Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate

Die Amsterdamse tafelronde oor Afrikaans: twee maande later


Rudolf Stehle - 2010-08-12

Met twee maande wat reeds verloop het sedert die Amsterdamse tafelronde oor Afrikaans op 28 Mei vanjaar het Rudolf Stehle by van die deelnemers gaan hoor wat hulle indrukke van die konferensie was. Hy het hulle ook gepols oor die vordering van samesprekings met potensiële vennote.

Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) op Stellenbosch meen die konferensie het in ’n baie goeie gees plaasgevind. “Daar was opregte belangstelling in die aktiwiteite en behoeftes van die Afrikaanse organisasies wat deelgeneem het.” Botha sê Ingrid Scholtz van Afrinetwerk het inligtingstukke van die WAT aangevra om aan potensiële vennote te gee, maar niks konkreets is nog verneem nie. “Ek het een van die deelnemers besoek met die oog op ondersteuning, maar ek is na 'n derde party in Suid-Afrika verwys.”

Alana Bailey van Afriforum meen dat daar groot vordering gemaak is sedert die eerste rondetafelkonferensie oor Afrikaans in Antwerpen in Mei 2009. “Die bande wat toe gelê is, het duidelik hegter geword en ek ervaar ook meer vertroue en empatie van die Nederlanders en Vlaminge met Afrikaans en ook met die deelnemende Afrikaanse organisasies. Dit bewys weer dat wedersydse vertroue en samewerking net oor tyd opgebou kan word, en nie ryp gedruk kan word nie.” Bailey meen dat die feit dat die Nederlandse ambassadeur in Suid-Afrika die konferensie bygewoon het, ’n aanduiding is van “die vlak waarop die gesprekke nou plaasvind, danksy die harde werk van Afrinetwerk se Ingrid Scholtz en die res van die organiseringskomitee”.

“Ons is tydens die konferensie al genader deur verskeie organisasies wat graag sal saamwerk, maar die spesifieke projekte of vorm wat die samewerking gaan aanneem, sal nog mettertyd uitgesorteer moet word,” sê Bailey.

Jef Valkeniers, ’n Belgiese politikus, meen dat daar te min aandag aan die oprigting van die Vrye Afrikaanse Universiteit op die konferensie bestee is. Die samewerking van Vlaandere en Nederland met Suid-Afrika is volgens Valkeniers nog in die beginstadium. “Ik heb Mevr Scholtz een dubbel opgestuurd van het samenwerkingsakkoord Vlaanderen Zuid-Afrika. In dit princiep akkoord staan heel wat mogelijkheden vermeld voor een meer intensieve samenwerking. Alleen moet een Vlaamse of een nationale Zuid-Afrikaanse Minister de punten op de dagorde zetten van de volgende bilaterale besprekingen die om de twee jaar afwisselen plaatgrijpen in Brussel en Pretoria.”

Wannie Carstens van die Afrikaanse Taalraad was baie positief oor die Amsterdamse byeenkoms, hoofsaaklik omdat dit die gesprek ook na Nederland uitgebrei het en nuwe rolspelers betrek het. “Só groei die deelnemers aan die konsultasie- en inligproses, en dit kan daartoe lei dat ons op langer termyn groter steun sal kry.”

Carstens beklemtoon dat dit 'n proses is wat lank gaan neem om tot volle rypwording te kom. “As ons egter nie daarmee begin het nie, dan kon ons nie op die langer duur die vrugte pluk nie. 'n Langtermynstrategie is nodig en ons durf nie te haastig wees of selfs eise stel nie, juis omdat die deelnemers vrywillig hierby betrokke is. Ons moet daarom volhou met die inlig- en oortuigproses om seker te maak dat alle potensiële deelnemers en medewerkers weet waarmee ons besig is en wat ons planne daarmee is.”

Volgens Carstens is hy nie bewus van formele terugvoer vanuit Nederlandse of Vlaamse geledere tot dusver nie, maar hy “weet dat die voortsettingskomitee al vergader het en planne geformuleer het met die oog op die toekoms. Wat ek daarvan weet, is dat dit prakties sin maak en die proses vorentoe mooi sal stuur.”

Koen Pauli, ’n lid van die voortsettingskomitee en bestuurder van die Marnixring, meen dat die opkoms by die konferensie, veral van die oggend tot en met die middagete, “zeer voortreffelijk” was. Volgens Pauli het “steun aan het Afrikaans op verschillende wijzen” soos ’n goue draad deur die konferensie geloop. Hy noem dat baie Nederlanders en Vlaminge die dag spesiaal by die werk verlof moes neem om die dagkonferensie by te woon. Daarteenoor “waren er tal van prominenten aanwezig, sommigen hebben hun komst uit Suid-Afrika verlengd of gewijzigd om te kunnen aanwezig zijn. Ik vond dit zeer positief.

“Uiteraard ken je een aantal deelnemers en is het een blij weerzien, het is dan weer goed dat je ook nieuwe mensen leert kennen, zo breidt de kenniskring alleen maar uit. Terecht werd er een ‘opvolgingscomité’ ingesteld om na de woordenvloed van die dag concrete resultaten pogen te bereiken,” sê Pauli.

Volgens Pauli is daar voorlopig nog geen konkrete resultate in terme van nuwe vennootskappe met die Manrixring nie, maar dit kan deels toegeskryf word aan die volgende faktore: Eerstens het die Wêreldsokkkerbeker kort na die konferensie afgeskop en dit het ongetwyfeld die daaglikse roetine van mense omvergewerp. Hierbenewens bevind Nederland en Vlaandere hulle in die middel van die lang Europese somervakansie, waartydens werksaktiwiteite ’n laagtepunt bereik. Pauli verwag dat samesprekings vanaf September weer behoorlik op dreef sal kom. “Uiteraard verwacht ik nog verdere resultaten en als lid van het ‘opvolgingscomité’ zal ik weldra ook een gesprek hebben met Ingrid (Scholtz)en Joris (Cornelissen).”

Volgens Pauli sal die deelnemers aan die konferensie herinner word aan hulle afsprake en ondernemings en die resultate sal eweneens aan elkeen meegedeel word. Hy is ook tans besig met planne vir ’n tweede feesdag in Antwerpen of Vlaandere wat uiteindelik as aanvulling sal dien tot die Afrikaanse Fees wat tans vir April 2011 in Nederland beplan word.