Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Jason Lloyd: Hotnotsgot

Eish, die dêng met taal


Jason Lloyd - 2010-08-31

Eish, die dêng met taal. Orie Deetsemmermaand bel ’n vriendin woedend uit my (aangenome) tuiste, King William’s Town, sedert 2004. Sy wou hêppie krismis sê, ma’ toe is my selfoon af. Ma’ sy was ook erg ontsteld omdat my personal greeting in Afrikaans is, "want dus nettie cool nie". By die Afrikaanse-gedeelte het sy die foon afgesit. "As jy verder geluister het sou jy die boodskap in Afrikaans, Engels en Xhosa gehoor het. Dit is die amptelike tale van die Oos-Kaap. ’n Mens kapituleer nie op jou moedertaal nie; dus hoekom Afrikaans die eerste deel van die boodskap beslaan."

Eish, die dêng met taal. ’n Vriendin van die Snoekstad wou nourie dag wiet hoekom ek die woord waardeer ge-“waardeur" het in ’n e-pos, "want djy spel nie gewoonlik verkeerd nie". Ek skryf: "Dit is eintlik maar dat ek en jy, omdat ons gereeld in kontak met mekaar is, op ’n partikulêre (!) wyse met mekaar kommunikeer - as ‘gabbas’ (digter Breyten Breytenbach se woord). Nie noodwendig altyd op ’n ernstige professionele wyse nie."

Eish, die dêng met taal. Nourie dag in die Baai draai ek en ’n vriend gou in om iets "kouds" te koop. Ons was gegroet met die boodskap op ’n bordjie: "Don’t drink on my premisses." Die vriend val weg en sê vir die eienaar: "Jy’s nogal optimisties (terloops: die eienaar ken nie die betekenis van dié woord nie) met jou boodskap; al word ’premisses’ met een ’s’ gespel." Ma’ toe ons wegloep sê ek: “Dit makie sakie. Solank die mense understand. ‘Don’t drink’ behoort die ding te doen."

Eish, die dêng met taal. Toe ek ’n student was, het ’n dosent ’n vriend van my lelik uitgetrap omdat sy "is" en "are" en "was" en "were" nog erg deurmekaar was. En toe hy Afrikaans probeer, sê sy: "Dit is ’jy’ en nie ‘djy’ nie, dit is "weet’ en nie ’wiet’ nie." Ook sy het hom verstaan.

Eish, die dêng met taal. In 2003 bevind ek my as rubriekskrywer by die KKNK-feeskoerant, Krit, in Oudtshoorn en gebruik die (pragtige) Kaaps van Peter Snyders en Adam Small in my rubrieke. ’n Vriendin bel my en wil toe weet watter "low class" taal gebruik ek.

Eish, die dêng met taal. Gedurende my kortbroekie-dae het ek en ’n vriend ’n kliniek op Uitenhage besoek. Iemand begin toe bloei. Ons sê toe meteens: "Jirre, kykie gazi op sy gevreet." Die suster jaag ons toe uit en sê ons moenie skollietaal gebruik nie. Daarna vee sy die bloed van sy gesig af. Sy het ons verstaan.

Punt is: taal kan reggemaak word, of jy dit nou verkeerd spel of praat. Dit moenie ’n gevangene van ortodoksie wees nie. Dit moet, soos statistiek, op enige manier aangewend kan word. Dit moet skeppend en innoverend benut word. Maar jy moet die verskillende registers kan bemeester, veral dié van jou moedertaal.