Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Tussengebied: ’n Persoonlike keuse uit verskuilde en verbygegane gay-tekste (Deel 4)


Hennie Aucamp - 2010-08-19


In hierdie aflewering:

16. Ruth Prawer Jhabvala (1927–): “Parasites,” East into Upper East: Plain Tales from New York and New Delhi
17.Ruth Prawer Jhabvala (1927–): “Bobby,” East into Upper East: Plain Tales from New York and New Delhi
18. Ruth Rendell (1930-): “The Fallen Curtain”, Collected Stories.
19. Susan Sontag (1933-1999): “The Way We Live Now”, The Best American Short Stories, 1987.
20. Alan Bennet (1934-): “A common assault”, Untold Stories.
21. WG Sebald (1944-2001): “Ambros Adelwarth”, The Emigrants.
22. Julian Barnes (1946-): “Vigilance”, The Lemon Table.

Verhale 16 en 17

Ruth Prawer Jhabvala tel onder die groot lewende kortverhaalskrywers. Haar agtergrond is volkome internasionaal: sy is Duits van geboorte, Engels van opvoeding, en getroud met ’n Indiër. Indië is dan ook haar ander geestelike tuiste, en talle van haar romans en kortverhale speel in Indië af.

Daar was tye dat die publiek byna van haar vergeet het, omdat sy beset was met die skryf van briljante literêre draaiboeke vir die vennootskap Ivory-Merchant, maar af en toe keer sy terug na die literêre toneel as skryfster, soos met East into Upper East: Plain Tales from New York and New Delhi (1998).

Onder haar New Yorkse verhale is twee waarin gay- en lesbiese temas sentraal staan, maar met vanselfsprekendheid aangebied, soos jy van ’n wêreldburger kan verwag. In die verhaal “Parasites” is die skatryk Stella sterwende, en word ondersteun deur drie mense, Paul, vroeër ’n kelner; Annette, ’n vroeëre minnares van Stella; en Stella se niggie Dora. Almal het belang by Stella se testament.

Annette, biseksueel, of dalk doodgewoon aanpasbaar, lei die gay Paul in in die geheime van heteroseks, want só kan hy Dora verower. In ieder geval, alles loop skeef, en Dora se moeder word ontbied, wat gaan beteken dat die “parasiete” van die titel die trekpas gaan kry. Die verhaal opper ’n morele kwessie” Wie is die eintlike parasiete? Is dit nie dalk die skatrykes wat geen benul van ware lewenskuns het nie, en dit moet leer van ’n laer sosiale stand, geskool in oorlewing?

In die verhaal “Bobby” neem twee ou skoolvriendinne dit na jare weer op met mekaar. Dié vriendskap ontwikkel in ’n lesbiese verhouding, al het beide ’n heteroseksuele verlede. Al beletsel is Claire se beeldskone maar hoogs ongebalanseerde seun Bobby. Dikwels gaan die vriendinne na die platteland, waar Madeleine ’n huis het wat sy van haar ouers geërf het. Hul naweke is idillies, behalwe wanneer Bobby by is; hy neem alles oor, bowenal met sy ondraaglike harde musiek. Uiteindelik blyk dit dat Bobby seks met sy ma het en haar dikwels aanrand. ’n Mindere skrywer sou Madeleine op vlug laat slaan het, maar nie Jhabvala nie. Claire neem Madeleine na die slapende Bobby. Die verhaal eindig só:

“He’s certainly nice-looking,” admitted Madeleine. “Isn’t he?” proudly smiled Claire. The two of them were holding hands as they stood looking down at him, their attitudes almost reverent.

Jhabvala maak haar vir geen oomblik skuldig aan stereotipering nie. Hiermee eggo sy ’n uitspraak van Martina Navratilova: “Tags are for clothes, not for people.”

 

Verhaal 18

Ruth Rendell is ’n meester van die misdaadverhaal, en talle van haar misdaadverhale is hoogs suksesvol verfilm. Maar sy is ook ’n skitterende kortverhaalskrywer, soos haar Collected Stories (2007) opnuut bewys het.

Die heel eerste verhaal in hierdie bundel, “The Fallen Curtain”, is ’n unieke bydrae tot die gay-genre. Dit gaan om kindermolestering – of beter gesê, vermeende kindermolestering – en dis wat dié verhaal so geheimsinnig, byna sprokiesagtig maak.

’n Jong seun, Richard, rondom ses jaar oud, word deur ’n vreemde man opgelaai en na ’n afgeleë bos geneem. Wat tussen Richard en die Man – want dis soos hy dwarsdeur die verhaal heet – gebeur het, bly ’n misterie vir Richard se familie, veral vir Richard self, wat voel asof daar ’n gordyn geval en sy hele ervaring geblokkeer het. Ja, vir twaalf jaar lank het Richard werklik nie geweet wat met hom gebeur het as kind nie. Dan ry hy met sy motor na waar sy ouma vroeër gebly het en by wie hy Woensdae gekuier het. Op ’n rommelwerf is ’n seuntjie Barry, omtrent agt jaar oud. Richard laai hom op en neem hom na die bos waarheen die Man hom jare vroeër geneem het. Hý is nou die Man, die seuntjie Barry sý prooi. Tussen hom en Barry is daar dieselfde kameraderie as dié tussen hom en die Vreemdeling van jare gelede. En skielik weet hy wat toe gebeur het. Hy was baie ná aan sy dood, net soos sy eie vingers nou jeuk om te sluit om die jong keel van Barry. Hy neem Barry na veiligheid en sê: “Don’t ever take a lift from a Man again. Promise me?”


Verhaal 19

Susan Sontag (1933-1999) se epogmakende verhaal “The Way We Live Now” het op 24 November 1986 in The New Yorker verskyn, ’n seminale verhaal oor VIGS, sonder dat VIGS (Aids) een maal by die naam genoem word. Dit is herdruk in The Best American Short Stories, 1987, en dis waar ek dit die eerste maal gelees het. Daarna het dit in John Updike se bloemlesing Best American Short Stories of the Century (1999) verskyn.
Vreemd genoeg het dit nie in die standaard-gaybloemlesings van Edmund White, Mark Mitchell, David Leavitt en Alberto Manguel verskyn nie, waarskynlik vanweë kopieregredes. Wel het Sontag verlof gegee dat dit eenmalig as bibliofiele uitgawe in Brittanje verskyn, met ses etsplate van Howard Hodgkin, ten bate van VIGS-liefdadigheidsorganisasies in Amerika en Engeland.

David Leavitt, gay skrywer, word aangehaal deur Carl Rollyson en Lisa Paddock in Susan Sontag: The Making of an Icon, waar hy van Sontag se verhaal “The Way We Live Now” sê: “(it) transcended horror and grief, and ... was therefore redemptive, if not of AIDS itself, then at least of the processes by which people cope with it ...”

Daar is ses-en-twintig sprekers in “The Way We Live Now” – net soveel as wat daar letters in die alfabet is – en só word ’n deursnit van ’n gemeenskap gesuggereer, elke spreker met ’n eie gesigspunt. Die enigste spreker sonder stem is die siek man. Die slotsin suggereer iets soos hoop, iets wat ook deur Howard Hodgkin se blymoedig-gekleurde etsplate opgevang word: “‘He’s still alive,’ Stephen said.”

Verhaal 20

Alan Bennett is ’n geliefde hoofstroomskrywer in Engeland wat algaande meer nadruklik oor gay-aangeleenthede begin skryf het, en dit met volle goedkeuring van sy kultuurgemeenskap. Hy is vir die Britte wat Hockney in die skilder- en tekenkuns is, en Elton John in populêre musiek; nie gay in die eerste plek nie, maar embleme van Britsheid. Kortom: volksbesit.

Bennett se toneelstuk The History Boys was ’n groot sukses in Londen en in New York, en is ook ’n groot sukses as film en op DVD, ondanks die sterk gay-inslag daarvan. Of dalk juis daarom.

Maar wanneer dit by sy verhale kom, is ’n keuse nie so maklik nie. Die uitgesponne verhaal “The Laying on of Hands” is darem alte voorspelbaar in eie terme, en die komiese meesterstuk “The Uncommon Reader”, ’n kortverhaal van 121 bladsye, is te lank vir standaard-bloemlesings. “The Uncommon Reader” speel natuurlik in op The Common Reader van Virginia Woolf, en herinner ’n mens ook aan Bennett se televisiestuk, Me, I’m Afraid of Virginia Woolf.

Maar vir Elizabeth II, die heersende monarg van Engeland, is hy kennelik nie bang nie. In “The Uncommon Reader” is dit ’n nederige gay kombuisjonge in die paleis wat die koningin daartoe bring om te begin lees – dikwels gay skrywers, van Proust tot Genet. Wat Bennett regkry, is wat ook die superieure aktrise Helen Mirren op die filmdoek reggekry het: ’n vermensliking van die strak Elizabeth II. As dit van Bennett en Mirren afhang, sal ook die huidige koningin as “Good Queen Bess” onthou word.

Watter Bennett-verhaal moet dan in my bloemlesing kom? Die een te wydlopig, die ander te lank. My keuse, maar met voorbehoude, is “A Common Assault”, opgeneem in Alan Bennett: Untold Stories.

Die verhaal begin waar Bennett in ’n slaperige Italiaanse kusdorpie behandel word vir ernstige wonde ná ’n onverklaarbare aanranding. Hy en sy jonger vriend het nie gaan “cruise” soos die polisie onmiddellik besluit het nie, want hy is te bestorwe om te “cruise”, soos Bennett met kenmerkende humor verduidelik. Wat ’n mens bybly, is die barbaarsheid van die aanval, wat maklik tot Bennett se dood kon gelei het, en die ironie dat ’n nie-“cruiser” veroordeel word weens ’n misdaad wat hy nie begaan het nie.

Bennett verryk sy verhaal met aanvullende vertellings omtrent soortgelyke rampe wat hom al getref het, en byna altyd rondom sy verjaardag. Die geheel is egter te uitgesponne, en die lang voetnoot op bladsy 573 kon maar gebly het.

Nou waarom sluit ek “A Common Assault” tóg in? Om die onweerstaanbare Engelsheid van die Bennett-persona, en sy verruklike sinne, wat ’n Churchill en ’n Virginia Woolf waardig is.

 

Verhaal 21

Winfried Georg Maximilian Sebald (1944–2001) het soos ’n komeet aan die literêre hemel verskyn en sy duur, nes dié van ’n komeet, was beperk, want hy is voortydig in ’n motorongeluk oorlede.

Van Sebald kan sonder aarseling gesê word dat hy uniek is; uniek in sy versnyding van dokumente, wat foto’s insluit, en fiksie; uniek in sy versnyding van outobiografie en biografie. Een van die beskaafdste en subtielste gay-verhale in die wêreldletterkunde is van sý hand, naamlik die lang kortverhaal “Ambros Adelwarth” wat in sy bundel The Emigrants opgeneem is.

Die verteller in “Ambros Adelwarth” is ’n Duitser wat op Proustiaanse wyse afreis na vreemde plekke, bowenal Amerika, om sy familie wat geëmigreer het, op te soek. Hy is veral geïnteresseerd in sy oom Ambros Adelwarth wat hy net een maal as kind in Duitsland gesien het. Nou volg hy op Adelwarth se spoor, eers in Europa, dan in Amerika, dan in Griekeland; soms werklik, soms aan die hand van Ambros se aantekeninge op sy reise.

Ambros Adelwarth se lewe verloop ’n bietjie soos dié van die perfekte kelner in die gelyknamige stuk in hierdie bundel, maar anders as Erneste mik hy hoër, of dalk het die lewe net beter kaarte aan hom besorg. Nadat Ambros in Switserland opgelei is as kelner, nes Erneste, werk hy by die Savoy Hotel in Londen. Hier begin sy professionele verhoudings ligtelik erotiese tinte aanneem, eers met “the lady from Shanghai”, toe met ’n Japannese delegasie. Die konsul, ’n ongetroude man, neem Ambros na sy droomhuis op ’n meer naby Kioto. Ambros is deels kamerheer, deels gas; kortom, minnaar. Die twee jaar op die meer was van die gelukkigste periodes in sy lewe. Daarna is hy Amerika toe, waar hy in diens van die miljoenêr Solomon was, en in die besonder die oppasser – lees ook: minnaar – van jong Cosmo Solomon.

Dit is die verteller se oom Kasimir wat ongeërg aan die verteller sê: “Of course ... he was of the other persuasion, as anyone could see, even if the family always ignored or glossed over the fact. Perhaps some of them never realised.”

Baie lesers, vrees ek, gaan óók nie agterkom dat Ambros gay is nie. Die enigste verklappende oomblik is waar Cosmo, op sy en Ambros se Turkse reis, spesiaal teruggaan na ’n sekere hawe waar hy ’n professionele foto van ’n beeldskone twaalfjarige derwisj laat neem. As Cosmo openlik geïnteresseerd is in manlike skoonheid, dan ongetwyfeld ook Ambros.

Die erotiek in “Ambros Adelwarth” is volkome onderverkoeld. Dit slaan net deur in Ambros se koesterende beskrywings van Griekeland, Turkye en al die vreemde plekke wat hy en Cosmo besoek het en waar hulle besonder gelukkig was.

Cosmo raak versteurd en gebroke tydens die Tweede Wêreldoorlog, en moet uiteindelik na Ithaca, ’n inrigting digby New York, waar hy spoedig sterf. Ambros kwyn, en op ’n dag meld hy homself aan as pasiënt in Ithaca. Die simboliek van die pleknaam is nie mis te lees nie: ’n uiteindelike tuiskoms.

Wie geïnteresseerd is in die homoërotiese element in Sebald se werk, kan gerus ook kyk na “Dr Selwyn” (The Emigrants) en die geskiedenis van Matthaeus Grünewald, biseksuele Duitse skilder en grafiese kunstenaar van die vyftiende en sestiende eeu, opgeteken in After Nature.

 

Verhaal 22

In Julian Barnes se kortverhaalbundel The Lemon Table is daar ’n urbane verhaal, “Vigilance”, wat hom eers halfpad as ’n gay-verhaal aanmeld. Hierdie verhaal, wat oorwegend in die Royal Festival Hall in Londen afspeel, het min eweknieë binne die Engelse gay-tradisie; waarskynlik net “May we borrow your husband” van Graham Greene. Dis geestig, dis gekultiveerd, maar met heerlike banale oomblikke wat die gefrustreerde ek‑verteller telkens ontmasker. Hy moet helaas alleen na musiekuitvoerings gaan, want sy gewese minnaar, Andrew, het tydens ’n musiekuitvoering ontdek dat die verteller seksuele onderhandelings met ’n jonger man probeer aanknoop het. Andrew straf sy minnaar op twee maniere. Nie alleen gaan hy nie meer saam met die verteller na musiekuitvoerings nie; hy deel ook nie meer sy bed en slaapkamer met die verteller nie. Verder gaan hulle “huwelik” rustig voort.

“Vigilance” is in baie opsigte verfrissend. Die verteller en sy lewensmaat is rondom sestig en voer die “gay but gray”-brigade spontaan in hoofstroom-letterkunde in. Ook knoop dit ’n gesprek met ’n ander verhaal in The Lemon Table aan, naamlik “The Silence”, wat oor Sibelius handel, ’n komponis wat byna obsessioneel was oor stilte. In dié verhaal, wat swaar steun op Sibelius se dagboeke, sê die komponis: “My music is molten ice. In its movement you may detect its frozen beginnings, in the sonorities you may detect its initial silence.”

Met hierdie reëls in die gedagte kry “Vigilance” ’n ekstra dimensie. Jy besef dat die verteller gefrustreerd is omdat hy nie meer konserte met sy lewensmaat mag deel nie, en dié frustrasie afreageer in woede oor die geringste geluidsteurnisse in die konsertsaal. Terselfdertyd word “Vigilance” ’n hoogs tydige pleidooi vir hoflikheid en bedagsaamheid teenoor ander in die konsertsaal.

*

Dit was dan ’n aanduiding van die verhale wat ek in my denkbeeldige gay-bloemlesing “Tussengebied” sou wou insluit, en waarom dit in elke verhaal gaan.

My soektog na verhale wat nie spesifiek op ’n gay-mark gerig is nie, het groot verrassings opgelewer, bowenal esteties, wat dié vraag laat ontstaan: Is skrywers wat te markgerig skryf, nie besig om hulself aan bande te lê nie, tegnies en op gewoon menslike vlak?