Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Lukas, die geliefde geneesheer word aanbeveel vir die kerklike- sowel as sekulêre gemeenskap


Herman Lombard - 2010-08-31

Lukas, die geliefde geneesheer
Louise Prinsloo
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869193706
Prys: R160

Klik hier en koop Lukas, die geliefde geneesheer nou by Protea Boekhuis!

 

Die verskyning van Louise Prinsloo se boek Lukas, die geliefde geneesheer is ’n groot letterkundige gebeurtenis vir opbouende leesstof vanuit die godsdienstige bodem. Dit is ’n Bybelroman. Dis ook fiksie in ’n genuanseeerde sin van die woord (sien later). Dis eintlik ’n geskiedskrywende vertelling (narratief). Want dit is die vertelling oor iemand wat eens op ’n tyd in die Midde-Ooste gelewe het.

Soos dit ’n bekwame en wetenskaplik-georiënteerde historikus betaam, het Prinsloo die primêre en sekondêre bronne opgespoor, dit geweeg en die bestes geselekteer. Toe het sy die gegewens in die korrekte maatskaplike, politieke en godsdienstige konteks geplaas en geïnterpreteer. Uiteindelik het sy die re-konstruksie van die geskiedenis en die konstruksie van haar Bybelroman afgerond deur die onontbeerlike fakulteit van ’n wetenskaplike verbeelding effektief te aktiveer op die fokuspunt en tema van haar roman, naamlik die lewe en prestasies van Lukas van die Nuwe Testament. Die resultaat is ’n geloofwaardige, boeiende en uiters leesbare boek oor dokter Lukas. Dit is waarskynlik die éérste verbeeldingryke roman van hierdie aard, en op so ’n verantwoorde akademiese vlak, oor Lukas!

Lukas word vanaf die pedestal as óór-geromantiseerde Bybelfiguur geneem en bekyk as ’n “mens soos óns” (soos die profeet Elia in Jakobus 5:17 getipeer word). Hy leef, loop, werk en speel sy rol, uiteindelik as Christus-gelowige mens, in die harde werklikheid van die alledaagse lewe in Palestina en Wes-Turkye in die Midde-Ooste gedurende die eerste eeu van die Algemene Era (Christelike Jaartelling).

Lukas is egter nie ’n fiksiefiguur in die sin van ’n verbeeldingsvlug en produk van    wensdenkery soos Harry Potter nie. Die fiksiekarakter van Lukas is ’n tekening van hom op grond van én deur middel van die skrywer se wetenskaplike rekonstruksie van die geskiedenis en haar wetenskaplike verbeeldingskrag. Sy sê dus nié dit is presies soos wat dit wel was en gebeur het en hoe Lukas presies was nie. Sy sê slegs Lukas kón so gewees het, en dat dinge so kón gebeur het, volgens haar geloofwaardige rekonstruksie van én gekontroleerde verbeelding oor die leefwêreld van sy tyd.

Louise Prinsloo teken Lukas, alias Lukanus, as ’n sterk en baie aantreklike jong man in die tyd van die Egiptiese vors Ptolemaios XV, kleinseun van die wêreldbekende (nié so beeldskone nie!) koningin Cleopatra. Ons sien en beleef hom as universiteitstudent op die kampus van die eerste universiteit op die vasteland van Afrika, die Museion van Aleksandrië; as hofarts vir keiser Tiberius (14-37 nC); as skeepsdokter; as huisarts vir onder andere sy wêreldbekende pasiënt Paulus van Tarsus. Ook as medesendeling saam met Paulus en andere; as navorser van die geskiedenis van Jesus van Nasaret (Handelinge 1:1, 2); en as medeskrywer van die Nuwe Testament wat ’n groter bydrae tot die Nuwe Teastament as Paulus gelewer het. En ja, as skrywer van een van die vier Goeie Tydings (Evangelies), én as die éérste kerkhistorikus van die Christendom met sy boek Handelinge van die Apostels.

Hierdie roman oor Lukas word op baie leesbare, treffende en kommunikatiewe wyse aangebied deurdat dit Lukas se doen en late teken soos wat hy van plek tot plek gaan en oor sake en dinge en gebeurtenisse self met mense van sy tyd praat en sy menings gee en kommentaar lewer. Soos enige roman trouens mos doen.

Louise Prinsloo se biografiese Bybelroman oor dokter Lukas begin met ’n verrassende rubriekie, “Vooraf”, dit wil sê, vóór Hoofstuk 1. Sy beskryf die bejaarde Lukas wat sit “by ’n kliptafel onder ’n welige groen prieel van ’n statige villa in Antiochië”. Antiochië in Sirië is Lukas se geboortestad. Hy is besig met sy laaste lewenstaak, naamlik die skryf van Handelinge van die Apostels, die eerste geskiedeniswerk, die eerste Annale oor die jong en dinamiese beweging, die Christendom. Hy is nie nou meer die aanbidder van Zeus, die hoofgod van die Grieke nie. Om hierdie geskiedwerk te kan skrywe, het hy ook, soos ’n bekwame en betroubare historikus, navorsing in outentieke bronne gedoen. Só was hierdie pionier-kerkhistorikus dan in staat om “die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf” (Handelinge 1:1-2).

Die roman bestaan uit drie dele met altesaam dertig hoofstukke. By die aanhef van elke hoofstuk is daar ’n gepaste aanhaling van ’n welbekende en beroemde skrywer uit die Ou-Testamentiese, Klassieke, Hellenistiese en Nuwe-Testamentiese eras. Selfs van Confucius (551-479 vC) (p 250).

Die uitgewers Protea Boekhuis moet geluk gewens word met die keurige versorging van die boek. Dit lees baie maklik met die groter-formaat-letters in Palatino Linotype-lettertipe in wyer spasiëring.

Louise Prinsloo word van harte geluk gewens met hierdie voortreflike Bybelroman wat van jarelange en indringende navorsing getuig. Sy het selfs besoeke aan die plekke en gebiede van Lukas se omwandelinge afgelê.

Die boek word van harte aanbeveel vir lesers van die kerklike gemeenskappe sowel as van die sekulêre gemeenskap.


  • Herman Lombard is ’n emeritus professor in Nuwe-Testamentiese Studies by Unisa.