Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

Die drama van dramatekste


Lizz Meiring - 2007-01-29

Die beskikbaarheid van toneeltekste bly ‘n probleem. Gebruik plaaslike produksiespanne internasionale tekste, is die koste enorm. Onthou, jy betaal in euro, pond of dollar, via DALRO (Dramatiese Artistieke en Letterkundige Regte-organisasie) wat met die meeste van die internasionale agente of regsmense van oorsese dramaturge onderhandel namens Suid-Afrikaanse teatervervaardigers. As jy ‘n internasionale teks wil opvoer, betaal jy twee dinge:

  1. Tantieme, oftewel opvoerregte – dis die geld wat na die dramaturg toe gaan.
  2. Tekskoste – dis die gedrukte teks, wat soms ingevoer moet word. Die geld gaan na die uitgewers.

Amateurproduksies betaal op opvoerregte ‘n uniforme tarief/bedrag ("flat rate"). Professionele produksies betaal vooraf 10 persent van bruto loketinkomste.

Alle inligting hieroor en sekere tekste kan by DALRO verkry word. Daar is ook die Nasionale Toneelbiblioteek in Bloemfontein, wat katalogusse van toneeltekste beskikbaar het.


Plaaslike tekste

Organisasies soos DALRO het ‘n reuse-versameling plaaslike tekste beskikbaar, en ook internasionale werk – meestal eenakters vanuit Amerika en Brittanje.

Daar is hordes plaaslik geskrewe tekste wat nog nie opgevoer is nie. Nogtans bly die behoefte aan nuwe plaaslike tekste groot. Veral skole, dramastudente, drama-ateljees en amateurgroepe, maar ook professionele spelers, is aanhoudend op soek na die geskikte werk om op te voer.

Nou hoe is dit moontlik, as daar dan elke jaar by die bykans nou 400 kunstefeeste (ja, 400! - sommiges groot feeste, ander "fly by nights") aanhoudend nuutgeskepte werk opgevoer word?

Dalk registreer die dramaturge nie hul werk by ‘n organisasie soos DALRO nie, en kom dit dus nie op die sisteem nie.

Moontlik is die tekste wat beskikbaar is, nie altyd aanvaarbaar in terme van inhoud, taalgebruik, tema, tydsduur, ekonomiese uitvoerbaarheid, rolverdeling, ens vir veral die grootste verbruiker, skole, nie.

Skole dwarsoor die land skryf jaarliks in vir ATKV-toneelkompetisies, Nasionale eisteddfods en ander skooltoneelkompetisies. Hierdie organisasies het tydsduur- en logistieke reëls waarby deelnemers moet hou. Dan moet ‘n skool of departementshoof (soms iemand wat nie die artistieke waarde van ‘n teks kan bepaal nie) ook nog toestemming gee dat ‘n spesifieke werk opgevoer mag word. Ek het al self gevalle gehad waar radelose drama-onderwysers my bel en desperaat soek na ‘n stuk wat haar skoolhoof, haarself en die kinders wat dit moet opvoer, tevrede gaan stel. Hier val daar dus nou klaar, dikwels baie goeie, kontemporêre tekste uit die bus uit, want Meneer die Skoolhoof, of die skoolraad, wil nie hê die kinders moet op die verhoog, praat oor vigs, of vloek nie – ongeag of die tematiese gegewe en taalgebruik gemotiveerd en gekontekstualiseerd is of nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie – ek het al fenomenale, oorspronklike, vernuwende opvoerings van skole gesien. As die skoolhoof en bestuursliggaam ‘n drama-onderwyser toelaat om sy/haar werk te doen, sonder om in te meng, kan die skeppende proses floreer. En dit beteken nie noodwendig dat daardie teks skokwaarde of aanstootlikheid het nie.

Die hartseer saak is: wanneer dit kom by die kunste, of enige vorm van kreatiwiteit, is almal, selfs diegene wat nog net een maal, veertig jaar gelede, ‘n kabouter in ‘n skoolkonsert was, skielik ‘n ekspert met ‘n opinie. Dit help nie die drama-onderwyser, regisseur of afrigter in sy of haar behoefte om relevante, uitdagende, goeie werk saam met die leerders te skep nie. (Natuurlik is daar vele progressiewe skole wat nie benepe is nie.)

Skole wat aan ‘n dramakompetisie deelneem, moet ook dikwels gebukkend gaan onder reëls en regulasies van die beoordelaars, of organisasie wat die kompetisie aanbied.

Nog ‘n probleem wat ek optel, is dat sommige skole musiekblyspel-mal is – veral bekende musiekblyspele. Hulle wil iets opvoer wat hul ken – Grease, Chicago, ens. G’n bleddie verbeelding of oorspronklikheid nie.

Dus sit veral nuwe toneelskrywers hande in die hare. Hul skryf ‘n teks, registreer dit by ‘n organisasie soos DALRO, en niemand voer dit op nie. Word dit wel opgevoer, is die amateurtantieme minimaal.

Amateurgroepe is meer oopkop, maar moet ook tekste kies wat ekonomies en prakties opvoerbaar is, met ‘n rolverdeling wat binne hul reeds geskepte groep spelers pas.

Sou ‘n dramaturg wat nie bekend is nie, ‘n teks saam met ‘n groep spelers inskryf vir ‘n kunstefees, moet hulle die voltooide teks saam met die inskrywing lewer. Dit veroorsaak ook probleme: dalk is die tekskeurders nie opgewasse om dit wat op papier staan, te kan interpreteer as verhoogmatig en teatraal verantwoordbaar nie – en hoe kry jy tyd om ‘n teks op spekulasie te skryf voor jy weet dat dit opgevoer gaan word? En as jy nog nie ‘n reputasie as teksskrywer opgebou het nie, hoe kry jy spelers, regisseurs, vervaardigers, befondsing om die produksie op te voer? Dis die hoender-voor-die-eier-situasie. Hier help ‘n inisiatief soos Sanlam se jaarlikse kompetisie vir nuwe tekste geweldig. Hier kry jong en ouer skrywers ‘n geleentheid om hul tekste in te skryf, te ontwikkel, en opgevoer te sien.

Uitgewers is langtand om dramatekste te publiseer, omdat dit nie so goed verkoop nie, tensy die teks voorgeskryf is by skole of universiteite. My persoonlike ervaring is die volgende:

  1. Daar is ‘n groot behoefte aan plaaslik geskepte laer- en hoërskooltekste.
  2. Daar is ‘n groot behoefte aan volwasse amateur- en professionele tekste.
  3. Die tekste moet vernuwend, van hoë standaard, prakties en ekonomies opvoerbaar wees.
  4. Die tekste moet tegnies interessant maar eenvoudig wees, sodat dit maklik kan intrek binne die beperkte tydsvak by ‘n fees.
  5. Die teks moet so geskryf word dat die produksie kan reis.

Ek het so pas ses van my toneeltekste via die uitgewers SeweKleureBoeke gepubliseer. Na net vier telefoongesprekke, sonder enige ander vorm van bemarking, voor die boeke nog beskikbaar is, stroom die bestellings al in.

Die behoefte is dus daar.

Hou aan skryf. Skryf eerlik, en oor dit waarin jy glo. Sou jy vir ‘n spesifieke mark wou skryf, vind uit hoe die mark werk, wat die lengte- en tydsduur-behoeftes, rolverdeling, ens is.

En gaan kyk alle opvoerings wat jy kan. Lees tekste. Jy hoef nie als te koop nie. Vra aan by die biblioteek, gaan kyk op die internet. Woon skryfskole by. Vra die opinie van dié wat jy ken en vertrou. Moenie die opinie vra van dié wat jou óf onvoorwaardelik heuning om die mond gaan smeer, óf jou onvoorwaardelik gaan afkraak omdat hul jaloers, of self kreatief gefrustreerd, is nie.

Jy gaan nooit ryk word as dramaturg nie, tensy jy nou Neil Simon of Athol Fugard is, of word.

Maar dis nie hoekom ek al 74 toneeltekste geskryf het nie. Ek skryf omdat ek stories wil vertel. Omdat ons in Suid-Afrika soveel teksture, soveel humor, patos, tragedie, ironie, eksentrisiteite, verrassings, oorspronklikheid het. Soveel verskeidenheid van karakters, situasies, milieus. Die stories dwing hul aan my op om vertel te word.

Ek wil ook spelers, ontwerpers, tegnici en regisseurs interessante uitdagings bied. Ek is self ‘n teatermaker – ‘n akteur, regisseur, vervaardiger. Ek verstaan die ritme van dialoog, van hoe ‘n show moet of kan werk.

En ek respekteer gehore. Ek wil hul vermaak, verwonder, uitdaag. En nooit hul intelligensie onderskat nie. Die tyd vir clichés, selfsensuur, toiletgrappe en ideologiese mooipraatjies verby. Ek wil nie preek nie, slegs die gekose spieël van realiteit of fantasie na hul toe draai. Ek wil hul aan hul menslikheid – die goeie en slegte daarvan – herinner. Ek wil stories vertel.

Ek skryf nie om in te pas of aan te pas nie, ek skryf waarin ek glo. En dit blyk aanklank te vind. Ek voer eers self elke teks, hetsy as speler, regisseur en/of as vervaardiger op, sodat ek weet dit werk, voor ek dit publiseer. En ek voeg by die teks alle logistieke, publisiteits- en produksie-info by. Sodat dit prakties opvoerbaar is vir ‘n buitepersoon. Hierdie info is nie didakties nie, slegs ‘n duidelike gids, sodat die volgende regisseur of speler dit sy/haar eie kan maak. Mens moenie suinig wees met jou kennis nie.

En ek vra ‘n billike prys per boek, sodat mense daarmee kan werk. Kreatiwiteit is daar om te deel – onvoorwaardelik.

"The duty of an artist is to remind mankind of its humanity, and the promise of its creativity." – J Knowles, Amerikaanse resensent