Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

Kies gesond: Resepte vir elke dag bewys gesond kan lekker wees ook


JB Roux - 2010-08-17

Kies gesond: Resepte vir elke dag
Carolié de Koster
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799652796
Prys: R197.95

Klik hier en koop Kies gesond: Resepte vir elke dag nou by Kalahari.net!

 

Die Boerevolk is nou eenmaal lief vir lekker eet, en met oorgawe. Veral met Sondae of feesdae is ons tafels volgepak met braaiboud, bruingebraaide hoenders, gebakte aartappels, geelrys, groente wat met lepels botter en suiker omgetower is tot iets fenomenaals. En moenie vergeet van ons voorliefde vir stroopsoet, gebakte poedings met ’n ryk sousie nie!

As ons die slag gaan uiteet, is dit eerder ’n dik steak met ekstra chips as ’n stukkie vis of ’n slaaitjie.

Miskien het dit iets met ons plaasagtergrond te doen, toe daar geen tekort was aan vleis, eiers en vars plaasgroente nie. En vir ons as Calviniste is lekker kos die één dekadensie waaraan ons ons kon vergryp sonder om skuldig te voel. Trouens: om nie jou bord leeg te eet en te vra vir ’n tweede skeppie soetpatats of nog ’n stukkie vleis nie, is dikwels vertolk as ’n gebrek aan respek vir wie ook al ure lank voor die stoof gestaan het: Ma voel beledig en Ouma pink dalk ’n traantjie weg. As jy één aartappel oorslaan, word daar gewonder of daar fout is met jou eetlus en of jy dalk iets “onder lede” het. Kinders en kleinkinders van twee tot twee-en-vyftig is altyd ’n bietjie te maer en ’n gawe verskoning vir Ma of Ouma om die moue op te rol en ’n voorskoot om te bind.

Maar dinge het verander. Dis vir ’n jonger geslag al hoe makliker om Sondae laat te slaap pleks van kerk toe te gaan, of om “oor die tou te trap” (soos Ouma dit so pikant gestel het); en om ’n gim-sessie oor te slaan of te lekker of te veel te eet, lei tot verlammende skuldgevoelens. Ons het gesondheidsbewus geword. Stysel en rooivleis word tot die minimum beperk; botter, suiker en eiers ook.

Wat bly oor? Gestoomde vis, hoender sonder die vel, groente wat net so effentjies gekook of gestoom word? Gesond eet en lekker eet hoort nou eenmaal nie onder dieselfde kombers nie.

Of dalk tog. Carolié de Koster, eienaar van ’n kosskool en gastehuis en ’n vrou wat wéét van kosmaak, het pas tot ons redding gekom met Kies gesond vir elke dag. Dié boek, in groot formaat en op glanspapier gedruk, bevat 200 laevetresepte en bewys finaal dat ’n mens, met ’n bietjie moeite, gesond én lekker kan eet.


Carolié het ver “gereis” om hierdie resepte byeen te bring, maar die geregte is nie té eksoties nie en baie het ’n Suid-Afrikaanse geurtjie. Daar is Thaise rooikerrie-viskoekies, botterskorsie- en biltongpatee, carpaccio, visbobotie, ’n Mediterreense hoenderpot met uie en rosyne. Al die resepte is aangepas vir ’n gesonde leefwyse, sonder om kleur of geur in te boet.

Happies en voorgeregte, sop en ligte etes, hoofgeregte, bygeregte en slaaie, nagereg en gebak – dis alles hier. Met dié boek is dit maklik om ’n driegangmaaltyd te beplan en ’n plesier om te onthaal. Die kleurfoto’s is pragtig gestileer en word aangevul met allerlei wenke en voorstelle vir variasies.

Daar is heelwat resepte vir volstruis- en wildsvleis, wat minder cholesterol bevat en hier in Suid-Afrika maklik bekombaar en betreklik goedkoop is. Suid-Afrikaners trek dikwels hul neuse op vir kalkoen, maar De Koster bring ons tot ander (gesonder) insigte. Eend en lamsvleis bevat so baie cholesterol dat mans bo veertig soms voel hulle gaan ná ’n enkele happie morsdood neerslaan, maar hierdie boek wys ons hoe om dit so gaar te maak dat daar nie ’n koue angssweet op jou voorkop uitslaan wanneer jy jou vurk na jou mond lig nie.

Carolié de Koster bewys dat selfs slaaie en bygeregte reeds op die oog af die mond kan laat water. Kies gesond is ’n móét in die kombuis van elke gesin wat geteister word deur hoë cholesterolvlakke, vetsug en ’n ingebore weerstand teen ’n bord vol slaaiblare met ’n enkele stukkie gestoomde vis.

Aartappel-en-groente-mengsel
Lewer 6 tot 8 ruim porsies

500 g aartappels
1–2 medium, vars suikermielies (opsioneel)
50 g / 50 ml botter of margarien
2–3 swoerdlose spekrepies (opsioneel)
1 klein ui, grof gekap
3 ml gekapte of gekneusde knoffel (1 klein huisie)
OF
2 ml knoffel-en-kruie-geursel
30 ml fyngekapte rooi soetrissie
3 grasuie
125 ml vars of bevrore ertjies, liggaar
3 ml sout
gemaalde swart- of gemengde peperkorrels

  1. Kook die aartappels in die skil tot net gaar, maar nie sag nie. As dit te lank gekook word, bederf dit die voorkoms van die gereg. Spoel onder koue water af en laat afkoel. Skil en sny in netjiese blokkies.
  2. Kook die suikermielies tot gaar, laat afkoel en sny die pitte af.
  3. Verhit die botter of margarien in ’n vlak kastrol oor matige hitte en roerbraai die spek, ui, knoffel of knoffel-en-uie-geursel en soetrissie ’n paar minute saam.
  4. Voeg die aartappels, mielies, grasuie en ertjies by, roerbraai ’n paar minute, geur na smaak en bedek gedeeltelik. Verhit tot deurwarm.

Variasie
Aartappel-, ui- en sampioenmengsel. Laat die suikermielies en ertjies weg en voeg 250 g wit knopiesampioene, gewas en in skyfies gesny, by die spekmengsel.