Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Die ontstaan van die Afrikaanse Taalmonument en -museum


Daniel Hugo - 2010-08-11

Die Afrikaanse Taalmonument vier vanjaar sy 35-jarige bestaan. In die boek Halala Afrikaans word die agtergrond van die Taalmonument as volg deur Daniel Hugo uitgebeeld:

’n Uittreksel uit Halala Afrikaans
Saamgestel deur Daniel Hugo
ISBN: 9781869192921
Uitgewer: Protea
Prys: R160

Klik hier om Halala Afrikaans te koop by Kalahari.net.

Die Afrikaanse Taalmonument met sy slanke suile staan teen die hang van Paarlberg en is op 10 Oktober 1975 ingewy – ’n honderd jaar ná die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl. Die regerende Nasionale Party het met dié inwyding Afrikaans openlik as ’n kragtige simbool van Afrikanernasionalisme gekaap.

Die regering het 1975 tot Taaljaar uitgeroep en 14 Augustus tot ’n openbare vakansiedag verklaar, sodat mense in die hele land die “verjaardag” van Afrikaans kon vier. Die feesvieringe het op 14 Augustus by die Voortrekkermonument begin. Agt taalfakkels – een vir elke stigterslid van die GRA – het daarvandaan na die uithoeke van Suid-Afrika en na Suidwes-Afrika (Namibië) vertrek. Afrikaanse koerante het in dié tyd gereeld berigte geplaas oor die “Wonder van Afrikaans”.

Die idee om ’n taalmonument en -museum op te rig het in 1942 al by ’n vergadering van die inwoners van die Paarl ontstaan. Die Afrikaanse Taalkomitee is in die lewe geroep, en daar is die volgende jaar begin om geld in te samel vir die projek. In 1965 is ’n kompetisie vir die ontwerp van die Taalmonument uitgeskryf. Volgens die opdrag moes dit ’n abstrakte ontwerp wees wat die opbloei van Afrikaans uitbeeld. Dit moes sterk lyne hê, sodat dit van ver af sigbaar kan wees. Om dit by die landskap te laat aanpas, is vergruisde Paarlgraniet gemeng met beton as boumateriaal gebruik.

Die wenontwerp deur die argitek Jan van Wijk is geïnspireer deur die uitsprake van twee Afrikaanse skrywers, CJ Langenhoven en NP van Wyk Louw. In 1914 het Langenhoven die groeipotensiaal van Afrikaans vergelyk met ’n snel stygende boog, of in meetkundige terme, met ’n hiperboliese kromme. NP van Wyk Louw se uitspraak lui soos volg: “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ’n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dit is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.”

Die drie suile links van die ingang simboliseer die Wes-Europese tale en kulture. Afrika se tale en kulture word uitgebeeld deur die drie koepels op die podium regs van die ingang. Die hoofsuil simboliseer die ontstaan en groei van Afrikaans, en dit staan in die water om aan te dui dat die taal versorging nodig het om te groei. Die korter suil simboliseer die Suid-Afrikaanse Republiek. Die Maleise taal en kultuur word deur ’n muur op die trapaantrede voorgestel.

Die Taalmuseum is geleë in die middedorp van die Paarl. Huis Gideon Malherbe in Pastorielaan is in 1972 deur die Afrikaanse Taalkomitee gekoop en as museum ingerig. Malherbe, ’n welgestelde wynboer, het dié Georgiaanse huis in 1860 laat bou. Vyftien jaar later het die GRA in hierdie huis tot stand gekom.

Die inwyding van die Taalmonument op 10 Oktober, ’n openbare vakansiedag (Krugerdag), is deur 40 000 mense bygewoon. Daar is ook voorsiening gemaak vir bruin mense wat op “gereserveerde” (d.w.s. aparte) terrasse kon sit. Hulle deelname aan die verrigtinge was beperk tot die blaasorkes van die Kaapse Korps en die Primrose-koor wat in die amfiteater opgetree het.

Die inwydingsrede is deur die destydse eerste minister John Vorster gelewer, nadat hy die agt taalfakkels in ontvangs geneem het. Hy het hom sterk uitgespreek teen kritici in Afrika, Europa en die VSA wat beweer dat Afrikaners net tydelike setlaars in Suid-Afrika is, oorblyfsels van ’n koloniale tyd. Afrikaans het, volgens hom, die reg van Afrikaners bewys om in Afrika te wees, omdat dié taal in Afrika tot stand gekom het: “Ons kan feesvier in die wete ... dat ons kaart en transport om hier te wees in Afrikaans geskryf is.”

Tydens die feesvieringe het militêre orkeste opgetree en daar was ’n verbyvlug van die Suid-Afrikaanse Lugmag. Die feesdirekteur was kolonel C.A. Swart van die Suid-Afrikaanse Polisie. 10 Oktober 1975 was die laaste keer dat Afrikanernasionalisme op so ’n groot skaal gevier is.

Daar was in die 1970’s veral uit skrywerskringe sterk teenstand teen die monument, omdat Afrikaans daarmee inderwaarheid deur die apartheidspolitici gekaap is. Die ideologiese grondslag van die monument blyk duidelik uit die formulering van die prysvraag wat tien jaar tevore al uitgeskryf is: “Dit moet die wonder van ons kulturele en staatkundige opbloei (Republiekwording) versinnebeeld.” Een van die suile – die naashoogste – verbeeld inderdaad die apartheidsrepubliek: “Saam met die hooftaalsuil, in die lewegewende waterpoel met borrelende fontein, staan die staatkundige simbool, die republieksuil …”

Die digteres Wilma Stockenström het alreeds in 1970 gepraat van “die voorgestelde phalli by die Paarl”. (In dieselfde gedig noem sy die Voortrekkermonument “die volksmoesie op ’n koppie by Pretoria”!) Dit is opmerklik dat die skrywer Breyten Breytenbach in die Taaljaar, kort voor die inwyding van die monument, op ’n aanklag van terrorisme gearresteer is. Die regering se renons in kritiek uit skrywersgeledere is daarmee op ’n drastiese wyse gedemonstreer.

Daar was ook ernstige besware vanuit verligte Afrikanerkringe dat die aandeel van bruin sprekers en skrywers tot die taal in ’n groot mate op 10 Oktober 1975 geïgnoreer is. Die Maleise invloed is wel in die ontwerp erken, en deur die koor wat by die inwyding opgetree het.

Minder as ’n jaar ná die inwyding van die monument sou die land brand oor die regering se arrogante bevordering van Afrikaans.

Bronne

Afrikaanse Taalmonument, Paarl, Suid-Afrika. www.museums.org.za/TaalMon/Afrikaans.htm.
Die Burger, 1975, 11 Oktober. “40 000 by die Taalfees”.
Huigen, Siegfried. 2008. “Taalmonumente” in: Grundlingh, Albert M. en Huigen,
Siegfried (reds). Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar – Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke. Stellenbosch: Sun Press.
Kannemeyer, JC. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur II. Pretoria: Academica.
Stockenström, Wilma. 1970. Vir die bysiende leser. Kaapstad: Reijger Uitgewers.

(Uit: Halala Afrikaans, Protea Boekhuis, 2009)

Klik hier vir die Taalmonument se feesprogram.