Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Wild en wakker is un-PC boeremusiek, ’n lekker musikale toffie om aan te kou


Leon-Ben Lamprecht - 2010-08-18

Wild en wakker
Valiant Swart en Ollie Viljoen

Klik hier en koop Wild en wakker nou by Kalahari.net.


It’s not due to lack of trying. Ek meen, in baie opsigte is die tradisionele fantasties. Dink maar aan melktert, byvoorbeeld.

Maar tradisionele boeremusiek het my nog nooit aangegryp nie.

Wag, laat ek verduidelik.

Daar was nooit ’n tekort aan klassieke of boeremusiek in my grootwordhuis nie. My ma, kranige musiek-onnie, het gesorg vir eersgenoemde (als van Mozart en Beethoven tot meer obskure – vir my in elk geval – komponiste soos Debussy).

My pa, weer, het ’n liefde vir die donkielong. “Kom ons met die rooispan van Bredasdorp aan”, met daai bryende r’e van oom Manie Groenewald se Baardskeerdersbosboereorkes, roep nou nog by my visioene van ’n braaivleisvuur tydens Desember-vakansies op Mosselbaai op.

Maar ten spyte van jare se (onbedoelde?) breinspoeling het nie een van dié twee breë musiekstyle ooit regtig houvas op my gekry nie. Sure, ek het bietjie geëksperimenteer op varsity met Beeskraal, maar ek het nooit byvoorbeeld die back catalogue van die Klipwerf-boereorkes gaan naspeur nie.

Nouja, noudat die agtergrond geverf is, kom ons kom by die eintlike punt van dié skrywe. Sien, die Mystic Boer, Valiant Swart, en oom Ollie Viljoen span weer kragte saam vir ’n rock ’n roll-en-boeremusiekalbum. Dié slag heet hy Wild en Wakker (hulle hou skynbaar van allitereer, want 2007 se album was Vuur en Vlam). ’n Gedugte span is te hoor op dié 14-snit-album. Benewens die twee groot name is hier onder meer ook Pietman Geldenhuys (hy sing op drie snitte), Schalk Van der Merwe en Vernon Swart.

En ek moet bieg, ek was aanvanklik baie skepties. Selfs gedink dis dalk effe gimicky. Maar ek hou toe nogals op die ou end daarvan. Dis ’n diverse album wat die lyn tussen genres fyn bewandel. Soms is die tong lekker in die kies, soos in “Kraaibraai”, waarmee die album afskop.        

Die lekker fyn gespot is veral op sy beste op “Die Wyntannies” (oor vier tannies wat die sanger probeer verlei “by ’n sewester-oord” – “die witwyntannie met die sweetpakbroek/ die rooiwyntannie wat so lekker kan vloek/ die brannewyntannie met die Krismiskoek/ die soetwyntannie met die Weskussnoek”).

Hy kry dit mooi reg om in die bestek van slegs drie minute ’n storietjie te vertel.       

So ook op die titelsnit, “Wild en Wakker”. Hier tjoen Swart jou van ’n “rowwe rabbedoedie rakker”, “gestraf  met die liefde van ’n loskopklong”. Hy skets die toneel lekker:

Sy’t ’n winkelhaak op haar regterwang
En ’n regte egte tattoo van ’n ratelslang
Op haar dimpels net so duskant die denimbroekielyn
Ry ’n meermin bloots op ’n blou dolfyn
Daar’s ’n datum en ’n naam en ’n dolk daarby
Sy’t haar tramp stamps sommer nog op skool gekry

Tussendeur speel oom Ollie sy akkordeon, asof om te punktueer wat Swart probeer sê.

Op die instrumentele nommers hoor mens die diverse aard van oom Ollie se gekose wapens. Die opgewekte (en tradisionele) “Konsertina”, byvoorbeeld, herinner aan ’n boere-opskop iewers in ’n plaasskuur ná die dorp se landbouskou.

“Hemel en aarde”, weer, is meer stadig, met (vir my, in elk geval) ondertone van Parys, Frankryk (of dalk die Hollywood-beeld daarvan), en so ’n titseltjie tango in.

Hier is ook tradisionele liedjies wat kop omgekeer word (“Boegoe-Baba-Roksak” en vernaam “Olé die boere”, waar die bekende “Hoe ry die boere sit-sit-so” ’n Spaanse jurk aankry).

Vir my was dit ’n lekker musikale toffie om aan te kou vir ’n week of drie. Ander gaan weer voel dit het hulle lewe verander, terwyl ander bloot skouers sal ophaal en sê “meh”.

Maar dit sou die punt mis.

Die album is op die ou end, baie soos Vuur en Vlam, een waar aanhangers van rock ’n roll en boeremusiek op gelyke grond is en die genres kan waardeer vir wat hulle is, eerder as om neus-in-die-lug te voel “my pa is sterker as jou pa”.

Sien, dis un-PC boeremusiek wat eintlik maar ’n fok voel vir PC wees. En het ons nie almal al genoeg gehad van PC nie?