die provinsiale en nasionale demografie is. En as ’n mens met ’n deursnee Stellenbosch-student gesels, kom jy ook vinnig agter dat sy of haar verwysingsraamwerk so ’n bietjie aan die eng kant is. Daar is nog soveel basiese vooroordele wat onder Stellenbosch-studente seëvier. Baie deel nie noodwendig heeltemal die opgewondenheid en optimisme oor Suid-Afrika wat sommige van ons het nie.

Dus was ek baie gou oortuig dat Stellenbosch tog ’n vorm van transformasie benodig. Nie transformasie wat Afrikaans die nekslag toedien nie. Dit is nie konstruktiewe transformasie nie. Afrikaans, soos ek reeds genoem het, is juis die positiewe gedeelte van Stellenbosch wat behoue moet bly.

Stellenbosch benodig transformasie wat spesifiek sal verhoed dat dit ’n toevlugsoord is waar jong Afrikaanssprekendes in Afrikaans stagneer en vrot raak, en wat Stellenbosch eerder in ’n universiteit sal omskep waar Afrikaanssprekende studente se vooropgestelde oortuigings waarlik uitgedaag en hulle denke verbreed kan word. Stellenbosch moet studente kan produseer wat doeltreffend in ’n toenemend multikulturele en veeltalige wêreld kan funksioneer. En Afrikaans moet as ’n instrument van bemagtiging gebruik word om dit te bewerkstellig.

Toe ek dus vir die eerste keer van die T-opsie verneem het, het ek gedag dis ’n briljante idee. Chris Brink is visioenêr en ’n genie. Aan die een kant kan Afrikaanse studente nog steeds in Afrikaans studeer, maar ook deeglike blootstelling aan Engels en Engelstaliges kry. En aan die ander kant kan meer anderskleurige studente in Engels aan Stellenbosch kom studeer, maar ook deeglike blootstelling aan Afrikaans en Afrikaanstaliges kry. Dié model kan vir transformasie van beide kleur en denke sorg. Dit klink wonderlik. Maar toe ek inskryf by die BA-fakulteit (die fakulteit wat ietwat berug is vir sy toepassing van die taalbeleid), het ek baie gou agtergekom dat teorie en praktyk nie in hierdie geval aan dieselfde tafel sit nie.

Probeer julle indink hoe die T-opsie in die praktyk werk:

Behalwe vir die dosente (waarvan ek ’n paar gehad het) wat net eenvoudig moedswillig is en hulle modules afskop met allerhande verskonings waarom hulle maar hoofsaaklik in Engels gaan doseer (byvoorbeeld “daar is internasionale studente in die klas; ons moet hulle akkommodeer” of “julle kan tog almal Engels verstaan” of “my Afrikaans is nie so goed nie”, ensovoorts), is jou deursneedosent wat die taalbeleid opreg probeer toepas, onder geweldige druk om in elk geval hoofsaaklik in Engels te doseer.

In die meeste gevalle is amper die helfte van die studente in die klasse Engelstalig – of so sê hulle. Nou, in hierdie groot groep Engelses is daar twee subgroepe wat baie prominent is.

  1. Die een is jou rou wit Engelses, waarvan baie uit Kwazulu-Natal kom, en
  2. die ander groep is jou swart studente wat uit die sogenaamde “opkomende swart middelklas” kom.

Dié twee groepe het twee dinge in gemeen:

  1. Hulle het nie ’n gebrek aan selfvertroue nie, en
  2. hulle het nie baie ooghare vir Afrikaans nie.

Hulle sal óf die dosent die heeltyd vra om alles in Engels te herhaal, óf hulle sal selfs so ver gaan as om die dosent in die klas aan te vat oor die feit dat hy/sy enigsins in Afrikaans doseer.

En terwyl dít alles aan die gang is, sit die klomp Afrikaanssprekende studente in die klas net daar soos ’n klomp pôpo’s. Óf hulle het ’n gebrek aan selfvertroue, óf hulle voel skuldig oor die verlede, óf hulle het ’n identiteitskrisis, óf hulle het nie die vermoë om in die klas op Afrikaans aan te dring sonder om soos ’n “dom”, “verkrampte” “rassis” te klink nie. Wat ook al die rede is, hulle bly tjoepstil.

Ek moet egter bysê dat selfs dié van ons wat taamlik selfversekerd maar ook retories genuanseerd kan wees en nie sommer vir sulke waansinnigheid sal terugstaan nie, soms ook huiwerig is om ons stem in die klas dik te maak vir Afrikaans. Dit voel regtig asof ’n ligkol van hardnekkige agterlikheid op jou skyn as jy op Afrikaans aandring. Jy voel soos die vuil skurk in die verhaal.

En hierdie senutergende situasie het ’n oplopende effek. Siende dat die Engelse studente meer vrymoedigheid het, neem hulle meer deel in die klas. En soos wat hulle meer deelneem in die klas, praat die dosent al hoe meer in Engels. En soos wat die dialoog in die klas al hoe meer in Engels plaasvind, raak die Afrikaanse studente net al hoe stiller.

En met alle respek teenoor die Rektor en sy visie 2015, wat beoog om die kampus drasties meer te diversifiseer, sien ek nie hoe Afrikaans in die klaskamer enigsins ’n kans het om te oorleef as die proporsie Engelstaliges net nog groter gaan word nie. Die druk op dosente is reeds te veel.

Nou, die muntstuk het ’n ander kant ook. As jy byvoorbeeld na die Regsfakulteit toe gaan, is die T-opsie ook die amptelike taalbeleid, maar die toepassing daarvan is hoofsaaklik Afrikaans. Maklik 60%, 70%, selfs 80% van die lesings vind in Afrikaans plaas. Nou, verskoon my taal, maar hoe de joos gaan ’n Engelstalige in so ’n fakulteit oorleef? Veral by regte, waar lesings baie belangrik is en handboeke nie ’n voldoende alternatief is nie. Hoe gaan so ’n fakulteit enigsins swart Engelssprekende studente trek, indien toeganklikheid en kleurtransformasie die oogmerk van die beleid is?

Ek kan vir julle nog scenario’s skep waarom die T-opsie nie lekker werk nie, maar ek dink julle was reeds oortuig van die onuitvoerbaarheid van hierdie opsie voordat ek begin praat het.

Die uiteindelike waarheid is dat die T-opsie nie ’n vaste plek vir Afrikaans waarborg nie. Die T-opsie waarborg ook nie rassetransformasie nie, soos in die geval van die Regsfakulteit. Die beleid sal dus moet verander indien die bevordering van Afrikaans én transformasie die Universiteit se doelwitte is.

Maar benewens beleid, vir Afrikaans om ’n toekoms in die onderwys te hê, moet daar ook ’n kopskuif onder die jeug plaasvind. En met die jeug bedoel ek die héle jeug.

Engelse swart en wit studente moet van Afrikaans begin hou. Nie net van die taal nie, maar ook van die kultuur en sy mense. Eintlik veral die kultuur en sy mense. En die onus is op ons om dit vir hulle aantrekliker te maak. Daar is nog soveel gevalle van subtiele maar selfs ook ooglopende rassisme op kampus. Die institusionele kultuur van ’n Afrikaanse universiteit soos Stellenbosch moet baie vriendeliker en toegankliker vir ander studente wees. Niemoedertaalsprekers moet tuis kan voel binne die taal en eienaarskap van die taal wíl neem.

En hier probeer studenteverenigings soos Adam Tas sy bes deur projekte te inisieer wat die lekker van Afrikaans beklemtoon, maar ook studente se denke so ’n bietjie uitdaag. Adam Tas doen ook moeite om uit te reik na ander studenteorganisasies soos die Black Management Forum ten einde interkulturele interaksie en empatie te bevorder. Dit is dié tipe inisiatiewe wat op ’n baie groter skaal sal moet plaasvind.

Behalwe dat hulle ’n bietjie meer moet uitreik na ander bevolkingsgroepe, is daar egter ’n ander enorme kopskuif wat ook onder die jeug gemaak moet word. Die Afrikaanse jeug is nog nie self oortuig hoekom dit vir hulle belangrik is om in hulle moedertaal te studeer nie. Daar is byvoorbeeld nog nie ’n bewustheid van al die geleenthede en potensiële geleenthede wat Afrikaans in die besigheidswêreld kan ontsluit nie.

Daarbenewens is sommige studente nog nie oortuig van die akademiese voordele van moedertaalonderrig nie. Baie studente verkeer onder die (wan‑)indruk dat onderrig in Afrikaans hulle vermoë om in die wêreld daar buite aan te pas en suksesvol te wees, sal inhibeer.

Daar is nog verwarring oor die proses om ’n konsep te leer verstaan en ’n konsep toe te pas. Dis relatief moeilik om iets te leer verstaan; dis relatief maklik om iets wat jy reeds verstaan, toe te pas. Dus, leer verstaan die konsep in die taal waarmee jy die gemaklikste is – vra byvoorbeeld vrae in die taal waarin jy jou die beste kan uitdruk – en as jy eers die konsep onder die knie het, kan jy dit mos maklik in enige taal of tale toepas. Memoriseer net die ooreenkomstige terminologie.

Baie studente maak die fout om te dink dat hulle ’n konsep in Engels moet leer verstaan om dit eendag in Engels te kan toepas.

Ter afsluiting: Alhoewel ek, en die jeug wat ek verteenwoordig, dit belangrik ag en daarvoor dankbaar is, sal ons graag wil sien dat die breër Afrikaanse gemeenskap nie net daarop fokus om direkte druk op die Universiteit se beleidsoorwegings te plaas nie. Daar is soveel ander dinge wat ook gedoen kan word en baie nodig is, naamlik groter ondersteuning aan inisiatiewe wat die lekker van Afrikaans beklemtoon en Afrikaanse studente uitdaag en mobiliseer.

Die feit is, as die jeug eers geïnspireerd en gemobiliseer is, hoef julle nie meer briewe aan Die Burger te stuur of energie op bekgevegte in die US Raad te mors nie. As die jeug eers en masse druk op die Universiteit begin plaas, sal laasgenoemde die taalbeleid sommer gou-gou uitsorteer.

Baie dankie.

 

 

Reageer op hierdie miniseminaar deur ’n e-pos te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

 

<< Terug na invalsblad | Back to index << 

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<