Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die uitdagings vir moedertaalonderrig in ’n veeltalige konteks, met ’n spesifieke fokus op Afrikaans


Neville Alexander - 2010-09-01

Inleidende opmerkings

Die samestelling en doelstellinge van hierdie byeenkoms maak dit oorbodig om weer eens die bekende voordele van moedertaalonderrig te herhaal, alhoewel mense geneig is om die eenvoudigste feite tog te maklik te “vergeet” wanneer die waarheid hulle nie pas nie. Ek sou dus graag sommer met die deur in die huis wou val, maar ek moet tog twee proposisies as prolegomena kortliks bespreek, omdat hulle in die vurigste debatte oor die taalkwessie in Suid-Afrika gewoonlik onuitgesproke bly.

Die eerste stelling het te make met diegene onder ons wat in die gees van die Europese Romantiek van die 18de en 19de eeue sweer dat die moedertaal die enigste medium is waardeur veral kinders opgelei kan word. Hierdie “monolinguale habitus”, soos Ingrid Gogolin dit noem, is een van die problematiese gevolge van die etnies-nasionalistiese bewegings van die ontluikende kapitalisme in Wes-Europa en in Suid-Afrika het dit tot onlangs die indrukwekkende vooruitgang van Standaardafrikaans onder die vaandel van Afrikaner-nasionalisme aangevuur. In hierdie opsig verskil dit glad nie van die grootse taalbewegings van die Europese vasteland nie. Dit is as’t ware een van die bepalende kenmerke van die progressiewe fase van die burgerlike revolusie, wat deur veral die Amerikaanse revolusie teen Britse heerskappy en die Franse revolusie teen die feodale stelsel ingelui was. In Suid-Afrika is hierdie potensieel progressiewe krag deur die inperkende en verdrukkende gevolge van rassisme ontsier. Ek verstout my om te sê dat ons vandag onder andere daarmee besig is om uit te werk hoe ons hierdie onttroonde Oompie-Doompie op ’n heel ander manier weer bymekaar kan sit. Dit is altemit ’n interessante perspektief op van die werksaamhede van die ATR self!

Om dit dan reguit te stel: vandag word dit onder wetenskaplikes as aksiomaties aanvaar dat enige leerder, kind of volwassene, in enige taal onderrig kan word indien sy of haar begrip van die taal van onderrig goed genoeg is. Daar is geen mistiek aan die moedertaal in hierdie opsig verbonde nie. Die “onsigbare vlam” van ’n Piet Meyer is ’n hersenskim van nasionaliste wat gewoonlik deur die elites misbruik word om hul volgelinge te mislei. Dit was in Suid-Afrika die ideologiese meganisme waardeur die “volk” gans die taal in beslag geneem het en die “volkies” doodeenvoudig daar buite in die koue gelaat is om te verkluim. Dit sal my nie verbaas as baie mense in die gehoor hierdie stellinge van my nie kan deel nie, maar dit is die wese van demokratiese debat. Ek aanvaar dat my strewe na moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners ook deur oorblywende Afrikaner-nasionaliste ondersteun word, maar ek besef alte goed dat hul redes nie noodwendig myne is nie en dat dit onder sekere omstandighede ’n groot verleentheid vir ons almal kan word.

Dit dan wat ons “vriende” betref. Maar daar is ook ’n paar dinge wat aan ons “vyande” gerig moet word. Die vermetelheid en onkunde van baie Engelssprekendes in Suid-Afrika, en van nie-Engelssprekendes wat hulle soos skape volg, wanneer hulle beweer dat daar geen intrinsieke waarde in moedertaalonderrig steek nie, is verstommend. Dit is asof hulle self nie al die voordele van moedertaalonderrig in die magtigste taal ter wêreld geniet nie. Dit is ’n feit dat baie van hierdie mense daarop aandring dat dit nie net goedkoper sou wees nie, maar ook doeltreffender, om Suid-Afrika se kinders wat ’n inheemse Afrikataal as moedertaal praat, in Engels te onderrig, ’n staaltjie wat as een van die brutaalste drogstories van die 20ste eeu moet geld. Veral as ’n mens na die verskriklike mislukking van dekades se Engelsmedium-onderrig in ons skole kyk. Dit is ’n beleid en ’n praktyk waarvan die bankrotskap direk uit die droewige statistiek afgelees kan word. Hierdie dames en here, veral die akademici onder hulle, weet net so goed soos almal van ons in hierdie saal dat die moedertaal die basis van alle onderwys in die meeste lande in die wêreld is, juis omdat dit vir effektiewe onderrig vir die meeste kinders voorsien. Slegs in Afrika, as gevolg van kolonialisme, is dit nie die geval nie.

Aan hierdie adres moet ons die duidelike boodskap stuur: ons gaan die mense wat weens die ekonomiese mag en ideologiese hegemonie van die Engelse taal nog altyd om die bos gelei word deur middel van onder andere die wetenskaplike insigte van die pedagogie en die psigologie, oorreed om te aanvaar dat ʼn kind ʼn tweede taal vinniger en beter aanleer wanneer hy of sy ’n goeie begrip van die moedertaal het en dat ons om hierdie rede eerder van ’n moedertaalgebaseerde tweetalige onderwysstelsel praat in gevalle waar die moedertaal nie die enigste taal van leer en onderrig is nie. Ons gaan die ouers sowel as die kinders maak verstaan dat dit nooit ’n geval van óf moedertaal óf Engels is nie, maar meestal van béide die moedertaal én Engels. In die veeltalige wêreld van die 21ste eeu, soos dit ook die geval in Suid-Afrika is, is die monolinguale habitus van die meeste Engelssprekende mense ’n duidelike benadeling, veral wanneer die taalregte van alle burgers konsekwent toegepas word.

Die ontbrekende visie

Die belangrikste uitdaging, wat soos ’n yslike padversperring voor dié van ons staan wat ons vir die verwesenliking van moedertaalonderrig, veral op tersiêre vlak, beywer, is die ontbrekende, of in die beste geval, die gebrekkige, visie van Suid-Afrika se maghebbers en ander leiersfigure. Hierdie toonaangewende laag mense het ’n baie vae idee van wat ’n veeltalige en multikulturele samelewing aan die begin van die nuwe millennium en van die 21ste eeu behels. Hul rasgedrewe begrip van ’n demokratiese bestel is die eintlike rede vir die frustrasie van die mees toegewende mense en die beduiweling van ’n saak wat, as dit opreg aangepak sou word, eintlik ’n baie eenvoudige trajek sou hê. Op die filosofiese vlak het ons te make met mense wat deur essensialistiese en statiese denkwyses nie bo ’n tweedimensionele wêreldbeeld kan uitstyg nie. Dit is, onder andere, die rede waarom ons worstel met ’n program van sogenaamde regstellende aksie wat met dieselfde raskategorieë funksioneer wat gedurende die ou bedeling gebruik was, nieteenstaande die feit dat daardeur nie net die rasgebaseerde maatskaplike en individuele identiteite van weleer veranker word nie, maar ook die gepaardgaande vooroordele en isolerende gevoelens van andersheid of eiesoortigheid.

Maar dit is nie die fokus van hierdie toespraak nie. Dit gaan hier veral oor die feit dat ’n fetisjistiese begrip van die taal Afrikaans doelbewus versprei en verewig word om die vermeende ontmagtiging van gister se vyand teweeg te bring. Natuurlik dink nie almal in die regering of in die ANC so nie, maar daar is genoeg mense wat wel so dink en wat daardeur die verwesenliking van moedertaalonderrig in die wiele ry. Om die tersaaklikste voorbeeld te noem: jy mag, volgens die Grondwet (Artikels 30 en 31) nie enige taal gebruik om mense uit te sluit of teen hulle te diskrimineer nie. Hierdie stelling word as die troefkaart gebruik om al die ander progressiewe taalverwante klousules van die Grondwet te negeer. Eintlik behoort hierdie artikel so uitgelê te word dat geen persoon wat byvoorbeeld deur middel van Afrikaans wil klasloop, toegang tot die bepaalde instelling geweier mag word nie, of dit sy moedertaal is of nie. As dit nie so vertolk word nie, kom dit neer op ’n bestraffing in plaas van ’n beloning van die meertaligheid van byvoorbeeld Afrikaanssprekende mense. Dit word dan geredeneer dat omdat hulle, algemeen gesproke, Engels goed verstaan en gewoonlik ook praat, kan en moet hulle in Engels onderrig word wanneer sogenaamde Engelssprekende studente in dieselfde klas ingeskryf word. Ek hoef die slinksheid of die beperktheid van hierdie “visie” nie verder te ontleed nie. Die gevolge is baie duidelik sigbaar in die statistieke van Afrikaanse onderwysinstellings.

Teenoor hierdie opsetlike verdoeseling van die taalkwessie staan ons visie van die nuwe Suid-Afrika, waar sowel veeltalige as eentalige instellings, wat die onderrigtaal betref,  naas mekaar kan en moet bestaan. As dit in orde is om in hierdie sin eentalige Engelse universiteite te laat voortbestaan, om watter redes ook al, dan kan daar geen argument teen soortgelyke instellings in enige ander amptelike Suid-Afrikaanse taal wees nie. Solank as die etos van die nuwe Suid-Afrika, wat die bevordering van meertaligheid onder individuele burgers en in die samelewing as ’n geheel insluit, by sulke instellings in die praktyk uitgevoer word, strook dit met die Grondwet.

In een van sy eposse, waar dit gaan oor die nuwe pous wat as ’n blote marionet van magtige draadtrekkers gesien was, sê die groot Duitse digter van die Middeleeue, Walther von der Vogelweide, “O we, der babest is zu jung!” (“Die pous is te jonk”). Hierdie uitspraak geld ongelukkig ook vir ons plaaslike “pouse”, en dan praat ek nie eers van die Jeugliga nie.

Die hegemoniese posisie van Engels

Die aanmatigende handelswyse en die verwaande houdings van die pro-Engelse drukgroepe moet ons nie daartoe verlei om die trekkrag van dié taal te onderskat of te betwyfel nie. Op internasionale vlak, en in ’n land soos Suid-Afrika ook op nasionale vlak, is Engelse vaardighede noodsaaklik. Die ekonomiese en politieke mag van hierdie taal, die gevolg van die twyfelagtige sukses van die Britse Ryk, en in die huidige tydvak, van die heerskappy van die VSA, het tot sy hegemoniese stelling, in die betekenis wat Antonio Gramsci aan hierdie woord verleen het, gelei. Dit wil sê, mense blyk heel vrywillig die vermeende meerderwaardigheid van Engels teenoor hul eie tale te aanvaar. Hulle doen dit om bloot instrumentele redes, nie omdat hulle noodwendig sentimentele waarde aan die taal heg nie. In die projek wat ek aan die Universiteit Kaapstad bestuur, is ons oortuig dat tweetalige onderwys die beste manier is vir kinders wie se moedertaal nie Engels is nie, om vaardighede, inligting én Engels aan te leer.

Hoe dit ook al sy, die antwoord op hierdie patologiese verskynsel is die formulering en stelselmatige toepassing van teenhegemoniese strategieë. En hierdie strategieë moet in die eerste instansie op ekonomiese gebied van toepassing wees. Mense moet weer begin glo dat kennis van hul eie tale en van ander tale behalwe Engels die moeite werd is omdat dit hulle pad oopmaak tot goeie werkgeleenthede. In hierdie verband is die werk wat deur organisasies soos die SBA en Afriforum, onder baie andere, in benadeelde gemeenskappe (terloops nie net in arm Afrikaanssprekende gemeenskappe nie) gedoen word, die soort programme wat ons moet ondersteun en bevorder. Die aanleer of verwerwing van vaardighede deur middel van Afrikaans of van enige ander inheemse Suid-Afrikaanse taal is die koninklike pad na die werklike gelykstelling van al die tale van ons land. Hier wil ek graag die moedige projek van die beoogde Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU) noem. Ons hoop dat baie sulke versiende projekte in die volgende dekade sal ontstaan. Soos ons almal weet, of behoort te weet, is transformasie op die gebied van taalgedrag en taalinstellinge nie iets wat oornag gebeur nie, maar, soos ek alreeds aangedui het, as die visie van ’n multikulturele, veeltalige Suid-Afrika die kompas is wat ons rigting gee, benodig ons net nog realistiese, prakties-georiënteerde en volhoubare programme wat met toewyding en integriteit bestuur en uitgevoer word, om die wen-wen-bestemming te bereik.

Afrika-tale, insluitend Afrikaans, kan ook tale van die sakewêreld, van die werkplek en van mag wees. Ons Grondwet en regeringsbeleid verbind Suid-Afrikaners tot die gelyke status en die ontwikkeling of aanpassing van tale vir al ons mense. Slegs op dié manier sal ons ʼn werklikheid kan maak van ʼn waarlik demokratiese samelewing waar al die mense deel kan wees van die besluitnemingsproses omdat niemand op grond van taal of enige ander hindernisse uitgesluit word nie. As die “markwaarde” van die mense se tale groter word (byvoorbeeld, wanneer dit ’n voorwaarde sou wees om in die staatsdiens, handelsbanke, supermarkte, ens te kan werk dat jy twee of selfs drie van die plaaslike tale magtig moet wees), sal mense begin besef dat om hul eie tale vir so lank en deeglik as moontlik te leer, om dieselfde redes net so belangrik is as om Engels te leer. In hierdie konteks is een van die taaiste tameletjies sekerlik die flouheid van die Afrikaans-georïenteerde sakelui jeens die handhawing en uitbouing van die taal en van die ander Afrikatale. Hier skyn dit die geval te wees dat daar hardgebakte, selfs hardkoppige, realisme is, maar geen visie nie, en dit is, soos ek gesuggereer het, die resep vir ’n maatskaplike ramp. Die ATR behoort hierdie vraag baie hoog op sy navorsingsagenda te plaas.

Moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys

Die oorsaaklike faktore wat ek hier opnoem, is soos in ’n netwerk nóú met mekaar verweef en hierdie interafhanklikheid maak dit al hoe moeiliker om die knoop deur te haak, sodat ons op alle gebiede sonder meer met sukses dinge kan aanpak. Naas die statiese handhawingsindroom, soos ek bogenoemde maatskaplike patologie benoem het, is die tekort aan goed-opgeleide Afrikaanse leerkragte ons grootste uitdaging. Dit is duidelik dat ons geen vordering gaan maak as ons nie genoeg vakmense het wat in Afrikaans uitnemende werk kan lewer nie en wat, algemeen gesproke, tot middelmatigheid in Engels verdoem is. Onder hierdie omstandighede is dit alleenlik die elite, die kinders van middelklas-mense, wat bevoordeel word. Die grootste gros van die mense, veral diegene wat onder die vorige bedelings doelbewus uitgesluit en agtergelaat is, kan net verder agteruitgaan. En ek wil dit weer eens beklemtoon: wat ons hier van Afrikaans sê, geld mutatis mutandis vir al die ander Afrikatale.

My ervaring oor die laaste soveel jare het my geleer dat ons die verskuiwing na “Engels” toe onder Afrikaanssprekende mense in die werkersklas wat meestal nie Standaardafrikaans besig nie, net kan keer as ons ’n moedertaalgebaseerde tweetalige onderwysstelsel oprig. Die rede is voor die hand liggend: omdat hierdie mense deur die media en ander advertensiemeganismes asook deur die popkultuur daartoe verlei word om te glo dat hulle op skool die gehalte Engels sal kan aanleer wat hulle toegang tot die beste poste en betrekkinge sal gee, is die alfa en omega van skoolgaan vir hulle die verwerwing van hierdie taal, hierdie magiese toorstokkie. Hierdie drogsiening kan net dan verwyder word as ons aan hulle kan bewys dat die beste manier om Engelse vaardighede te bekom, juis ’n sterk fondament in die moedertaal is.

In hierdie forum is dit onnodig om op die besonderhede van moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys uit te brei. Ek wil net graag noem dat in die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Gauteng grootskaalse loodsprojekte aan die gang is om uit te vind waar die belangrikste struikelblokke is. Die ATR, die universiteite en ander relevante organisasies behoort hierdie programme op alle moontlike maniere te ondersteun. Hierdie benadering beteken natuurlik nie dat die klassieke moedertaalonderrig met ’n tweede en derde taal as vak nie meer geldig is nie. Inteendeel; omdat dit ’n beproefde metode is, sal dit vanselfsprekend behoue bly. Namate meer bekwame leerkragte algaande beskikbaar word, sal al hoe meer ouers na hierdie model oorgaan, omdat hulle besef dat hul kinders ook op hierdie baan deeglike Engelse vaardighede sal opdoen. As elke Suid-Afrikaanse kind in die volgende dekades minstens drie Suid-Afrikaanse tale magtig word, waarvan een ’n ander Afrikataal moet wees, sal ons ’n soort waarborg vir ons multikulturele demokrasie deur middel van die kurrikulum programmeer.

Tersiêre onderwys

Wat tersiêre onderwys betref, wil ek kortliks op twee aspekte van die problematiek ingaan. Eerstens wil ek beweer dat dit hoog tyd geword het dat ’n vertalingsfonds gestig word, sodat akademici en senior studente in Afrikaans kan komponeer en, as hul werk van internasionale gehalte of belang sou wees, dit dan in Engels of in enige ander tersaaklike wêreldtaal met die oog op publikasie in gepaste tydskrifte vertaal kan word. As ons afsien van die gewone uitsonderings, sal ons almal toegee dat ons normaalweg geen produkte van internasionale gehalte in ons tweede of derde taal kan komponeer nie. En in elk geval is ons primêre teikenpubliek natuurlik in die eerste instansie die mense van ons eie veeltalige land. Dit wil sê, as ons werk van landsbelang is, sal ons dit in Engels en in ander tale die lig laat wil sien. Daar is geen rede waarom ons hierdie vertalingskultuur, waar nodig, nie kan of moet bevorder en versterk nie. Natuurlik kos dit meer geld, maar dit is een van die implikasies van ’n veeltalige samelewing, net soos boorgate, ontsoutingsaanlegte en ander maniere om water te ontgin, deel uitmaak van enige samelewing in woestynagtige gebiede.

Tweedens wil ek na die regering se oënskynlike afkeer van Afrikaansmedium universitêre instellings verwys. Hierdie Pawlof-reaksie van party regeringslui sal nie te lank duur nie. As ons op voetsoolvlak daarvoor sorg dat Afrikaans in al sy variëteite ’n lewende taal bly, sal die opposisie vanself as’t ware verswak, hoe frustrerend dit ook al in die tussentyd mag wees. Dit is belangrik dat die kwynende rasgebaseerde konflik in Suid-Afrika nie deur ’n nuwe taalstryd vervang word nie en, soos dit dikwels gesê word, as jy ’n ongeluk wil vermy, moet jy ook vir die ander bestuurder dink! Die Grondwet en die reëls van ’n regstaat gee ons genoeg ruimte – tot nog toe – om die domste vergrype op taalgebied, van watter kant hulle ook al afkomstig mag wees, teen te staan en met welslae te bekamp en reg te stel.

Oorwegend Afrikaanse universiteite en ander onderwysinstellings behoort net so goed tot die nuwe Suid-Afrika as ’n oorwegend Xhosa- of Zoeloe-skool. As by daardie instelling die etos van ’n nierassige, veeltalige en multikulturele samelewing die toon aangee, is dit ’n egte postapartheid-Suid-Afrikaanse instelling. Dit gaan hier nie oor uiterlike en oppervlakkige formele kenmerke nie, maar oor die filosofiese en politieke inhoud of substansie van dit wat in sulke instellings aan ons jeug oorgedra word. Dat daar wel agter hierdie woorde van my skuilplek vir reaksionêre terugblikkende mense is, is nie te betwyfel nie, maar hierdie soort mense is ’n bedreigde spesie, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in ander moderne omgewings oral op die planeet. Ons sal hulle, as dit nodig word, in die howe tot hul sinne laat kom, en as hulle dom genoeg sou wees om ander middele te wil gebruik, kan ek maar net sê daar is minder pynlike maniere om selfmoord te pleeg.

Ek stel dit op hierdie duidelike manier omdat ek meen dat baie van ons voorste denkers die verkeerde teikens in hul visier het. Daar is niks verkeerd met Afrikaans nie. As jy teen rassisme en ander diskriminerende verskynsels wil veg, moet jy dit nie met die taal en sy sprekers verwar nie. Laat ons liewer kyk hoe ons deur middel van al ons tale, in oorwegend eentalige asook in meertalige instellings, waar dit doenlik of nodig is, die kreatiewe samesyn en samewerking van ons jeug kan bevorder. Die Afrikaanse Taalraad en verwante organisasies het baie werk om te doen en een van die belangrikste take is die herbesinning oor tradisie, oor die negatiewe aspekte van die verlede (ook op organisatoriese gebied), en oor die herstrukturering van die kultuurlandskap waarin hy sy werk moet verrig. Hierdie werk sal hoofsaaklik in ons tersiêre instellings gedoen moet word en daar gaan nog baie harde woorde val. Maar op hierdie stadium het ons die luukse dat die teenstrydighede nie antagonisties van aard is nie. Diegene wat toegewings sal moet maak, moet oortuig word dat die algemene belang en nie eie belang nie, vir die geluk van die nageslag bepalend is.

As ons al ons akademiese en tegniese arbeid teen hierdie agtergrond kan sien en beplan, as ons ons gemeenskappe in hierdie gees kan herverbeel, behoort ons met groot optimisme die toekoms in te gaan. Suid-Afrika is per slot van rekening die land van goeie hoop.



Reageer op hierdie miniseminaar deur ’n e-pos te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

<< Terug na invalsblad | Back to index <<

<< Terug na miniseminare | Back to mini-seminars <<