Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Resensies | Reviews

Waiting for Godot ’n ervaring wat jy gelykskat aan die Wêreldsokkerbeker


Albert Maritz - 2010-08-11


Waiting for Godot deur Samuel Beckett
Regie:
Sean Mathias
OR Thambo Sports Centre, Khayelitsha
Met: Ian McKellen, Roger Rees, Matthew Kelly, Brendan O’Hea en Khathutshelo Khangala

Hoe lekker as die energieë in die lug ’n vars briesie is.

Toe ons in die weermag was, kry ek die middag my 32 Bataljon buddy, Andrew, met sy 14-dae-pas van die grens af, in die kamp by Wynberg, waar ek gewoon het. Ons vang die bus, en met die busrytye is ons drie minute laat by The Baxter. En hulle laat ons nie ingaan nie. Daar mis ons Waiting for Godot met John Kani.

Op universiteit, so twee jaar later, skryf ek ’n werkstuk oor Waiting for Godot.

Dieselfde jaar, met die karnaval, gaan sit ek en Andrew by die dam bo Coetzenburg, met ’n kan Tassenberg, en trotseer die snikhete son langs die klein blaarlose boompie. Met ons eerste dop verklaar ons dit die boom uit Waiting for Godot, en ek en hy is die karakters. Ek dink ons het verdwaal en Godot self geword, want ons het later weliswaar afgewyk en besluit dat as die karnaval nie na ons toe gaan kom nie, gaan ons na die karnaval toe. Ons het nie op ons laat wag nie.

Nou die dag mis ek die Kaapse opvoering van ’n paar oudkollegas, tot my innige spyt. Maar ek hoor Graham Weir se Lucky was beter as dié van die oorsese geselskap.

En vanaand lê die sterre mooi, en ek beland in die OR Tambo Sports Centre, Khayelitsha, vir hul opvoering van Waiting for Godot.

En terwyl ek my sit en verknies in die spel op die verhoog, gaan my gedagtes na die vraag: Wat maak so ’n stuk iets so groots? Dat dit bly voortbestaan, soos ander klassieke stukke? Dat ouens soos ek en Andrew met wyn, in die natuur, vir ons ’n boom aanstel as dekor en die klassieke teks besing? Die legende het seker begin met ’n baie goeie produksie (wat inderdaad Peter Hall se regie was). ’n Goeie vervaardiger/regisseur kan selfs van ’n middelmatige teks ’n sukses maak. Maar die teks sal nie ander regisseurs sommer oorleef nie. Waiting for Godot oorleef al sedert 1955. En hoeveel mense wat sedertdien moes hoor hulle maak skande, kon nie al antwoord soos Pozzo: “Verwys jy na enige skande spesifiek (want die samelewing is oorgegee aan skande)?” nie.



[Foto: Albert Maritz]

Wat maak die verhoog so groots? Dis belangrik om te vra, want daar’s ’n les in vir Suid-Afrika en vir Afrikaans. Die antwoord is: Die vakmanskap van die mense wat hierby betrokke is.

Wat doen die verhoog vir ’n akteur? Dis ook belangrik. Die antwoord is: Dit leer hom van die luister, die gehoor en die nederigheid.

So nadat ek die grootse teks in Khayelitsha gesien het, goed geregisseer, met hierdie puik stel spelers, val my mond omtrent oop toe die mees senior spelers tussen die gehoor inbeweeg en ons almal se hande skud. En Roger Rees het selfs teruggedraai na hy al by my verby is om my hand te skud. So dit was nie ’n vinnige deurlopie om almal gelukkig te laat voel nie.

En toe ek die gebou verlaat, drom ’n klompie studente iewers rond. En toe ek daar verbyloop, is dit ’n fotosessie met selfone – wat Ian McKellen pas toegelaat het, waar hy buite, in die buitelug, staan en ontspan. En hy lyk ’n 1 000 keer jonger as op die verhoog. En daardie nederigheid maak my dag as hy vra: “Is jy saam met hulle hier? Hoe was die hoorbaarheid in die sportsaal?” En dies meer. En toe ons groet, en dit my byval dat ek hom gou wil vertel van Andrew en my mislukte bywoning destyds, draai hy gemoedelik terug, kyk in my oë en luister na my storie – glimlaggend.

Waiting for Godot is “a prolonged and sustained metaphor about the nature of human life” (van die omslag van die 1979-uitgawe, aangehaal uit The Times Literary Supplement).

In dit speel Ian McKellen, wie ons beter ken as Gandalf in Lord of the Rings. En in die groot sportsaal met die weerklank span hy sy ervaring in om met suiwer diksie sonder inspanning goed hoorbaar te wees, om met die gemaklikste tydberekening die gehoor te betower, die teks gemaklik en “entertaining” te interpreteer, en kom skud hy hand in die gehoor met die gehoor. Hy is 71, en maak korte mette met so twee uur se verhoogtyd, met baie fisieke inspanning deel daarvan.

Aan sy sy is Roger Rees, wat as genaturaliseerde Amerikaner al in onder andere  Cheers gespeel het. En deur die loop van die stuk groei hy al hoe meer op mens. Hy self is 66, en soos ’n kind op die verhoog.

En die 7-voeter wat Pozzo speel, is Matthew Kelly. In 2004 wen hy die Laurence Olivier-toekenning vir beste akteur in Brittanje. In Khayelitsha kom speel hy ’n “larger than life” karakter, en met ’n kanon van ’n stem, en gesigsuitdrukkings wat geen nar in enige sirkus kan ewenaar nie, en ’n titseltjie “over the top” wenkbrou-grimering, verruk en vermaak hy almal eindeloos.

Brendan O’Hea speel Lucky. En alles wat hy doen is uitstekend, maar dalk is die een groot monoloog – die Lucky-monoloog – vir hom net te moeilik. Hy doen dit skaflik, maar ek glo bronne wat vir my sê Graham Weir se Lucky was beter.

En Khathutshelo Khangala, plaaslike seun, was uitstekend.

Toe ek met McKellen gesels, onthou ek dat mense vir my gesê het hoe identies hy soos my pa is (my pa wat sweerlik ook na familie van Dirk de Villiers was), en ek vertel hom hoe ek en Andrew die slag Waiting for Godot gemis het. En soos ek omkyk na die vriendelike glimlag, dink ek aan óns groot akteurs … soos Cobus Rossouw wat vir my in die TV-reeks Impresario sê, op my vraag: “Wat is die belangrikste ding waaroor ’n goeie akteur beskik?” ... Sy antwoord: “Die luister. Die vermoë om te luister.” En dink ek aan my pa, wat glo soos hierdie oom gelyk het. Dink ek aan Andrew, wat nie meer met ons is nie.

Pozzo besluit om ’n toespraak te gee oor die uitspansel, die nag … Pozzo sê: “Behind this veil of gentleness and peace, night is charging (vibrantly) and will burst upon us (snaps his fingers) pop! Like that! (his inspiration leaves him) just when we least expect it. (Silence. Gloomily) That’s how it is on this bitch of an earth.
(Long silence)

Estragon:      So long as no one knows.
Vladimir:       One can bide one’s time.
Estragon:      One knows what to expect.
Vladimir:       No further need to worry.
Estragon:      Simply wait.
Vladimir:       We’re used to it.

Die grootsheid van hierdie teks; die dialoog – wanneer Lucky huil, die twee hoofakteurs karring met hom, en hulle kry seer, en huil op hulle beurt … en Pozzo sê : “You have so to speak replaced him ...”

’n Ervaring wat jy gelykskat aan die Wêreldsokkerbeker. Net een keer in ’n leeftyd … Viva, Sir, en jou kollegas.

Ek draai terug na McKellen toe. Die aarde draai; maak onder die wye uitspansel klaar wat hy begin het. My pa kyk vir my deur sy oë. Andrew sien Godot, deur myne.

“There are a couple of good energies flowing in the air tonight,” sê ek.

En die verhoogakteur gee die warm glimlag terug. Knik. Die teken van die “luister”.