Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Slypskole | Workshops > Afrikaans > Toneel

Teater is nie vir sissies nie


Albert Snyman - 2007-01-29


Die jaar is 1995. Die plek is ʼn skoolsaal êrens in die Karoo. My werk is beligtingsontwerper-assistent. Ek is senuweeagtig. Ek wil hom beïndruk. Hy stuur my op na die voorste beligtingspyp wat in die dak van die saal is. Ek klim teen ʼn stuk growwe tou uit om in die dak te kom. Daar hang drie ligte bo ʼn paar strooibale in ʼn area wat seker ʼn meter en ʼn half hoog is. Hy skakel die ligte aan en die eerste een ontplof. Hy sê vir my om dit oop te maak. Ek skroef die agterkant van die lig versigtig af en vind die rede vir die gloeilamp se sterfte: ʼn bobbejaanspinnekop het nes gemaak in die lig en sit vasgebrand teen die gloeilamp. Onmiddellik besef ek: dis hy wat my moet beïndruk, want hulle betaal my net nie genoeg vir dié stront nie.

In die twaalf jaar sedert daai dag het dinge baie verander in Suid-Afrika. Des te meer in teater. Die dae van kunstebeheerrade en befondsing is verby. Teater, veral Afrikaanse teater, is nou iets wat jy doen op kunstefeeste. Vir die res van die jaar maak jy ʼn bestaan deur een of ander geleentheidspreker te belig by ʼn korporatiewe funksie, waar een of ander BD se PA besluit het dat almal in die gehoor aangespoor sal word om harder en slimmer te werk as “I believe I can fly” vir hulle gespeel word.

Aangename kennis; ek is ʼn Teatertegnikus.

Die eerste teatertegnikus van wie ons weet, was heel moontlik Me Thespis. Thespis, die eerste akteur, het eendag by die huis gekom en gesê dat hy bekommerd is oor ʼn opvoering wat hy moes doen. Hy wil graag iets hê wat hom laat uitstaan, wat hom meer soos ʼn man laat lyk. Me Thespis sê toe: “Wat van ʼn rooi fallus? Ek het nog so paar stukkies rooi lap wat hier êrens rond lê. Ek knoop gou vir jou een.” Sy het so gemaak en toe, saam met die geboorte van die eerste akteur, kry ons toe ook die geboorte van die eerste tegnikus.

Die rowwe definisie van enige teatertegnikus: iemand wat verantwoordelik is vir die tegniese versorging van ʼn teatrale produksie. Dit beteken in die praktyk dat jy help om die produksie saam met die regisseur vanaf die teks tot op die verhoog te neem, met al die bykomende teatrale effekte soos beligting, dekor, rekwisiete, klank en kostuums. Die teatertegnikus is dus gebonde aan die produksie, die regisseur en die akteurs. Dis ʼn belangrike simbiose waarsonder teater nie kan gebeur nie.

Indien jy ʼn teks wil skryf of die regie van ʼn produksie wil behartig, is daar ʼn paar reëls wat jy sal moet volg indien jy gebruik wil maak van ʼn teatertegnikus.

1. Ken jou teks!

Dit is die eerste en belangrikste reël. Ken en verstaan jou teks! Daar is niks erger as ʼn regisseur wat duidelik nie regtig die teks verstaan nie of nie daarvan hou nie. ʼn Goeie teks bevat gewoonlik ʼn goeie storie. Daardie storie het gewoonlik onderliggende temas. Daardie storie en temas, tesame met elke geskrewe woord, vorm die boustene vir die wêreld wat jy veronderstel is om vir ʼn gehoor te skep. Indien jy nie daardie woorde verstaan nie, nie die temas raaksien nie, of ergste van alles, nie die belangrikheid van die storie kan begryp nie, gaan die produksie ʼn flop wees.

Maar hoe weet jy of jy dit verstaan? Eenvoudig: doen jou navorsing. Gaan lees alles en enige iets wat verband hou met die teks. As dit afspeel in Antieke Rome, gaan lees alles oor Antieke Rome. Soek artikels oor vorige opvoerings van die stuk, gaan gesels met mense wat die teks ken en vra hul opinies. Jy moet daai teks eet, leef en slaap. Dit moet konstant in jou gedagtes wees. Die mense wie se geld jy gaan neem om die produksie te kyk, verdien niks minder nie. En indien dit ʼn nuwe teks is, gaan gesels met die skrywer. Vra hom om dit vir jou te verduidelik. Die enigste regte dom vraag in Suid-Afrika is of die petrolprys ooit weer onder R5 gaan wees. ʼn Groot probleem met meeste van die jonger geslag regisseurs is dat hul mense is wat oor die algemeen nie baie lees nie. Hulle ken nie teater nie en het dus geen verwysingsraamwerk nie. Om ʼn regisseur te wees is nie ʼn reg nie, dis ʼn voorreg. Ek weet dis cool om te sê jy is een, maar dis ʼn ander saak wanneer jou produksie deur resensente en gehore uitmekaar geskeur word. Almal verbonde aan die produksie se lewe word deur die produksie geaffekteer.


2. Verstaan die estetiese en praktiese vereistes van die stuk

Die kuns van teaterontwerp is om die estetiese vereistes te probeer versoen met die beskikbare gebruiksmiddels. Met ander woorde, doen die beste met wat jy tot jou beskikking het. Dus is die regisseur se verantwoordelikheid om ʼn duidelike visie te hê van hoe die produksie moet lyk. Hy moet ʼn idee hê van hoe hy wil hê die wêreld moet lyk waarbinne die stuk afspeel. Hy dra hierdie visie oor aan sy ontwerpers en hulle ontwerp dan iets in lyn met sy idees. So dis belangrik dat die regisseur weet wat ʼn mens kan en nie kan doen binne die raamwerk van ʼn teater nie. Dit gebeur dikwels dat ʼn regisseur vir die onmoontlike vra. Dis hul werk, maar daar is perke. As jy in ʼn teater gaan werk waar daar tien ligte is, moet dan nie Starlight Express verwag nie.

ʼn Goeie regisseur ken en verstaan die meganika van ʼn teater en weet hoe om dit aan te wend om die beste eindproduk te verkry. Jy hoef nie ʼn ingenieur te wees om dit te vermag nie. Ek het al met baie regisseurs saamgewerk wat nie ʼn gloeilamp by die huis kan omruil nie, maar die meeste van hulle het darem geweet wat ʼn lig is. ʼn

Teater is die een plek waarheen jy kan gaan en elke dag die verhoog in ʼn nuwe wêreld kan omskep. Dis soos ʼn groot legkaart wat elke dag op ʼn ander manier gebou kan word om ʼn nuwe prentjie te vorm. Jy moet net eers verstaan hoe om die legkaartstukke in jou hand vas te hou. Weer eens, hier moedig ek enige voornemende regisseur aan om navorsing te doen. Gaan vra iemand wat weet hoe die goed werk en vind uit. Jy kan met ʼn bietjie kennis baie meer waarde tot jou produksie voeg en dit soveel meer genotvol vir jou gehoor maak. As jy ʼn towerkunsie op tv sien, kan die gehoor altyd terugsit en sê dit word gedoen met redigering of een of ander kamerategniek, maar gee hul ʼn bietjie betowering op ʼn verhoog en hul gaan nagte om daaroor lê en wonder.

Met dit gesê moet ek ook byvoeg: soms is minder ook meer. ʼn Goeie regisseur moet nie dat tegniese foefies in die pad staan van goeie spel en ʼn goeie teks nie. Die tegniese sy van die produksie is op die ou end daar om dit makliker vir die akteurs te maak om hulself te verplaas, en dan hopelik die gehoor saam met hulle te neem. Weer eens word ʼn delikate simbiose benodig.


3. “Don’t toss your cookies to soon”

ʼn Ou tegnikus het altyd vir my gesê: “Don't toss your cookies to soon, otherwise the rest of the trip is all downhill.” Net soos wat die storie ʼn spanningslyn het wat opbou na die klimaks toe, so ook is dit met tegnies. As jy mense te veel “wow” aan die begin gee, gaan jy niks oor hê aan die einde nie.

ʼn Regisseur en ʼn dramaturg moet leer om met hul oë te dink. Kyk na jou produksie, visualiseer dit en laat dit dan geleidelik vloei. Die tegniese aspekte van ʼn produksie het ook ʼn natuurlike vloei, net soos woorde ʼn ritme het. Beligting is byvoorbeeld daar om die gehoor se aandag te lei, nie om hulle te verblind nie. Jou gehoor moet verlei word, nie verkrag word nie. ʼn Dosent in Politieke Wetenskappe by die universiteit het glo eenkeer vir ʼn klas wat op hom afgestorm het, gevra wat die verskil is tussen "consensual sex" en "rape". Die antwoord? “Patience.” Dis opvallend dat hoe verder tegnologie deur ons teaters versprei, hoe meer onnodige flikkerende ligte en rook sien jy. Net omdat jy beskik oor ʼn MAC 700-lig beteken dit nie jy moet dit die heeltyd gebruik nie. In ʼn goeie Tsjechof was die stiltes nog altyd belangriker as ʼn klankeffek.


4. Ken die taal!

As jy nie ʼn teaterwoordeskat het nie, moet jy onmiddellik iemand gaan vind wat wel een het en hom of haar vir jou laat tolk. Hoe kan jy skryf vir ʼn medium as jy nie oor die taal van daai medium beskik nie? Ek het onlangs met ʼn jong regisseur gesit wat nie eers weet wat ʼn proscenium is nie. Toe sy aan my probeer verduidelik wat sy wil hê, het sy na die “flyes” verwys as “die goeters wat in die dak hang” en na die “legs” as “daai plek waar ʼn mens staan en wag voor jy op die verhoog gaan.”!!!! Dit is nie elitisties om die taal van teater te ken nie; jy is nie ʼn snob as jy die verskil tussen upstage en downstage ken nie. Jy is wel ʼn poephol wat die res van ons ophou met jou onkundigheid indien jy nie die basiese terminologie ken nie. Ek wil regtig nie mense ontmoedig om teater te doen nie, maar weer eens: ʼn bietjie navorsing kan vir ons almal baie tyd en moeite spaar.


5. Onthou jou gehoor

As jou ma dink dat jy kunstig is, dan is ek bly vir jou. Doen vir haar en jou pa ʼn opvoering in die voorhuis en bly die appel van hul oog, maar spaar die res van ons. Teater is ʼn spansport. Jou opvoering is gemik op ʼn gehoor. Onthou dit! Sonder die gehoor bestaan jy nie, dan is daar niemand om voor te skryf of voor regie te doen nie. Dit beteken dat jy nie die reg het om op jou gehoor neer te sien nie, om hulle te onderskat of om hul tyd te mors nie. Jy kry nie kans om ʼn halfgat produksie op die planke te bring nie. Teater is harde werk. Dit is ʼn kunsvorm wat besig is om te sterf in ons land en ons het nodig om ons beste voetjie voor te sit om mense terug te lok na teaters toe.

Hoekom is hierdie punt enigsins relevant? Want deesdae is dit veels te maklik vir mense om ʼn opvoering vir ʼn fees in te skryf en dan is dit absolute gemors. Die arme feesorganiseerders kan ook nie orals wees om ʼn oog op alles te hou nie, so soms glip daar ʼn slegte produksie deur. Dit vat een swak show om ʼn nuwe teaterganger af te sit van teater.

Wat is goeie teater? Ek het geen idee nie. Ek dink nie enige iemand het nie, anders sou teater nie so swaargekry het nie. Swak teater kan ek jou wel iets van vertel. Dit is produksies wat morsig en swak deurdink is. Produksies wat op die planke gebring word uit selfsug. Dis lekker om vir mense te sê jy is ʼn “kunstenaar”, maar bitter min mense in die bedryf verdien daai titel. Die mense wat dit wel verdien, het hard en lank gewerk daarvoor. So as jy die grootkaas was in jou hoërskool se produksie van My Fair Lady en jy het eenkeer op Margate ʼn duet saam met Nadine “die kunstenaar” gesing, kan jy jouself gerus ʼn “performer” noem. Maar los die woord kuns vir die ou ooms en tannies wat die titel verdien het.

Mense se smaak verskil ongelooflik. Wat vir een ou ʼn lekker teks is, is vir die volgende ou kanker. En dis goed so, anders sou alle produksies maar dieselfde gewees het. Tog, harde werk en afronding geld vir alles. Om professioneel te wees het niks uit te waai met hoeveel jy verdien nie, maar liewers met hoeveel jy insit.


6. Verstaan die verskil tussen vermaak en teater

Teater moet vermaaklik wéés, maar dit ís nie vermaak nie – nie binne die Suid-Afrikaanse konteks nie. Vermaak in Suid-Afrika is deesdae die Afrikaanse sangers. Hulle is vermaaklikheidsterre. En ek sê nie daar is iets fout daarmee nie. Die verskil is eintlik baie eenvoudig. Wanneer Steve sing, weet jy tog dis Steve wat sing, selfs al sing hy Neil Diamond. Wanneer Jana Cilliers pous Johanna speel, is dit pous Johanna op daai verhoog.

Teater is die ritueel waar ʼn groep spelers ʼn storie uitspeel vir ʼn gehoor en die gehoor verplaas. Deur middel van hul spel en gebruik van teatrale effekte skep hul die moontlikheid dat wat die gehoor sien, waar is. En hierin lê die gevaar. Teater is lewend, dit gebeur regtig. Jy kort senuwees van staal om dit vir ʼn lewe te doen. Weer eens sê ek nie dat Afrikaanse vermaak nie ook moeilik is nie. In baie opsigte is dit moeiliker, aangesien die mense as hulself optree. Indien die gehoor hul verwerp, verwerp hulle die persone en nie die karakters wat hul speel nie. Weer eens kyk ons na Steve: selfs sy keuse in skoene was al gevaarlik.

Hoekom is hierdie verskil belangrik vir Tegnies? Want jy kry vermaaklikheidtegnikusse en jy kry teatertegnikusse, en daar is ʼn groot verskil. Vermaaklikheidtegnikusse is gewoonlik mense wat aan die voorpunt staan van hul gekose veld se tegnologie. Hierdie is mense wat hul storie moet ken in terme van die toerusting, aangesien die meeste van die tegniese teatraliteit oop en bloot is. As iets fout gaan, kan jy dit gewoonlik sien of hoor. Daar is selde ʼn proscenium waaragter die toerusting kan wegkruip, of ʼn akteur wat dit kan probeer toesmeer. As jy in die Velodrome iemand belig, beter jy op groot skaal kan werk en weet jy kompeteer met grootkanonne.

ʼn Teatertegnikus moet ook sy toerusting ken, maar meer as dit moet hy ʼn ingeligte opinie hê en ʼn grondige kennis van die dissipline van teater. Dit is ʼn heel ander wêreld. Sleutel tot dit is die verhoogbestuurder. ʼn Verhoogbestuurder kan ʼn opvoering maak of breek. Hy of sy is verantwoordelik vir die instandhouding en vloei van die produksie. In Suid-Afrika het dit ʼn pos geword wat telkemale gevul word met iemand se vriend wat dit net nie kon maak as ʼn akteur nie. Hierdie is ʼn groot flater. Kies die regte mense vir jou produksie. Kry professionele mense. En as jy nog nie professionele mense kan bekostig nie, vind iemand wat een wil wees.

Jy gaan nie noodwendig geld maak in die teaterbedryf nie, daarom is dit belangrik om mense te vind wat van die werk hou. Mense wat die ure wat dit verg, verstaan. Mense wat oukei is daarmee om in die skadu’s te leef. Mense wat meer soek uit die lewe as bloot die gewone 9–5.