Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Annie Klopper: Rockjagter

Oppikoppi 2010: Glimlagte, tromslae en narkotika


Annie Klopper - 2010-08-18

Daar is slegs een ding moeiliker as om Oppikoppi te probeer beskryf aan iemand wat nie daar was nie, en dit is om Oppikoppi te probeer beskryf aan iemand wat wel daar was. Hier verwys ek nie slegs na die effek van drank, dwelms, dodgy shwarmas, stof, son en musiek nie, maar ook na die verskillende perspektiewe van die rekordgetal sowat 16 000 mense wat hierdie jaar tussen 6 en 8 Augustus opgedaag het vir die grootste (en waarskynlik mees legendariese) musiekfees in Suid-Afrika.

Dit sal mos nou juveniel wees om te dink dat my enkele oogpunt – nugter, agter ’n kameralens en tot onlangs ’n Oppikoppi-maagd – ’n fees van hierdie kaliber sal kan vasvang. Daarby, moet ek bieg, was ek varser as die algemene feesganger/geesvanger. Die vriendelike organiseerders het gesorg dat ek my OCD kon vertroetel deur elke dag my hare te kan was en goeie nagrus te kry in ’n rondawel op die koppie. Van daar bo lyk die hoofkampeerterrein soos District 9: prawns everywhere. En met prawns bedoel ek daardie rooigebrande kreature in vreemde uitrustings wat kommunikeer in ’n taal wat slegs hulle kan verstaan. I’m not judging. Dit was ’n asemrowende gesig en een wat aan Oppikoppi die flair gee waarvoor dit die afgelope sestien jaar bekendheid verwerf het: allesoortige geesdriftiges trek jaarliks in hul hordes op om te laat gaan tydens ’n naweek van glimlagte, tromslae en, vir sommiges, narkotika. Meesleurende musiek op die koop toe.

My saggeaarde Kaapse neus was nie gereed vir die stof en droë lug nie, maar R10 vir sinuspille in die middernagtelike ure by die medics-tent is ’n klein prys om te betaal vir ’n onvergeetlike atmosfeer gevul met kunstenaars soos Billy Talent, Jack Parow, C-mon And Kypski, Gemma Ray, Die Heuwels Fantasties (wie se voorsang die naweek ongelukkig minder fantasties was), Van Coke Kartel, Taxi Violence, Zebra & Giraffe, Straatligkinders, The Narrow, Haezer, New Holland, Hot Water, Flash Republic, Yesterday’s Pupil, Southern Gypsy Queen, Gang Of Instrumentals, Dance You're on Fire en Wedding DJs.

Persoonlike hoogtepunte sluit in:

Elke keer wat ek na een van die verhoë kon stap deur ’n groeiende, afwagtende gehoor en die aarde kon voel skud net soos die eerste noot van die volgende band val. Die terloopse hoor van brokkies dialoë en monoloë van kleurvolle karakters – soos die ou wat reeds vroeg die Vrydagmiddag op sy eentjie onder ’n doringboom gelê het terwyl hy oor en oor treurmarig sing: “Ek wil huis toe gaan na Mamma toe.” (’n Gesang wat op die dowe ore van raserige, dansende meisies in bikini’s onder die boom langs hom geval het.) Of die dialoog van twee manne wat later die aand teen die koppie, onderweg na die boonste kroeg, ’n intense gesprek oor die onverstaanbaarheid van die meeste Afrikaanse woorde gevoer het: “Nee, maar kyk, ek hou van Afrikaans. Die ding is net, ek verstaan die helfte daarvan nie. Ek verstaan dit net nie. Wat is dit? Wat is Afrikaans?” Dan was daar die manier hoe ek die lekker, rou, klipharde beats van Haezer by die Red Bull-tent tot in my slukderm gevoel vibreer het. Die hoendervleis toe Francois van Coke, Jack Parow, Bok van Blerk en Pierre Greeff almal saam “Die meeste mense is maar lekker zef” gesing het tydens die Valiant Swart Tribute Show op die Sondag, met Carel Hoffman, Oppikoppi se “president for life”, wat nonchalant in ’n blommetjiekostuum rondgestap het en in dieselfde kostuum aan Valiant ’n eretoekenning oorhandig het.

Ek kon ’n paar keer my oog van agter my lens wegdraai en verslae omkyk na die gehoor, wat soos ‘n eenheid aan ’t bons of saamskree was. Die gemoedelike samesyn het ek veral gevoel tydens die sets van The Narrow, Blk Jks, Billy Talent en Jack Parow, maar iemand anders het dit dalk gevoel tydens een van die metal bands waarna ek nie eers gaan kyk het nie, tydens ’n filosofiese gesprek met vreemdelinge langs ’n braaivleisvuur, of ’n vuil, anonieme vry tussen hooibalies. Iéwers sou jy dit in elk geval kon voel. Ek is seker selfs die treurende eensame cowboy onder die doringboom van die Vrydagmiddag het later in ’n moshpit vergeet dat hy wou huis toe gaan na Mamma toe – dalk selfs dat hy ’n mamma het.

Klik hier om Annie se feesfoto's te beleef.